Onteenseglik is daar in die na-1994-era weer 'n nuwe gees van selfgelding onder witmense oor die algemeen – en Afrikaners in die besonder – in Suid-Afrika te bespeur. Natuurlik was daar nog altyd wonderlike en dapper instellings en individue wat lank voor die huidige oplewing in “opstandigheid” hul standpunte gestel en hul openlike teenkanting teen die nuwe regime in die openbaar uitbasuin en uitgeleef het.
Daar is baie wat ek kan noem, met AfriForum en Solidariteit wat waarskynlik uit Afrikaner-geledere uitstaan, saam met die groot name van die baanbrekers wat daardie inisiatiewe geloods, volgehou en uitgebou het. Daar was ook enkele kunstenaars wat nie onder die meestal gefabriseerde aanklagtes van “rassisme” wou swig nie, byvoorbeeld Steve Hofmeyr. En natuurlik die groot name uit die geledere van 'n oorwegend blanke, Afrikaner-politieke party soos die VF+, wat nog nooit, of selde, geskroom het om die onregte van die nuwe regime uit te basuin nie. Ook 'n paar name uit akademiese geledere verdien vermelding.
'n Mens moet ook krediet gee aan 'n dapper miljardêr, Rob Hersov, wat die woorde “Voetsek ANC!” bykans in 'n strydkreet verander het en bewys het dat die nuwe regime nie noodwendig met handskoene hanteer hoef te word nie (as jy 'n miljardêr is?). En natuurlik ook Trump uit Amerika.
Langsame Weerstand
Ek wonder egter, indien my argumente hierbo nie sonder meriete is nie, waarom die meeste van al ons “boses” uit die apartheidsjare (en ek sluit myself by daardie groep in) dan bykans 30 jaar gevat het om op veel groter skaal “uit die kas te klim” en openlik die nuwe regime met vreedsame weerstand aan te vat. En ek bedoel nie al die brawe woorde wat ons geuiter en die “oorwinnings” wat ons rondom die braaivleisvure gevier het nie.
Ek bedoel die openlike en impakvolle weerstand en teenstand wat nou eers, net 'n enkele jaar of twee gelede, werklik begin uitbars het: Die afvaardigings na Washington; die massiewe klomp nuwe anti-regeringspodsendings; die vlaag uiters kritiese meningstukke in 'n groeiende aantal alternatiewe mediaformate wat begin sê dat alle sake twee kante het, en dat die “kant” wat vir bykans 30 jaar enige “ander kant” se opinies verdag gemaak en as irrelevant en van minder waarde afgemaak het, eers die balk in eie oog moet raaksien en verwyder.
Die kern van wat ek hier as my opinie wil deel, is egter dat baie van ons gewone burgers – ek inkluis – besonder lank gevat het om ook ons stemme in die openbaar dik te maak. Daar is talle redes daarvoor. Ek kan dink aan dinge soos:
skuldgevoelens;
werklike spyt oor die vergrype van die verlede;
basiese ordentlikheid, billikheid en bedagsaamheid wat ander die geleentheid wou gun om 'n beter regime te vestig as wat ons kon;
eiebelang, wat openlike opstandigheid as riskant beskou het vir die behoud van werksgeleenthede of sakekontrakte;
die vrees vir etikettering en die dikwels gepaardgaande “kansellering”;
vrees vir gediskrimineerde behandeling as menings vrylik gelug sou word;
en selfs vrees vir fisieke geweld.
Daar kan sekerlik nog baie ander redes bygevoeg word.
Ek wil egter, met die voordeel van agternabeskouing, postuleer dat ons dalk te lank gesloer het met die “ontwaking” waarna ek verwys. 'n Mens kan redeneer dat daar 'n tyd vir alles is en dat die tyd voorheen net nie “reg” was nie. Ek is egter van mening dat ons relatiewe stilswye ons aandadig gemaak het aan baie van wat gedurende die laaste 30 jaar hier by ons lelik skeefgeloop het.
Kortwiekende Stilswye
Ons relatiewe stilswye en oënskynlike aanvaarding van ons lot het van ons die nuwe slagoffers gemaak. Die nuwe Suid-Afrikaanse regime se uitbuiters het begin glo dat hul vergrype nie so erg was nie – selfs geregverdig was – gegewe die relatiewe stilswye en oënskynlike aanvaarding, en die narratief wat ontstaan het dat vergrype in die nuwe regime geregverdig kan word aan die hand van vergrype onder apartheid.
Ek moet darem die meerderheid van ons witmense en Afrikaners, komende uit 'n vorige regime onder Afrikaner-leierskap, die krediet gee wat ek dink verlore geraak het: krediet vir die feit dat ons die nuwe bedeling baie billike kanse gegee het om te bewys of die “goeies en edeles” aan die stuur daarvan dit dan soveel beter kan doen as die “boses” uit die ou bedeling.
Ek dink die antwoord op of die “goeies en edeles” wel daarin kon slaag, is oral te sien. Dit is nie noodwendig mislukking weens die velkleur of ras van die meerderheid wat die regeringsleisels ná 1994 oorgeneem het nie, maar meestal as gevolg van ideologie, hebsug en korrupsie. Ideologie vorm die onderbou van regeringsbeleid, en daardie ideologie-geïnspireerde beleide in Suid-Afrika het natuurlik swak uitkomste op bykans alle ontwikkelingsterreine opgelewer.
Ek vind dit ironies wanneer ek hoor hoe daar in blanke kringe in Suid-Afrika gesê word dat die burgers van Iran nou in opstand moet kom ten einde regimeverandering teweeg te bring. Ons sê dit teen die agtergrond van die feit dat ons self nie bereid was om in opstand te kom teen die ANC-regime toe ons 15 jaar gelede begin sien het hoe verkeerd sake in die land begin verloop nie. Ons was nie bereid om dit op groot skaal te doen nie, ten spyte van die feit dat ons nie, soos in Iran, summier doodgeskiet sou word nie. Al wat nodig was om ons terug te hou, was die “sagte mag” wat die slinkse ANC gebruik het om ons stilstuipe aan te help.
Ons was inderdaad die spreekwoordelike paddas in die pot water wat so geleidelik tot kookpunt gebring is dat ons nie eens in die proses besef het dat ons moes uitspring nie.
Gelukkig het ons toe darem uiteindelik uit ons bedwelming begin ontsnap. Soos ek nie lank gelede gereageer het toe die ANC vir AfriForum en Solidariteit vir hoogverraad wou aankla nie: “Bring it on!” AfriForum en Solidariteit is inderdaad 'n guns bewys: dit het meer mense bewus gemaak van die ANC se blaf wat erger as sy byt is.
Intussen het meer oë oopgegaan vir die feit dat dit 'n strategie van ANC-kant is om met ekstreme “eerste eise” te kom. Maar sodra daar genoeg teenstand teen daardie ekstreme posisies gemobiliseer is, begin die ANC terugtree. Ons is almal bewus van verskuiwings ten opsigte van onteiening sonder vergoeding, B-BBEE, die Nasionale Gesondheidsversekeringskema, ensovoorts.
Wat jammer is, is dat ons dit nou eers besef. Ons kon al verder op die pad na rekonstruksie gevorder het as ons reeds 15 jaar gelede, of selfs vroeër, die ANC se bluf aan die kaak gestel het. Ongelukkig het baie van ons toe nog nie ons spreekwoordelike ruggraat teruggekry nie. Meer sagkens gestel: ons het toe nog nie die ANC se “killing them softly”-strategie mooi verstaan nie.
Wat 'n aangename, vars briesie uit Hermanus was dit nie om die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika te hoor sê:
“I don’t want to hear businesses say one thing publicly and another thing privately. I want businesses who tell me privately that triple B [B-BBEE] is hurting them to say so publicly. I don’t want them to feel fear from the government. There has to be that kind of outspokenness. I will urge you to be more outspoken. I think we are at perhaps an existential moment that none of us wanted – nobody was looking for this situation to go in this direction. Things were going very, very well, but things have gone off course.”
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Piet jy slaan die spyker op sy kop. Welgedaan en baie goed verwoord. Inderdaad tyd dat ons almal in SA ongeag ras, kultuur, geloof ens ons rug begin styf maak teen die korrupte en onbevoegde ANC. Stem en stem tog net reg met die verkiesings wat voorlê.