DinkWeer Donderdag | Skielik is die poliesman weg
Terugblikke op eenvoudiger dog onvolhoubare tye.

Op OntLaer verlede week het skrywes oor China se sluipagtige geopolitieke rol en oor Bibi die beleërde, eiesinnige Israeliese premier, saamgeval met inhoud wat skepties staan oor gevestigde waardes van die internasionale orde, en oor post-progressiewe doenwyses in die media.
'n Goue draad tussen hierdie artikels is hoe dit verwikkelinge beskryf en beredeneer sedert die wegval van 'n wêreldbestel wat vir baie van ons nog tot onlangs toe 'n gegewe was. Verwikkelinge soos multipolariteit, 'n herbeklemtoning van nasionale en kulturele begrensing (fisies en andersins) en die herdefiniëring van persvryheid in die rigting van oogpunt-verskeidenheid eerder as narratiefskepping.
Die verbygegane orde
Daar is al baie geskryf oor hoe verkeerd Francis Fukuyama nou eintlik was met sy alombekende aankondiging dat die einde van kommunisme en die Koue Oorlog die “einde van die geskiedenis” inlui, en dat liberale demokrasie en vrye mark ekonomieë die toets van tyd deurstaan het.
Deesdae wend Fukuyama nog pogings aan om variante van sy voorspelling op die Substack Persuasion te smokkel, met wisselende sukses. Wat 'n mens wel vir die ou kan gee, is dat hy darem nie met oogklappe loop nie en bereid is om met die nuwe realiteite van wêreldpolitiek om te gaan, sonder om bloot die trom van 90’s oorwinnaarsug oor en oor te slaan. 'n Baie pertinente aspek van die skynbaar verbygegane wêreldbestel waarin baie van ons grootgeword het, was meer tasbaar en beter in die volksmond bekend as die dieper filosofiese hoekies en draaitjies van denkers soos Fukuyama en sy voortsetting van Whig-historiografie.
In my kinderdae was die VSA nog die “wêreldpolisieman”, en hierdie verduideliking was gewoonlik hoe die kinders van die 1950’s en 1960’s die stand van wêreldsake aan hulle telge uit die 1980’s en 1990’s oorgedra het. Ek was net-net vyf jaar oud toe my ouers met geskokte uitdrukkings na die klein boksagtige televisie staar waarop die Twin Towers brandend inmekaarstort. Die “wêreldpolisieman” het kort daarna Afghanistan gebombardeer, Irak binnegeval en gou-gou was Saddam Hussein en Osama Bin Laden die groot paaiboelies in elke huishouding en op die speelgrond. Die twee moorddadige manne, saam met George Bush, was ook gereeld byspelers in etlike nuwe variasies van die Jan of Koos van der Merwe-grappies (in my ouer neef en sy maats se weergawes het ou “Van” maar nogsteeds altyd tweede gekom). Op die speelgrond het ons “Irak-Irak” gespeel en almal wou altyd Amerika wees, wat tot menigte voorgevegte gelei het. Pouses is raakrugbyspanne ook sodanig opgedeel dat die talentvolle outjies altyd Yanks was.
My generasie se twintigs word gekenmerk deur 'n Amerika wat gaandeweg sy wêreldpolisieman-baret ophang, en dit vervang met 'n meer uitdruklike soort selfbelang wat internasionale magsuitoefening betref. Soos ek nou skryf, lê Amerikaanse oorlogskepe in 'n hawe in Trinidad en Tobago en in die Karibiese See rond vir doeleindes wat amptelik as 'n “teen-dwelmterreur” operasie bemark word. Dis egter ooglopend 'n vorm van die ou “gunboat diplomacy” van die 19de eeu en gemik op die Maduro-regime in Venezuela, wat deur die Trump-administrasie van betrokkenheid by georganiseerde dwelmsindikate beskuldig word. Die Trump-administrasie het reeds etlike vermeende dwelmsmokkelbote uit die water geblaas en beskou die smokkelaars as “narkoterroriste”. Die terminologie ter regverdiging van hierdie dodelike teenmisdaad-optrede roep dalk terug na die dae van die Yank-wêreldpolisieman, maar die fokusverskuiwing is meer in lyn met die Monroe-doktrine van 1823, synde 'n internasionale regsgebruiklikheid dat die Europese Weste nie in die Westelike Halfrond sal inmeng nie, wat die Amerikaners as hul uitsluitelike invloedsfeer beskou. Opmerklik dan het die wêreldpolisieman begin krimp tot halfrondwagter, met 'n baie uitdruklike belang daarin om militêre mag te gebruik om plaaslike politieke belange en beloftes te probeer verwesenlik.
Die Trump-administrasie teiken nie tans narkoterrorisme omdat hulle die burgers van Suid- en Sentraal-Amerika bejammer nie. Dis ook nie omdat die wasige beginsels van internasionale liberale demokrasie dit vereis nie. Of omdat die neokonserwatiewes in die adviseursgange van die Withuis wil sien dat Amerikaanse wêreldpolisiemag met geweld geprojekteer moet word onder die Latynssprekende leenmanstate nie. Trump het eerder geen waarborge wat sy binnelandse politieke stand betref nie, en kragdadige optrede teen dwelmsmokkelaars skep 'n nuttige narratief om te verkoop aan sy kern kiesersblok in die fentaniel-besmette, geïndustrialiseerde Midde-Weste streek van die VSA.
'n Wêreld van Oorloë
Die nuwe eeu van geweld om eiebelang steek op baie plekke kop uit. The Atlantic het in November 2023 uitgewys dat “wêreldoorlog” tans 'n minder toepaslike risiko as 'n “wêreld van oorloë” is.
Oorloë tussen state ontstaan nou meer gereeld as in die tyd van die polisieman-VSA, maar dit blyk dat die meeste daarvan relatief gou bygelê word. Pakistan en Indië het mekaar vroeër vanjaar gegryp, en onlangs het Kambodja en Thailand die artillerie laat dreun. Die wêreld het asem opgehou toe Israel en Iran, wel duisende kilometers uitmekaar, geblyk het in 'n spiraal van ergerwordende konflik te verval. Al hierdie konflikte het intussen afgekoel, met die Trump-administrasie wat hulself hiervoor op die skouer klop, verdiend of nie.
Daar is egter geen waarborge in 'n wêreld waar die polisiemanstaat sy baret opgehang het nie, en dit blyk dat die internasionale instellings in die afwesigheid van 'n polisiemanstaat selfs meer van hul oorblywende tande verloor. Francesca Albanese, spesiale rapporteur van die Verenigde Nasies vir die besette Palestynse gebiede, het op 28 Oktober in Kaapstad in 'n verslae luim gereken dat die Internasionale Strafhof se tyd dalk gekom en gegaan het.
Sonder 'n wringkragtige polisiemanstaat as voorspraakmaker en kampioen vir die liberaal-demokratiese waardestelsel van die post-oorlogse internasionale konsensus, gee minder en minder state openlik om, en kies nou eiebelang sonder die tradisionele kniebuigings en voldoenings aan lasbriewe vir arrestasies, sanksies en dies meer. In 'n sekere sin het die wêreld sonder die polisiemanstaat net meer eerlik oor hul ware bedoelings en versugtinge geword.
Nuwe hegemonieë, en gate in die ou orde
In arme Francesca Albanese se trane Dinsdagaand in Kaapstad sit die verslaendheid van die voorspraakmakers van die “progressiewe ou orde”. Soveel van ons is met hierdie ou veronderstellings gespeen, natuurlik in 'n groter mate na die val van die Berlynse Muur.
Maar ons kyk deesdae vas in groeiende getalle mense wat nie langer bereid is om die noodsaak van besorgdheid oor die doen en late van politieke akteurs in ander state ernstig op te neem nie. Tensy dit oor handel en regstreekse nasionale belange gaan, soos die openheid van grense. In Francesca se trane sit die vrees vir verlies en verandering wat gepaard gaan, soos die Marxiaanse denker Antonio Gramsci dit treffend gestel het, met die sukkelgeboorte van die nuwe orde, terwyl die ou moederorde afsterf.
Sekerlik sal private akteurs en organisasies die onbestrede aspekte van die liberaal-demokratiese belofte en die progressiewe sin vir verbetering onder die armstes van die Derde Wêreld aanhou bevorder. Dit sal wel met minder staatsondersteuning kan gebeur, wat die belofte van effektiewer geteikende hulpverlening en spaarsamiger omgang met beskikbare hulpbronne inhou. Trouens, Islamitiese hulpverleningsprogramme kry dit al vir jare goed reg.
Die feit bly egter staan dat state en hul burgers vir verskeie redes nie langer die liberaal-demokratiese motivering as regverdigingsgronde vir intervensies en voldoening aan vae internasionale reëls beskou nie, en die geabdikeerde wêreldpolisieman het hierdie proses versnel. Nuwe mediamoontlikhede, soos Louise Mabille ook in laasweek se OntLaer uitgawe skryf, is verdere aandrywers vir die verskuiwing in standaard politieke instinkte.
Dit is wat my betref ook 'n baie meer komplekse filosofiese vraag of die era van intervensie deur state ter wille van liberaal-demokratiese en Westerse waardes, of dan om Westerse mag te projekteer, enigsins sinvol was. Die argument is dikwels dat die agentskap van die nie-Westerlinge juis deur Westerse waardes aangehelp word in die nadraai van die intervensie.
Behalwe dat dit nie gebeur nie. Nie in Afghanistan, Irak of elders waar dit gepoog is nie. Dit is hartseer dat die gewone mense van hierdie lande telkens weer deur fundamentalistiese geweldenaars oorheers word, en 'n mens moet seker in jou persoonlike hoedanigheid waak teen 'n totale ongeërgdheid en relativering rondom die regte van mense. Maar as Westerlinge in die eeue voor die polisiemanstaat inderdaad in Europa en Amerika deur groot verlies en swaarkry van tirannie ontslae moes raak, deur bloedige rewolusies, reformasies en rebellies heen, dan is die ongelukkige vooruitsig dat ons dieselfde agentskap aan die burgers van nie-Westerse lande behoort te gun. Om egter op menseregtelike kruisvaarte te vertrek, het 'n geneigdheid om die dood in die pot te wees.
Dit het ook implikasies vir hoe ons oor internasionale reg behoort te dink. Benewens administratiewe verdrae soos die reg oor seevaart en staatkundige grense in die see self, of die ontginning van hulpbronne in gedeelde gebiede, betwyfel ek toenemend die sin daarvan om eenvormige, internasionale waardeoordele oor die optrede van politieke en militêre akteurs te vel in 'n toenemend multipolêre internasionale orde. Dalk moet ons verlief neem met die feit dat die Al-Bashirs, Netanyahus, Poetins en Yahya Sinwars van die wêreld gewoon vir die internasionale reëls 'n toffie gaan wys en toenemend daarmee gaan wegkom, omdat die internasionale rolspelers wat gelyke verantwoordbaarheid moontlik maak, inherent ontsettend inkonsekwent is en sal wees.
Soos begrafnisse vir die oorlewendes is en troues vir die gaste, is die nut van lasbriewe en internasionale tribunale eintlik om onsself beter te laat voel dat ons iets reëlmatigs vertoon. Hoe magtiger die internasionale misdadiger en hoe meer afgeskakel en ongeërg die internasionale gemeenskap, hoe dowwer gaan die vertoning word, en die uiteinde sal dieselfde bly, met of sonder die internasionale regspraak. Miskien moet diktators en moordenaarleiers gewoon aan streeksmagte en hul eie bevolkings oorgelaat word. Die vooruitsig van 'n “Westerse imago dei” in die res van die wêreld is aansienlik minder vanselfsprekend as wat die selfversekerdes van die 1990’s en die 2000’s oor Amerikaanse internasionale polisieman-staatkunde geglo het. Ons as individuele, private burgers hoef nie minder “om te gee” nie, maar omgee is in elkgeval nie iets wat staatkundig gesproke baie behulpsaam is nie. Die dae van Live Aid en Band Aid en Bob Geldof hoef nie verby te wees op private vlak nie, ek is net glad nie seker of Westerse liberalisme en demokrasie so goed soos mieliemeel en mediese voorraad verpak kan word nie.
Buitendien het Westerse beheptheid met buitelandse politieke “hulpverlening” ironies genoeg daartoe gelei dat hulle die stille intervensies in hul eie boesem gemis het. China, skryf Wessie du Toit in sy vertaalde artikel vir OntLaer, word steeds as 'n veraf rolspeler in sy eie parallelle wêrelddeel beskou. Maar China se invloed is suutjies dog selfbelanghebbend, en die Weste, veral die VK en Europa, sal onwys wees om China se hegemoniese instinkte te onderskat, veral wat die vorm en taktieke daarvan betref.
Die polisiemanlose wêreld is 'n vreemde en soms vreesaanjaende plek om in te leef en te beleef. Dit bied egter die soort bevryding waarvan Albert Camus ook gepraat het: as jy jou in 'n absurde en ongeërgde “veelal van state” bevind, omarm en omhels die absurde alleenheid daarvan, en neem self agentskap vir die toekoms van jouself en jou gemeenskap, hoe laasgenoemde ook al mag lyk en vorm kry. Daar is ook iets Stoïsyns daaraan om jou gevoelslewe en lewensdryfvere nie vas te ketting aan gebeure buite jou effektiewe besluitnemingsmagte nie.
Doen wat jy kan, waar jy kan en as jy kan. Om jou verste ook lief te hê soos jou naaste of soos jouself, word wat my betref baie meer sinvol opgestel as 'n saak van persoonlike oortuiging en etiese agentskap. Ek sien net geen meer sin daarin vir state om deur ideologiese projeksies, regsburokratiese vertonings of geweldpleging, liefde vir die verstes te probeer voorgee nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Is dit die verlies aan n polisieman of die polisieman wat metodiek aanpas of is dit dalk die Unipolêre strewe wat verdun na ń Multipolêre realiteit?