Politiek bo Prestasie: Deel 5 | Duitsland en die nadraai van nuwe momentum
Wanneer staal sy eie remskoene deurbrand.

Tot dusver het hierdie reeks, wat ek werklik vir my eie genot aangepak het, heelwat interessante lesse opgelewer. Die sentrale probleem waarmee ek worstel is dat die geskiedenis homself oor en oor herhaal as dit kom by dom politieke besluite wat groeigeleenthede morsaf sny.
Ek dink daaraan soos 'n tuinier wat die pragtigste boom in sy tuin so met die snoeiskêr kwes dat die boom nooit die bloeityd en blomtyd bereik wat dit sou bereik het as die simpel vent net sy hande in sy sakke gelos het nie. Op presies dieselfde manier is daar nasies, volke, state, en watter samevoegings van massas ook al, wat op die punt was om 'n bloei- en blomtyd binne te gaan, maar toe raak die simpel politici betrokke. Ek is natuurlik nie teen die idee van gesonde en goeie bestuur nie, maar te dikwels het politici hul eie persoonlike belang, die belang van hul party, of die belang van 'n klein groepie bo die algemene beste belang van die mense gekies. Sulke oomblikke maak my, wat die afgelope drie dekades van Suid-Afrikaanse politieke besluite moes beleef, woedend. Wat kon nie alles bereik word as diefstal en baantjies-vir-boeties nie maar net vermy kon word nie? Met hierdie “wat-as” sal ons nou maar moet saamleef.
In hierdie vyfde uitgawe van Politiek bo Prestasie wil ek die geskiedenisboeke by Duitsland aan die begin van die 20ste eeu oopslaan. Teen ongeveer 1910 was die vraag nie of Duitsland een van die wêreld se oorheersende moondhede sou word nie, maar hoe vinnig dit sou gebeur. Alhoewel die Duitse volke vir eeue lank 'n losse eenheid gevorm het, was dit eers in 1871 dat “Duitsland” as staat tot stand gekom het, soos ons dit vandag ken. Binne enkele dekades ná hierdie eenwording het die land homself gevestig as 'n industriële, wetenskaplike en administratiewe reus. Terwyl Carl Benz besig was om die motorkar uit te dink het Einstein se brein die heelal probeer verstaan en Fritz Haber kunsmis ontwikkel, alles nadat Bismarck die mees moderne staatsbestuursmeganisme op aarde tot stand gebring het. Die lys van epogmakende tegnologiese en wetenskaplike ontwikkelings van daardie eerste dekades sal 'n paar boeke kan vul. Duitsland het die skaars samestelling besit wat geskiedenis selde in een plek saambring: Intellektuele leierskap, ekonomiese dinamiek, staatskapasiteit en nasionale selfvertroue. Dit was nie 'n samelewing wat besig was om verlore tyd in te haal nie, dit was 'n samelewing wat blitsvinnig besig was om almal anders verby te steek.
As ons egter vandag dink aan Duitsland in die 20ste eeu, dan maak hierdie inleiding glad nie sin nie, of hoe? Ons dink inteendeel aan Duitsland in die twintigste eeu as 'n land wat verwoesting uitgedeel het, en nog erger verwoesting ervaar het. So hoe het dit gebeur?
Status bo Stabiliteit
In die jare voor die Eerste Wêreldoorlog het Duitsland begin weg beweeg van die berekende, versigtige staatsmanskap wat sy eenwording gekenmerk het, wat Otto von Bismarck genormaliseer het.
Politieke aansporings en doelwitte het verander. Waar stabiliteit en balans voorheen prioriteit geniet het, het status, mag en internasionale erkenning al hoe belangriker geword. Deelname aan kolonisasieprojekte en die strategiese ondersteuning van oorloë aan die ander kant van die planeet het skielik prioriteite geword (verstaan my nie verkeerd nie, ek is natuurlik dankbaar vir die Keiser se Mausers). Hierdie skuif het in die oomblik sin gemaak, en nie onmiddellik tot krisis gelei nie, maar dit het die aard en fokus van die nasionale projek geskuif, en dit het gesonde selfvertroue hoe langer hoe meer 'n onderdrukkende geur gegee.
Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was vir die gemiddelde Duitser die normale volgende stap. Oorheersing oor die Franse is bereik, nou moet die res van Europa, en almal wat in die pad wil kom, die knie buig. Momentum, en die oortuiging daarvan, stop nie vanself nie. Die oorlog was uiteindelik 'n mislukking, en daaroor is baie al geskryf, maar wat van belang is, is dat die nasionale selfvertroue, die sagteware van die volk, saam met die oorlog verloor is. Die Weimarrepubliek, soos Duitsland van 1919 tot 1933 bekendgestaan het, het in baie opsigte 'n bewonderenswaardige poging verteenwoordig om 'n moderne, demokratiese bestel te vestig. Maar dit het ontstaan sonder die diepgewortelde institusionele ankers wat nodig is om so 'n bestel te dra wanneer die druk toeneem. Demokrasie moes groei in 'n tuin waar dit nog nooit gesaai of geblom het nie.
Ekonomiese skokke het hierdie broosheid genadeloos ontbloot. Hiperinflasie het spaargeld uitgewis en die middelklas se sekuriteit vernietig. Werkloosheid het toegeneem. Vertroue — nie net in die ekonomie nie, maar in die staat self— het begin erodeer. Terselfdertyd het politieke fragmentasie besluitneming verlam. Regerings het gekom en gegaan, beleid het gewissel, en die staat se vermoë om konsekwent en geloofwaardig op te tree het al hoe swakker geword. Soos eeue tevore in Athene, het korttermyn politieke druk begin heers oor langtermyn denke. Groot beloftes klink baie blinker as jou maag leeg is. Dit was binne hierdie klimaat dat ideologie uiteindelik die oorhand gekry het.
Met die opkoms van Adolf Hitler en die vestiging van die Nazi-staat het die laaste oorblyfsels van institusionele beperking, wigte en teenwigte, begin verdwyn. Instellings wat juis daar was om mag te temper, soos howe, die staatsdiens en onafhanklike ekonomiese aktiwiteit, is sistematies ondergeskik gestel aan 'n enkele politieke projek. Besluite is nie meer gemeet aan hul ekonomiese meriete of hul volhoubaarheid nie, maar aan hul ideologiese bruikbaarheid. Op hierdie punt het Duitsland opgehou om te funksioneer as 'n ekonomie wat deur die politiek begrens word. Dit het 'n ekonomie geword wat deur die politiek beheer en uiteindelik verteer is.
Die gevolge is bekend, maar dit bly nodig om dit nugter te stel: Die Tweede Wêreldoorlog het vernietiging gebring op 'n skaal wat byna nie in menslike terme begryp kan word nie. Stede is platgeslaan, infrastruktuur uitgewis, miljoene mense is dood, en 'n groot deel van die land se produktiewe kapasiteit is vernietig. Duitsland is verdeel, en baie van sy intellektuele kapitaal — daardie selfde bron van sy vroeë krag — het die land verlaat.
En tog is dit juis hier waar die werklike les lê.
Hierdie uitkoms was nie die gevolg van 'n tekort aan talent, hulpbronne of aanvanklike momentum nie. Duitsland het, soos min ander samelewings in die geskiedenis, oor byna elke denkbare voordeel beskik. Wat ontbreek het, was nie vermoë nie, maar beperking. As ek my heel gepaste karretjie metafoor voort mag sit, was die tenk vol bensien (na Carl Benz vernoem), en die asse was gereed om te draai, maar die remme, wat 'n hanteerbare spoed moes behou, is kort na die karretjie se vertrek losgeskroef en weggesmyt.
Daar was nie voldoende instellings en norme wat politieke mag kon temper toe die aansporings om daarvan af te wyk die sterkste geword het nie. Vir my staan drie dinge uit. Eerstens, talent en vooruitgang is nie selfbeskermend nie. Selfs die mees gevorderde samelewings kan hul trajek verloor wanneer besluitneming stelselmatig wegbeweeg van ekonomiese realiteit.
Tweedens, instellings is nie 'n luukse wat eers later bygevoeg kan word nie. Hulle is die meganismes wat juis in tye van druk keer dat politieke energie omskep word in ekonomiese selfvernietiging.
Derdens: ideologie is 'n swak plaasvervanger vir realiteit. Wanneer beleid nie meer gebonde is aan wat moontlik en volhoubaar is nie, word die aanpassing nie vermy nie—dit word net uitgestel, en uiteindelik afgedwing teen 'n baie hoër prys.
Vir moderne samelewings lê die waarskuwing nie daarin dat hulle Duitsland se presiese pad sal herhaal nie. Die geskiedenis herhaal homself nie meganies nie. Maar die onderliggende dinamika is herkenbaar: wanneer politieke oorwegings begin oorheers oor ekonomiese rasionaliteit, wanneer instellings verswak, en wanneer beleid onvoorspelbaar raak, begin die grondslag vir groei stadig erodeer — selfs al lyk die potensiaal nog onaangeraak.
Duitsland herinner ons daaraan dat voorspoed nie net geskep moet word nie, maar beskerm moet word — veral teen die politieke oortuiging dat vinniger altyd beter is.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







