Daar word hoog opgegee, veral deur politici (met groot trots), dat Suid-Afrika 'n outonome eenheidstaat is. Dit gebeur veral wanneer ons regering byvoorbeeld aangevat word oor ons buitelandse beleid, wat duidelik anti-Westers en ten gunste van baie outokratiese state is.
As president Trump van die VSA dan ook nog uitvoerende opdragte onderteken wat Suid-Afrikaanse burgers raak – soos om aan Suid-Afrikaanse minderhede voorkeurstatus as wettige immigrante toe te staan – dan kap ons regering terug: “Dis nou inmenging in die sake van 'n soewereine staat!”
Wat ons de jure-situasie aanbetref – te wete dat ons 'n internasionaal erkende, outonome eenheidstaat met ons eie Grondwet en grondgebied is – dit is onbetwisbaar. Maar dan is daar die de facto-situasie, wat baie vrae laat ontstaan oor die “eenheid” in eenheidstaat. In watter mate het ons daarin geslaag om die uiters heterogene Suid-Afrikaanse bevolking (wat doelbewus en onbeskaamd deur die leiers van die apartheidsregering aangemoedig is — en dikwels gedwing is — om hul diverse kulture en identiteite te handhaaf) in 'n Suid-Afrikaanse nasie met ’n eenheidskarakter te laat transformeer?
Dit was tog duidelik die doelstelling van Madiba met sy versoeningsbenadering en versoenende optredes. Dit was ook dié van wyle aartsbiskop Desmond Tutu met sy reënboognasie-karakterisering. “Ons is verskillend, maar ons is een,” was die onderliggende betekenis van daardie simbool van Suid-Afrika. Sowel Madiba as die geliefde aartsbiskop het weliswaar daarin geslaag om tydens hul ampstermyne en daarna die deursnee-Suid-Afrikaner te laat voel en glo dat ons nou uiteindelik, ná apartheid, 'n verenigde nasie begin bou het wat 'n nasionale kultuur of identiteit sou kon aanneem.
Grondwet as Vertrekpunt
Die aanvaarding van ons nuwe Grondwet van ná 1994 vir alle landsburgers, wat al as die beste ter wêreld beskryf is, was ongetwyfeld die vertrekpunt vir die demokratiese Suid-Afrika se genesis.
Die aanvaarding van ons veeltalige nasionale volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, was ook simbolies van 'n soeke na groter eenheid. Dit het deels geslaag, hoewel sekere taalgroepe sekere dele van die volkslied moeilik bemeester weens 'n gebrek aan taalvaardigheid in die betrokke tale. Daar is ook by sommige Suid-Afrikaners 'n afkeer van sekere dele van die volkslied wat slegte herinneringe oproep. Maar gelukkig dra die jonger geslag nie daardie afkeer nie en sing hulle die volle volkslied uit volle bors, al is dit dikwels bloot weens memorisering.
Ongelukkig het “eenheid” gedurende Madiba se ampstermyn nooit ten volle gerealiseer nie. Sy ampstermyn was bloot te kort. Sy swak gesondheidstoestand en sy marginalisering deur sy eie party, die ANC, het sy strewe na eenheid vir die hele nasie ook 'n groot terugslag gegee. As opvolger moes president Mbeki se sentrale fokus verskuif na die bestuur van die Suid-Afrikaanse volkshuishouding, wat nie juis Madiba se sterkpunt was nie.
Ongelukkig het Mbeki se “Two Nations”-retoriek egter die eenheidsideaal groot skade aangedoen. Van die reënboognasie-strewe van die geliefde aartsbiskop het daarna ook toenemend nie veel oorgebly nie; dit het selfs in die aartsbiskop se leeftyd al begin verdwyn soos mis voor die son — wat Tutu letterlik tot trane gedryf het in die openbaar.
Sosio-kulturele verskille is nie alles nie
'n Mens kan in 2026 nog steeds soos die aartsbiskop treur oor die feit dat Suid-Afrika as eenheidstaat — in sosio-kulturele terme — in baie opsigte steeds onverenig voorkom.
Maar, dit gesê, daar is gelukkig 'n hele paar eienskappe wat ons tog na 'n eenheidstaat laat lyk — in die de facto, sosio-kulturele sin van die woord. Ons is dankbaar daarvoor. Kom ons kyk na 'n paar daarvan wat buitelanders ook as deel van 'n unieke Suid-Afrikaanse kultuur of identiteit beskou, en wat op groter eenheid dui.
Die “braai-kultuur” (sosiale kohesie deur kos) is waarskynlik die sterkste kulturele gemene deler. Van die shisa nyama in die townships tot die Sondagbraai in die voorstede — vleis en oop vure is iets wat oor rasse- en klasgrense heen gedeel word. Buitelanders sien dit as ons nasionale tydverdryf. Pap en braaivleis ken ons almal, asook boerewors en chakalaka.
Sport is die “groot vereniger”: Die Springbokke (rugby), die Proteas (krieket) en Bafana Bafana (sokker). Buitelandse media skryf gereeld oor hoe sport — veral die Springbokke se opeenvolgende Wêreldbeker-oorwinnings — 'n unieke, intense (al is dit dikwels tydelike) gevoel van nasionale trots en eenheid skep wat min ander dinge kan vermag.
Veeltaligheid en eiesoortige Suid-Afrikaanse woorde dra sy merk. Buitelanders vind ons vermoë om bykans naatloos van een taal na 'n ander oor te skakel, of selfs om in een gesprek 'n unieke dialek van tale en woorde te gebruik, baie fassinerend. Woorde, begrippe en frases soos “lekker”, “bakkie”, “robot” (vir verkeerslig), ubuntu en just now word internasionaal herken as kenmerkend Suid-Afrikaans, ongeag jou moedertaal.
Musiek en dans is uitvoerprodukte, van Ladysmith Black Mambazo en Paul Simon se Graceland-era af tot by die wêreldwye ontploffing van Jerusalema en die latere Amapiano-styl — en nog vele meer, soos Miriam Makeba, Yvonne Chaka Chaka, en Johnny Clegg en Savuka.
Die wêreld beskou Suid-Afrikaners as mense met 'n diep, ingebore ritme en die vermoë om deur musiek te protesteer, te treur en fees te vier, met uitsonderlike sangstemme. Selfs sangers uit minderheidsgroepe, soos die Afrikaners, tree dikwels op internasionale verhoë op en het al bekende name geword. Deursettingsvermoë en vergewensgesindheid: Suid-Afrikaners word dikwels deur buitelanders bewonder vir hul deursettingsvermoë en vergewensgesindheid.
Alle Suid-Afrikaanse groepe het al groot traumas moes oorleef. Daar was oorloë teen magtige vyande, onderdrukking deur koloniale moondhede, erge onderdrukking van een interne bevolkingsgroep of stam deur 'n ander, en die moord op populêre leiers. Tog kon die meeste Suid-Afrikaners mekaar in 'n mate vergewe. Nie sonder wrywing en seer wat nog diep lê en lank sal neem om te genees nie — indien ooit.
Ons slaag dus tog daarin om aan te beweeg as 'n sosio-kulturele eenheidstaat-in-wording in Suid-Afrika. Ons is "a work in progress" en dit is baie bemoedigend teen die agtergrond van ons huidige sosio-ekonomiese verval, waaroor ons baie skryf en praat. Dit laat ons dikwels vergeet van die positiewe verwikkelinge, soos uitgelig in hierdie artikel.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










