Populisme en die Intuïtiewe Brein
Ons politieke oomblik vertoon 'n rebellie teen kognitiewe elites.
Dit is natuurlik dat 'n persoon wat tegelykertyd bekommerd is oor die opkoms van regse populisme en beskik oor 'n boek-liefhebbende aard, hom of haar tot die akademiese politieke wetenskapsliteratuur sal wend in die hoop om die verskynsel beter te verstaan. Maar só 'n persoon sal waarskynlik teleurgesteld wees.
Dit verg nie veel leeswerk om te ontdek dat politieke wetenskaplikes redelik verdeeld is nie. ('n Mens kan hierdie oorsigtelike artikel beskou as 'n redelike momentopname van die betreklik groot akademiese literatuur oor die onderwerp.) Daar bestaan 'n beskeie mate van ooreenkoms oor wat populisme is, maar die mees algemeen aanvaarde omskrywing is beide oppervlakkig en misleidend. Dit is ongunstig, ten opsigte van die stryd teen die kragte van populisme.
Die belangrikste is dat akademici nie goed werk gemaak het om die mees verwarrende aspek van populisme die hoof te bied nie — naamlik dat hoe meer dit deur intellektuele gekritiseer word, hoe magtiger dit word. Gevolglik speel die meeste van ons steeds dieselfde ou spel, met dieselfde ou strategieë, sonder om te besef dat die “metaspeletjie” verander het.
“Nie werklik 'n ideologie nie”
Dit is nie moeilik om te sien waar die akademiese gesprek skeefgeloop het nie. 'n Ongelukkige groot aantal skrywers oor populisme is op die verkeerde voet geplaas deur die vroeë besluit om populisme as 'n soort politieke ideologie te beskou, soortgelyk aan sosialisme of liberalisme.
Dit het onmiddellik 'n raaisel geskep, want populisme blyk versoenbaar te wees met 'n groot aantal ander konvensionele politieke ideologieë. Dit kom byvoorbeeld in sowel linkse (soos Chávez) as regse (soos Bolsonaro) vorms voor. As populisme dus 'n politieke ideologie is, is dit 'n vreemde soort ideologie, omdat dit nie ander oortuigings uitsluit op die manier wat 'n konvensionele ideologie doen nie.
Die mees voor die hand liggende alternatief is om dit as 'n strategie te beskou, wat gebruik word om spesifieke voordeel in 'n demokratiese verkiesingstelsel te verkry. Dit is 'n meer belowende benadering, maar dit bring ook sy eie raaisels mee. As populisme slegs 'n strategie is, en nie 'n ideologie nie, waarom is sekere idees dan blykbaar teenwoordig in alle populistiese bewegings (soos vyandigheid teenoor buitelanders, of wantroue teenoor sentrale banke)? En as dit bloot 'n verkiesingsstrategie is, waarom regeer populiste dan soos hulle doen? Waarom is hulle byvoorbeeld so gretig om die oppergesag van die reg te ondermyn (wat lei tot botsings met die howe, pogings om geregtelike onafhanklikheid te beperk, ensomeer)?
Die oplossing waarop baie mense uiteindelik besluit het, is om 'n afgewaterde weergawe van die eerste siening te aanvaar — om populisme as 'n ideologie te beskou, maar slegs as 'n “dun” een. Die mees aangehaalde omskrywing is dié van Cas Mudde:
“Ek definieer populisme as 'n ideologie wat die samelewing beskou as uiteindelik verdeel in twee homogene en antagonistiese groepe — “die suiwer volk” teenoor “die korrupte elite” — en wat redeneer dat politiek 'n uitdrukking moet wees van die volonté générale (algemene wil) van die volk.”
Die grootste probleem met hierdie omskrywing spruit uit die feit dat dit só minimaal moet wees om te kan akkommodeer dat populisme in sowel linkse as regse vorme voorkom, maar gevolglik is dit eenvoudig té minimaal om baie van die spesifieke kenmerke van populistiese bewegings te verklaar. Waarom word “die volk” byvoorbeeld altyd voorgestel as 'n kultureel homogene massa, selfs binne samelewings wat hoogs pluralisties is (wat die invoer van bykomende begrippe noodsaak, soos la France profonde, of, “egte Amerikaners”)? Verder sou dit, op grond van die omskrywing, lyk asof die linkerkant aansienlik voordeel uit populisme behoort te kon trek — en tog het die opkoms van populisme regdeur Europa byna uitsluitlik die regse spektrum bevoordeel.
'n Leidraad tot die oplossing lê in 'n verdere kwalifikasie wat dikwels met betrekking tot hierdie omskrywing gemaak word — naamlik dat die “algemene wil” van die volk nie enige willekeurige ding is nie, maar die spesifieke vorm aanneem van wat “gesonde verstand” of op Engels common sense genoem word. Die kernkenmerk van gesonde verstand, soos Frank Luntz tereg opmerk, is dat dit “geen ingewikkelde teorieë vereis nie; dit is vanselfsprekend korrek.” ('n Mens kan dit beskou as die primêre onderskeidingspunt tussen die volk en die elite — die volk beskik oor “gesonde verstand,” terwyl die elite hul aansluit by “ingewikkelde teorieë”.) Hierdie onderskeid spruit nie uit die ideologiese inhoud van 'n oortuigingsisteem nie, maar uit die vorm van denke wat in die produksie daarvan gebruik word. Meer spesifiek, dit is die gevolg van die onderskeid tussen wat Daniel Kahneman “vinnige” en “stadige” denke noem.
Khaneman se “Tweebaan-denke”
Die siening wat Kahneman gewild gemaak het, staan in die sielkunde bekend as die dual-process theory, op Afrikaans dalk die tweebaan-denke teorie. Die idee, in breë trekke, is dat mense tot twee heel verskillende style van kognisie of denkvorming in staat is.
Daniel Dennett het die menslike bewussyn eens fabelagtig beskryf as 'n “reeksmatige virtuele masjien wat – oneffektief – geïmplementeer is op die parallelle hardeware wat deur evolusie verskaf is.” Die hardeware/sagteware-analogie is nie perfek nie, maar dit vang 'n belangrike waarheid vas. Ons het 'n miljoene jare oue primatebrein geërf – die produk van evolusie – wat 'n groot aantal ingeboude modules bevat wat ons in staat stel om komplekse berekeninge moeiteloos en blitsvinnig uit te voer (soos die herkenning van gesigte, om balans te handhaaf terwyl ons loop, om trajekte oftewel bewegingsbane te voorspel, om waarskynlikhede te skat, ensomeer). Ons noem die uitsette van hierdie kognitiewe prosesse “intuïsies,” omdat ons nie weet hoe die antwoorde bereken word nie — ons word eenvoudig met die uitkomste gekonfronteer.
Bo-op dit het ons 'n meer onlangse, evolusionêr-nuwe stelsel wat ons in staat stel om kognitief “ontkoppelde” handelinge uit te voer, soos wiskundige, logiese, hipotetiese en strategiese redenasie. Hierdie stelsel is in wese sagteware, aangesien dit kulturele insette (soos taal, skrif, Arabiese syfers, matrikse en grafieke) benodig om goed te funksioneer. Ongelukkig verskil dit van die intuïtiewe stelsel daarin dat dit stadig, inspannend en aandageisend is. (Dit is te wyte aan die “oneffektiewe” implementering daarvan op hardeware wat nooit bedoel was om lineêre redenasie te ondersteun nie.) Omdat die werking van hierdie “ontledende stelsel” moeite verg, vertoon ons gewone wyse van wêreldbetrokkenheid wat Keith Stanovich “kognitiewe vrekkerigheid” noem. Dit beteken dat ons probeer om sover moontlik deur die lewe te kom deur op intuïsie staat te maak, en eers wanneer dit faal – wanneer die beperkings van daardie probleemoplossingswyse duidelik word – skakel die mens oor na die meer veeleisende ontledende styl van denke. Met ander woorde: ons leef die meeste van ons lewe op kognitiewe selfaandrywing, en dink eers werklik diep wanneer ons daartoe gedwing word.
Dit is nie 'n groot probleem wanneer die twee stelsels saamstem nie. Die probleem ontstaan wanneer hulle verskil. Die intuïtiewe stelsels, as produkte van evolusie, gebruik dikwels vinnige en ruwe truuks (oftewel duimreëls) om probleme op te los — truuks wat meestal werk, maar nie altyd nie. Hierdie stelsels is ongelukkig meestal nie in staat om te leer nie. Dus, selfs al bevat hulle foute, kan ons dit nie regtig regstel nie. Die ontledende stelsel moet dan intree, die intuïtiewe reaksie onderdruk, en die korrekte antwoord invervang.
Om dit te illustreer: een van die bekendste “foute” in ons kognitiewe hardeware kom voor in die “intuïtiewe fisika”-stelsel wat ons gebruik om ballistiese trajekte of vlugbane te voorspel. Hierdie stelsel is uitstekend vir dinge soos om 'n bal te vang, maar dit lewer foutiewe voorspellings in sekere gevalle op. Die bekendste geval is wanneer ons dink aan 'n voorwerp wat reeds in beweging is en dan laat val word. Ons intuïtiewe stelsel voorspel dat dit reguit af sal val, terwyl dit in werklikheid sy voorwaartse momentum behou en dus in 'n boog afwaarts beweeg. Hierdie fout verskyn dikwels in kinders se tekeninge – soos hierdie effens anakronistiese voorstelling van beleëringsoorlogvoering wat my seun geteken het toe hy omtrent agt jaar oud was:
Let uit die sketsie op hoe my seun die boog van die rots wat deur die katapult gegooi word reg weergee, maar die bom wat deur die vliegtuig laat val word, is verkeerd.
Die verbasende ding is dat elkeen van ons met presies dieselfde “fout” in ons koppe rondloop. Die verskil is dat die meeste volwassenes (hopelik?) ook eksplisiete kennis van die korrekte antwoord het, en dus, wanneer ons breine vir ons die verkeerde intuïsie aanbied, ons daardie reaksie bewustelik uitskuif en die korrekte voorspelling invervang. Hierdie kognitiewe oorheersing verg ongelukkig beide aandag en inspanning, met die gevolg dat die meeste mense, as hulle gevra word om die bom se baan korrek te teken, eers vir 'n oomblik sal moet wag en daaroor dink.
Van toepassing op eietydse politiek
Al hierdie dinge mag ver verwyderd van die wêreld van politiek lyk, maar dit is nie so nie. Net soos ons baie “hardeware-roetines” het wat gewy is aan die uitleg en voorspelling van gebeure in die fisiese wêreld, het ons ook 'n enorme aantal daarvan wat toegewy is aan die bestuur van sosiale interaksies. Laasgenoemde is ewe vol foute.
Om sake nog erger te maak: terwyl die basiese reëls van fisiese beweging vandag dieselfde is as 200,000 jaar gelede, het die reëls van menslike samelewing grondig verander. Gevolglik is baie van die intuïtiewe reaksies wat ons op sosiale situasies het — wat gepas was in kleinskaalse gemeenskappe — totaal onvanpas in grootskaalse samelewings. Dit beteken dat die lewe in die moderne wêreld buitengewoon swaar kognitiewe laste op ons almal plaas. Neem hierdie konkrete voorbeeld: Daar is 'n welbekende “fout” in ons patroonherkenningstelsel wat veroorsaak dat ons die effektiwiteit van straf as motivering vir gedragsverandering in ander mense, enorm oorskat. Omdat ons geneig is om buitengewoon slegte gedrag te straf en buitengewoon goeie gedrag te beloon, bepaal die beginsel van terugval op die gemiddelde dat straf meestal gevolg word deur beter gedrag, en beloning deur swakker gedrag. Dit wek die indruk dat nie alleen straf doeltreffend was nie, maar dat beloning daarteenoor teenproduktief was. Baie “gesonde verstand”-idees oor aansporing (soos “spaar die roede, bederf die kind”) is 'n regstreekse gevolg van hierdie skynwaarneming.
As gevolg hiervan ontwikkel mense wat gedragsverandering werklik bestudeer — deur rekords te hou, prestasie op te spoor, en die verhouding tussen beloning en straf te ontleed — oortuigings wat in stryd is met die voorskrifte van gesonde verstand. Dit geld nie net vir sosiale wetenskaplikes nie, maar selfs vir diere-afrigters. Hulle is dit feitlik almal eens dat beloning minstens so effektief as straf is, en in sommige gevalle selfs meer. Dit skep 'n belangrike décalage (verskuiwing, of gaping) tussen kundige mening en openbare kultuur.
Dit is nie moeilik om te sien hoe hierdie verskil in siening 'n situasie skep wat weer vir politieke gewin uitgebuit kan word in 'n demokrasie nie. Die deskundige siening oor straf filtreer stadig deur en beïnvloed die gedrag van opvoedkundige elites (en ander wat geneig is om op kundige oordeel te vertrou). Dit gee aanleiding tot 'n stel houdings en praktyke onder daardie elites — soos permissiewe ouerskap, die afskaffing van lyfstraf in skole, 'n minder strafgerigte benadering tot misdaad, en verwerping van die doodstraf — wat fundamenteel nie in pas is met die opvattings van die meerderheid nie. Dit laat die breër publiek dink dat sekere volgehoue sosiale probleme, soos jeugmisdaad of stedelike wanorde, die gevolg is van verskeie instellings (nie net die strafregstelsel nie, maar ook skole en ouers) wat onvoldoende straf toepas. Die oplossing, vanuit hul oogpunt, is 'n eenvoudige oefening in gesonde verstand – ons moet net “strenger optree” teen oortreders. Die elite se weerstand teen hierdie ooglopende waarhede is dan 'n teken dat daar iets fout is met hulle (soos dat hulle deur “ingewikkelde teorieë” verlei is, of van die werklikheid vervreem geraak het).
“Die ontledende denkbaan is soms verkeerd”
Ongelukkig is dit in baie gevalle so dat die algemene bevolking reg is om die elite te wantrou. Ontledende redenasie is soms 'n swak plaasvervanger vir intuïtiewe denke. Daar bestaan 'n omvangryke literatuur wat die oormoed van moderne rasionalisme beskryf.
Elites is volkome daartoe in staat om aan modegiere in denke toe te gee (en soos ons in onlangse jare gesien het, is hulle vatbaar vir morele paniek). Maar in sulke gevalle is dit gewoonlik nie moeilik om ander lede van die elite te vind wat bereid is om die saak teen die heersende denkstrome op te neem nie. In sekere domeine egter het daar 'n buitengewoon standhoudende elite-konsensus ontwikkel. Dit is die sterkste op terreine waar gesonde verstand eenvoudig verkeerd is — en waar enigiemand wat die bewyse bestudeer, of bereid is om ontledend te redeneer, uiteindelik dieselfde siening as die elite sal deel. Op hierdie terreine vind die volk dit bykans onmoontlik om bondgenote onder die “kognitiewe elite” te vind. Dit wek woede en wrok wat mettertyd aangroei.
Hierdie opdam van ontevredenheid skep die geleentheid wat deur populistiese politici uitgebuit word. Demokratiese politieke stelsels is redelik vatbaar vir openbare mening, maar dit bly stelsels van elitemag, en dus is daar sekere kwessies waarop die volk werklik nie gehoor is nie — hoe kwaad of ontsteld hulle ook al geraak het. Dit skep 'n aansporing om die elites en die instellings wat deur hulle oorheers word (soos tradisionele politieke partye) te omseil, om sodoende in te tap by hierdie bron van wrok en jouself as kampvegter vir die volk te posisioneer. Wat opmerklik is van populiste, is dat hulle nie al die belange van die volk verdedig nie, maar eerder fokus op die spesifieke kwessies waar daar die grootste skeiding tussen gesonde verstand en elite-mening bestaan, en die sienings van die volk oor daardie kwessies bevorder.
Vanuit hierdie oogpunt aanskou, is dit nie moeilik om te verstaan waarom populisme 'n doeltreffende politieke strategie kan wees nie — en waarom dit in die era van sosiale media dramaties meer doeltreffend geword het nie. Soos die titel van Kahneman se boek aandui, is 'n sentrale kenmerk van intuïtiewe denke dat dit “vinnig” is, terwyl ontledende redenasie “stadig” is. Dit beteken dat 'n versnelling in die tempo van kommunikasie, intuïtiewe denke bevoordeel bo ontledende denke. Populiste sal altyd die beste 30-sekonde-televisieadvertensies hê. Sosiale media vererger die probleem verder deur alle poortwagters te verwyder, wat beteken dat elites nie meer beheer oor openbare kommunikasie kan uitoefen nie. Dit maak dit maklik om hulle te omseil en regstreeks tot die verontregte deel van die bevolking te spreek. Die gevolg is die skepping van 'n kommunikasie-omgewing wat dramaties vyandiger teenoor die ontledende denkstyl is.
Wanneer 'n mens die gevolge hiervan deurdink, is dit nie moeilik om te sien waarom die linkerkant so min houvas op hierdie veranderinge kon kry nie — veral in ontwikkelde lande. Mense rebelleer nie teen ekonomiese elites nie, maar teen kognitiewe elites. In die nouer sin is dit 'n rebellie teen uitvoerende funksie; meer breedweg gestel, is dit 'n rebellie teen die moderne samelewing self — 'n samelewing wat voortdurende kognitiewe selfbeheersing verg om uitbuiting, marginalisering, verslawing en stigma te vermy. Elites het die samelewing basies só gestruktureer dat 'n mens toenemend die kognitiewe vaardighede wat elites besit, moet aanwend om suksesvol deur die sosiale wêreld te navigeer. (Probeer byvoorbeeld om 'n bankrekening oop te maak, 'n woonstel te huur of 'n belastingterugbetaling te ontvang sonder om ontledend te dink.) Die linkerkant, in soverre dit vooruitgang bepleit, is dus in wese verbind tot die versterking van daardie kenmerke van die moderne wêreld wat die grootste self-remmingslas op individue plaas.
Hoe die meganisme dikwels uitspeel
Wanneer 'n mens dinge só beskou, is dit makliker om te verstaan waarom mense so ontsteld raak oor skynbaar geringe kwessies soos taalpolisiëring. Die probleem met die eise van politieke korrektheid in spraak, en die straf of uitsluiting van dié wat nie voldoen nie, is dat dit elke gesprek in 'n Stroop-effek toets verander — 'n toets waarin kognitiewe elites die geleentheid kry om opvallende selfbeheersing te vertoon. Dit vereis van die gewone persoon om, terwyl hy praat, die bekende woord wat geaktiveer is (bv. “dakloos”) bewustelik te onderdruk en deur eksplisiete kognisie die nuutgeskepte, voorkeurwoord (bv. “onbehuis”) in die plek daarvan te gebruik. Elites is nie net ongevoelig vir die las wat dit op mense plaas nie — hulle is dikwels openlik minagtend daarteenoor. Deur die kognitiewe operasie met soveel gemak uit te voer, demonstreer hulle nie net hul meerderwaardigheid nie, hulle vryf dit ook in ander se gesigte in. (Vanuit hierdie oogpunt is dit nie verbasend dat die eis vir “hulle”-voornaamwoorde sommige mense selfs meer ontstel nie, aangesien die gebruik van 'n meervoudige voornaamwoord 'n werkwoordverandering vereis, wat vir nog groter kognitiewe inspanning vra.)
Hierdie ontleding verduidelik waarom populisme, ondanks dat dit bloot 'n strategie is, tog uiteindelik 'n kenmerkende ideologiese toon en inhoud verkry. Die sleutel is om dit te sien as 'n politieke strategie wat 'n bepaalde styl van denke bevoordeel.
Die bevoordeling van intuïtiewe (of “Stelsel 1”) denke lei tot 'n stel uiteenlopende kenmerke wat in die meeste populistiese bewegings aangetref kan word. Wat volg, is 'n onvolledige lys:
Frustrasie met elites oor sekere kwessies.
Misdaad bly 'n voortdurende bron van frustrasie, deels omdat elites – selfs dié wat hulself as “hard op misdaad” beskryf – glo dat straf binne 'n regsraamwerk opgelê moet word. Dit skep 'n geleentheid vir populistiese politici soos Rodrigo Duterte in die Filippyne, wat die polisie bemagtig het om summiere teregstellings uit te voer, en Donald Trump in die VSA, wat uitdruklik ‘n terugkeer tot “straatgeregtigheid” deur stedelike polisiedienste gemagtig het en die Amerikaanse weermag gebruik het om summiere teregstellings uit te voer (tot dusver net in internasionale waters). Daar is ander kwessies waaroor soortgelyke meningsverskille ontstaan – die belangrikste tans is migrasie en internasionale handel. Ekonome verstaan byvoorbeeld dat 'n invoertarief gelykstaande is aan 'n uitvoerbelasting, maar dit is moeilik om te dink dat meer as 20% van die bevolking bereid of in staat sou wees om die redenering te volg wat tot hierdie gevolgtrekking lei. Net so is dit hoogs onintuïtief dat immigrasie nie werkloosheid veroorsaak nie, aangesien dit beide die aanbod én die vraag na arbeid verhoog. Elites is gevolglik geneig om 'n meer ontspanne houding oor die arbeidsmark-verwante gevolge van migrasie in te neem as die publiek. (Elites maak sake nog erger deur hierdie meningsverskil te moraliseer, deur te suggereer dat die publiek se standpunt deur rassisme gemotiveer moet wees. Hulle stel hulself dus nie net as slimmer nie, maar ook as moreel meerderwaardig voor.)
Kollektiewe-aksie probleme.
Populiste het nog nooit 'n kollektiewe-aksie-probleem teëgekom wat hulle nie neig om te wou vererger nie (soos klimaatsverandering). Wanneer iets sleg gebeur, is daar altyd 'n impuls om iemand anders te blameer – maar met 'n kollektiewe-aksie probleem ís die slegte gevolge wat jy ervaar, werklik die ander persoon se skuld! Die probleem is dat die situasie simmetries is – die slegte gevolge wat húlle ervaar, is op hul beurt jou skuld. Om uit so 'n situasie te kom, verg die kognitiewe insig dat julle albei moet ophou, en dat jy jou daarvan moet weerhou om 'n gratisganger of “'free rider” te wees, ten spyte van die aansporings daartoe. Intuïsie, daarenteen, stel voor dat die regte reaksie is om die ander persoon te straf – en aangesien die beste manier om dit te doen gewoonlik is om jouself uit te sluit van die strafomvang, word die intuïtiewe reaksie 'n resep vir 'n wedloop na die bodem. Dít is waarom beskawings tot barbarisme verval, en nie andersom nie.
Kommunikasiestyl.
'n Baie opvallende kenmerk van populistiese politici is hul manier van praat – ongefiltreerd, in 'n bewussynstroom (soos die ontslape Hugo Chávez se Aló Presidente TV-program – iets wat Trump beslis ook sou kon doen). Dit is belangrik, juis omdat dit die teenoorgestelde is van die selfbeheersde, berekende spreekstyl wat deur hoofstroompolitici verkies word (waarvoor die Franse die perfekte term het: langue de bois of dan “amptenaarstaal”). Dit is waarom 'n groot deel van die bevolking populistiese politici as meer “eerlik” beskou, selfs wanneer alles wat hulle sê leuens is. Elites fokus tipies op die inhoud van wat gesê word en ignoreer hoe dit gesê word – dikwels omdat hulle self die beheerde styl gebruik en dus nie daardeur gepla word nie. En tog is dit duidelik, wanneer 'n mens na Donald Trump luister, dat wat hy sê presies is wat hy dink. Hy het bloot nie die verbale selfbeheersing om anders te praat nie. Dit laat mense hom vertrou – veral as hulle op intuïtiewe leidrade staatmaak, eerder as op ontledende beoordeling, om betroubaarheid te bepaal. (Die gebruik van growwe taal is nog 'n algemene taktiek van populiste, om hul gebrek aan verbale inhibisie of selfremming te demonstreer. Tradisionele politici probeer dit soms namaak, maar sonder sukses, omdat hulle nie besef dat dit nie die grofheid self is nie, maar die selfontremming oftewel ongeïnhibeerde styl, wat die belangrike kommunikatiewe effek skep.)
Illiberalisme.
Populiste sukkel geweldig om die oppergesag van die reg te respekteer. As 'n mens na hul verduidelikings luister, weerspieël dit dikwels 'n vooroordeel vir konkreetheid in hul denke. Hulle dink die doel van reëls is om slegte mense te keer om slegte dinge te doen, maar aangesien húlle goeie mense is wat goeie dinge probeer doen, sien hulle nie in waarom hulle deur die reëls beperk moet word nie. Hulle vind dit moeilik om hulself en ander politieke partye simmetries te behandel. (Amerikaners word tans daagliks aan hierdie verskynsel blootgestel.) Soos dié van ons wat liberale politieke filosofie doseer weet, verg alle liberale beginsels 'n mate van abstraksie. John Stuart Mill het dit beskryf as die verwerping van die “logika van vervolgers” synde “dat ons ander mag vervolg omdat ons reg is... maar hulle mag ons nie vervolg nie omdat hulle verkeerd is.” Dieselfde abstraksie lê aan die grondslag van baie ander liberale beskermings. Populiste kla byvoorbeeld dikwels oor prokureurs wat “misdadigers verdedig.” Dit verg 'n kognitief-ontkoppelde abstraksie om te sien dat prokureurs mense verdedig wat van 'n misdaad beskuldig word, en selfs al ís baie van hulle in werklikheid misdadigers, kan 'n mens hulle eers só etiketteer en straf nadat daardie bepaling deur 'n regverdige proses gemaak is – 'n proses wat regsverteenwoordiging vereis. Net so sukkel populiste met reëls oor belangekonflikte, omdat sulke reëls ontwerp is om te keer dat mense se oordeel onbehoorlik beïnvloed word, in situasies waar die risiko daarvoor bestaan. Hierdie hipotetiese opstelling bestaan nie op intuïtiewe vlak nie, wat 'n sterk geneigdheid skep om die gedrag toe te laat solank dit nie ooglopend verkeerd is nie.
Samesweringsteorieë.
Baie mense vra waarom populiste so geneig is tot samesweringsdenke. Ook dit vloei regstreeks voort uit die bevoordeling van intuïtiewe denke in die tweebaan-denkstelsel. Die natuurlike neiging van die menslike gees is om in sameswerings te glo, weens 'n sameloop van apofenie (oftewel oorsaaklikheidsgissings), hiperaktiewe agentskapswaarneming en bevestigingsvooroordeel. Rasionele agterdog verg die daaropvolgende toepassing van eksplisiete toetsprosedures om vals positiewe uitkomste uit te skakel. Met ander woorde, dit vereis aktiewe onderdrukking van samesweringsgedagtes. In soverre populiste die kognitiewe styl verwerp wat hierdie onderdrukking vereis, stel hulle hulself oop vir allerlei irrasionele denkpatrone. Wanneer elites hulle hiervoor kritiseer, is baie populiste geneig om hul samesweringsgeloof juis te verdedig, omdat die ontledende kognitiewe styl wat op hulle afgedwing word, presies dit is wat hulle van die elites verafsku.
Dit is net 'n kort lys. Daar is baie meer wat bygevoeg kan word. Ek het byvoorbeeld min gesê oor linkse populisme – waarom dit soms werk, in die paar gevalle waar dit gewerk het, maar waarom dit onwaarskynlik is om in vandag se welgestelde demokrasieë suksesvol te wees. Vir diegene wat belangstel: ek het omtrent 'n dekade gelede 'n boek hieroor geskryf. Daar het ek gefokus op die opkoms van “gesondeverstand-konserwatisme,” nie op populisme as sodanig nie. Ongelukkig is dit gepubliseer vóór Trump se verkiesing en het dus vinnig verouder.
Ek het oorweeg om dit by te werk, maar besluit dit sou te veel werk wees. Die boek bevat egter 'n uitvoerige bespreking van al die stellings hierbo – vir diegene wat belangstel om dubbelproses-sielkunde as ontledende raamwerk te gebruik om die sterk- en swakpunte van populisme beter te verstaan.
Professor Joseph Heath is 'n Kanadese filosoof aan die Universiteit van Toronto. Hy het vriendelik toestemming aan ons verleen om hierdie vertaling van sy artikel, “Populism, fast and slow” op OntLaer te gebruik. Volg gerus sy Substack, genaamd In Due Course.
Nog artikels deur Professor Joseph Heath en verwante onderwerpe:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













