Ek het my eerste Facebookrekening op die ouderdom van 13 oopgemaak. As tiener was sosiale media nog glad nie gevorderd soos vandag nie. Mxit en YouTube was 'n persoonlike voorkeur bo Facebook. Wat YouTube betref het ek saam met die eerste smaakmakers, soos Bethany Mota, Alisha Marie en Remi Cruz, aanlyn grootgeword. WhatsApp, Instagram, Snapchat, LinkedIn en TikTok was dalk nog net idees.
Dit was verslawend, maar ook vermaaklik om mense dop te hou wat aan die anderkant van die wêreld sit. Daar was invloed. Vandag verdien ek my brood en botter deur sosiale media.
Die nuutste regsaksie teen Meta en YouTube het 'n keerpunt bereik in die wêreldwye debat oor die invloed van sosiale media op kinders se welstand. Vir die eerste keer het 'n hof bevind dat tegnologiemaatskappye soos Meta Platforms en YouTube nie bloot neutrale platforms is nie, maar aktiewe rolspelers wat deur hul ontwerpkeuses kan bydra tot skadelike gebruikspatrone. Hierdie uitspraak plaas die fokus nie net op die inhoud wat aan jong gebruikers blootgestel word nie, maar ook op die onderliggende meganismes wat hul aandag vasvang en gedrag vorm. Dit roep die vraag op: tot watter mate behoort digitale platforms verantwoordelik gehou te word vir die psigologiese en emosionele uitwerking wat hul produkte op kinders het?
Baanbrekende Saak
Die saak het gesentreer rondom 'n jong vrou, met K.G.M. as skuilnaam, wat aangevoer het dat haar blootstelling aan sosiale media vanaf 'n baie jong ouderdom tot kompulsiewe gebruik en ernstige geestesgesondheidsprobleme gelei het, wat onder andere depressie, angs en liggaamsdismorfie insluit. Haar regsverteenwoordigers het geargumenteer dat platforms doelbewus ontwerp is om gebruikers se aandag te monopoliseer deur meganismes soos die oneindige scroll, algoritmiese aanbevelings en autoplay van video's.
'n Jurie in Los Angeles het uiteindelik bevind dat beide Meta en YouTube nalatig was en skadevergoeding van ongeveer 6 miljoen dollar toegeken. Hierdie uitspraak vorm deel van ’n groter golf van litigasie, met duisende soortgelyke onafgehandelde sake in die Verenigde State. 'n Belangrike akademiese spanning in hierdie debat is die omskrywing van “verslawing”. Alhoewel die hof die term aanvaar het, bly dit binne die psigiatriese gemeenskap 'n hoogs omstrede en debatteerbare konsep. Sommige navorsers verkies die term “problematiese gebruik”, en wys daarop dat empiriese studies dikwels slegs klein gemiddelde effekte op bevolkingvlak toon.
Ongeag daarvan het die hofsaak nuwe gewig aan die argument gegee deurdat digitale platforms gedrag doelbewus manipuleer deur gebruik te maak van beginsels uit gedragsielkunde en neurowetenskap. Interne dokumente wat tydens die verhoor blootgelê is, dui daarop dat maatskappye van die potensiële verslawende aard van hul produkte bewus was.
Hierdie bevinding versterk die analogie met die tabakbedryf, waar korporatiewe kennis van skade 'n sleutelrol in regsaksies gespeel het.
Korporatiewe aanspreeklikheid teenoor individuele agentskap
Een van die mees omstrede aspekte van die uitspraak is die verskuiwing van verantwoordelikheid vanaf die individu na die platform. Kritici voer aan dat hierdie benadering die konsep van persoonlike agentskap ondermyn en 'n gevaarlike presedent vir oorregulering skep.
Aan die ander kant argumenteer voorstanders dat kinders en tieners kwesbaar is en dat dit onrealisties is om van hulle te verwag om weerstand te bied teen hoogs geoptimaliseerde aandag-ekonomieë. Vanuit 'n etiese oogpunt kan hierdie posisie ondersteun word deur die beginsel van asimmetriese mag: tegnologiemaatskappye beskik oor enorme data en gedragsinsigte wat individue nie het nie. Die saak plaas 'n skerp fokus op manipulerende tegnologie. Kenmerke soos eindelose inhoudstrome en aangepaste aanbevelings is ontwerp om betrokkenheid ten koste van die verbruiker se welstand te maksimaliseer.
Die hof se bevinding oor die aanspreeklikheid van die ontwerpkeuses kan 'n paradigmaskuif impliseer: tegnologiese ontwerp word nie meer slegs as innovasie beskou nie, maar ook as 'n vorm van gedragstoesig. Dit bring die veld nader aan regulasies wat soortgelyk is aan dié in die geneesmiddel- en voedselbedrywe, waar produkontwerp streng getoets en geëvalueer word om veiligheid te verseker. Die uitspraak het reeds verreikende implikasies vir die wyse waarop wetgewing in die VSA uitgelê word, ook 'n sekere bepaling wat tipies platforms beskerm teen aanspreeklikheid vir inhoud wat deur gebruikers geskep word. In hierdie geval het die hof egter gefokus op algoritmiese ontwerp eerder as die inhoud self.
Verder kan hierdie saak potensiaal vir 'n nuwe wetgewing rakende kinderaanlynbeskerming dien. Beleidsvoorstelle soos die Kids Online Safety Act kry nou groter momentum, en soortgelyke debatte is reeds wêreldwyd aan die gang.
Die hofsaak teen Meta en YouTube verteenwoordig meer as net 'n enkele regsuitspraak; dit is 'n epistemologiese skuif in hoe samelewings tegnologie verstaan en reguleer. Dit dwing ons om fundamentele vrae te vra oor die verhouding tussen menslike agentskap en algoritmiese invloed, asook oor die etiese verantwoordelikhede van tegnologiemaatskappye.
Hoewel die wetenskaplike debat oor sosiale media en die verslawing daarvan voortduur, het die reg nou 'n duidelike standpunt begin inneem. Of hierdie ontwikkeling uiteindelik tot beter beskerming vir kinders sal lei, of tot oormatige regulering van digitale ruimtes, bly 'n oop vraag. Wat wel seker is, is dat die era van ongereguleerde digitale eksperimentering tot 'n einde kom. Tot dan sal ons die digitale rook uit elke verbruiker se selfoon, tablet en rekenaar sien dans.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










