Gesonde Verstand is Meer Medemenslik as Mooipraatjies
Milei en Bukele verstaan wat die elite beleidsklas miskyk.
Daar is min dinge gevaarliker as 'n edele idee met goeie bedoelings wat die werklikheid van die mens miskyk. Die Franse filosoof en 1957 Nobelpryswenner vir Letterkunde, Albert Camus, het opgemerk dat die skynbare welvaart van die mens gereeld die alibi van tiranne is. Franse filosowe is nie dikwels reg oor baie dinge nie, maar hier slaan Camus die spyker op die kop.
Ons eie Frederik van Dyk skryf gereeld oor die intelligentsia en ek praat dikwels van die kommentatorklas. Maar hul eweknie in die regering, die akademie en die NGO-wêreld is die elite beleidsklas. Hulle skryf met genoeg voetnotas om moreel onaantasbaar te klink. Hulle praat met genoeg erns om hulself as die professionele gewete van die wêreld voor te hou. Maar volg 'n mens die spoor van hul bedoeling tot by die uitkoms, beland jy alte dikwels by 'n gebroke ekonomie, onveilige strate en gewone mense wat vasgevang bly in presies die ellende waaruit dié beleid hulle moes red.
Dit is waarom Argentinië en El Salvador se onlangse ommekeer so ongemaklik is vir die keurige wêreld van beleidspraatjies.
Uit die staanspoor moet mens uitwys dat dit nie twee identiese lande is nie. En Javier Milei en Nayib Bukele is nie twee identiese leiers nie. Argentinië se krisis was en is steeds hoofsaaklik ekonomies. El Salvador s’n was 'n krisis van geweld, bendes en staatsgesag wat van woonbuurte onttrek het. Milei is die libertariese ekonoom met 'n kettingsaag teen staatsvermorsing. Bukele is die harde wet-en-orde-populis wat noodmaatreëls ingespan het om bendeheerskappy te breek.
Hulle metodes, ideologieë en grondwetlike kontekste verskil hemelsbreed. Tog deel hul sukses een waarheid wat die hoofstroom ortodokse denke se “verstand” te bowe gaan. Hulle planne het gewerk waar die deftige konsensus gesê het hulle gaan nie werk nie.
Argentinië
In Argentinië het Milei 'n land geërf wat deur inflasie, fiskale fantasie en die gerieflike leuens van Peronistiese ekonomiese bestuur uitgeput is. Die staat het bestee wat hy nie gehad het nie, geld gedruk wat hy nie kon bekostig nie, gesubsidieer wat hy nie kon volhou nie, en dit alles geregverdig deur dit “maatskaplike geregtigheid” te noem.
Maar die gevolg was nie geregtigheid nie. Dit was armoede, onsekerheid en 'n geldeenheid waarin gewone mense nie veilig die vrug van hul arbeid kon benut en belê nie.
Milei se antwoord was ekonomiese eenvoud en eerlikheid.
Onder Milei het sy regering nie gemaak asof begrotingstekorte nie saak maak nie. Hulle het nie ingekoop op die leuen dat 'n opgeblaasde welsynstaat welvaart per dekreet kan skep nie. Hulle het erken dat armoede nie opgelos word deur 'n groter staat, nog slagspreuke en nog subsidies wat 'n produktiewe ekonomie onderlangs laat uitbloei nie. Met ander woorde hulle het goeie common sense in regering laat seevier. Maar soos my pa altyd sê, common sense ain’t that common.
Die reaksie op Javier Milei se ingrypende hervormings was voorspelbaar. Hy is as wreed, roekeloos en ekstremisties uitgekryt. Sy kettingsaag het vir kritici die simbool van gevoellose politiek geword. Tog het Argentinië in 2024 sy eerste finansiële begrotingsurplus in 14 jaar aangeteken. Inflasie, hoewel steeds hoog teen normale standaarde, het skerp begin daal. Argentinië se amptelike statistiekagentskap het later berig dat jaarlikse inflasie in 2025 tot 31,5% gedaal het, die laagste sedert 2017. Armoede het ook dramaties afgeneem van 52,9% in die eerste helfte van 2024 tot 28,2% in die tweede helfte van 2025, volgens die land se amptelike syfers.
Natuurlik is Argentinië nie skielik Switserland nie. Miljoene Argentyne bly arm en die pyn van hervorming is werklik en sal nog vir 'n tyd voortduur. Daar is ook ontleders wat waarsku dat sommige van die verbetering deur korttermyn-statistiese bewegings en inflasie-effekte beïnvloed kan word en dus nie so permanent is nie.
Maar die les vir Suid-Afrika is dat Milei die ekonomiese werklikheid gekonfronteer het in plaas daarvan om verval in die naam van deernis te bestuur. En toe die werklikheid uiteindelik gekonfronteer is, het die land in 'n positiewe rigting begin beweeg.
El Salvador
El Salvador vertel 'n ander, maar verwante verhaal. Vir jare was El Salvador een van die gewelddadigste lande op aarde, selfs erger as Suid-Afrika.
In 2015 was die moordsyfer ongeveer 105 per 100 000 mense (vir konteks, Suid-Afrika s'n in 2015 was 33 per 100 000). Dit is die soort geweldsvlakke wat die beleidselite nie persoonlik agter hul sekuriteitsmure ervaar nie, maar waaroor hulle dikwels skryf. In El Salvador soos in Suid-Afrika word gemeenskappe deur vrees regeer. Kinders wat onder die skadu van bendes grootword, kleinbesighede wat afgepers word en gesinne wat snags na geweerskote luister. Openbare ruimtes in El Salvador is totaal aan die genade van misdadigers afgestaan.
Bukele se antwoord was nie nog 'n rondetafelgesprek oor die sosio-ekonomiese oorsake van geweld met geringe ingrypings wat die naald net effens verskuif nie. Sy antwoord was om die staat se gesag met doelgerigte geweld terug te neem. Ná 'n golf van bendegeweld in Maart 2022 het sy regering noodmagte ingestel en 'n omvattende veldtog teen bendes geloods. Soos klokslag het die internasionale menseregte-kermkoor toe veral gefokus op die beweerde skending van misdadigers se regte. Die regte van slagoffers, die families wat afgepers is, die kinders wat in vrees grootgeword het, die gemeenskappe wat deur bendes gyselaar gehou is verdwyn in sulke gesprekke dikwels merkwaardig vinnig uit die prentjie.
Kritici, waaronder internasionale menseregtegroepe, wys tereg op kommer oor behoorlike regsproses, billike verhore, tronktoestande en die verswakking van demokratiese wigte en teenwigte. Maar ondanks die kritiek is tienduisende vermeende bendelede in hegtenis geneem en die gevolg was veiliger strate vir die meerderheid burgers van El Salvador.
'n Samelewing wat misdadige terreur oorwin deur arbitrêre staatsmag te normaliseer, mag dalk vrede op kort termyn wen terwyl dit die instellings ondermyn wat vryheid op lang termyn moet beskerm. Maar die uitkoms en sukses is eweneens onmoontlik om te ignoreer. El Salvador se regering sê die moordsyfer het tot 1,3 per 100 000 mense in 2025 gedaal. Teenoor die donker dae van 2015 is dit nie 'n geringe verbetering nie, maar 'n noemenswaardige verbetering.
Die ma wie se kind nou veilig skool toe kan stap, leef nie binne 'n Westerse dinkskrum se beleidsdokumente nie. Die winkeleienaar wat nie meer beskermingsgeld aan bendes betaal nie, ervaar nie “outoritêre estetika” as 'n akademiese kategorie nie. Die gesin wat deur die nag kan slaap sonder geweerskote, stel nie primêr belang in of die korrekte woordeskat van progressiewe kriminologie gebruik is nie.
Hulle ervaar die mees basiese mensereg van veiligheid.
Kommentatorklas se Gekla
Die hoofstroom kommentatorklas behandel orde, fiskale dissipline en gevolge dikwels as moreel verdag, terwyl deernis op sigself as 'n deug behandel word. Maar werklike deernis word nie bepaal deur hoe indrukwekkend 'n regering misdaad veroordeel nie. Deernis in hierdie sin word uiteindelik gemeet aan of minder mense vermoor word.
Daar is 'n voortdurende poging om gewone mense te dwing om hul gesonde verstand op te skort. Ons word oor en oor vertel om dit wat ooglopend waar is, nie raak te sien nie. Ons word vertel dat ferm optrede teen stedelike verval onmenslik is, selfs wanneer onwettige besetting, verval en wetteloosheid duidelik niemand se belange dien nie, nie die besetters s’n nie, nie die omliggende gemeenskap s’n nie, en nie 'n stad of dorp s’n nie. Ons word vertel dat dit “progressief” is om misdaad hoofsaaklik as 'n maatskaplike simptoom te behandel, selfs wanneer gewone mense in hul eie woonbuurte deur bendes, afpersers en dwelmhandelaars gevange gehou word. Ons word vertel dat dit eintlik 'n soort deernis is, solank dit net in die regte morele taal verpak word.
Maar dit is nie deernis nie. Dit is die lugspieëling van deug. Dit is mooipraatjies wat gebruik word om iets te bedek wat vir almal betrokke nadelig is.
Dieselfde patroon herhaal hom in byna elke terrein van openbare beleid. Wanneer misdaad gemeenskappe versmoor, word ferm optrede as verdag beskou. Wanneer ekonomiese wanbestuur armes se lewens en toekomste vernietig, word fiskale dissipline as wreed beskryf. Wanneer openbare ruimtes verval, word die herstel van orde as hardvogtig beskryf. En wanneer gewone mense sê wat hulle met hul eie oë sien naamlik, dat chaos wel chaos is, dat verval verval is, dat misdaad misdaad is word hulle deur die kommentatorklas aangespreek en vertel dat hulle eintlik nie verstaan wat hulle sien nie.
Dit laat 'n mens dink aan Orwell se waarskuwing dat die uiteindelike eis van ideologiese mag altyd is om die bewyse van jou eie oë en ore te verwerp. Presies dít is die versoeking van moderne beleidstaal, om die werklikheid so lank te herbeskryf totdat mense skaam voel om die waarheid hardop te sê.
Dit gebeur omdat die elite beleidsklas besonder vatbaar is vir oorvloedsoortuigings, idees wat status aan die welgesteldes verleen, maar kostes op gewone mense afdwing. Die rykes kan sagte misdaadteorieë bekostig, want hulle woon agter mure, alarms en private sekuriteit. Hulle kan ekonomiese romantiek bekostig, want hulle hou bates in stabiele geldeenhede, stuur hul kinders na private skole en het altyd 'n uitgangsplan. Hulle kan wanorde as kompleksiteit beskryf, want hulle word teen die gevolge daarvan beskerm.
Die armes kan nie.
Die armes betaal onmiddellik en fisies vir slegte idees. Hulle het nie nóg 'n elite-opvoering van empatie nodig nie. Hulle het 'n werkende ekonomie, bekwame polisie, werkende skole, funksionele howe en aanspreeklike regerings nodig.
Vlot in Deernis, Vrot in Dienslewering
Dit is die les uit Argentinië en El Salvador. Nie dat Suid-Afrika, of enige ander land, Milei of Bukele net so moet invoer nie. Lande en hul grondwette, instellings en geskiedenis verskil. En niemand behoort die oppergesag van die reg of die perke van staatsmag lig op te neem nie.
Die werklike les is dat werklikheid moet weer toegelaat word om ideologie te dissiplineer. As 'n beleid die armes armer maak, word dit nie deernisvol omdat dit in deernisvolle taal beskryf word nie. As 'n misdaadbenadering gemeenskappe aan bendes oorlaat, is dit nie menslik bloot omdat dit moeilike keuses vermy nie. As 'n regering meer bestee as wat hy het totdat inflasie werkers se lone vernietig, is dit nie pro-arm nie.
Suid-Afrika het 'n politieke klas wat vlot is in deernis, maar dikwels swak is in resultate. Ons het beleide wat in die naam van die armes verdedig word, maar nie werk vir die armes skep nie. Ons het eindelose retoriek oor veiligheid terwyl misdadigers hele gemeenskappe meer effektief regeer as die staat. Ons het raamwerke, kommissies, strategieë, komitees en verklarings maar te min moed om dinge te laat werk. Gesonde-verstand-politiek is nie simplistiese politiek nie. Dit is politiek wat deur uitkomste getoets word. Is minder mense arm? Word minder mense vermoor? Kry meer mense werk? Leer kinders beter? Is gesinne veiliger? Doen die staat die basiese dinge wat 'n staat behoort te doen?
Dít wat die elite beleidsklas sê hulle wil bereik — minder armoede, veiliger gemeenskappe, meer waardigheid — word vinniger deur dapper, praktiese hervormers bereik juis omdat hulle minder behep is met die rituele van elite-goedkeuring. Milei en Bukele is onvolmaakte leiers in onvolmaakte lande met onvolmaakte metodes. Maar hulle het 'n volmaakte skynheiligheid ontbloot: die weiering van baie kommentators om verbetering te erken wanneer dit in die verkeerde ideologiese uniform opdaag.
Die feit van die saak is dat minder Argentyne arm is, en minder Salvadorane vermoor word, en dit is wat saak maak.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









