
In vandeesweek se verkiesings in beide Suid-Afrika en die VSA het die grootste party groot verliese gely.
Die peilings is in albei lande in twyfel getrek, maar indien hulle wel verkeerd was, was dit omdat hulle die verliese onderskat het. Die Republikeine is nou weer 'n minderheid in albei huise van die Amerikaanse kongres en die Demokrate het historiese seges behaal. Texas het nou hul eerste Demokratiese senator en goewerneur in dekades, Kansas het die eerste keer in bykans ’n eeu 'n Demokratiese senator verkies en Suid-Carolina is ook onder Demokratiese beheer.
In Suid-Afrika blyk dit sover dat die ANC sy kreeftegang voortsit. Weliswaar nie altyd jeens dieselfde opponent nie, maar die tendens duur voort. Soos in Amerika was hierdie verkiesing nie 'n algemene een om die president te verkies nie, maar is hulle steeds en desnoods referenda oor hoe 'n president en hul onderskeie partye presteer. Die grootste en/of regerende party ly gewoonlik verliese in sogenaamde mindere verkiesings, maar die Republikeine en waarskynlik die ANC is klinkend die rug op verskeie maniere toegekeer.
Gedeelde kwessies en tendense
Ofskoon die VSA en Suid-Afrika op elke vlak uiters uiteenlopende samelewings is, is sekere kwessies universeel en kiesers gaan daarop reageer – selfs deur nie te stem nie of anders te stem.
Ek het vanjaar telkens op Ontlaer en elders gewaarsku dat pres. Donald Trump se besluit om Iran aan te val, die Republikeine, die MAGA-beweging, konserwatisme en ook Trump duur te staan gaan kom. Ek het my meestersgraad oor Amerikaanse buitelandse beleid gedoen en verstaan grondig watter seminale en rampspoedige besluit dit was. Dit het allengs duidelik begin word, soos die konflik ongekende ekonomiese pyn in Amerika en trouens die wêreld veroorsaak het. Adjunkpresident JD Vance het korrek en uitdruklik die blaam op die oorlog geplaas as die rede hoekom sy party so swak presteer het.
Hoewel dit sekerlik die vernaamste rede vir hierdie historiese nederlaag is, was dit allesbehalwe die enigste een. Soos in Suid-Afrika, is dit 'n verwerping van die arrogante en selfvoldane elites wat toondoof vir gewone mense se omstandighede geword het. En boonop vir hulle vertel dat hulle nie hul leuenagtige oë (en beursies) moet glo nie.
In talle peilings deur Ipsos, ABC en selfs Fox het dit geblyk dat kiesers tans disproporsioneel bekommerd is oor politieke hoëvlak-korrupsie in die VSA. Hoewel dit nog slegs bewerings is, weeg persepsies (wat deur geloofwaardige onthullings gerugsteun word) swaar in verkiesingsbesluite. Aantygings oor Trump se skoonseun Jared Kushner wat miljarde uit verdedigingskontrakte in die Midde-Ooste (en die Iran-konflik) maak, influence-peddling (waar toegang tot die Trump-administrasie aan buitelandse rolspelers verkoop word), en Trump se betrokkenheid by twyfelagtige buitelandse kripto-skemas het nie ongesiens verbygegaan terwyl gewone mense sukkel nie. Trump het juis by sy laaste optredes voor die verkiesings onwyse (om dit sagkens te stel) opmerkings gemaak waarin hy die spot dryf met mense wat kla oor hoë brandstofpryse terwyl “ons” fortuine maak. Dit was manna uit die hemel vir die Demokrate, wat juis meer egalitaries ingestel is.
Insgelyks het kiesers – selfs swart kiesers – die tendens voortgesit om hul steun van die ANC te weerhou deur nie te gaan stem nie of vir ander partye te stem. Pres. Cyril Ramaphosa se vele beloftes (wat oor die jare onvervuld opgehoop het) dat hulle plaaslike regering gaan prioritiseer, het uiteindelik hul geloofwaardigheid verloor. En dit help immers nie as kiesers se water en krag juis op stemdag af is nie. Dit gee verdere impetus aan proteswegblystemme of stemme vir ander partye. Die joernalis Mia Spies het juis aangedui dat die DA 'n eerste behaal het deur meer as 'n miljoen swart stemme in hierdie verkiesing te trek. Klaarblyklik glo al hoe minder mense Ramaphosa se geykte (en enigste sowel as objektief oneerlike) slagspreuk dat slegs die ANC doeltreffend kan regeer.
Dit is weer eens tekenend van hoe uit voeling en ongevoelig die president en menigte mense in die ANC is oor wat presies die publiek op munisipale vlak moet verduur. En in anekdotiese verhale in die media op stemdag, sowel as talle peilings, het korrupsie sterk gefigureer. Terwyl 'n ekonomies-bestande regerende elite met besluitnemingsmag oor staatskontrakte en beleid onelasties is wanneer dit by ekonomiese pyn kom, trek gewone mense ongelooflik swaar – soos in die jongste werkloosheids- en groeisyfers weerspieël word.
Quo vadis?
Dit sal nog gesien moet word tot welke mate die slegte nuus vir die ANC in goeie nuus vir Suid-Afrika kan verander. Hef aan lê nou voor wat koalisievorming in menigte munisipaliteite betref en die ANC kan steeds daarin 'n prominente rol speel. Maar verander gaan hulle opsluit nié. Daarvoor is hulle te verknog aan hul ideologie en tewens hul gevestigde korrupte (die sogenaamde vrugte van bevryding) belange. Daar is eenvoudig nie omkeer nie en dit sal hulle verder in die toekoms ondermyn.
In Amerika is daar egter hoop vir die Republikeine. Hierdie verkiesing was 'n wekroep oor wat daar van hulle verwag word en hulle het nou tyd vir besinning oor die pad vorentoe. Dit is nie 'n permanente herkonfigurasie nie en baie van die deurslaggewende gevegte in hierdie verkiesing is naelskraaps gewen en verloor. Hulle weet nou wat Amerikaners nié wil hê nie: sinnelose oorloë in die Midde-Ooste wat swak regverdig word, ampsdraers wat hulself verryk terwyl hul besluite hul mense verarm, en neokonserwatiewe buitelandse beleid in die algemeen. Jy kan tot in ewigheid kla dat slegs sosialiste ('n growwe oordrywing aangesien verskeie sentristiese en selfs konserwatiewe Demokrate verkies is) nou in beheer is van die kongres, maar Vance en Ron DeSantis (albei moontlike toekomstige presidente) het solank die voorbeeld gestel deur die uitdagings vir hul party vierkantig in die oë te kyk. Anders as die ANC, is hul ideologiese DNS nie die probleem nie. Hulle het slegs leierskap- en persoonlikheidsuitdagings in die persoon van Trump.
Uiteenlopende figure soos Ramaphosa en Trump is nou albei in wese flou en beleërde makoue vir die oorblywende deel van hul termyne. Onder hul leiding het die vyandigheid tussen hul lande gegroei, maar albei here is polities op dieselfde plek. Hulle het hul partye tot historiese laagtes laat daal en myns insiens is sulke vernederings nodig al is die alternatiewe uitkomste nie volmaak nie. Die Republikeine gaan aan die 2028-verkiesing vir die eerste keer in 12 jaar sonder Trump deelneem. Baie kan nog tot dan gebeur, afhangend van wat Trump besluit om verder te doen. Maar vir hulle is daar onteenseglik hoop. Dieselfde geld nie die ANC nie.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






