Die onlangse ontmoeting tussen Donald Trump en Cyril Ramaphosa het, soos verwag, nie net reaksies in politieke kringe ontlok nie, maar 'n hele stroom ontledings, opinies en internet-bekgevegte ontketen.
Die gesprek tussen die twee staatshoofde het vinnig verskuif van diplomasie na ideologie, en wat veronderstel was om 'n bilaterale gesprek oor handel en verhoudinge te wees, het in baie oë oor een ding gegaan: plaasmoorde.
Maar hoe daar oor plaasmoorde gepraat word, voor en na die vergadering, is steeds besonders uiteenlopend. Al verskil is dat hierdie uiteenlopendheid nou sommer ook internasionaal ten toon gestel word. Vir die tweede keer hierdie maand in een van my artikels gebruik ek Scott Adams se aanhaling dat mense na dieselfde skerm kyk, maar twee verskillende films sien. In die geval van hierdie vergadering is dit dalk selfs meer as net twee flieks. Twee mense kyk na dieselfde gebeurtenis en sien radikaal verskillende verhale.
Party mense loof Ramaphosa vir sy rustige teenwoordigheid en ander sien 'n man wat senuweeagtig glimlag terwyl sy land se vuil wasgoed in die openbaar gewas word. Sommiges dink John Steenhuisen het boere se veiligheid op die wêreldagenda geplaas deur plaasaanvalle as 'n ernstige probleem voor Donald Trump te beskryf. Ander sien vir Steenhuisen as 'n volksverraaier wat nie genoeg oor plaasmoorde gesê het nie.
Retief Goosen het op een van die grootste internasionale platforms in die wêreld gepraat oor wat met sy familie op hul plaas gebeur, hoe geweld en diefstal sy familie bedreig. Vir party was hy 'n stem vir diegene wat al lank nie gehoor word nie. Vir ander het hy grense oorgesteek, oordrewe gepraat, en moontlik olie op 'n reeds-brandende vuur gegooi.
Dit is opvallend hoe die plaasmoord-debat, wat vir jare reeds 'n gespanne en emosie-belaaide onderwerp in Suid-Afrika is, nou verweef word in die groter kultuuroorloë van die Westerse wêreld. Dis nie meer net AfriForum en plaaslike media wat daaroor praat nie. Trump het dit genoem. Die Hervormingsparty in die VK voer aan dat hul land se befondsing aan Suid-Afrika hersien moet word weens diskriminasie teen wit Suid-Afrikaners. CNN, BBC, Al Jazeera, Times of India, almal is nou op een of ander manier betrokke by die vraag: Is daar 'n sistemiese aanval op wit boere in Suid-Afrika?
Die term “volksmoord” het mettertyd begin vervaag, nie omdat die realiteit daarvan minder gewigtig geword het nie, maar eerder omdat die begrip self al hoe meer verwater of ideologies belas geraak het. Aan die een kant is daar leke-ontleders wat, dikwels met opregte bekommernis maar beperkte begrip, die term te maklik aanwend sonder om die internasionale regsomskrywing of die spesifieke konteks van geweld in Suid-Afrika behoorlik te oorweeg. Dit staan in teenstelling met sommige deskundiges en kenners wat juis andersom met toegang tot en begrip van daardie omskrywings hul uitleg soms so nou of so breed of so selektief hou, dat dit amper verdag raak. Die wisselwerking tussen oppervlakkige paniek en akademiese dogmatisme maak die debat nie net verwarrend nie, maar ook diep verpolitiseer.
Hierdie verwarring kom veral duidelik na vore in die ironie van die regering se eie hantering van die begrip. Aan die een kant maak die regering 'n saak by die Internasionale Strafhof teen Israel aanhangig, waar “volksmoord” in wyd omskrewe, moreelbelaaide terme gebruik word. Dieselfde regering hou egter vol dat daardie term glad nie van toepassing is op plaasmoorde nie, hoe sistematies, simbolies of disproporsioneel dit ook al mag wees. Hierdie dubbele standaard — 'n oop, breë interpretasie van volksmoord aan die eenkant maar 'n nou, formele interpretasie aan die ander — wys hoe die betekenis van volksmoord afhang van politieke geleentheid en nie altyd van feitelike konsekwentheid nie.
Maar die debat, hoe luidrugtig ook al, mis dikwels die kern van die saak oor plaasmoorde. Dit het veral die fokus vanaf die werklike uitdaging na of plaasmoorde op volksmoord neerkom of nie, verskuif.
Dis nie net 'n statistiek nie
Hierdie artikel probeer nie uitsluitsel gee oor of plaasmoorde aan die omskrywing van volksmoord voldoen nie. Dis nie 'n poging om politieke punte aan te teken nie. Wat ek wel wil doen, is om eerlik te vra: Wat maak plaasmoorde anders? Waarom dra dit soveel emosionele en simboliese gewig? En hoekom is dit nie sinvol om dit bloot af te maak as net nog geweld in 'n gewelddadige land nie?
Hier volg sewe redes waarom plaasmoorde wel 'n unieke verskynsel is:
1. Ontkenning uit die hoogste amp
In 2018 het Cyril Ramaphosa tydens 'n onderhoud op Bloomberg gesê:
“There are no killings of white farmers.”
Dit was nie 'n glips of 'n halwe waarheid nie, maar 'n kategoriese ontkenning van iets waarvoor daar duidelike statistiese en ander bewyse bestaan. Stel jou voor hy het dieselfde oor geslagsgebaseerde geweld of oor xenofobiese aanvalle gesê? Die reaksie sou met reg fel wees, nie net vanuit die publiek nie, maar ook vanuit die internasionale gemeenskap.
Wat hierdie opmerking van Ramaphosa so opvallend maak, is dat dit 'n aktiewe verwerping van die bestaan van die probleem self was. Wanneer die staatshoof van 'n grondwetlike demokrasie op die wyse 'n hele kategorie slagoffers ontken, stuur dit 'n duidelike boodskap: julle pyn is onsigbaar en dit bestaan nie eens in die oë van die staat nie.
Dit is wat plaasmoorde uniek maak. Daar is min ander vorme van geweld in Suid-Afrika wat so eksplisiet en op so 'n hoë vlak ontken word.
2. Politici sing daarvan
Wat ander misdade betref (verkragting, roof, kaping) hoor ons nie dat politici dreunsange daaroor sing nie, of hulle nou dink dit is metafories bedoel of nie. Maar "Kill the Boer, Kill the Farmer" het 'n tweede lewe gekry op politieke platforms en word stilswyend deur selfs die Grondwetlike Hof geregverdig as "geskiedkundige beeldspraak". Selfs as 'n mens die regverdiging aanvaar, is dit ondenkbaar dat enige ander vorm van misdaad so gereeld in liedere geprys of geregverdig sou word, of dit letterlik bedoel word of nie.
Selfs al aanvaar 'n mens die argument dat dit nie letterlik bedoel is nie, bly die vraag staan oor hoekom is dit juis hierdie misdaad waaroor gesing mag word?
Hoekom is dit aanvaarbaar dat 'n lied wat implisiet of eksplisiet geweld teen 'n spesifieke groep verheerlik en vrylik gesing word terwyl ander vorme van geweld, soos seksuele aanranding of xenofobie, met reg nie deur politici verheerlik word nie?
Of daardie politici 'n opposisieparty vorm of nie, is irrelevant, want geen opposisieparty sing oor ander misdade nie. Hierdie selektiewe verdraagsaamheid verklap die ideologiese dubbele standaard.
3. Bloedboodskappe en simboliek
Op menige tonele van plaasaanvalle is boodskappe met bloed of verf op die mure van die slagoffers se huise agtergelaat. “Kill the Boer” is dus nie net iets wat gesing word nie, dis iets wat soms letterlik op die toneel agterbly. En dit maak dat plaasmooorde nie 'n “normale” misdaad is nie. Dit is, in ten minste sommige gevalle, 'n vorm van simboliese geweld.
Dit orden plaasmoorde in 'n kategorie wat nader is aan terreur as aan gewone misdaad. Dit is bedoel om 'n boodskap te stuur.
En hierdie feite is nie moeilik om op te spoor nie. Daar is dosyne onderhoude met slagoffers en oorlewendes van plaasaanvalle wat vertel hoe aanvallers vir hulle gesê het hulle is nie daar om te roof nie, maar om iets “reg te stel”, of dat hulle aangeval word weens geskiedkundige redes. Sulke uitsprake plaas die aanval buite die gewone raamwerk van misdaad en suggereer 'n element van ideologiese of geskiedkundige wraak. Dit verander die aard van die misdaad en dit maak die geweld soveel moeiliker om te ignoreer of net as nog 'n statistiek af te maak.
4. Disproporsionele wreedheid
Navorsing toon dat die aard van geweld in plaasaanvalle dikwels uitermatig is. Mense word nie net doodgeskiet of beroof nie. Daar is gruwelike gevalle van marteling, brand, en langdurige lyding. Dis geweld met 'n sadistiese ondertoon, en dis juis die element wat mense diep ontstel en plaasaanvalle en plaasmoorde uniek maak.
In 'n land waar die moordsyfer reeds skrikwekkend hoog is, beteken dit iets as sekere misdade nog meer gewelddadig is as die norm.
Verder word plaasaanvalle dikwels gekenmerk deur geweld teen nie net die plaaseienaars of boere nie, maar ook hul werkers, wie geteiken word vanweë hul teenwoordigheid, lojaliteit aan die eienaar, of bloot omdat hulle in dieselfde ruimte is. Dit wys daarop dat die geweld nie net gerig is op geld of goedere nie, maar op mense en dus op die betrokke verhoudings, strukture en identiteite van die slagoffers.
Weereens, hierdie is nie sommer net my eie kommentaar of mening nie. Daar is talle gevalle, gerapporteer in die media en beskikbaar op video, wat dui op 'n patroon van buitensporige wreedheid. Mense wat vasgebind, met ysters gebrand, en met kookwater gegooi word of kinders wat moes toekyk hoe ouers gemartel word. Dit is duidelik nie blote misdadige opportunisme nie, dis geweld met 'n sonderlinge intensiteit. Dit is wat plaasmoorde verder van ander misdade onderskei.
5. Ligging en weerloosheid
'n Plaas is nie 'n huis in 'n sekuriteitskompleks nie. Dis dikwels ure ver van hulp verwyder. Kommunikasie is moeilik. Reaksietye van polisie of ambulansdienste is traag (en toenemend al meer traag weens toenemende staatsverval). Dit maak die slagoffers in die besonder kwesbaar en die misdaad besonder berekend.
Jy kan nie 'n paniekknoppie druk en verwag dat hulp binne vyf minute gaan opdaag nie. Die afsondering maak die misdade ook dus meer traumaties en noodsaak besondere aandag daarop. As ons tereg erken dat vrouens en kinders spesiale beskerming weens hul kwesbaarheid verdien, behoort dieselfde vir boere en hul werkers te geld wat soortgelyk kwesbaar is, weens hul geografiese afsondering.
6. 'n Politieke geskiedenis wat nie ontken kan word nie
Voor 1994 is plase eksplisiet geteiken as deel van die gewapende revolusionêre strategie van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK). In dokumente uit daardie tyd, asook in opleidingsmateriaal in Angola en die voormalige Oosblok, is plase beskou as simbole van apartheid se ekonomiese magstruktuur en dus as regmatige teikens. Die “boer” was nie net 'n mens nie, maar 'n metafoor vir onderdrukking. Hierdie skets van die boer as politieke vyand het in liedere, propagandamateriaal en operasionele opdragte voorgekom. Dit was dus 'n ideologies-gelaaide konsep en nie 'n bloot demografiese verteenwoordiging nie.
Die post-1994 Suid-Afrika het formeel op papier gebreek het met die gewapende stryd, en die staat moet nou teoreties die veiligheid van alle burgers beskerm. Maar dit is naïef om te dink dat die simboliek en retoriek van daardie tydperk net eenvoudig in 30 jaar verdwyn het. Woorde soos “Kill the Boer” en die verromantisering van die boer as 'n noodwendige onderdrukker, leef voort. Nie slegs in liedere nie, maar in die kollektiewe verbeelding van sommige gemeenskappe. Wanneer geweld teen boere vandag plaasvind in 'n konteks waar sulke narratiewe nooit regtig afgetakel is nie, is dit belangrik om daardie geskiedenis in ag te neem.
Dit beteken nie dat elke plaasaanval 'n politieke daad is nie. Maar dit beteken wel dat die geskiedenis 'n agtergrond vorm waarteen hierdie geweld beleef en beskou word. Geen ander misdryf in Suid-Afrika het dieselfde geskiedkundige koppelings as plaasmoorde nie.
7. Ekonomiese impak wat verreikend is
Wat plaasmoorde verder uniek maar is dat boerdery nie net 'n beroep is nie. Dis 'n noodsaaklike diens vir die voedselsekerheid van 'n land. Wanneer boere geteiken word, of die motief nou ras, materiële ongelykheid of iets anders is, het dit regstreekse gevolge vir voedselproduksie, werkskepping, uitvoere en gevolglik vir voedselsekerheid. Suid-Afrika se voedselsekerheid is dus nie 'n gegewe nie. Ons sien reeds hoe vrees en onsekerheid boere dryf om hul grond te verkoop of elders te gaan boer, dikwels oorsee.
Met ander woorde, ongeag die motiewe van die plaasaanvallers, of dit roof, wraak, haat of opportunisme is, die gevolge daarvan het 'n kettingreaksie wat ver buite die plaashek strek. Elke aanval dra by tot 'n klimaat van onsekerheid wat beleggings ontmoedig, produksie ontwrig en jong mense afskrik om in die landbou in te tree. Wanneer voedselproduksie afneem, styg pryse, daal werksgeleenthede in landelike gebiede, en word arm gemeenskappe die eerste slagoffers. Plaasmoorde is dus nie net 'n misdaad teen 'n individu nie, maar teen die funksionele ruggraat van 'n hele ekonomie.
Tragiese ironie
Dis tog 'n vreemde en byna tragiese ironie dat president Ramaphosa se reaksie op die beskuldiging van plaasmoorde is: “Ja, maar almal word in Suid-Afrika vermoor.” As dit sy manier is om angs te verminder of die beeld van die land te verdedig, werk dit allermins. Want wat sê dit van die toestand van ons samelewing as die president se troos is dat niemand van die geweld gespaar bly nie?
Om te erken dat plaasmoorde 'n unieke vorm van geweld is, is nie 'n politieke posisie nie. Dis 'n feit. En dis 'n noodsaaklike beginpunt as ons ooit iets daaraan wil doen.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: