Politiek bo Prestasie: Deel 3 | Ming-tydperk China en die vrees vir groei
Mag, maste, en om die wind uit 'n land se seile te haal.

Die eerste twee uitgawes in die reeks Politiek bo Prestasie het dalk inhoudelik verskil, maar die sentrale tema van oorspanning was duidelik. In Athene is demokrasie met te veel toevertrou, toe laat dit die deur oop vir populisme. In Rome is mag verder geprojekteer as wat die onderliggende instellings werklik kon dra.
Politiekery ten koste van toekomspotensiaal is egter, soos wat hieronder aangevoer word, nie net in die vorm van oorskatting of oorspanning te vinde nie, maar ook deur 'n oordrewe interne fokus, en 'n afkeur van uitbreiding. Een van die beste voorbeelde hiervan is Ming China, dus, China tydens die Ming-dinastie. Sedert die ietwat mitologiese ontstaan van die Xia-dinastie in 2070 v.C. tot en met 1911 n.C. het omtrent 14 dinastieë oftewel vorstehuise oor China geheers.
“Omtrent” is in hierdie konteks nodig, omdat sommige akademici meen dat daar 13 vorstehuise was, terwyl ander eerder met 14 of 15 reken. Die Ming-dinastie (1368-1644 n.C.), wat begin het toe die Yuan-dinastie (1271-1368) tot 'n val gekom het, word dikwels as die hoogtepunt van Keiserlike China beskou.
Die Ming-masjien
In vergelyking met die res van die wêreld van daardie tyd, en met heelparty moderne state, was Ming-China sy tyd ver vooruit. Die staat het 'n hoogs ontwikkelde burokratiese stelsel onderhou, gebaseer op meriete-eksamens, met 'n ongekende vermoë om belasting, arbeid en hulpbronne oor 'n enorme gebied te organiseer. Stedelike sentrums het gegroei, handel en vervaardiging het opgebloei, en Chinese produkte het wêreldstandaarde gestel. Ming-porselein word vandag nog as erfstuk beskou, en 'n vinnige internetsoektog sal aantoon dat 'n eenvoudige Ming-tydperk rysbakkie maklik tot en met R10 000,00 werd kan wees. Op die gebied van landbou kon ingenieurs deur middel van terasse en grondverskuiwing voedselproduksie in rowwe bergagtige terrein bemoontlik.
Fyn kuns en baie rys is indrukwekkend en nodig, maar hierdie sagter prestasies word oorskadu deur die koue harde mag van die sogenaamde Middelkoninkryk tydens hierdie era. Die Ming-dinastie se maritieme mag is bowenal daargestel deur skepe wat tegnologies en skaalgewys sonder eweknie was. Die skatskepe (baochuan) onder bevel van admiraal Zheng He was reeds teen 1433 meer as 120 meter lank en meer as 50 meter breed. In vergelyking was die grootste skepe wat Europa in die 15de eeu kon bou (soos dié waarmee Christoper Columbus in 1492 in die Bahamas aangekom het) maar 35 meter lank.
Hierdie massiewe Chinese skepe was deel van komplekse vlootformasies met gespesialiseerde ondersteuningskepe vir perde, vars water, voedsel en herstelwerk. Hierdie maritieme infrastruktuur is versterk deur China se gevorderde gebruik van buskruit: Ming-magte het kanonne, bomme, vuurpyle en vuurwapens op land én see ingespan, lank voordat sulke wapens in Europa gestandaardiseer is. As 'n mens in ag neem dat Zheng He reeds in die 1420’s met duisende man tot aan Oos-Afrika en moderne Tanzanië gereis het, klink die hoogsgevaarlike reis van Columbus met sy drie bootjies sewe dekades later eintlik maar agterlik. Met hierdie massiewe vloot het China 'n ongekende netwerk gebou, diplomatieke verhoudinge gekweek, en handelsroetes opgebou.
Kusverbod en die einde van 'n era
Die sentrale doel van hierdie reeks is om aan te toon dat onkundige politiek dikwels keer dat 'n staat of volk sy goue tydperk betree.
Omdat ons leerplanne dikwels deur Westerse geskiedenis gevorm word, is die bogenoemde geskiedenis dalk vir meeste Afrikaanse lesers nuut, dalk selfs verbasend. Ons ken China hoofsaaklik vandag as 'n groot ekonomiese masjien wat eers na die dood van Mao Zedong werklik sy produksie- en handelsmag begin opbou het. As handel en nywerheid reeds in die 1430’s van Beijing af tot in Tanzanië gedryf kon word, hoe kan dit wees dat Jan van Riebeeck meer as 220 jaar later geen Ming-paleis aan die Kaap van Goeie Hoop gevind het nie?
Die antwoord lê nie in 'n skielike verlies aan kennis of tegnologie nie. Geen groot rampe het die Ming-dinastie skielik oorval nie. Die rede was baie uitdruklik foutiewe besluitneming ná 1433. Reeds in 1424 het die Yongle-keiser gesterf, hy wat aan Zheng He die reisopdrag gegee het. Onder die Hongxi-keiser (1424–1425) en die Xuande-keiser (1425–1435) verloor die vloot spoedig die keiserlike ondersteuning wat maar altyd vir sulke reise nodig was. Dit is so dat daar skielik hernude militêre bedreigings opgeduik het, veral langs die noordelike grens waar Mongoolse groepe weer aanvalle geloods het, soos aan die begin van die 13de eeu. Teen die 1440’s het die keiserstaat sy hulpbronne doelbewus herkanaliseer na landverdediging, insluitend die versterking van die Groot Muur. Tot dusver kan ons die staat se optrede sekerlik verstaan en regverdig. Om groot skepe te bou is nie so belangrik soos om jou burgers en ryk te beskerm nie — ons volgende uitgawe van hierdie reeks, wat oor Lodewyk XVI se Frankryk handel, sal duidelik stel waarom nie.
Die politieke besluit wat China egter 'n onskatbare knou sou toedien, was die sogenaamde kusverbodwetgewing. Dat 'n nasie vir 'n tyd lank ophou skepe bou maak onder die bogenoemde omstandighede sin, maar dit het nie daar geëindig nie. Nie net het amptenare besluit om skeepswerwe ten volle te sluit nie, maar teen die middel van die 15de eeu was selfs privaat seehandel streng gereguleer deur hierdie kusverbodwette. Die oseaan — tot baie onlangs hul geopolitieke verhoog — word toe as 'n administratiewe probleem beskou.
Die besluit om private seehandel te verbied het gestam uit die vrees dat onafhanklike magte tot stand sal kom, wat mettertyd 'n bedreiging sou verteenwoordig. Die Britse historikus Niall Ferguson beskou hierdie een besluit as so belangrik dat hy die opkoms van die Weste ten dele daaraan koppel. Deur eensklaps uit die ganse Indiese Oseaan te onttrek, los China hierdie oseaan oop vir verkenning en uiteindelike kolonisering deur groeiende Europese magte. Alhoewel verskeie Europese magte oor die daaropvolgende volgende vyf eeue in watergebaseerde konflik met China sou tree, was dit veral Engeland en haar massiewe stiefkind, die VSA, wat China hierdie politieke en maritieme voetfout tot vandag toe laat berou.
Wat ons vandag by Ming-foute kan leer
Dit is opmerklik en vandag nog ten volle toepaslik dat sentrale beheer en die sentrale besluitneming om alle burgers eensklaps te verbied om aan 'n sektor van die ekonomie deel te neem, selde 'n positiewe uitwerking het.
As die VSA vandag sou besluit om SpaceX en Blue Origin alle toekomstige ruimtevaart te verbied op grond daarvan dat hulle bang is dat hulle beheer oor hul privaat burgers verloor, keer dit ander lande en ander maatskappye nie om daardie mark oor te neem nie. Dit sou wel beteken dat die VSA se invloed daaroor onmiddelik sou verdwyn. As Ming-China wel skeepsbou en handel toegelaat en gereguleer het in stede daarvan om dit skielik tot 'n einde te bring, sou ons geskiedenisboeke sekerlik anders lyk.
In die geval van Suid-Afrika, sou mens jouself heeltemal tereg kon afvra wat die langtermyn gevolge daarvan was om besigheidsomstandighede te skep wat entrepreneurs en ontwikkelaars aktief uitsluit en demotiveer. Rasgebaseerde wetgewing en verouderde Marxisme-Leninisme het oor die afgelope drie dekades baie kapitaal landuit gestoot en goeie idees in die kiem gesmoor. As Suid-Afrika werklik besig is om die skip te draai, soos wat President Ramaphosa tydens 2026 se Staatsrede beweer het, dan kan daar vir wetgewing wat niks anders as 'n moderne kusverbod is nie, geen plek wees nie. Vrees vir die vooruitgang van jou burgers is nogsteeds vrees vir vooruitgang.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








