
Ernest Hemingway se The Sun Also Rises het in 1926 vir die eerste keer verskyn. Die bekendste reël daarin kom uit die mond van Mike, 'n losbandige alkoholis uit 'n welgestelde familie wat sy geld verkwis het. Wanneer Bill, 'n joviale Amerikaanse skrywer, hom vra hoe hy bankrot gespeel het, antwoord hy: “Op twee maniere … Geleidelik en toe skielik.”
Ná die plaaslike regeringsverkiesings lyk die verval van die African National Congress (ANC) se jarelange houvas op die staat en die samelewing nou eerder skielik as geleidelik. Die ANC kan heel moontlik in die nasionale verkiesing van 2029 'n soortgelyke slag toegedien word.
Die ANC is vir 'n geruime tyd hoofsaaklik gestraf deurdat kiesers weggebly het, eerder as deur betekenisvolle verskuiwings in steun na ander partye. Dit het begin verander toe die uMkhonto weSizwe-party (MKP) in die nasionale verkiesing van 2024 meer as twee miljoen stemme – meer as 14% van die stemme – ontvang het. Op 4 November is die ANC ernstig verswak deur toenemende steun vir mededingende partye, waaronder die buitengewone sukses van ActionSA in Gauteng, die beskeie maar betekenisvolle vooruitgang van die Demokratiese Alliansie (DA) in townships, 'n besonder goeie vertoning deur die United Democratic Movement (UDM) in Buffalo City en indrukwekkende uitslae vir verskeie ander plaaslike partye en politieke projekte in kleiner dorpe.
Die algemene begeerte om téén die ANC te stem, het regoor die land verskillende vorme aangeneem, afhangende van die beskikbare alternatiewe. Hoewel sommige kiesers duidelik ideologiese oorwegings gehad het by die wyse waarop hulle teen die ANC gestem het – onder meer diegene wie se steun vir die MKP aangevuur is deur dikwels ontkende maar onteenseglik aanwesige etniese sentimente – gaan protesstemme dikwels eerder daaroor om teen een party as vir 'n ander te stem. En in teenstelling met die magiese denke waarmee verkiesings altyd in die media omgeef word, is die partye wat op die stembrief verskyn die gevolg van toevallige omstandighede – waaronder toegang tot befondsing – eerder as die een of ander organiese uitdrukking van die volkswil. Die feit dat meer as 40% van geregistreerde kiesers nie aan die verkiesing deelgeneem het nie, en dat dit vir byna 60% van alle stemgeregtigdes geld, toon dat die meeste mense nie juis geesdriftig oor enige van die keuses op die stembrief is nie.
Dit is nietemin opvallend dat, terwyl die DA en ActionSA – albei partye wat nie hul wortels in die nasionale bevrydingsbeweging het nie – onderskeidelik vanuit die politieke sentrum en die verregse vleuel vooruitgang gemaak het, die Economic Freedom Fighters (EFF) se inmiddels bestendige agteruitgang voortgeduur het en die MKP 'n aansienlike deel van die steun verloor het wat hy in die nasionale verkiesing van 2024 verwerf het. In Johannesburg het die EFF se agteruitgang voortgeduur ondanks die feit dat die party 'n uitstekende burgemeesterskandidaat in Tlaleng Mofokeng gehad het – die beste burgemeesterskandidaat wat enige party sedert 1994 in enige Suid-Afrikaanse stad na vore gebring het.
Nie so lank gelede nie het dit byna seker gelyk dat die MKP beheer oor die eThekwini-munisipaliteit en sy begroting van R75 miljard sou verkry. Die afname in sy steun het egter beteken dat hy uiteindelik net meer as 38% van die stemme ontvang het, teenoor die 48% wat hy in die munisipaliteit tydens die nasionale verkiesing van 2024 behaal het. Dit is nou moontlik dat Durban deur ‘n koalisie regeer kan word wat die MKP uitsluit.
Talle joernaliste en kommentators het, sonder enige bewyse, ActionSA se sukses in Gauteng aan sy verregse ekstremisme oor migrasie toegeskryf. Dit mag 'n faktor gewees het, maar die MKP het veel meer regstreeks en konsekwent deelgeneem aan die fascistiese vorme van straatboewery waarvan March and March die voorhoede vorm. Dit dui daarop dat uiterste vreemdelingehaat in werklikheid nie 'n gewaarborgde manier is om stemme te werf nie. Dit is ook nie 'n verskynsel wat eie aan die MKP is nie. Die Patriotic Alliance huldig eweneens verregse standpunte oor vreemdelingehaat en het ook van die steun verloor wat hy in die nasionale verkiesing van 2024 geniet het. Terselfdertyd kon die ANC-geleide regering se feitlike bemagtiging van die gepeupel wat vroeër vanjaar groot getalle mense uit hul huise en werkplekke verdryf het, asook die vinnige staatsgeorganiseerde massadeportasies wat daarop gevolg het, nie die ANC se agteruitgang by die stembus stuit nie.
Die bewering deur die roofsugtige nasionaliste binne die ANC en sommige van sy afsplinteringspartye dat die ineenstorting van steun vir die ANC 'n stem teen sy koalisie met die DA in die nasionale regering was, is duidelik niks meer as opportunistiese politieke verdraaiing nie. Indien dit waar was, sou daar immers ‘n verskuiwing na, eerder as weg van, die EFF en die MKP gewees het.
Dit lyk egter logies dat 'n vername dryfveer agter die groeiende verkiesingsgewig van die sentrumregse en verregse partye die hoop is dat die DA en ActionSA minder korrupte en doeltreffender munisipale bestuur sal kan bied as die ANC en sy plaaslike koalisievennote, veral die EFF, wat saam met die ANC in Johannesburg en, tot Februarie 2026, in Ekurhuleni regeer het.
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het goed gevaar deur altesaam 709 118 stemme op die wyk- en proporsionele verteenwoordigingsstembriewe (2,38% van die nasionale stemme) en 271 raadsetels te verower. Die party het besonder goed gevaar in die Oos-Kaap, waar lojaliteit teenoor die ANC steeds sterk is. Hoewel die party geensins so goed gevaar het soos vorige afsplinteringspartye van die ANC in hul eerste verkiesings nie – die UDM, die Congress of the People en die EFF – het hy veel beter gevaar as die vorige twee pogings om linkse partye aan verkiesings te laat deelneem. In die algemene verkiesing van 2014 het die Workers and Socialist Party (Wasp) 8331 stemme (0,05%) ontvang, terwyl die Socialist Revolutionary Workers Party (SRWP) in die algemene verkiesing van 2019 24439 stemme (0,14%) ontvang het.
Die beskeie nasionale sukses van die SAKP en die indrukwekkende plaaslike sukses van die sentristiese UDM is betekenisvol, maar die algemene tendens in hierdie verkiesing is duidelik ‘n beweging weg van sowel die ANC as sy grootste afsplinteringspartye, en na regs. Die jarelange hegemonie van die politiek van nasionale bevryding verkeer nou in ‘n skerp verkiesingsverval, en daarmee saam die oorblywende ideale van die linkse politiek.
Die verbrokkeling van die ANC
Steun vir die ANC het onder Thabo Mbeki in 2004 sy hoogtepunt van 69,69% van die nasionale stemme bereik en daarna beskeie begin afneem voordat Jacob Zuma in 2009 president geword het.
Zuma en die roofsugtige projek binne en rondom die ANC wat onder sy leierskap saamgesnoer is, het alles verander. Hy het die party en die staat omskep in 'n instrument waardeur openbare rykdom vir die private verryking van 'n korrupte en soms misdadige teenelite ontgin kon word. Hy het die openbare sfeer ingedoen, met grondbeginsels van die nasionale bevrydingsbeweging gebreek, soos nieseksisme en die verwerping van etniese politiek, en was aan bewind tydens 'n slagting van stakende mynwerkers, die gewelddadige onderdrukking van studente en die gereelde sluipmoorde op voetsoolvlakaktiviste.
Zuma het van die ergste kenmerke van postkoloniale politieke heerskappy begin verpersoonlik: roofsug, begunstigingspolitiek, manlike oordaad en 'n voorliefde vir dit wat Achille Mbembe as “die obsene en die groteske” beskryf het. Sy politieke styl het ook voorlopers gehad in figure soos Silvio Berlusconi in Italië, Joseph Estrada in die Filippyne en Alberto Fujimori in Peru, en het die opkoms van figure soos Donald Trump in die Verenigde State, Jair Bolsonaro in Brasilië, en Boris Johnson en Nigel Farage in Brittanje vooruitgeloop.
Onder Zuma het die afname in steun vir die ANC skerp versnel, veral gedurende sy tweede ampstermyn, voordat hy uiteindelik in Februarie 2018 deur die ANC herroep is. Daar moet erken word dat 'n deel van die teenstand teen Zuma deur wit kapitaal en die wit media aangedryf is. Kunsmatige skepsels soos die skynbeweging Save South Africa was 'n duidelike voorbeeld van eersgenoemde, terwyl laasgenoemde sy hoogtepunt bereik het in Branko Brkić se Daily Maverick, wat later sy rasse- en geopolitieke voorkeure duideliker geopenbaar het deur sy toevlug tot samesweringsteorieë te neem om kritiek op die Weste weg te verklaar, asook deur die skaamtelose dubbele standaarde in sy beriggewing oor Oekraïne en Palestina.
Maar daar was ook 'n duidelike volksafkeer van Zuma en dit wat hy aan die ANC, die staat en die land gedoen het. Dit is regstreeks en soms moedig deur progressiewe massaorganisasies van die armes en die werkersklas verwoord. In 2017 het die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) en die SAKP hulle uiteindelik ook teen Zuma gekeer en om sy bedanking gevra.
In 'n poging om hierdie tweeledige aanval te beteuel, het Zuma se magsblok binne en rondom die ANC gedoen wat nasionale bevrydingsbewegings al so dikwels gedoen het wanneer die volk, in Frantz Fanon se woorde, “ontwaak tot die onuitspreeklike verraad van hul leiers”. Met die hulp van die berugte Britse skakelfirma Bell Pottinger het die Zuma-faksie probeer om die oorspronklike Manicheïstiese tweedeling van die koloniale ontmoeting te herstel deur die politiek voor te stel as 'n enkele en absolute stryd tussen “wit monopoliekapitaal” en Zuma, wat as die ware verteenwoordiger van die volk en sy stryd uitgebeeld is.
Soos Fanon verduidelik het, word die Manicheïstiese tweedeling wat deur kolonialisme afgedwing word, aanvanklik binne die bevrydingstryd gereproduseer. In die loop van dié stryd begin hierdie verdeling egter verbrokkel namate mense 'n meer genuanseerde begrip van die koloniale bestel ontwikkel en die uiteenlopende belange onder die gekoloniseerdes, ook binne die bevrydingsbeweging self, begin erken. Hulle begin verby 'n onoordeelkundige nasionalisme beweeg na 'n dieper maatskaplike en politieke bewussyn. Ná onafhanklikheid poog die nasionale bourgeoisie om die oorspronklike tweedeling te herstel deur lojaliteit in die naam van die bevrydingstryd te eis, terwyl nuwe vorme van uitbuiting en oorheersing binne die nasie verberg word. Die teenstelling tussen die uitgebuites en uitgeslotenes en die politieke klas wat hulself in dié mense se naam verryk, word verdoesel, verdring en onder beheer gehou deur die voorhou van ‘n enkele teenstelling tussen die voormalige onderdrukker en die vermeende bevryder.
Benewens pogings om volksteenstand te beteuel deur die Manicheïstiese idee van 'n enkele nasie wat sy vyande konfronteer te bevorder, wend nasionale bevrydingsbewegings, of hul leiers, hulle soms tot populistiese gebare wanneer hulle voor die vooruitsig van magsverlies te staan kom. Dit kan wissel van aanvalle op die stedelike armes en vreemdelinghatige, etniese of godsdienstige aanhitsing tot toegewings aan volkseise. In Desember 2017, onder geweldige druk van die Fees Must Fall-beweging, het Zuma gratis hoër onderwys vir arm studente en studente uit die werkersklas aangekondig, sonder 'n plan oor hoe dié beleid befonds sou word. Dit was egter 'n toegewing wat deur volkstryd afgedwing is, nie deel van 'n breër projek van herverdeling en maatskaplike transformasie nie. Dit het teen die grein van die res van Zuma se presidentskap ingegaan.
Onder Zuma se bewind was daar geen “radikale ekonomiese transformasie” vir gewone mense nie. Hy het nie met die neoliberale makro-ekonomiese beleid gebreek of betekenisvolle grondherverdeling onderneem nie. Daar was geen volgehoue projek van strukturele herverdeling vergelykbaar met die programme wat onder andere deur Jean-Bertrand Aristide in Haïti, Lula da Silva in Brasilië, Evo Morales in Bolivië of Rafael Correa in Ecuador op verskillende wyses en in wisselende mate nagestreef is nie. Mense wat demokratiese vorme van volksmag probeer opbou het, is eerder met onderdrukking, waaronder sluipmoorde, as met ondersteuning begroet. Die staat is hervorm om private akkumulasie uit openbare rykdom moontlik te maak, terwyl sy vermoë om sy maatskaplike funksies te vervul ernstig beskadig is. Wat as die bevryding van die volk voorgehou is, was in die praktyk die verryking van 'n klein, polities verbonde teenelite, regstreeks ten koste van die volk as geheel.
Cyril Ramaphosa, wie se opgang tot die presidentskap van die ANC en daarna die land sterk deur wit kapitaal gesteun is, sou nooit die makro-ekonomiese beleid aanpak wat massawerkloosheid en verarming in stand hou nie, of die neoliberale benaderings tot stedelike bestuur wat fiskale besuiniging, uitkontraktering en tendergedrewe private akkumulasie met die bestendige aftakeling van munisipale vermoë verbind het nie.
Daar is van hom verwag – minstens deur sy donateurs en die media – om op te tree teen dit wat as “staatskaping” bekend geword het, maar hy het nie die wil of die krag gehad om die roofsugtige nasionaliste binne die ANC te beteuel nie. Durban was 'n gedeeltelike uitsondering. Korrupte munisipale leierskap is verwyder, strafregtelike aanklagte is teen die voormalige burgemeester Zandile Gumede aanhangig gemaak, wat afpersingsnetwerke by die munisipale tenderstelsel probeer betrek het, en daar was 'n sigbare verbetering in bestuur. Elders het Zumaïsme in munisipaliteite regoor die land voortgeleef, met rampspoedige gevolge. Hoewel Zuma self 'n uiters skadelike president van sowel die ANC as die land was, het die uitsluitlike fokus op Zuma as persoon die mate waarin hy die leier van 'n roofsugtige projek binne en rondom die ANC geword het, verdoesel – 'n projek wat ná sy onttroning in ‘n meer verspreide vorm voortgeleef het.
Gevolglik het basiese dienste en infrastruktuur in dorpe en stede regoor die land ineengestort. Bowendien het die grofheid, vulgariteit en minagting vir demokratiese norme wat Zuma en sy ondersteuners in ons politiek ingebring het, 'n algemene kenmerk van ons politiek geword. Dit het na die vakbondbeweging versprei, met Irvin Jim as die bekendste voorbeeld, en vind ook uitdrukking in verregse figure soos Herman Mashaba en Gayton McKenzie. Dit het 'n toenemend dreigende en soms fascistiese vorm aangeneem in die georganiseerde en gewelddadige vreemdelingehaat van Operation Dudula en March and March, sowel op straat as aanlyn.
Dit is egter noodsaaklik om daarop te let dat, hoewel ‘n roofsugtige klas – wat nou oor verskeie partye versprei is – sentraal tot hierdie verval staan, nóg die ineenstorting van openbare dienste en infrastruktuur, nóg die ondergeskikstelling van die openbare belang aan private akkumulasie uitsluitlik die gevolg van korrupsie is. Nasionale besuinigingsbeleid, die uitkontraktering en kommodifisering van openbare dienste en die bestendige aftakeling van munisipale vermoë staan ook sentraal tot die krisis. Chroniese onderinvestering in infrastruktuur, onvoldoende instandhouding en die verlies aan tegniese kundigheid, veral op ingenieursgebied, het die krisis vererger en tot die ineenstorting van water-, sanitasie-, elektrisiteits- en ander noodsaaklike dienste bygedra.
'n Onlangse verslag het bevind dat nie 'n enkele lid van Johannesburg Water se direksie 'n professioneel gekwalifiseerde ingenieur was nie. Die tenderstelsel het 'n besonder vernietigende meganisme geword waardeur openbare hulpbronne in private wins omskep word, dikwels deur polities verbonde kontrakteurs wat pryse opblaas, geld wegsluis wat aan die werk self bestee behoort te word, en swak werk lewer of projekte onvoltooid laat, terwyl munisipaliteite die vermoë verloor om self die werk te onderneem en daaroor toesig te hou.
Korrupsie staan sentraal tot die wanfunksionering van munisipale bestuur, maar die obsessiewe beheptheid met korrupsie – soms deur duidelike rassisme aangevuur – wat die witgedomineerde liberale blok, versprei oor 'n aantal mediaprojekte en die DA, reeds lank kenmerk, verdoesel die neoliberale beleid wat eweneens sentraal tot dié wanfunksionering staan. Dit reduseer ook die vraagstuk van goeie munisipale regering tot skoon en doeltreffende administrasie op ‘n wyse wat die moontlikheid van 'n breër maatskaplike projek om die diepgaande en sterk rasgebonde ongelykhede in grond, behuising, hulpbronne en mag te oorbrug, verduister.
Die linkse politiek in verval
Die politiek van nasionale bevryding is altyd dié van 'n nasie in wording. Dit bring 'n wye verskeidenheid klas- en ander belange byeen, tesame met mededingende idees oor die samelewing wat ná bevryding opgebou moet word.
Gevolglik neig nasionale bevrydingsbewegings daartoe om politieke faksies in te sluit wat onder ander omstandighede teen mekaar sou stry. Die linkse politiek het 'n prominente maar nie dominante plek ingeneem in bewegings soos die Palestynse Bevrydingsorganisasie, die Indian National Congress en die Kenya African National Union, en 'n dominante plek in bewegings soos die Viët Minh en, later, die Nasionale Bevrydingsfront in Viëtnam, en die African Party for the Independence of Guinea and Cape Verde.
In baie lande is die linkse faksies van nasionale bevrydingsbewegings spoedig ná bevryding verslaan, soms in stryde wat reeds voor onafhanklikheid begin het. In Algerië het die stryd oor die koers van die Nasionale Bevrydingsfront (FLN) lank voor onafhanklikheid begin. Die Soummam-kongres van 1956 het op 'n breedweg sekulêre en linkse grondslag die voorrang van die politieke bo die militêre bevestig. Fanon se hegte kameraad, Abane Ramdane, wat 'n sentrale rol in die vestiging van hierdie beginsel gespeel het, is in 1957 deur die regse vleuel binne die FLN vermoor, en Fanon het goeie rede gehad om te vrees dat hy ook in gevaar kon verkeer. Ná onafhanklikheid in 1962 is die linkse vleuel spoedig aan bande gelê.
In Suid-Afrika staan linkse idees reeds 'n eeu lank sentraal tot die politieke verbeelding van bevryding. In 1926 het die Industrial and Commercial Workers’ Union (ICU), wat in 1919 op die Kaapstadse dokke gestig is en onder leiding van Clements Kadalie, 'n migrant uit die huidige Malawi, gestaan het, as 'n nasionale mag na vore getree. Dit het werkers, kleinboere en stedelike plakkers georganiseer deur 'n sinkretiese politiek wat uit Garveyisme, sosialisme en ander idees geput het. Hoewel die leierskap in 1926 kommuniste uit die beweging geskors het, het die beweging 'n sterk linkse stroming behou. Sy invloed het tot ver buite Suid-Afrika en oor die breër streek gestrek, en teen 1927 het die beweging na eie bewering sowat 100 000 lede gehad.
Die ANC was destyds 'n klein en sukkelende organisasie, hoofsaaklik onder leiding van aristokrate, predikante, onderwysers, regslui en joernaliste, wat steeds op petisies en afvaardigings aangewese was. Die Kommunistiese Party van Suid-Afrika, wat in 1921 gestig is, het nie 'n massabasis vergelykbaar met dié van die ICU gehad nie, maar in sy aandskole is swart werkers in geletterdheid, Marxisme en die geskiedenis van die arbeidersbeweging onderrig. Talle belangrike politieke figure van die daaropvolgende dekades, waaronder Moses Kotane en Josie Palmer, is binne sy strukture gevorm.
Die ANC het in die 1940’s in die rigting van 'n massastryd begin beweeg, aangedryf deur sy Jeugliga, wat aanvanklik eerder nasionalisties as sosialisties was. Die Vryheidsmanifes, wat in 1955 aanvaar is, het 'n betekenisvolle verskuiwing na links verteenwoordig. Dit het verklaar dat “die volk in die land se rykdom sal deel”, gevra dat minerale rykdom, banke en monopolistiese nywerhede in die besit van die volk as geheel oorgedra word, en geëis dat grond herverdeel word aan diegene wat dit bewerk. Dit het ook werkersregte en die reg op behuising, onderwys en maatskaplike sekerheid bevestig.
Gedurende die lang jare van stryd wat gevolg het, het die ANC se alliansie met die SAKP, sy noue betrekkinge met die Sowjetunie en Kuba se beslissende militêre ingryping teen die apartheidsleër in Angola 'n kragtige linkse stroming in die beweging ingeweef, wat die idees van die linkse politiek 'n integrale deel van sy begrip van bevryding gemaak het.
Toe die binnelandse stryd vanaf die laat 1960’s begin herleef het, is dit toenemend binne die raamwerk van 'n breë linkse politiek gevoer. Die Swartbewussynsbeweging het in die vroeë 1970’s in die rigting van uitdruklik sosialistiese verbintenisse beweeg. Die vakbonde wat ná die Durbanse stakings van 1973 herbou is, was gewortel in idees van werkersmag en het sowel demokratiese organisasie binne die vakbonde as die demokratisering van die werkplek self nagestreef. Die United Democratic Front (UDF), wat in 1983 gestig is, was nie formeel sosialisties nie, maar was duidelik 'n linkse projek wat werkersmag binne die vakbonde met volksmag in gemeenskappe verbind het. Cosatu, wat in 1985 gestig is, het georganiseerde arbeid in 'n toenemend kragtige verhouding met die breër bevrydingsbeweging gebring. Die opstandige algemene staking wat die land op Werkersdag 1986 tot stilstand gebring het, was sowel 'n beslissende oomblik in die nasionale bevrydingstryd as 'n kragtige bevestiging van die vakbondbeweging se verbintenis tot die linkse politiek.
Soos talle nasionale bevrydingsbewegings het die ANC, eenmaal aan bewind, vinnig beweeg om, in Fanon se woorde, “die volk na hul grotte terug te stuur”, deur sommige volksorganisasies te demobiliseer en ander as instrumente aan te wend. Terselfdertyd het die ANC, ondanks sy kennis van die maatskaplike verwoesting wat voortgespruit het uit die kapitulasie voor die Internasionale Monetêre Fonds in Mosambiek in 1987 en daarna in Zimbabwe in 1991, die beperkte sosiaal-demokratiese moontlikhede wat deur die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) geskep is, vinnig verdring met die selfopgelegde strukturele aanpassing wat in 1996 aanvaar is. Die ANC het wel toegang tot universiteite moontlik gemaak, maatskaplike toelaes en toegang tot behuising en basiese dienste uitgebrei, en toegang tot die middelklas vergemaklik. Die onderliggende strukture van die ekonomie en die rasgebonde skeidslyne en gebiede van uitsluiting wat dit in stand gehou het, het egter grotendeels onaangeraak gebly.
Van die aanvang van die demokrasie af was daar ook 'n kragtige strewe, grotendeels van buite, om staatsbestuur te depolitiseer. Binnelandse kapitaal, 'n groot deel van die media, Westerse regerings en internasionale finansiële instellings, veral die Wêreldbank, het vinnig beweeg om die idee te vestig dat regering hoofsaaklik 'n tegnokratiese onderneming is. 'n Besonder doeltreffende ingryping was die normalisering van die idee van “dienslewering” – 'n begrip wat deur die Wêreldbank in Suid-Afrika se politieke woordeskat beland het – as die vernaamste oogmerk van regering, veral op munisipale vlak. Mense wat aktiewe politieke subjekte in die stryd teen apartheid was – 'n stryd waarin volksmag sowel die middel as die doel was – is toenemend beskou as passiewe ontvangers van dienste wat van bo af gelewer word.
Die politieke vraagstukke wat ten grondslag van stedelike bestuur lê, waaronder die besit, toewysing en bestuur van grond, die verdeling van openbare hulpbronne, volksdemokrasie en die uitoefening van volksmag, is deur 'n eng klem op administratiewe doeltreffendheid in die lewering van dienste verduister. Staatsbestuur is gereduseer tot die administrasie van die blote bestaan – gemeet in liters en kilowatt-uur op spreivelle – terwyl die strewe na 'n florerende en demokratiese lewe wat soveel strominge binne die bevrydingstryd besiel het, om die hoek geneem en stilweg verwurg is.
Hierdie ideologiese operasie was so suksesvol dat die volksproteste wat vanaf 2004 werklik in omvang en frekwensie begin toeneem het, gereeld in die media en groot dele van die nieregeringsorganisasie- en akademiese wêreld as “diensleweringsproteste” beskryf is, selfs wanneer hul eise duidelik nie tot doeltreffender dienslewering beperk was nie. Sommige het die wyse waarop dienste gelewer is, bevraagteken, ander het veel breër politieke en ekonomiese vraagstukke geopper, en nog ander het demokratiese insluiting en die reg om aan besluitneming deel te neem, geëis.
Nog 'n uiters doeltreffende ingryping was die wêreldwye bevordering van die idee van die “burgerlike samelewing” ná die Koue Oorlog deur Westerse regerings en donateurs. Dit het die vinnige verdringing van demokratiese volksorganisasies deur geprofessionaliseerde nieregeringsorganisasies gelegitimeer, wat eerder aan direksies en donateurs as aan enige volksbasis verantwoording moes doen. Hierdie verdringing het aanvanklik 'n opvallende rassekarakter gehad. Ten spyte van dit alles is die idees en waardes van die linkse politiek nie binne die ANC uitgewis nie. Sy taal, geskiedenis en politieke identiteit is steeds gevorm deur 'n antikoloniale ingesteldheid en 'n verbintenis tot gelykheid, solidariteit en die belange van die werkersklas en die armes, selfs namate sy praktyk toenemend met hierdie verbintenisse in stryd gekom het.
Hoewel hierdie idees meestal in retoriek eerder as in die praktyk geëer is, het hul voortgesette aanwesigheid minstens 'n bewussyn van die moontlikheid van 'n meer bevrydingspolitieke projek in stand gehou. Die oorgawe aan die taal van neoliberalisme was betekenisvol, maar nie volkome nie.
Professor Pithouse is 'n navorser en skrywer oor onderwerpe in musiek, digkuns en politiek en is woonagtig in Johannesburg. Die oorspronklike vol artikel verskyn op sy substack.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.





