Smithiaanse insigte oor die afname in wêreldwye ongelykheid
'n Nuwe indeks toon aan hoe ekonomiese gelykheid in die hand gewerk word.
Oor die afgelope twee en 'n half eeue het die wêreld merkwaardige vooruitgang beleef. Mense leef langer, is ryker en beter opgevoed, en geniet groter politieke vryheid. Maar word hierdie vooruitgang slegs deur 'n handjievol uitverkorenes geniet? Word die verbetering in lewensomstandighede hoofsaaklik deur 'n klein elite geniet terwyl die res van die wêreld agtergelaat bly?
Wat baie mense nie besef nie, is dat hierdie verbeteringe inderdaad wyd gedeel word. Dit blyk dat globalisering en markliberalisering, iets wat Adam Smith meer as twee eeue gelede al raakgesien het, lewensstandaarde tot ongekende hoogtes opgehef en algehele ongelykheid verminder het. Die wêreld is nie net ryker nie, maar ook meer gelyk.
Om Ongelykheid te Verstaan
'n Bekende gesegde lui dat “die rykes raak ryker en die armes armer”. Dit is 'n siening wat glo dat vooruitgang net deur 'n paar geniet word. Een van Smith se bekende aanhalings wat verskillende uitlegte ontlok het, is dat:
“Waar daar groot eiendom is, is daar groot ongelykheid. Vir een baie ryk man moet daar minstens vyfhonderd armes wees, en die rykdom van die handjievol veronderstel die armoede van die meerderheid.”
Hoe lesers Smith se woorde oor ongelykheid verstaan, hang dikwels af van of, en tot watter mate, hulle ongelykheid as 'n probleem beskou.
Smith was kwalik die eerste om aandag aan ongelykheid te skenk. Sommige navorsing dui selfs daarop dat kommer oor ongelykheid moontlik evolusionêr ingebed is. Menslike sielkunde het ontwikkel in 'n tyd toe mense in klein jagter-versamelaar groepe geleef het wat vleis gelykmatig verdeel het. Die samelewing het sedertdien aansienlik verander, maar morele intuïsies het grotendeels onveranderd gebly. Groot ongelykhede in hulpbronverdeling word dikwels as onregverdig beskou.
Natuurlik moet ons genetiese neigings om op sekere maniere te dink nie onnodig swaar weeg nie: menslike impulse kan sleg sowel as goed wees. Wat Smith “die afstootlike en verfoeilike passie van afguns” noem, speel soms 'n rol in die begeerte om ongelykheid te verminder, en is lank reeds as negatief beskou deur bronne soos die Bybelse Spreuke (wat lui dat “afguns die bene laat verrot”) en die dramaturg William Shakespeare (wat geskryf het dat “afguns onvriendelike verdeeldheid bring”). Die neiging om op relatiewe eerder as absolute maatstawwe van welstand te fokus, kan ook skadelik wees, want absolute eerder as relatiewe maatstawwe van vooruitgang is die beste standaard om die sukses van verskillende instellings en beleid te beoordeel.
Verder het die meeste mense geen beswaar teen ongelykheid wat deur meriete ontstaan nie, en daar is geen bewyse van wydverspreide ongelukkigheid wat uit ongelykheid spruit nie. In ontwikkelende lande word verhoogde ekonomiese ongelykheid wat ontstaan namate 'n deel van die bevolking armoede ontsnap dikwels as bemoedigend beskou. Dit dien as bewys dat opwaartse mobiliteit moontlik is en dit kan saamval met groter gemiddelde geluk. Navorsing het soortgelyk bevind dat daar “ 'n volledige afwesigheid van enige effek van ongelykheid op die geluk van arm Amerikaners” is.
Natuurlik, wanneer rykes deur bevoorregte status in die reg beskerm word, lyk ongelykheid baie meer ontstellend. Smith het erken dat gevestigde besighede soms onregverdige voordele van die regering verkry, in die vorm van regulasies wat mededinging versmoor, byvoorbeeld:
“Die belang van die handelaars, in enige spesifieke tak van handel of nywerheid, verskil altyd in sekere opsigte van, en is selfs teenoorgesteld aan, dié van die publiek. Om die mark uit te brei en mededinging te vernou, is altyd in die belang van die handelaars. . . . Die voorstel van enige nuwe wet of regulasie van handel wat uit hierdie orde kom, behoort altyd met groot omsigtigheid aangehoor te word, en behoort nooit aanvaar te word nie totdat dit lank en sorgvuldig ondersoek is— nie net met die noukeurigste nie, maar ook met die mees wantrouige aandag.”
(Wealth of Nations, Boek 1, Hoofstuk 11)
Die groei van die staat sedert Smith se tyd maak daardie bekommernisse selfs meer tersaaklik. Voorbeelde van sulke wette sluit in 'n onnodig uitgebreide stelsel van beroepslisensiëring wat mededingers verhinder om 'n veld te betree; buitensporige regulatoriese hindernisse wat nuwe besighede blokkeer; sowel as reddingsboeie, mandaatwette en subsidies wat verkope kunsmatig opstoot en hele bedrywe bederf. Ongelykheid wat uit sulke vriemelvriend-regeringsbeleide spruit, is ontstellend, en hervormings om te keer dat regerings ongelykheid op hierdie manier vererger, is 'n verstandige idee wat wyd aanklank vind.
Daar is natuurlik ook ander moontlike oorsake van ongelykheid, veral in ryk lande. Neem byvoorbeeld inkomste-ongelykheid. Namate lande ekonomies ontwikkel, word inkomste-ongelykheid al hoe minder nuttig as 'n maatstaf van welstand. In bestaansboerdery-ekonomieë is almal besig met dieselfde stryd om te oorleef. Daarteenoor hou mense hulle in welvarende samelewings besig met uiteenlopende beroepe (dikwels roepings) omdat sulke samelewings verskeie paaie tot vervulling bied.
Terwyl sommige individue hul inkomste vermeerder, kies ander (dalk) laer-betaalde beroepe wat hulle geniet of sinvol vind, of wat prestige of groter buigsaamheid meebring. Individue kan werk kies wat meer tyd toelaat vir ontspanning of vir die versorging van hul kinders. Smith het opgemerk dat elke persoon sy eiebelang nastreef deur “die sorg vir sy eie geluk, dié van sy gesin, sy vriende, sy land” maar soos Lauren Hall vroeër vir AdamSmithWorks aangetoon het: “Smith voer nooit aan dat ekonomiese belang die somtotaal van alle menslike aktiwiteite is of behoort te wees nie”.
Wanneer inkomste-ongelykheid die gevolg is van persoonlike besluite wat sommige mense neem om dinge buite materiële voorspoed na te streef, is dit skaars 'n goeie maatstaf van welstand. Inkomste-ongelykheid in sulke samelewings weerspieël persoonlike keuses, nie algehele welstand nie. Met ander woorde, gevorderde ekonomieë bied talle paaie tot geluk, wat die betekenis van inkomste-ongelykheid verminder. Gelukkig is daar 'n meer betekenisvolle manier om ongelykheid te meet naamlik die Inequality of Human Progress Index (IHPI) wat ek en Vincent Geloso geskep het.
Die Meting van Ongelykheid
Adam Smith was deeglik bewus daarvan dat geld nie die somtotaal van welstand is nie; hy het eens gesê dat “die grootste deel van menslike geluk voortspruit uit die bewussyn dat 'n mens geliefd is.”
Smith sou maklik verstaan hoekom iemand groter buigsaamheid bo hoër betaling sou kies om meer tyd saam met geliefdes deur te bring en hy sou begryp dat so 'n keuse niemand slegter daaraan toe maak nie, maar bloot 'n voorbeeld is van iemand wat sy of haar persoonlike voorkeure uitleef. Hoe groter 'n individu se vryheid is om keuses te maak en sy of haar voorkeure uit te leef, hoe beter is hul daaraan toe. Soos Smith opgemerk het: “Elke man is ryk of arm na gelang van die mate waarin hy hom kan bekostig om die noodsaaklikhede, geriewe en vermaak van die menslike lewe te geniet.” Inkomste is maar net een (weliswaar belangrike) maatstaf van welstand, juis omdat 'n groter inkomste dikwels meer opsies aan individue bied.
Welstand is dus veelsydig. Pogings om dit te meet moet inkomste insluit, maar ook die kompleksiteit van die onderwerp erken en vermy om eensydig net op inkomste te fokus.
Die ekonoom Vincent Geloso van George Mason Universiteit en ek het presies dit probeer doen deur 'n nuwe maatstaf van ongelykheid te skep naamlik die Inequality of Human Progress Index (IHPI). Die IHPI beoordeel welstand holisties deur te poog om 'n voller reeks keuses wat aan individue beskikbaar is vas te vang, eerder as om slegs vanuit inkomste afleidings te maak. Deur ongelykheid op 'n multidimensionele manier te bestudeer, neem die IHPI ongelykheid ernstiger op as maatstawwe wat slegs op inkomste fokus. Trouens, ons het internasionale ongelykheid oor meer dimensies ondersoek as enige vorige indeks.
Ons het eers 'n Human Progress Index saamgestel wat inkomste sowel as ander maatstawwe insluit, elk wat na 'n ander komponent van vooruitgang verwys wat vir menslike welstand saak maak: lewensduur, kindersterftes, voeding, omgewingsveiligheid, toegang tot geleenthede, toegang tot inligting, materiële welstand, en politieke vryheid.
Ons het daardie veranderlikes gekies om die veelsydige aard van welstand met die beste beskikbare data vas te vang. Smith mag reg wees dat “die bewussyn van geliefd wees” 'n sleutelkomponent van welstand is, maar dit is baie moeilik om 'n goeie maatstaf daarvan te vind; ons het onsself beperk tot maklik meetbare data waar die omvang van die beskikbare jare en die dekking van verskillende lande betekenisvolle ontleding moontlik gemaak het. Omdat soveel veranderlikes ingesluit is, moes ons ons tot die periode sedert 1990 beperk, aangesien data dikwels nie voor daardie datum beskikbaar was nie. Die indeks het bevestig dat indrukwekkende vooruitgang sedertdien gemaak is, met die meeste mense wêreldwyd wat in absolute terme beter daaraan toe is.
Die belangrike vraag is natuurlik: is daardie vooruitgang gedeel, of het slegs 'n paar lande die meeste van die voordele gepluk terwyl ander agtergebly het? Om dit uit te vind, het ons gekyk hoe ongelykheid tussen lande oor tyd verander het oor daardie dimensies.
Afname in Ongelykheid
Daar bestaan 'n wydverspreide, maar verkeerde oortuiging dat die enorme vooruitgang oor 'n reeks maatstawwe gepaard gegaan het met stygende wêreldwye ongelykheid. In werklikheid toon die data in die IHPI onteenseglik dat wêreldwye ongelykheid afgeneem het. Dit geld oor 'n verskeidenheid maatstawwe, insluitend inkomste-ongelykheid, onderwysongelykheid, en bowenal algehele ongelykheid. Trouens, oor al die dimensies van ongelykheid wat ons ontleed het, behalwe vir twee, het die wêreld sedert 1990 meer gelyk geword.
Wêreldwye gelykheid het sedert 1990 voortdurend gegroei op die gebiede van lewensverwagting, internettoegang en onderwys. Politieke vryheid het eweneens sedert 1990 amper deurlopend verbeter, hoewel daar in die jongste jare 'n klein, kommerwekkende afwaartse neiging was. Daardie onlangse terugslag kanselleer nie die langtermyn-neiging van toenemende toegang tot politieke vryheid nie, maar dien as 'n herinnering dat vooruitgang nie onvermydelik of onomkeerbaar is nie. Politieke vryheid kan verlore gaan as dit nie beskerm word nie. Globaal gesproke het inkomste tot in die middel 2000’s minder gelyk geword, maar inkomste-gelykheid het sedertdien aansienlik verbeter. Wat voldoende voeding betref, was die tendens onbestendig, met 'n tydelike toename in ongelykheid in die vroeë tot middel 2000’s. Tog wys die langtermyn-neiging op beduidende winste in voedingsgelykheid, aangesien toegang tot genoegsame voedsel meer algemeen wêreldwyd geword het.
Wat van die twee uitsonderings? Twee aanwysers in die indeks toon 'n neiging na meer ongelykheid: sterftes as gevolg van buitelugbesoedeling en babasterftes. Met betrekking tot lugbesoedelingsverwante sterftes, kan dit 'n neweproduk van ekonomiese groei wees. Ekonomiese teorie, soos die sogenaamde omgewings-Kuznets-kurwe (deur Simon Kuznets), voorspel dat besoedeling toeneem saam met ekonomiese groei totdat dit 'n kritieke punt bereik, waarna besoedeling afneem. Die groeiende verskil in sterftes weens buitelugbesoedeling kan aandui dat sommige lande in hierdie oorgangsfase is. Daardie ontwikkelende lande sal bykans seker verbeterings in omgewingsgehalte ervaar soortgelyk aan dié van vandag se ryk lande namate hulle ook welvarender word.
Wat babasterftes betref, is dit belangrik om te onthou dat die babasterftesyfer in absolute terme wêreldwyd afgeneem het. Die groeiende ongelykheid in babasterfte kan toegeskryf word aan die feit dat dalings in kindersterftes in hoë-inkomste lande sedert 1990 vinniger plaasgevind het as in lae-inkomste lande. Terwyl babasterftes wêreldwyd afgeneem het—met meer en meer kinders wat hul eerste lewensjaar oorleef—het verbeterings bloot relatief vinniger in ryk lande plaasgevind weens toegang tot gevorderde mediese tegnologie.
Hierdie uitsonderings is belangrik, maar ons belangrikste bevinding is dat algehele ongelykheid afgeneem het. In werklikheid, vergeleke met tendense in vorige ongelykheidsindekse wat minder dimensies gemeet het, toon die IHPI 'n veel groter mate van verbetering in die rigting van wêreldwye gelykheid. Hierdie resultaat suggereer dat ouer indekse die omvang van vooruitgang onderskat het, sowel as die mate waarin verbeterings in lewensstandaarde die armste mense ter wêreld bereik het. Wêreldwye gelykheid het vinniger gegroei as wat baie mense besef.
In Adam Smith se tyd was daar vir elke baie ryk man minstens vyfhonderd armes. Ongelykheid was enorm. Die enorme vergroting van rykdom sedertdien het selfs die gewone mense van vandag ryker gemaak as wat 18de-eeuse mense ooit kon droom. In die afgelope paar dekades het die wêreld beter en meer welvarend geraak, en daardie winste is wyd gedeel. Groter openbare bewustheid van die wêreldwye afname in ongelykheid kan steun versterk vir die stelsels van vrye ondernemings en geliberaliseerde internasionale handel waarvoor Smith gepleit het, naamlik stelsels wat absolute armoede tot rekordlaagtes gebring het en mense regoor die wêreld meer gelyk gemaak het.
Chelsea Follett is die hoofredakteur van HumanProgress.org, 'n beleidsontleder by die Cato Institute se Center for Global Liberty and Prosperity, en die outeur van die boek Centers of Progress: 40 Cities That Changed the World (2023). Hierdie artikel word met vergunning van die skrywer vertaal en herplaas vanaf die Human Progress-webtuiste.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.