
Verlede Saterdag het Rassie Erasmus die Bokke se toets teen Ierland vanuit 'n hotelkamer in Dublin gevolg. Hy het 'n kamera op die tafel gesit, en meer as 100 000 mense van 89 lande het ingeteken om saam met hom te kyk.
Die afrigtersboks was buite perke. Wêreldrugby het hom vir ses toetse geskors nadat hy by 'n perskonferensie gevra het of die beamptes se versuim om 17 knieval-duikslae in die 21-19 nederlaag teen Frankryk raak te sien, nie op “match-fixing” sou kon neerkom nie. Die Bokke het 20-17 teen Ierland verloor. Danksy die verloorbonuspunt is hulle nogtans in die eindstryd van die Nations Championship, en Sondag speel hulle op Twickenham teen Frankryk. 'n Nederlaag wat jou steeds in die eindstryd plaas, is presies die soort uitslag waarna jy twee maal na Rassie kyk. Hy was nie eers in die stadion nie, en tog draai die gesprek weer om hom. Hoe hy dit regkry, begin by die manier waarop hy die media gebruik.
Tussen 'n afrigter en die publiek staan gewoonlik joernaliste, redakteurs en uitsaaiers. In mediastudie noem ons hulle hekwagters. Hulle besluit watter aanhaling die opskrif word en in watter konteks jy dit lees.
By 'n perskonferensie werk dit min of meer soos 'n lynstaan. Die afrigter se woorde is die ingooi, en die joernaliste is die springers. Hulle bepaal wie die bal vang en in watter rigting die spel daarna gaan.
Die weerligafleier
Kyk terug na die week se opskrifte. Die perskonferensie, die verbod, die wedstrydstroming en die dreigemente oor kopiereg het almal om Rassie gedraai.
'n Afrigter wat so baie lig op homself trek, werk soos 'n weerligafleier. Die woede en die opskrifte slaan by hom in, en die spelers kan intussen voorberei. Die gesprek oor die Bokke se agterlyn het ná Dublin wel gekom, maar dit moes saam met Rassie om die voorblad meeding.
En die span het sonder hom klaargekom. Die afrigtingspan het ontken dat hulle tydens die stroom instruksies van hom gekry het. Die assistente ken die plan en die spelers weet hoe om dit te speel. Rassie se teenwoordigheid in Dublin was nie nodig om die Bokke in die eindstryd te kry nie, en sy afwesigheid het intussen 'n storie van sy eie geword.
Ndithetha isiXhosa
Toe kom Maandag.
By die spanaankondiging in Londen het assistent-afrigter Mzwandile Stick die hele perskonferensie in isiXhosa, sy moedertaal, gelei. Kuhle “Kooks” Sonkosi, 'n SuperSport-aanbieder en oud-slot wat eens onder Stick op o.21-vlak gespeel het, het vir die internasionale media vertaal. Die internasionale nuusagentskap Reuters, wie se berigte deur koerante regoor die wêreld gebruik word, het dit 'n eerste vir die wêreldkampioene genoem.
Stick praat vlot Engels. Volgens verslae het hy verlede Vrydag nog in Engels met die media gepraat en die paneel gekritiseer wat besluit het om Ierland se losskakel, Sam Prendergast, nie te skors nie. World Rugby en die toernooi se organiseerders oorweeg nou of hy daarvoor tug moet kry.
Of die taalkeuse strategie was, sê niemand in die span hardop nie. The Citizen meen dit was waarskynlik 'n poging om glipse te vermy.
Met 'n tolk tussen hom en die joernaliste het die Bokke hul eie hekwagter aangestel. Elke antwoord gaan eers deur iemand wat die span vertrou voordat dit in Engels by die media land, en elke woord kry 'n oomblik se afstand. Daar is ook 'n eenvoudiger lesing, en dit verdien ewe veel ruimte. Xhosa is een van Suid-Afrika se amptelike tale, en 'n Springbok-afrigter het elke reg om in sy eie taal te praat, in Londen of waar ook al.
Met Rassie word die rede agter 'n beweging dikwels eers later duidelik.
Neem Sam Prendergast, Ierland se losskakel. Hy is aangekla weens 'n sogenaamde heupvalduikslag in Ierland se wedstryd teen Fidji. By dieselfde perskonferensie waar hy van wedstrydknoeiery gepraat het, het Rassie voorspel dat Prendergast op 'n tegniese punt vrygespreek sou word. Prendergast is inderdaad nie geskors nie en kon teen die Bokke speel. KickOff het dit kortweg gestel: “Rassie was right”. Of 2021, toe hy uit stadions verban was en voor die toets op Twickenham 'n foto van homself in kamoefleerdrag op Twitter geplaas het. Destyds was dit 'n grap. Terugskouend was dit 'n vroeë teken van iemand wat verstaan dat 'n verbod ook 'n verhoog kan wees.
Wanneer jy nie weet of 'n skuif beplan is nie, begin jy elke skuif oor-ontleed. Die hele rugbywêreld het hierdie week 'n TMO geword en elke beweging van die Bokke in stadige aksie teruggespeel, op soek na die plan daaragter. Joernaliste en World Rugby se amptenare bestee tyd en energie om te raai. Daardie onsekerheid gee Rassie 'n voorsprong, en ek vermoed hy weet dit.
Wat dit kos
Die spel om aandag het ook 'n prys, en die mense wat dit betaal, is selde Rassie self. Ná die verbod het SA Rugby berigte van dreigemente en beledigende gedrag teenoor World Rugby se beamptes onomwonde veroordeel. 'n Rubriekskrywer in die Irish Times waarsku dat die beledigings wat ná vorige konfrontasies op skeidsregters en hul gesinne gerig is, ernstig opgeneem moet word.
Die oud-Bokke met wie KickOff gepraat het, staan meestal agter hom, met voorbehoude. Corné Krige erken dat Rassie die protokol oortree het, maar meen hy praat namens ander afrigters wat te bang is om iets te sê. Breyton Paulse vind die straf te swaar en wil weet hoekom daar nie eers 'n verhoor was nie. Naas Botha sê beamptes het 'n moeilike werk, maar “You can’t tell me they’re totally untouchable.” 'n Afrigter mag vrae vra. Die risiko kom wanneer 'n woord soos “match-fixing” uitglip voor 'n gehoor wat dit as 'n opdrag lees.
Sondag speel die Bokke op Twickenham teen Frankryk, die span wat hierdie hele storie in Parys aan die gang gesit het. Met die groot Suid-Afrikaanse gemeenskap in die VK, word dit beskou as 'n tuiswedstryd. Rassie gaan weer van buite af kyk, en volgens Sky Sports beplan hy nog 'n aanlyn kyksessie.
'n Bok-oorwinning Sondag sal die vraag laat opvlam of Rassie dit van die begin af so beplan het. 'n Nederlaag sit die raaiery aan die gang oor wat hy vir 2027 in die mou het. Wie ook al die beker optel, Maandagoggend se gesprek behoort reeds aan hom.

Nog artikels deur Lezli Edgar:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







