
Ek skryf hierdie week skaamteloos oor partypolitiek.
In April het ek die regsberoep grootliks verlaat. Ek doen nog hier en daar regswerk vir mense, maar werk deesdae hoofsaaklik in die politiek, alhoewel ek nie self 'n politikus per se is nie.
Ek was altyd heel trots om vir mense te sê ek is AfriForum se prokureur en later om te sê ek is die burgemeester van Kaapstad se regsadviseur. Nou kry ek eintlik 'n bietjie skaam wanneer mense vra wat ek vir 'n lewe doen. Deels omdat ek 'n goeie skoot Boerewantroue teenoor die politiek oor die algemeen het. Ek het 'n natuurlike neiging tot vryheid en klein regering wat soms moeilik strook met partypolitiek. Ek sou waarskynlik tydens die Groot Trek noodlottig my eie koers gekies het.
Dit voel dus vir my effens vreemd dat ek deesdae so naby aan die politiek is. Ek het altyd gesê dat ek hou daarvan om oor die politiek te skryf en te praat, maar nie om in die politiek te wees nie, en tog hier is ek nou.
Ek vermoed my beskroomdheid oor my werk in die politiek is deels ook omdat die antwoord langer as 'n beroepstitel is. My hoofwerk is as stafhoof van die DA se federale leier, Geordin Hill-Lewis. Maar ek is ook besonder bevoorreg en geseënd om 'n direkteur van Action Society en Free SA te wees. Action Society doen wonderlike werk vir van die kwesbaarste mense in ons samelewing en Free SA doen die soort beginselvaste dinkwerk oor vryheid wat Suid-Afrika broodnodig het. Verder skryf ek graag meningstukke en publiseer akademiese werk. Tussendeur, en belangriker as alles hierbo, is ek 'n eggenoot van 'n merkwaardige vrou en 'n pa van 'n wonderlike seuntjie en binnekort 'n dogtertjie.
So “ek is in die politiek” voel dus soos 'n onvolledige antwoord. Dalk is ek ook bang mense hoor dit en het bepaalde vooropgestelde idees. Politici het blykbaar nie die beste reputasie in Jan Publiek se oë nie (nie dat prokureurs noodwendig veel beter daarvan afkom nie).
Maar vandag gaan ek tog, en onbeskaamd, skryf oor die werk wat die meeste van my tyd daagliks in beslag neem.
Komende Woensdag, 4 November, stem ons in 'n bepalende verkiesing. En nee, ek gaan nie sê dit is maak of breek nie. Politieke partye hou van “nou of nooit”. Dit skep die nodige dringendheid om mense te kry om te stem. As Johannesburg, Pretoria, die Oos-Rand en ons ander dorpe en stede ná Woensdag steeds swak regeer word, gaan die wêreld egter nie eindig nie. En politieke partye sal bloot hul aandag na die volgende “nou of nooit” verkiesing verskuif.
Maar die inwoners sal intussen vir nog vyf jaar met die gevolge moet saamleef. Nog jare se verval beteken iets vir 'n gesin wat sonder water sit of iemand wie se onderneming sukkel om kop bo water te hou (dis nou as daar water is).
Dus maak hierdie verkiesings saak. Ons het 'n besondere geleentheid om die rigting van groot dele van Suid-Afrika te verander. Dit kan 'n beginpunt van herstel wees.
My pleidooi is gevolglik vir 'n bietjie gesonde verstand by die stembus.
Ek skryf graag oor ideologie en kultuur. Dit maak baie saak. Maar kom ons staan vir 'n oomblik terug en kyk na ons huidige regeringslandskap. Watter politieke party kan reeds wys dat hulle 'n dorp of stad behoorlik kan bestuur?
Die ANC het dekades gehad en letterlik op elke plek waar die ou bevrydingsparty regeer, liederlik misluk.
Die EFF is nou ook deel van Gauteng se provinsiale regering. “Land or death” is nogal 'n ambisieuse slagspreuk vir 'n party wat nog met “water and electricity” in die provinsie sukkel.
ActionSA se bestuur van Tshwane oortuig mens ewe min dat die stad op 'n beter koers is. Vra maar gerus ons nabye vriende in Pretoria wie se kinders tans siek en in die hospitaal is met E. coli.
En die MKP belowe sommer uit die staanspoor ontwrigting en vernietiging, getrou aan sy Marxistiese inslag.
Ook die VF Plus moet aan sy resultate gemeet word. Entoesiasme op sosiale media is nog geen bewys dat die party 'n munisipaliteit beter kan bestuur nie. Trouens, as Korrektiewe Dienste se verswakte oudituitkoms onder Pieter Groenewald enige aanduiding is, loop die aanlyn geesdrif die party se werklike bestuursrekord nogal ver vooruit.
Die DA is natuurlik nie sonder foute nie. Ek gaan ook nie voorgee dat die eerste twee jaar van die regering van nasionale eenheid reeds die verandering gebring het waarop die DA gehoop het nie. Daar is te min tasbare vordering, hoewel dinge wel die afgelope ses maande begin beweeg. Ek glo tog dat mens die verskil kan sien met 'n meer beginselvaste DA in die RNE onder Geordin.
Tog is die DA die party met die oortuigendste bewese rekord van goeie regering. Kaapstad, Midvaal en uMngeni gee ons onder andere iets tasbaar om te beoordeel. Midvaal het byvoorbeeld vir 2025 sy twaalfde agtereenvolgende skoon oudit behaal. Dit is 'n rekord wat oor jare onder die DA opgebou is.
News24 se onlangse peiling het eweneens 'n betekenisvolle kontras uitgewys naamlik dat Kaapstadse kiesers somber was oor Suid-Afrika, maar hoopvol oor die rigting van hulle stad.
Weerens, ek sê nie Kaapstad is perfek nie. Vir iemand wie se klagte onbeantwoord bly of wie se buurt steeds onveilig is, kan 'n gunstige vergelyking met Johannesburg maar skrale troos wees. Inwoners van stede en dorpe waar die DA regeer moet meer verwag en harder vrae stel. Ek wil nie daardie ontevredenheid wegpraat nie. En die DA verwelkom die hoër standaarde waarteen dit gemeet word.
Maar perfeksie is nie op Woensdag se stembriewe nie. Ons kies tussen werklike partye, met werklike tekortkominge. Dit help nie ons vergelyk die DA se gebreke met 'n denkbeeldige party wat alles reg sal doen nie. Ons moet ook kyk wat die beskikbare alternatiewe met regeringsmag reggekry het.
My versoek aan almal wat OntLaer weekliks lees, is om mooi te besin oor daardie rekords en gaan stem Woensdag. Ek glo die DA verdien jou stem. Maar selfs as ek jou nie daarvan oortuig het nie, gaan stem steeds. Elke stem vir 'n verantwoordelike alternatief help om die vernietigende politiek van die ANC, EFF, MK en PA terug te druk.
Die data waarna ons binne die DA kyk, wys hoe bepalend opkoms gaan wees. Ondersteuning wat by die huis bly, verander geen uitslag nie. Maak dus nou plan om te stem. Praat met jou vriende en familie en moedig hulle aan om ook op te daag.
Ná 4 November moet ons die verkose regerings behoorlik aanspreeklik hou. Ons moet hulle aan hoë standaarde meet en voortgaan om oor ideologie, taal en kultuur te debatteer.
Ek gaan Woensdag DA stem, met my Boerewantroue en ontnugtering oor die politiek alles saam. Ek glo die DA is die beste beskikbare keuse om ons land in 'n beter rigting te stuur. Maar al wat ek van jou vra is om op die dag te gaan stem.

Nog artikels deur Daniël Eloff:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






