Politiek bo Prestasie: Deel 4 | Frankryk voor die Val
Hoe om jou eie mense teen jou te draai.

In 1648 het een van die mees verwoestende oorloë in Europa se geskiedenis tot 'n einde gekom. Die Dertigjarige Oorlog, wat ook in 'n gewisse mate daartoe bygedra het dat Suid-Afrika vandag is wat dit is, het in 1618 in Praag begin as 'n godsdiensstryd binne die Heilige Romeinse Ryk - 'n Ryk wat in vandag se terme die meeste van Duitsland, asook dele van onder andere Tsjeggië, Pole, Frankryk, Italië, en Oostenryk ingesluit het.
Spoedig het hierdie klein, aanvanklik interne konflik uitgebrei tot 'n magstryd oor die hele vasteland. Spanje, Denemarke, Swede, verskeie Duitse prinsdomme en uiteindelik ook Frankryk het betrokke geraak. Groot dele van Sentraal-Europa is verwoes, en dit word gewoonlik geskat dat omtrent 30% van die bevolking van wat vandag Duitsland is, omgekom het. Frankryk het eers later tot die oorlog toegetree. Vir die Franse koning, Lodewyk XIII, het dit nie noodwendig oor die verdediging van die Rooms-Katolieke Kerk gegaan nie, in teendeel, hy het die Protestantse magte by meer as een geleentheid ondersteun.
Vir koning Lodewyk XIII en sy belangrikste adviseur, kardinaal Richelieu, het hierdie oorlog 'n strategiese geleentheid gebied om die supermoondheid in Europa te word. Hierdie magsposisie sou wel nie net kom nie, dit moes eers by die Habsburg-dinastie afgeneem word. Die Habsburgers het Spanje en die Heilige Romeinse Ryk voor die oorlog beheer, en Frankryk dus in werklikheid omring. Teen die einde van die oorlog, na afloop van die Vrede van Wesfale, het Frankryk nog grondgebied langs die Ryn verkry en die Habsburgse invloed het aansienlik verswak. Alhoewel daar nie 'n amptelike “wenner” na afloop van hierdie verwoestende oorlog aangekondig is nie, stem geskiedkundiges saam dat Frankryk nadese in 'n baie beter posisie was as tevore, en inderdaad reg geposisioneer was om mag oor die ganse Europa uit te oefen.
En tog, minder as 'n eeu en 'n half later, sou Lodewyk XIII se agter-agterkleinseun Lodewyk XVI ten aanskoue van sy volk tereggestel word. In 1793, op die Place de la Révolution, is hierdie droom van Franse oorheersing in die mees letterlike terme voor juigende skares kortgeknip. Wat die Franse Rewolusie so diep op ons geskiedenis inbrand, is die oorsprong van die troonbestormers. Dit was nie 'n weeropgestane Heilige Romeinse Ryk wat die koning onthoof het nie, dit was ook nie die Engelse aartsvyand aan die anderkant van die kanaal nie, dit was sy eie mense, die gemiddelde Jean en Jacques en Francois en Marie wat besluit het: So kan dit nie aangaan nie.
Hierdie meningstuk ontleed 'n tema wat in Suid-Afrika resoneer, juis omdat die temas in baie gevalle basies direk van toepassing is: 'n Leier wat groot huise met die staat se geld bou, en die koste wat aangegaan word om sy gade(s) te onderhou, en sy vriende se partytjie aan die gang te hou… In wat hier volg sal aangetoon word hoe 'n politieke bestel wat al hoe meer daarop ingestel raak om elitebelange, hoflike vertoon en gevestigde voorregte ten koste van die volk te beskerm, uiteindelik die land se ekonomiese fondament ondergrawe. Wanneer beleid nie meer gerig is op breë welvaart, die gemene beste belang en volhoubare groei nie, maar op die instandhouding van 'n idee oor die heersersklas en sy regte, word verval 'n stadige, selfveroorsaakte verswakking wat ’n land se toekoms knel nog lank voor die val sigbaar word.
Die komende Wêreldmag
In die dekades na die dertigjarige Oorlog het dit na alle meetbare standaarde met Frankryk baie goed gegaan. Nie net het hierdie land die grootste bevolking in Europa gehad nie, dit het ook met die mees produktiewe landbousektor gespog, en die binnelandse ekonomiese groei het as’t ware uit sy nate gebars. Onder die lang en roemryke bewind van Lodewyk XIV, wat meer as 72 jaar lank geduur het, is mag toenemend gesentraliseer. Belastinginvordering is uit administratiewe sig verbeter, maar hoe langer hoe meer het alle paaie na Parys, of ten minste na Versailles gelei, maar waarom sou iemand kla, alles het dan goed gegaan... Teen die vroeë agtiende eeu was Frankryk die maatstaf vir kultuur, militêre organisasie en staatsbestuur. As ’n Europeër in 1700 moes voorspel watter land die eeu sou oorheers, sou Frankryk heel bo op die lys wees. Onder hierdie dun patina van goud en glans het die sade van die Bourbon-dinastie se val egter alreeds geskuil.
Hoe Grootheid Gefinansier is
Een van Lodewyk XIV se bekendste projekte was die uitbreiding van die Paleis van Versailles. Hierdie pragstuk van 'n gebou, wat vandag nog een van die wêreld se top toeristebestemmings is, was baie meer as net 'n paleis, meer as net 'n setel vir 'n sonkoning. Hierdie gebouekompleks, kompleet met tuine en terrein wat vandag nog onwerklik voorkom, was bowenal 'n politieke instrument. Vir die Franse adel was lang besoeke aan Versailles 'n jaarlikse verpligting. Omdat elkeen wat in politiek belang gestel het naby aan die koning wou wees, en omdat hy dit skielik verpligtend gemaak het, het die ganse nasionale magsbasis en besluitnemingskorps in wese na Versailles verhuis. Die afwesige adelstand was dalk vir landelike boere uitdagend, omdat bepaalde take onopgelos gebly het, maar die groter probleem was nie soseer die afwesigheid van hul eie prinsdomme en graafskappe nie, dit was eerder hulle permanente aanwesigheid aan die koning se tafel. Historici skat dat ongeveer 6% van die ganse Franse BBP uitgegee is om Versailles aan die gang te hou. Op dae van groot geleenthede was daar na raming ongeveer tienduisend dienaars aanwesig. As mens dan in ag neem dat daar benewens al die monde ook nog 2000 perdebekke gevoer moes word, dat tuine onderhou moes word, en dat kunstenaars teen groot salarisse aangestel is, dan maak die moderne skatting van ongeveer €300 miljoen per jaar, of R6 miljard, logies sin. Dit was meer as uitspattigheid, Lodewyk XIV wou 'n punt maak, en hy het 'n punt gemaak - al was dit nie die een wat hy gedink het hy sou maak nie.
Ondanks die spandabelrigheid by Versailles het die wêreld nie opgehou draai nie. Frankryk was byna voortdurend in oorlog betrokke. Oorlog van die Spaanse Suksessie (1701–1714) is gevolg deur die Oorlog van die Viervoudige Alliansie (1718–1720), die Oorlog van die Poolse Suksessie (1733–1738) en die Oorlog van die Oostenrykse Suksessie (1740–1748), om maar net 'n paar te noem. Oorloë is deur Lodewyk XIV en sy navolgers gefinansier, baie soos wat staatsuitgawes vandag nog gefinansier word, deur belastings en lenings. Hierdie belastings en heffings moet egter nie met vandag se idee van progressiewe belasting verwar word nie. Die Franse belastingstelsel van die 18de eeu was struktureel uiters ongelyk en het die grootste las op die sogenaamde Derde Stand (boere, stedelike werkers en die burgerlike middelklas) geplaas. Formeel was die koninkryk in drie stande verdeel: die geestelikes, die adel en die “res”. Hoewel die eerste twee stande oor die meeste grond en politieke invloed beskik het, het hulle omvangryke vrystellings van direkte belastings geniet. Die belangrikste direkte belasting, die taille, is byvoorbeeld hoofsaaklik deur gewone onderdane betaal, terwyl adelikes en dikwels ook geestelikes daarvan vrygestel was. Die Kerk het in plaas daarvan ’n vrywillige bydrae (don gratuit) aan die kroon gegee, wat in praktyk veel kleiner as sy potensiële belastinglas was.
Daarby het indirekte belastings — soos die soutbelasting (gabelle), aksynse en plaaslike tolheffings — almal geraak, maar relatief swaarder op die armes gedruk omdat dit verbruik en noodsaaklike goedere betref het. Boere moes boonop feodale heffings aan plaaslike here betaal en verpligte arbeid (corvée) verrig vir openbare werke. Die gevolg was dat ’n groot deel van die produktiewe bevolking terselfdertyd staatsbelasting, kerkbydraes en feodale laste gedra het, terwyl bevoorregte groepe hul inkomste grotendeels behou het. Teen die middel van die agtiende eeu was hierdie wanbalans ingeburger.
Die laaste strooi wat die donkie se rug gebreek het, was, so meen heelwat moderne historici, die Franse steun aan die dertien Amerikaanse kolonies in hul opstand teen Brittanje tydens wat vandag bekend staan as die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog. Frankryk het troepe, skepe, wapens en finansiering verskaf. Die doel was om Brittanje te verswak, en suiwer uit 'n militêre hoek gesien was dit uiters suksesvol. Finansieel was dit egter rampspoedig. Die oorlog het sowat 1,3 miljard livre by die staatskuld gevoeg, ongeveer $30 000 000 000,00 (dertig miljard dollar) in vandag se geld. Teen die 1780’s was hierdie skuld eenvoudig te veel om te dra.
En wie dra die las?
Vir baie Franse was nasionale skuld 'n daaglikse tema. As almal saam swaargetrek het, sou die geskiedenis die jare 1789-1793 dalk anders onthou. Nietemin het die hof en die adel, ten spyte van hierdie toenemende las op die burgers, hulle beste lewe geleef. Van 1774 af was Lodewyk XVI, die agterkleinseun van Lodewyk XVI, op die troon. Die huishoudelike boeke van sy berugte vroulief Marie Antoinette toon 'n geweldige besteding aan klere, juweliersware, meubels en vermaak. Danksy volledige boekhouwerk deur haar rokmaker, Rose Bertin, weet ons vandag dat sy gemiddeld, in vandag se geld €7 miljoen aan klere, mode, juwele en vermaak uitgegee het. Dus ongeveer R140 miljoen terwyl die mense op die straat dubbel moet werk, en weekliks nuwe heffings moet betaal.
Oor die spandabelrigheid van Lodewyk XVI sou mens nog boeke kon vul, maar enige leser van geskiedenis, filosofie of politiek weet wat volgende gebeur het. Die donkie het geweier om sy rug verder te laat breek, en die wêreld was nooit weer dieselfde nie. Die Franse Rewolusie het Europa en die ganse wêreldorde vir altyd verander. Mens is versigtig om iets so bloeddorstig en moorddadig soos die Franse Rewolusie goedsmoeds te verskoon, maar selfs die grootste kritikus moet sekerlik bieg dat die woedende werkersklas dalk 'n punt beet gehad het.
Waarom Dit Vandag Saak Maak
Uit die omstandighede wat die Franse Rewolusie voorafgegaan het behoort ons nie die les te neem dat moderne regerings soos Bourbon-howe lyk of funksioneer nie nie. Min leiers woon nog in paleise soos Versailles. Uitspattigheid neem vandag ander vorme aan, en word op ander plekke gebore. Dit gaan nie meer daaroor om jou eie grootsheid te toon nie, dit gaan dikwels daaroor om jou setel te behou, of jou ideologie as volhoubaar daar te stel.
'n Mens dink maar aan staatsredes, waar grootse beloftes gemaak word, waar 'n staat wat kniediep in die skuld is, toelae op probleme gooi. 'n Mens dink aan lande waar dit eenvoudig makliker is om nog skuld uit te neem as om die lekke en krake wat korrupsie veroorsaak het toe te probeer maak. 'n Mens dink uiteindelik ook aan blink motors vir staatsamptenare terwyl riool deur skoolgronde loop. So lyk die moderne politieke dekadensie.
Frankryk ná 1648 het alles gehad: veiligheid, skaal, kundigheid. Wat dit nie gehad het nie, was die politieke wil om mag en die ekonomiese werklikheid in lyn met mekaar te bring. Frankryk in 1789 leer dat voorspoed nie net verlore gaan in tye van chaos nie. Dit kan ook jaar vir jaar wegsypel deur politieke elites wat hul eie luuksheid en gemak bo ware en werklike gemeenskaplike vooruitgang kies.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








