
In 2006 was Kaapstad die enigste van Suid-Afrika se ses metros (Mangaung en Buffalo City is eers later as metros geklassifiseer) wat 'n koalisieregering nodig gehad het. Die ander vyf het ANC-meerderhede gehad. Ná hierdie jaar se verkiesing is Kaapstad nou weer die uitsondering. Die enigste van agt metros met 'n enkelpartymeerderheid, dié van die DA. Elders sal partye genoeg steun by mekaar moet kry om in 'n koalisie te regeer. Binne twintig jaar het die uitsondering en die reël plekke geruil.
Dit is maklik om mis te kyk hoe besonders hierdie ontwikkeling vir die Suid-Afrikaanse politiek is. Dink ons terug aan 2006 toe Herschelle Gibbs en Mark Boucher die 438-wedstryd gewen het, die Blou Bulle en Vrystaat die Curriebeker gedeel en Johannesburg Internasionale Lughawe OR Tambo geword het, sou min mense kon voorsien dat die politieke kaart binne twintig jaar amper presies sou omkeer.
Tog beoordeel ons partye steeds asof 50% die enigste betekenisvolle uitslag is en die rigting waarin partye moet werk. Asof partye steeds meerderhede moet nastreef. Dit is tog verstaanbaar in 'n land waar die ANC se oorheersing die verwagtinge van 'n hele politieke geslag gevorm het. Maar daardie geskiedenis kan ons oordeel vertroebel. Hierdie koalisiepolitiek wat vir Suid-Afrikaners soos 'n afwyking voel, is vir baie parlementêre demokrasieë gewone politiek.
Agter dié verwagting skuil die aanname dat 'n regering in 'n uiteenlopende samelewing een politieke party nodig het om kiesers te verenig. Vir lank is geglo dat die einde van ANC-oorheersing bloot 'n vakature vir 'n nuwe oorheersende party sou word. Dit kyk natuurlik die aard van die politiek en menslike natuur mis. Ons is nou in ons koalisie-era en gaan waarskynlik hier wees vir baie, baie lank.
Die landwye munisipale uitslag plaas die ANC op 30,76% en die DA op 24,64%. Slegs die twee partye kon 'n kwart van die stemme agter hul party verenig. In derde plek is MK met 9,76%, byna 15 persentasiepunte agter die DA. Selfs Jacob Zuma se persoonlike aanhang kon MK nie naby 'n kwart se steun bring nie. Om 'n kwart van die verkiesingsteun oor uiteenlopende gemeenskappe te verenig, is 'n politieke prestasie op sigself, en nie net in Suid-Afrika nie.
Dit is ingelyks bemoedigend dat die DA die afgelope verkiesing meer swart steun as beide die EFF en ActionSA ontvang het. En slegs die DA kon oor verskeie groepe heen noemenswaardige steun werf.
Ek het vroeër vanjaar geskryf dat die idee van 'n permanente tweederdemeerderheid vir die ANC, MK en EFF al hoe minder met die werklikheid strook. Tel 'n mens die ANC, MK, EFF en nou ook die onafhanklik deelnemende SAKP bymekaar, kom dié breë transformatistiese blok steeds nie by 50% uit nie. Die politieke meerderheid wat vir dekades byna vanselfsprekend as ideologies links-transformatisties aanvaar is, bestaan nie meer vanself nie. Suid-Afrika is nie bloot in 'n post-ANC-era nie, die kieserskorps self is besig om veel meer versnipperd en ideologies vloeibaar te word.
Die PA het sy aandeel sedert 2021 meer as verdubbel tot sowat 2%. Dit is groei, maar plaas die party se aanlyn-aansien en geesdrif in perspektief. Dit is steeds maar 'n skamele 2%. Die gesegde staan steeds dat sosiale media nie die regte lewe is nie en talle mense wel baiza.
Die sosialemediakrygsvegters by GOOD het veld verloor en Mmusi Maimane se BOSA het nie die landwye deurbraak gesien waarop hulle en hul handjievol middelklas-kommentators gehoop het nie. Die EFF se 6,22% is sy swakste munisipale uitslag nóg. En ActionSA se groei wys dat nuwe partye kan vorder, maar hul steun is duidelik gekonsentreerd in Gauteng en spesifiek townships in die provinsie. Die party kon self ook nie breë steun werf nie.
Hierdie verkiesing bewys dus dat om 'n politieke party te begin is moeilik en om hom aan die gang te hou, is nog moeiliker. 'n Bekende leier kan mense laat luister en baie opgewondenheid kweek. Maar om die politieke entoesiasme te behou oor verskeie verkiesings verg plaaslike organisasie en mense wat ook tussen verkiesings werk, vra maar vir COPE, Agang en die pers koeie van 2019. 'n Party moet interne twiste oorleef en nuwe leiers kan oplewer. Baie van hierdie werk is vervelig en onsigbaar. Juis daarom onderskat 'n politieke kultuur wat persoonlikhede en aanlyn aandag beloon hoe moeilik dit is om 'n kwart van die stemme te verdien.
Vir verdere konteks, Duitsland se CDU het in 2025 22,6% behaal en saam met die CSU was dit 28,5%. Friedrich Merz lei dus 'n regering van hierdie twee partye en saam met die SPD met net meer as 'n kwart van Duitsland se kiesers se steun.
In Nederland lei Rob Jetten se D66-party, met 16,9% in die 2025-verkiesing, 'n minderheidskoalisie saam met die VVD en CDA. Om te regeer sonder 'n meerderheid stemme is met ander woorde die norm in verteenwoordigende demokrasieë.
Ek vermoed die Amerikaanse tweepartystelsel en Brittanje se kiesafdelingstelsel help om die indruk te skep dat sukses alleenregering beteken. Maar selfs daar is 'n meerderheid setels nie noodwendig 'n meerderheid stemme nie. Die Arbeidsparty in die VK het in 2024 met 33,7% van die stemme 'n ruim parlementêre meerderheid behaal. Suid-Afrika se proporsionele stelsel maak politieke verskeidenheid veel meer sigbaar.
Trouens, groot partye is self reeds koalisies van belange. In 'n tweepartystelsel gebeur baie van daardie onderhandeling, wat ons nou byvoorbeeld sien afspeel tussen die verskeie partye, binne die groot partye, waar uiteenlopende belange reeds saamgevoeg word. In tweepartystelsels gebeur dit binne die twee groot partye en in proporsionele demokrasieë soos Suid-Afrika versplinter dit tussen 'n verskeidenheid van partye.
Partye gaan altyd natuurlik groter steun nastreef. Tog besef politieke partye, veral na die afgelope verkiesing, dat hul hele politieke bestaansreg nie afhanklik kan wees van 'n toekomstige oorwinning bo 50% nie. Hulle moet groot genoeg word om bedingingsmag te hê en betroubaar genoeg om met ander 'n werkbare regering te vorm. Dit is ons politieke voorland. Selfs die doelwit om die grootste party na 'n verkiesing te wees gaan nie vir lank die belangrikste prestasie wees nie, partye wat koalisies suksesvol na afloop van die stemproses kan onderhandel, gaan wel wees.
Ongelukkig gaan ons koalisiepolitiek nie vanself goeie regering oplewer nie. Suid-Afrika het nog nie die politieke gewoontes daarvoor ontwikkel nie. Die volgende vyf jaar gaan waarskynlik nog baie stampe en stote bring met koalisies wat breek, klein partye wat hul posisie oorwaardeer en groter partye wat sukkel om tussen beginsel en kompromie te onderskei. Kiesers sal ook hul verwagtinge moet aanpas. In 'n koalisiestelsel kry geen party alles wat hy belowe het nie. Die toets is eerder of die uiteindelike kompromie 'n stabiele regering oplewer wat basiese dinge gedoen kry. En gelukkig is dit tans al wat Suid-Afrika nodig het. Net die basiese dinge wat eintlik gedoen word.
Ek glo plaaslike en provinsiale meerderhede sal steeds hier en daar voorkom. Maar nasionaal lyk 'n nuwe enkelpartymeerderheid vir die afsienbare toekoms onwaarskynlik en moontlik keer dit nooit terug nie.
Nieu-Seeland bied 'n nuttige voorbeeld van hoe die pad vorentoe lyk. Toe dié land in 1996 vir die eerste keer onder sy nuwe proporsionele stelsel gestem het, het dit twee maande geneem om 'n regering te vorm. Die eerste koalisie het binne twee jaar uitmekaar geval en die nuwe stelsel het aanvanklik heelwat openbare frustrasie ontlok. Maar teen die vroeë 2000's het politici én kiesers grootliks by die nuwe werklikheid aangepas, en koalisie- en minderheidsregerings het 'n normale deel van die politieke lewe geword.
Dit is waarskynlik ook die stadium waardeur Suid-Afrika nou moet gaan. Koalisiepolitiek word nie stabiel omdat politici skielik meer deugsaam word nie, maar omdat herhaalde verkiesings hulle leer watter gedrag beloon en watter gedrag gestraf word. Ons sal waarskynlik eers deur 'n tydperk van mislukte eksperimente moet gaan voordat die reëls, verwagtinge en politieke kultuur rondom koalisies begin verstewig.
Die era van 50% is moontlik verby en die politiek van 25% moet nou nog leer hoe om te regeer.

Nog artikels deur Daniël Eloff:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








