Repliek: “Israel en Palestina - Waarheid eerste, al is dit ingewikkeld”
Paula Slier reageer op Dr. Marthie Momberg se artikel op OntLaer.
Ek het die grootste deel van my volwasse lewe op die voorste linies van die Midde-Ooste verslag gedoen. Ek het gesinne ontmoet wat hul kinders begrawe, deur huise geloop wat tot puin verander is, en saam met rou ouers aan beide kante van die konflik gesit.
Ek het gesien hoe Gaza bloei. Ek het gesien hoe Israel rou. En ek het lankal geleer dat die waarheid – as daar só iets bestaan – selde netjies by enige ideologie inpas.
Dr. Marthie Momberg se onlangse artikel op OntLaer, “Palestina en Israel: 'n Kruispad”, is met passie en oortuiging geskryf. Maar dit het my diep ongemaklik gelaat. Nie omdat dit Palestynse lyding uitlig nie – ek het daaroor eerstehands verslag gedoen en sal nooit die gruwels daarvan afmaak nie. Wat my ontstel, is hoe maklik sy die trauma van Israeli’s afmaak, Sionisme van sy geskiedkunidge konteks stroop, en staatmaak op binêre denke in 'n streek wat deur kompleksiteit gekenmerk word.
Momberg se uitbeelding van Sionisme as inherent rassisties en aan volksmoord aandadig ignoreer meer as 3000 jaar van deurlopende Joodse verbondenheid met die land Israel. Lank voor die opkoms van politieke Sionisme, het Jode daagliks gebid om na Jerusalem terug te keer, gemeenskappe in stede soos Tiberias en Safed in stand gehou, en Israel as hul voorvaderlike tuiste beskou. Die Joodse volk is uit die land Israel verban – hulle was nie vrye emigrante nie – en ten spyte van die verstrooiing het hulle nooit hul identiteit, taal of verlange om na Israel terug te keer prysgegee nie.
Sionisme het in die laat 19de eeu ontstaan, nie as 'n koloniale ideologie nie, maar as 'n bevrydingsbeweging – 'n reaksie op onophoudelike vervolging, uitsettings, pogroms en uiteindelik volksmoord. Jode het nie as vreemde heersers na Palestina gekom nie, maar as vlugtelinge en oorlewendes, op soek na die enigste plek wat nog ooit werklik en histories aan hulle behoort het. Om hierdie terugkeer rassisties te noem, is om die geskiedkundige trauma wat dit nodig gemaak het, te ontken en die millennia van ononderbroke verbondenheid wat dit betekenisvol maak, weg te vat.
Verder is Sionisme nie uniek nie. Dit is een van vele moderne bewegings vir nasionale selfbeskikking. Die reg van 'n volk op soewereiniteit in hul voorvaderlike tuisland is 'n kernbeginsel van internasionale reg, erken in die Volkebond se Mandaat van 1922 en bevestig deur die Verenigde Nasies in 1947. Israel is deur wettige prosesse, wêreldkonsensus en die desperate nood van 'n ontheemde volk gebore. Dit is die tuiste van Jode van alle agtergronde – uit die Midde-Ooste, Afrikane, Asiate, Europeërs – baie van hulle het geweld en diskriminasie ontvlug in lande waar hulle nooit regtig aanvaar is nie. Om Sionisme dus te reduseer tot 'n rassistiese projek is om hierdie geskiedenisse uit te wis en die regmatige strewes van 'n volk wat – soos enige ander – veiligheid, identiteit en selfbeskikking in hul geskiedkundige vaderland soek, te verwerp. Geen ander bevrydingsbeweging word met dieselfde intensiteit gedemoniseer nie.
“Gelykstellings met Nazisme en apartheid is banale beledigings”
Israel se ontstaan was ook nie 'n Europese imperiale projek nie, maar ’n noodsaak vir Joodse oorlewing. Die feit dat dit intussen 'n magtige staat geword het, kanselleer nie die kwesbaarheid wat tot sy ontstaan gelei het uit nie – en ook nie die voortgesette bedreigings wat sy bestaan regverdig nie. Sionisme is uit vervolging gebore, nie uit mag nie. En dit bly 'n lewenslyn vir 'n volk wat minder as 'n eeu gelede amper van die aardbol afgevee is.
My oupa, Itzak Slier, het vóór die Holocaust van Amsterdam na Johannesburg gekom. Dis net omdat Suid-Afrika sy deure oopgemaak het, dat ek vandag hier is. My oupa se hele familie is deur die Nazi's vermoor. Ek het 'n dokumentêr oor hulle gemaak. Hul name en verhale is nie metafore nie. Hulle is werklik. En hulle verdien beter as om vandag as retoriese wapens in politieke argumente gebruik te word.
Momberg se bewering dat “Europese Jode – van openbare figure soos Albert Einstein, Hannah Arendt, politici en akademici – van die begin af gewaarsku het oor die ontstellende bande tussen Sionisme en Nazisme,” is 'n verdraaiing van feite en ’n diepe belediging teen dié van ons wat familie in die Holocaust verloor het.
Dis waar dat beide Einstein en Arendt ernstige kommer uitgespreek het oor sekere vorme van Sionisme, veral dié wat hulle as oordrewe nasionalisties, militaristies of etnosentries gesien het. In 1948 het Einstein ’n openbare brief aan The New York Times mede-onderteken waarin hy gewaarsku het teen die Herut Party (opvolger van die Irgun-milisie), en die party se ideologie vergelyk het met Europese fascistiese bewegings – nie met Nazisme nie. Arendt het eweneens gevrees dat 'n Joodse staat wat op etniese nasionalisme gebou is, Jode moreel en polities sou isoleer. Sy was veral krities oor wat sy “statistiese Sionisme” genoem het, maar geeneen van hulle het die legitimiteit van 'n Joodse tuiste geheel en al ontken nie. Trouens, Einstein het die vestiging van 'n Joodse tuiste in Palestina ondersteun – weliswaar deur 'n binasionale model – en Arendt het diep bekommerd gebly oor Joodse kwesbaarheid ná die Holocaust.
Waar Momberg se bewering misleidend raak, is in die verregaande suggestie van 'n ideologiese of morele gelykstelling tussen Sionisme en Nazisme. Haar frase “ontstellende bande” impliseer samewerking of gedeelde grondslag – 'n ontvlambare verdraaisel. Hoewel geïsoleerde interaksies soos die Haavara-ooreenkoms van 1933 tussen Nazi-Duitsland en sekere Sionistiese amptenare wel plaasgevind het, was dit pragmatiese pogings om Joodse lewens te red deur emigrasie na Palestina te fasiliteer. Dit was nie weens ideologiese belynings nie. In werklikheid was hoofstroom-Sionistiese denke hewig gekant teen Nazisme, wat die totale uitwissing van die Joodse volk nagestreef het. Om die twee te verwar, is nie net geskiedkundig onakkuraat nie, dit banaliseer op gevaarlike wyse die Holocaust en die bestaansbedreiging waaronder Jode destyds geleef het.
Momberg verwys ook na “apartheid-Israel” – 'n etiket wat nie net misleidend is nie, maar 'n gevaarlike vereenvoudiging is van 'n baie meer komplekse werklikheid.
Apartheid, soos onder internasionale reg omskryf, verwys na 'n stelsel van geïnstitusionaliseerde rasseskeiding en onderdrukking, mees berug gepraktiseer hier in Suid-Afrika, waar die regstelsel eksplisiet tussen rassegroepe onderskei het en basiese regte aan nie-blankes geweier het. Israel, daarenteen, is 'n multi-etniese demokrasie waarin Arabiese burgers – byna twee miljoen mense, ongeveer 20% van die bevolking – stem in nasionale verkiesings, in die parlement dien, op die Hoogste Hof sit, en senior rolle in die openbare lewe beklee. Arabies is 'n amptelike taal in Israel. Universiteite, hospitale, strande, busse, howe en sportspanne is geïntegreer. Daar is ongelykhede en spanning, soos in enige samelewing, maar dit is nie in die reg ingebed soos onder Suid-Afrikaanse apartheid nie.
Ek het oor die besetting verslag gedoen. Ek het by kontrolepunte gestaan. Ek het met Palestyne gepraat wat verneder en vasgevang voel. Hul verhale is werklik en so ook is hul pyn. Maar ek het ook deur Israeli huise geloop wat nog warm was van missielvuur; kinderspeelgoed langs gebreekte glas. Ek het in die oë van Israeli ouers gekyk soos hulle van leë stoele by etenstafels vertel het, van die littekens op hul kinders se liggame, en van drome wat te vroeg begrawe is. Hierdie dinge is nie abstraksies vir my nie, dis die gesigte en stemme wat ek al vir meer as twintig jaar uit oorlogsgebiede saamdra.
Wat van die Palestyne in die Wesoewer? Die situasie hier is meer kompleks maar kompleksiteit is nie apartheid nie. Die Wesoewer is 'n betwiste gebied onder militêre beheer weens dekades van oorlog en mislukte vredesonderhandelinge en nie as gevolg van 'n permanente beleid van rasseskeiding nie. Palestyne in hierdie gebiede word grootliks deur die Palestynse Owerheid regeer en stem in hul eie verkiesings (wanneer dit gehou word). Beperkings op beweging, soos kontrolepunte en die veiligheidsversperring, is nie op grond van etnisiteit nie, maar op grond van veiligheidskwessies sedert die golwe selfmoordbomaanvalle en vuurpylbestokings. Hierdie is nie mooi beleide nie. Maar hulle is nie gewortel in rassemeerderwaardigheid of gekodifiseerde skeiding nie.
Om die woord “apartheid” te gebruik, mag dalk vir 'n kragtige slagspreuk sorg, maar dit verduister meer as wat dit verduidelik. Dit wis die gewelddadige geskiedenis van die konflik uit, die pogings tot vrede, die onttrekkings van betwiste grond, en die voortgesette bedreiging van terreur. Dit maak gesprek dood. Dit vernou 'n morsige, pynlike, diep-menslike konflik tot 'n ideologiese wapen.
En dit is 'n belediging. Nie net teenoor Israeli’s nie, maar ook teenoor die talle Suid-Afrikaners, soos ek, wat deur werklike apartheid geleef het en weet wat dit regtig was.
Ek is nie 'n politikus of woordvoerder nie. Ek is 'n joernalis wat haar loopbaan daaraan gewy het om verslag te doen uit die hart van die wêreld se bloedigste konflikte. My werk is nie om kant te kies nie, maar om die waarheid te vertel veral wanneer dit ongerieflik of ingewikkeld is.
Die waarheid is nooit eenkantig nie.
En om hierdie konflik af te maak tot 'n tweeledigheid van onderdrukker teenoor onderdrukte sonder om terrorisme, trauma of geskiedenis in ag te neem is nie waarheidsvertelling nie. Dis narratief bou.
Maak Israel foute? Natuurlik, soms gruwelike foute. En ons moet dit aanspreek. Maar ons moet ook Israel se reg verdedig om te bestaan, om sy burgers te beskerm, en om sy kant van die verhaal te vertel.
'n Israeliese pa waarmee ek 'n onderhoud gevoer het, het my vertel hoe hy oor die telefoon met sy seun gepraat het wat op pad huis toe was op 'n bus toe 'n selfmoordbom ontplof. Die ontredderde pa het alles gehoor. Hy het later 'n boek gepubliseer met foto’s van sy seun, wat gedroom het om die wêreld se groot oseane te gaan surf. Mense van regoor die wêreld, aangegryp deur sy verhaal, het klippe gestuur (deel van die Joodse begrafnistradisie) wat nou op die graf in die vorm van 'n branderplank in 'n Haifa-begraafplaas lê. “My seun het nooit die wêreld gesien nie,” het die pa hartseer geglimlag, “maar die wêreld het hom kom sien.”
As ons enigsins êrens in hierdie konflik wil vorder – op enige betekenisvolle manier – moet ons ophou skreeu slagspreuke en begin luister. Regtig luister. Nie om mekaar stil te maak of af te maak nie, maar om te verstaan. Ek weet dis moeilik. Ek was al aan albei kante van die grens. Ek het die pyn gehoor. En ek weet – met elke vesel van my wese – dat niks beter word as ons voorgee dat net een kant bloei nie.
“Israeli-pyn is ook geldig”
Momberg skryf oor Israeliese “militarisme,” maar sê niks oor die Iran-befondsde vuurpyle wat op Israeliese huise val nie. Niks oor Hezbollah, die Islamitiese Jihad-organisasie, of die 7 Oktober-slagting in 2023 wat generasionele trauma herleef het nie. Niks oor Holocaust-oorlewendes wat as gyselaars geneem is nie. Niks oor die Joodse kleuterskole wat nou met skuilings beskerm word nie. Dit is nie militarisme nie. Dit is bloot verdediging.
Sy skryf ontroerend oor haar eie ervarings met Joodse Israeli’s wat teen die besetting gekant is. Daardie teenstand bestaan en dit is eg. Ek het met Israeliese diensplig-ontduikers, anti-Sioniste en selfs koloniste gesels. Die spektrum is wyd. Maar om voor te stel dat dié wat Sionisme ondersteun blindelingse nasionaliste is, is om hul diversiteit, pyn en dieper nuanses te ignoreer.
Momberg verwys na die Wêreldraad van Kerke (WRK) en sy ekumeniese begeleidingsprogram. Ek het met WRK-afgevaardigdes gesels. Sommige is werklik verbind tot vredespogings, ja – maar ander herhaal ongeverifieerde aantygings, steun op hoorsê, en ignoreer Hamas se geweldpleging heeltemal. Ek het gesien hoe internasionale aktiviste – dikwels goedbedoelend – met voorafbepaalde standpunte in die streek aankom en weer vertrek sonder om dit ooit te bevraagteken. Hul verslae laat dikwels vuurpylaanvalle op Israeliese burgers uit, propaganda in Palestynse handboeke, of die indoktrinasie van kinders tot martelaarskap. Dít is ook deel van die storie. Waarom word dit uitgelaat?
Momberg noem nie dat die WRK hul vereenselwig met die Boycott, Divestment and Sanctions (BDS)-beweging teen Israel nie. Hierdie beweging verwerp openlik die bestaan van Israel as 'n Joodse staat “van die rivier tot die see.” Dit is 'n veldtog nie vir vrede nie, maar vir uitwissing.
Ja, Gaza lê in puin. Daardie beelde spook ook by my. Maar hulle vertel nie die volle storie nie. 7 Oktober het gebeur. Israeli trauma is werklik. En dit is nie 'n “regverdiging” nie – dit is konteks.
En ja, ek het ook vanuit Gaza verslag gedoen – en Palestyne ontmoet wat vriendelik, edelmoedig en in rou is. Ek onthou 'n tienermeisie wat haar been in 'n Israeliese lugaanval verloor het. Haar ma het in die hospitaal gesnik en gesê geen man in Gaza sal ooit nou met haar dogter trou nie; dat haar drome om 'n onderwyseres te word en 'n gesin te hê, saam met haar liggaam verpletter is. Ek dra ook daardie pyn saam met my.
Die ware tragedie is dat beide volke vasgevang is – Palestyne in besetting en ontheemding; Israeli’s in vrees en voortdurende verdedigingsmodus. Maar hierdie posisies is nie simmetries nie. En hulle is nie eenvoudig nie. En hoewel die wêreld dalk daarvan hou om agter onderdruktes en boosdoeners te gaan staan, weet dié van ons wat in die puin gestaan het, beter.
Hamas is 'n aangewese terreurorganisasie wat vuurpyle vanuit burgerlike gebiede afvuur, sy bevelsentrums in skole en hospitale plaas, en sy eie mense as menslike skilde gebruik. Hierdie is nie net Israeliese praatpunte nie – dis waarneembare feite wat ek met my eie oë gesien het, en wat baie internasionale joernaliste stilletjies in privaat erken, maar nie durf rapporteer nie uit vrees vir vergelding of teenreaksie.
“Gedeelde menslikheid”
Toe ek in Sirië verslag gedoen het, het ek ’n onderwyser ontmoet wat sy pen verruil het vir 'n Kalasjnikov om sy studente te verdedig. Ons het saam oor Sniper Alley beweeg. Ek het gesien hoe hy sokker speel met kinders in die puin van 'n huis. Sulke oomblikke herinner mens aan iets eenvoudig maar diep: menslikheid bestaan aan beide kante van elke oorlog. Maar jy moet bereid wees om dit raak te sien.
Ek vrees dat Momberg opgehou het om dit raak te sien.
Ek het ook iets anders gesien: gedeelde menslike goedheid op die mees onwaarskynlike plekke. In 'n hospitaal in Jerusalem het ek 'n Israeliese meisie ontmoet wat haar 16de operasie ondergaan het ná 'n bomontploffing by 'n pizzarestaurant waar sy en haar vriende gekuier het. Oorkant die saal het 'n Palestynse tienermeisie van Bethlehem ook herstel. Haar suster is dood toe Israeliese magte die gesinsmotor verkeerdelik as dié van ’n terroris beskou het. Twee meisies, albei gewond deur oorlog, het 'n kamer gedeel, 'n verpleegster, en uiteindelik 'n soort stil vriendskap. Jare later het die Palestynse meisie my vertel dit was daardie onderhoud wat haar geïnspireer het om joernalis te word.
Dis maklik om manifes te skryf van veilige afstande af. Maar wanneer jy al deur terreurtonnels in Gaza gekruip het, deur Sniper Alley in Sirië gehardloop het, en op die vloer van bomskuilings met huilende kinders gesit het, besef jy dinge is nooit so swart-en-wit soos die meningsstukke dit laat lyk nie.
Wat my die meeste pla van stukke soos Momberg s’n, is nie die kritiek self nie – Israel het dit nodig, soos enige land – maar die uitwissing van nuanse en die herskryf van geskiedenis. Haar toon en inhoud neig na 'n ideologiese absolutisme wat min ruimte laat vir waarheid, wat nog te sê versoening.
Wanneer jy Israel se bestaansreg, sy vrese, sy konteks en sy kompleksiteit wegstroop, baan jy nie die weg na vrede nie. Jy baan die pad na meer oorlog. Ware vrede vereis dat ons mekaar raaksien – nie as boosdoeners en slagoffers nie, maar as mense.
Dit begin deur die waarheid te vertel. Selfs wanneer dit ingewikkeld is.
Paula Slier is 'n internasionale geleentheidspreker, bekroonde buitelandse korrespondent en persbedryfsstrateeg. Sy het die afgelope twee dekades verslag gedoen vanuit meer as 40 konfliksones, insluitend Israel, Gaza, Sirië, Libië, Oekraïne en Rusland. Sy het 18 jaar lank gedien as die Midde-Ooste burohoof van RT en was ook Midde-Ooste korrespondent vir Suid-Afrika se Eyewitness News, terwyl sy bydraes gelewer het aan eNCA, Carte Blanche en Forbes Africa. Sy is tans aanbieder van die middagprogram op Chai FM en is besig om 'n memoire oor haar lewe as oorlogverslaggewer te skryf.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.