Politiek bo Prestasie: Deel 2 | Rome en die angel van ambisie
Hoe om jou eie knieë af te kap.

Antieke Athene, waaroor die eerste aflewering in hierdie reeks gehandel het, slaan die leser en geskiedkundige op die neus met 'n waarskuwing teen populisme. In die geval van hierdie deel se fokus, antieke Rome, is die les troebel en stadig, maar nie minder tersaaklik nie.
Toe die Franse digter Joachim du Bellay (1522–1560) in die middel van die 16de eeu tussen die ruïnes van Rome rondgedwaal het, kon hy nie anders nie as om sy gedagtes in vers uit te druk:
“Rome de Rome est le seul monument,
Et ce qui reste est vain ombreusement ;
Le corps s’enfuit, l’esprit seul se conserve.”
'n Vryerige Afrikaanse vertaling sou miskien so klink:
“Rome is Rome se enigste monument,
En wat daarvan oorbly is ydel, skaduagtig;
Die liggaam vlug, net die gees bly oor.”
Wat Du Bellay gesien het klink treurig. Die klippe staan nog, die oorblyfsels van 'n bloeitydperk wat twee millennia later ongeëwenaard staan, maar Rome, die fabelagtige stad en die ryk wat uit hom gevloei het, waarvan die skadu vandag nog oor ons hang, daarvan was daar niks oor nie. Die lewenskrag, die burgerlike doel, die dissipline — daarvan was niks meer te bespeur nie.
Wanneer ambisie die septer gryp
Op so 'n verval kan 'n mens nie toekyk sonder om te wonder wat fout gegaan het nie. Tog is die soeke na een enkele oomblik van verval nie maklik nie. In die geval van Athene kan 'n mens 'n saak vir die Sisiliaanse Ekspedisie uitmaak en verdedig, maar Rome se val laat hom nie so maklik vasvang nie.
Een van die invloedrykste menings oor die val van Rome kom uit die pen van Edward Gibbon, wie se The History of the Decline and Fall of the Roman Empire steeds 250 jaar na die eerste verskyning daarvan sentraal staan tot hoe ons oor die val van Rome en die beskawingsondergang oor die algemeen dink. Gibbon merk redelik vroeg in die eerste volume op:
“The spirit of ambition was checked by the firm and temperate wisdom of Augustus; but, after his death, it revived with new vigour, and reigned with uncontrolled violence.” (Vol. 1 Hs. III)
Gibbon se sentrale tesis is dat geen enkele oomblik tot Rome se val gelei het nie, maar dat 'n stadige interne verval eerder die skuld moet dra. In plaas daarvan dat 'n eksterne mag se infiltrasie die eer moet ontvang, sien Gibbon die opkoms van 'n toestand waar Rome nie meer aan die interne vereistes vir die onderhoud van die Ryk kon voldoen nie. Plat gestel het die arms eenvoudig verder gestrek as wat die skouers en gewrigte kon hanteer. Die lewensbloed kon die reis na die verste vingerpunte nie meer met suurstof bedien nie. So begin die mees afgeleë skakels en organe hulself mettertyd as onafhanklik beskou. Die verbondenheid aan die liggaam verswak, en om Yeats te parafraseer, dan val dinge uitmekaar.
Hierdie verduideliking maak sin, maar dit vergewe die kop wat die vingers beveel het om so wyd te strek dalk te vinnig. Rome se agteruitgang was 'n regstreekse gevolg van die ambisies van sy keisers, dikwels met die doel om die eie glorie en grootsheid deur die ewigheid te laat eggo. Hierdie ambisie is in sy kwaad gesterk deur generaals en konsuls wat militêre veldtogte as geleentheid gesien het om roem en eer te verwerf. So het die Ryk homself uitgebrei bo wat dit realisties kon regeer. Elke nuwe provinsie het prestige gebring, maar ook kompleksiteit, omdat elke nuwe grondgebied behou en bestuur moes word. Rome se leiers het dikwels grootte met krag verwar: Uitbreiding het 'n doel op sigself geword, nie gedryf deur noodsaaklikheid nie, nie gedryf deur die ware beste belang van die burgers nie, maar deur heersers se begeerte om onvergeetlik te word. Ook hier stel Gibbon dit mooi:
“The emperors, anxious only to maintain their personal dignity, too frequently sacrificed the happiness of their people to the gratification of their own pride or resentment.” (Vol. 1 Hs. III)
Rome se les vir vandag se politici
Gibbon meen dat Rome se val onvermydelik was, dit was die gevolg van ongewone mag wat eenvoudig onvolhoubaar was.
Ek is nie seker dat ek daarmee saamstem nie. Lank voordat Rome 'n magtige wêreldryk geword het, het die Orakel van Delphi in Antieke Griekeland reeds die woorde “γνῶθι σεαυτόν” bo die tempelingang laat kerf. “Ken jouself”. 'n Politikus moet konstant bestek opneem van wat sy staat werklik is, en wie sy burgers is. Die tekens dat die arms te ver strek was duidelik, die gesukkel om die hele storie aanmekaar te hou was vir eeue lank 'n besprekingspunt. Groot en ambisieuse projekte is dikwels nodig, en soms 'n goeie idee, maar as dit van die realiteit losgemaak word, kan dit die orde vernietig, en die staat inmekaar laat plof. Sulke ambisie het, ten minste in die geval van Rome, meer vernietigend geblyk as enige eksterne vyand. Die Ryk het homself verslaan lank voordat barbare oor die Ryn of oor die Alpe gekom het.
Nog Leesstof:
Om realisties te wees beteken nie om skaam te wees nie. 'n Nasie kan homself onderskat en weier om sy potensiaal te bereik, net soos dit homself kan oorskat en onder die gewig van sy aspirasies kan ineenstort. Rome se mislukking was natuurlik eerder laasgenoemde, maar die inherente fout is dieselfde: 'n Tekort aan gesonde selfrefleksie en selfkennis.
[Soliloque: Daar is natuurlik 'n derde opsie benewens kleinmoedigheid en hoogmoed: Apatiese bewusteloosheid, waar die leier in die eerste plek nie vir die staat of vir die bevolking omgee nie, maar die staat as buffet-tafel beskou waar hy sy bord skroomloos kan volskep, is daar vir refleksie oor wat presies die staat is, en wie die bevolking nou eintlik is, maar weinig tyd. Min goeie idees spruit immers uit 'n vol maag en 'n warm bed. In so 'n geval, sou 'n mens dalk aan 'n passende voorbeeld kon dink, sou groot ambisies afwesig wees, niks meer as beloftes tydens jaarlikse Staatsredes of Begrotingsredes nie. In so 'n geval sou ek dalk eerder saam met Roosevelt Romeins wou wees. Liewer iets probeer en misluk as om nog 'n bietjie te slaap, en nog 'n bietjie te sluimer.]
Uiteindelik leer Rome vir ons dat persoonlike ambisie nie 'n vriend van die gemeenskaplike beste belang is nie, want op 'n sekere punt bots die persoonlike ambisie met die belang van die gemeenskap, al oorvleuel die twee aanvanklik. Hierin is daar vir ons, in 'n tyd van keiserlike ambisie, heelwat stof tot nadenke.
In regstreekse teenstelling met die val van Rome handel die volgende aflewering van Politiek bo Prestasie oor keiserlike China, en hoe 'n oordrewe interne fokus tred met die ontwikkelings om jou kan verloor.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Paul, alhoewel jy dit nie sê nie, kan ek ook in hierdie skrywe van jou en in die Romeinse ervaring dinge lees wat in Suid-Afrika aangaan. Jy impliseer dit dalk sonder om dit te sê, maar ek dink die oorspronklike ANC-gemeenskapsgesindheid is ook mettertyd deur ambisies vernietig. Sodanige ambisies van die slegte soort (want ambisie het mos ook ‘n helse goeie kant), het myns insiens ontstaan toe ANC-kaders in leierskapsposisies begin besef het dat méér absolute mag hul werllike ambisie sou kon laat realiseer, nl. om persoonlike rykdom na te bekom. Dit was die sogenaamde “dis nou ons tyd om te eet”-sindroom wat na vore getree het in veral die post-Madiba era. Dt was natuurlik altyd daar, sluimerend, maar die Madiba-etos het dit onderdruk.
Ná Madiba was dit carte blanche vir die kaders. Die gevolge ken ons goed, nl. korrupsie en die diefstal van belastingbetalersgeld op massiewe skaal. Ons het naïewelik gedink die hoogtepunt daarvan was tydens staatskaping, maar nou weet ons mos dit het vrolik voortgegan en is vandag nog steeds endemies. Geen einde is in sig nie.
Die tweede oorsaak van uiteindelike verval waarna jy verwys het, nl. “over-reach", soos ek dit vir myself beskryf in besigheidsterme, is natuurlik ook duidelik in Suid-Afrika te siene. Die uitdaging wat gepaard sou gaan met die ANC-ambisie om alle mag te wou (en steeds te wil) sentraliseer, is heeltemal onderskat. Duidelik vind die sentrale regering, provinsiale regerings, en staatsentiteite dit onmoontlik om by alle dienspunte uit te kom, want dis bloot té oorweldigend. Die vryemarkstelsel het mos juis al oor en oor bewys dat die miljoene besluitnemers in ‘n vryemarkstelsel, wat hul eie belange nastreef, tot ongelooflike resultate aanleiding gee. Aan die ander kant is burokrasië, veral staatsburokrasië en monopolië, al keer op keer as oneffektief en veral koste-oneffektief bewys om grootskaalse uitdagings suksesvol en volhoubaar aan te spreek. Voeg dan nog ‘n uiters heterogene bevolkingsamestellimg by en jy sal maklik Suid-Afrika se regeringsuitdagings as ‘n mikro-kosmos van die Romeinse Ryk in sy vervaldae kan sien.
Moontlike oplossings is veelvuldig: vanaf die soeke na ‘n meer federale bestel, of vorme daarvan, soos Lex Libertas hard en baie profesioneel poog om te doen; tot die burgerlike organisasie-inisiatiewe soos wat die Solidariteit Beweging/Afriforum baie suksesvol nastreef en prakties uitrol; tot by die Orania-bewegings wat ten spyte van skeptisme ook op moontlike praktiese oplossings wys wat navolgbaar is.