SEB-beleid is 'n Resep vir Korrupsie
Trogvretery word gebore uit 'n stelsel wat uitbuiters beloon.
Ten spyte van bewyse tot die teendeel, bly die idee voortbestaan onder sterk voorstanders van SEB dat “korrupsie” 'n fout binne SEB is, eerder as 'n voorspelbare uitkoms van die sistemiese ontwerp daarvan.
“Die beleid self is nie die probleem nie,” word aangevoer, “Dit is bloot deur korrupte rolspelers vir hul eie selfsugtige doeleindes misbruik.” Hoewel hierdie argument oortuigend klink, mis dit 'n belangrike punt oor die verhouding tussen die menslike aard en beleids- of stelselmatige aansporings. Dit is die legendariese Thomas Sowell wat ons in sy klassieke werk A Conflict of Visions daaraan herinner dat mense rasionele rolspelers is wie se gedrag deur aansporings gevorm word.
Eenvoudig gestel, mense is selfbelanggedrewe agente wat natuurlik op beleid en sistemiese aansporings reageer op maniere wat hulle toelaat om hul eie voordele te maksimeer. Selfs wanneer hierdie aansporings verdraaide praktyke en gedrag aanmoedig wat ander benadeel en as “korrup” voorkom, bly hierdie praktyke en gedrag vir hulle rasioneel in hul strewe na selfbelang. Dit is belangrik om te begryp dat selfs beleide met oënskynlik goeie bedoelings, verdraaide uitkomste kan oplewer indien hul aansporings knoeiersgedrag aanmoedig, wat rolspelers in staat stel om hul voordele te maksimeer.
Welsyn is nie die beste voorbeeld in die Suid-Afrikaanse konteks nie, omdat die prentjie meer genuanseerd is, maar 'n mens kan redeneer dat die uitbreiding van die welsynstaat oor die afgelope drie dekades, op die kantlyn, bygedra het tot 'n mate van afhanklikheid en 'n afname in entrepreneursinisiatief. Dit staan in kontras met die entrepreneursdrang onder sommige immigrante, wat byna altyd onder baie verskillende aansporings funksioneer.
Sommige mag hierdie tendens as 'n weerspieëling van ingebore eienskappe beskou, maar dit mis die punt. Vir diegene wat op die staat as 'n konstante bron van ondersteuning begin staatmaak het, is dit nie irrasioneel om hul gedrag rondom daardie werklikheid aan te pas nie. Dit is 'n rasionele reaksie op die aansporings waarmee hulle gekonfronteer word.
Toepassing van die argument op SEB
Die geval verskil nie veel wanneer dit by SEB kom nie, veral rondom die beginsel van voorkeurverkryging en die kwessie van fronting oftewel regstellingsveinsing, wat voorstanders van die beleid dikwels kritiseer.
Dit is geen geheim dat SEB-premies bestaan nie, en dat die Suid-Afrikaanse staat geen probleem het om bykomende premies aan maatskappye met hoë SEB-tellings te betaal om transformasie aan te moedig nie. Dit het egter bygedra tot opgeblaasde tenderkontrakte, waar sommige maatskappye die staat doelbewus te veel vra vir verkryging en geld in hul eie sak steek ten koste van belastingbetalers. Dit mag selfsugtig of “korrup” lyk vir buitestanders wat bekommerd is oor die wanbesteding van hul belastinggeld, maar vir maatskappye is dit rasioneel: hulle benut bloot 'n bestaande aansporing om hul wins te maksimeer uit 'n beleid met hoë nakomingskoste. Hoewel sommige maatskappye nie die premie opjaag nie en dit net aanvaar soos dit is, bly die kernpunt dat die stelsel 'n verdraaide aansporing bevat wat hierdie gedrag aanmoedig.
Sommige gevestigde maatskappye, wat baie hoë SEB-tellings het, word dikwels deur voorstanders gekritiseer vir regstellingsveinsing en dat hulle nie werklik tot transformasie verbind is nie. Die kritiek lui dat swart aandeelhouers en bestuurders slegs in naam bestaan, sonder werklike mag of beheer. Dit is inderdaad 'n werklike probleem (afhangend van wie jy vra), maar om op 'n paar “slegte” rolspelers te fokus, mis die groter prentjie van 'n stelsel wat dié beloon wat die beste daaraan voldoen. Die staat bevoordeel maatskappye met hoë SEB-tellings in tenderprosesse om transformasie te bevorder. Dit skep 'n voorspelbare uitkoms waar sommige rolspelers, selfs al is hul transformasie grotendeels simbolies, die stelsel manipuleer en doelbewus hul SEB-tellings opstoot — byvoorbeeld deur aandelebelange aan politieke elites oor te dra — om 'n mededingende voordeel in staatstenderprosesse te verkry.
Natuurlik doen nie alle rolspelers dit nie, maar die kernpunt bly dat die stelsel 'n aansporingsraamwerk het wat sulke gedrag 'n rasionele strategie maak vir dié wat hul voordele wil maksimeer.
'n Ontwerpprobleem
Indien 'n mens die uitgangspunt aanvaar dat aansporingstrukture binne stelsels menslike gedrag kan dryf — selfs verdraaide gedrag — kan 'n mens redelik tot die gevolgtrekking kom dat sulke stelsels óf hervorm moet word om koste-doeltreffendheid en ander markoorwegings te prioritiseer, óf geheel en al afgeskaf moet word.
Albei moontlikhede ontken nie die geskiedenis of die noodsaaklikheid van geregtigheid nie, maar beklemtoon die belang daarvan om probleme nie verkeerd te diagnoseer nie en om geregtigheid na te streef op maniere wat nie verdraaide gedrag aanmoedig en hulpbronne onnodig vermors nie.
Terwyl die debat oor BEE voortduur, is dit belangrik om te besef dat die probleem nie lê by ’n handjievol “slegte appels” nie — al is korrupsie werklik en skadelik — maar by ’n stelsel wat sulke gedrag ’n rasionele reaksie maak op die aansporings wat dit skep.
Ayanda Sakhile Zulu beskik oor 'n BSocSci in Politieke Studies van die Universiteit van Pretoria en is 'n beleidsbeampte aan die Free Market Foundation. Hierdie meningstuk het oorspronklik in Engels op die Rational Standard webtuiste verskyn. Lees dit hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








