Politiek bo Prestasie: Deel 6 | Argentinië en permanente wisselvalligheid
Wanneer mooipraatjies lelik raak.

Aan die begin van die twintigste eeu het Argentinië gelyk of dit bo alle twyfel op pad daarheen was om een van die wêreld se groot suksesverhale te word. Stede het vinnig gegroei en uitgebrei, Europese migrante het in hul miljoene aangekom, landbou-uitvoere het wêreldmarkte oorstroom, en Argentyne kon aanspraak maak op 'n per kapita inkomste wat met dele van Wes-Europa meegeding het. Min lande het die twintigste eeu met beter kanse op sukses betree.
Vir konteks is dit nodig om te weet dat Argentinië vrugbare grond het wat oorvloedige voedselproduksie moontlik maak. Die land het toegang tot die Ooste en die Weste weens 'n geografiese ligging op of naby aan verskeie sleutelwêreldhandelroetes. Aan die begin van die twintigste eeu was die middelklas aan die groei, en internasionale kapitaal het potensiaal begin raaksien. Britse kapitaal is ingespan om spoorweë en hawens te finansier, en die golwe immigrante uit Italië en Spanje het vaardighede gebring en gehelp om ondernemings, plase en gemeenskappe te bou.
Tog is Argentinië vandag, 'n eeu of so later, eintlik 'n arm land. Hoe kon dit gebeur? Watter ramp kon hierdie land tref dat armoede onder die mees onwaarskynlike omstandighede oorwin het? Uiteindelik, soos later uitgelig sal word, was Argentinië 'n land wat herhaaldelik en bewustelik sy eie pad na voorspoed onderbreek het.
Die eerste skokke; die eerste voetfoute
So eenvoudig soos wat dit dikwels is om een leier of een ideologie vir 'n nasie se ineenstorting te blameer, so onvolledig en ongenuanseerd sou dit in Argentinië se geval wees. Die lang stagnasie het geleidelik ontstaan deur siklusse van politieke ingryping, ekonomiese nasionalisme, institusionele onstabiliteit en drastiese beleidsomkerings wat die grondslag vir volhoubare groei, en die vertroue van internasionale kapitaal, stadig ondermyn het.
Terug na die begin. Ten spyte van massiewe optimisme in hierdie komende ekonomiese wonderwerk was daar reeds bepaalde kwesbaarhede onder die oppervlak aan die broei. Die ekonomie was geweldig afhanklik van uitvoere en wêreldwye vraag. Rykdomsverspreiding was redelik ongelyk, en die groeiende aantreklikheid van sosialisme in Europa het sy pad oor die Atlantiese oseaan gevind.
Die eerste groot ontwrigting het tydens die 1930’s gekom. Wanneer 'n land swaar op uitvoere steun, is jou buurman se armoede baie erger as wanneer jou welvaart op jou eie mark steun. Die Groot Depressie het uitvoermarkte beskadig en hierdie afhanklikheid van buitelandse handel blootgelê. Regerings in Noord-Amerika en Europa het toenemend na binne gekeer. Proteksionisme het uitgebrei, en state het ekonomiese groei en werkskepping probeer stimuleer deur pogings om buitelandse invoere met binnelandse produksie te vervang. Die verlies aan inkomste deur middel van uitvoere het ook in Argentinië tot toenemende staatsingryping gelei. Die sentralisering van mag is in baie lande nie bevraagteken nie, maar is as noodwendige reaksie onder krisisomstandighede gesien. Om binnelandse nywerheid en werk te beskerm, het aanvanklik nie irrasioneel gelyk nie. Die dieper probleem, soos wat dalk voorspel kon word, het ontstaan toe tydelike ingryping geleidelik 'n permanente politieke gewoonte geword het. Soos Ronald Reagan opgemerk het: “Nothing lasts longer than a temporary government program.” Die 1930’s het 'n tendens van korttermyn oorwinnings onder verkiesingsdruk en groeiende staatsbeheer ingelei, maar die opkoms van Juan Perón in die 1940’s het hierdie transformasie dramaties versnel.
Peronisme
Perón bly een van die mees omstrede figure in Argentynse geskiedenis juis omdat sy aantrekkingskrag werklik was. Hy het arbeid gemobiliseer, werkersregte uitgebrei, lone verhoog en 'n kragtige politieke identiteit rondom die waardigheid van gewone burgers en gewone arbeid gebou. Miljoene Argentyne het in die aanvangsjare van Peronisme werklike materiële verbeterings ervaar. Maar die model het ernstige langtermynkoste gedra. Soos Thatcher dalk tereg in 1976 opgemerk het: “The problem with socialism is that you eventually run out of other people’s money.”
Staatsbesteding het aggressief uitgebrei. Nywerhede is genasionaliseer. Subsidies het vermeerder. Politieke gewin is geprioritiseer ten koste van produktiwiteit, mededingendheid en institusionele stabiliteit, en inflasie het die korttermyn lewensgehalteverbeterings weggekou. Prakties het Peronisme behels dat die staat toenemend die rol van werkgewer, prysbepaler, kredietverskaffer en industriële beplanner begin speel het. Tussen 1947 en 1949 is dié uitbreiding veral gedryf deur die oorname van openbare dienste, waaronder spoorweë, telefoondienste, ander vervoersektore en die handelsvloot.
Die nasionalisering van die spoorweë in 1948 was simbolies én prakties belangrik. Dit is as 'n patriotiese oorwinning oor buitelandse beheer aangebied, veral omdat groot dele van Argentinië se spoorinfrastruktuur lank deur Britse belange besit is. Maar die oordrag het ook beteken dat groot, duur en dikwels verouderende bates nou deur die staat bestuur en gefinansier moes word. Die politieke waarde van nasionalisering was onmiddellik, maar die ekonomiese koste was aan't opbou.
Peronisme het ook die verspreiding van inkomste doelbewus verander. Lone is verhoog, vakbonde is versterk, werkersvoordele is uitgebrei en binnelandse verbruik is aangemoedig. Alles goed, nie waar nie? Die probleem was dat hierdie toename in verbruik nie altyd deur hoër produktiwiteit ondersteun is nie. Met ander woorde: Die ekonomie het vinniger bestee en herverdeel as wat dit nuwe mededingende kapasiteit opgebou het.
'n Kerninstrument was die IAPI, die staatsliggaam wat landbouprodukte teen laer binnelandse pryse kon aankoop en dit teen hoër internasionale pryse verkoop. Die doel was herverdeling, om hulpbronne uit die landbousektor na stedelike nywerhede en werkers oor te dra. Aanvanklik het dit sin gemaak, maar dit het boere ontmoedig om produksie en uitvoere uit te brei, in 'n land waar die buitelandse valuta wat danksy landbou-uitvoere geproduseer is, broodnodig was.
'n Fout of 'n slegte gewoonte?
Perón, wat in 1946 as president verkies is, het korttermyn oorwinnings gekies, en ongelukkig 'n tendens begin wat dalk vandag nog nie onder beheer gebring is nie. Hy is, deels weens die daling in buitelandse valuta, uiteindelik in September 1955 deur 'n militêre staatsgreep omvergewerp — die eerste van verskeie onderbrekings van burgerlike bewind in die dekades wat gevolg het.
Na die Perón-staatsgreep van 1955, is verdere staatsgrepe in 1962, 1966 en 1976 uitgevoer. Die militêre junta wat in 1976 aan bewind gekom het, het markgerigte ekonomiese hervormings probeer implementeer terwyl politieke opposisie gewelddadig onderdruk is gedurende die sogenaamde “Vuil Oorlog”. Terselfdertyd het buitelandse skuld drasties toegeneem. Argentinië se eksterne skuld het van ongeveer 8 miljard VSA dollar in 1975 tot meer as 45 miljard teen 1983 gegroei. Onder president Raúl Alfonsín het hiperinflasie in 1989 tot meer as 3 000% per jaar gestyg.
In 1991 het Carlos Menem se regering die sogenaamde Convertibility Plan ingestel onder Domingo Cavallo. minister van ekonomie. Die Argentynse peso is aan die Amerikaanse dollar gekoppel en inflasie het skerp gedaal - stabiliteit het teruggekeer. Groot staatsbates is geprivatiseer en internasionale kapitaal het weer ingestroom. Maar die vaste wisselkoers het Argentinië geleidelik minder mededingend gemaak, en staatskuld het steeds gegroei.
Die stelsel het dramaties ineengestort in die krisis van 2001–2002 — een van die ernstigste ekonomiese krisisse in moderne Latyns-Amerikaanse geskiedenis. President Fernando de la Rúa het op 20 Desember 2001 per helikopter uit die presidensiële paleis, die Casa Rosada, gevlug en bedank.
Die peso is daarna gedevalueer en miljoene Argentyne se spaargeld het grootliks verdamp. Werkloosheid het bo 20% gestyg en armoede het meer as die helfte van die bevolking geraak. Vir baie burgers was dit die oomblik waarop vertroue in langtermyn finansiële stabiliteit permanent gebreek is.
Sedertdien het opeenvolgende regerings weer tussen uiteenlopende ekonomiese benaderings geswaai. Onder Néstor Kirchner en later Cristina Fernández de Kirchner is kapitaalbeheer, subsidies en sterker staatsingryping uitgebrei. Inflasiestatistieke is selfs tydelik deur die nasionale statistiekagentskap gemanipuleer.
Onder Mauricio Macri het die regering vanaf 2015 weer markvriendelike hervormings probeer implementeer en groot lenings aangegaan, insluitend 'n rekordlening van 57 miljard VSA dollar van die IMF in 2018. Inflasie, skuld en valutadruk het teruggekeer, en die peso het weer skerp verswak.
Ondanks die treurmare wat hierbo saamgevat is was die skade nie net ekonomiese skade nie, maar ook reputasieskade. Groei hang deels van vertroue af — vertroue dat kontrakte sal geld, dat geldeenhede waarde sal behou, dat regerings nie die reëls skielik sal herskryf nie, en dat môre se aansporings met vandag s'n sal ooreenstem. In Argentinië het daardie vertroue verlep en gesterf.
So wat leer Suid-Afrika vandag by Argentinië van destyds?
Lande floreer nie bloot omdat hulle hulpbronne, opgeleide bevolkings of demokratiese stelsels het nie. Volhoubare voorspoed hang af van institusionele kontinuïteit: Geloofwaardige reëls, stabiele monetêre beleid, langtermyn-beleggingshorisonne en regerings wat hul eie korttermyn-politieke aansporings kan beteuel.
Dit beteken nie dat regerings nooit in die ekonomie moet ingryp nie. Dit beteken ook nie dat alle welsynstelsels of arbeidsbeskerming onvermydelik tot agteruitgang lei nie. Argentinië se les is meer spesifiek as ideologie.
Die waarskuwing is eerder dat politieke aansporings dikwels ten koste van institusionele konsekwentheid kom. Toelaes word uitgedeel wanneer belegging of skulddelging meer sin sou maak, omdat die verkiesing weer op pad is.
Wanneer regerings herhaaldelik onmiddellike gewildheid bo langtermynstabiliteit stel, word inflasie en skuld polities makliker as hervorming. Argentinië se verhaal voel toenemend relevant in 'n wêreld waar baie demokrasieë onder groeiende druk staan om onmiddellike politieke belonings te lewer. Regoor die wêreld word regerings versoek om korttermynverligting bo strukturele hervorming, politieke simboliek bo institusionele geloofwaardigheid, en vinnige ingryping bo langtermynsekerheid te stel. Maar die geskiedenis dui daarop dat lande hulself selde deur wisselvalligheid tot voorspoed stem.
Beleggers kan hoë belastings oorleef. Ondernemings kan regulering oorleef. Samelewings kan selfs tydperke van stadige groei oorleef. Wat veel moeiliker word om te oorleef, is onvoorspelbaarheid — die gevoel dat reëls, instellings en aansporings elke paar jaar fundamenteel kan verander na gelang van politieke druk. Dus, kortom: Waarom sou jy 'n plaas koop of 'n fabriek bou in 'n land waar 'n groot deel van die bevolking dink dat baie van Argentinië se medisyne eintlik nie so sleg was nie?
Jy sou nie.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







