Hiep Hiep! OntLaer op 'n Jaar
Oop debat, bevryding uit ideologiese laers, sloernalistiek en die drang na groter begrip.
Die uitstaande kenmerk van baie soorte simbole en kentekens is dat ons betekenis daaraan heg, maar dan heel selfbevestigend daardie einste aangeplakte betekenis as aanduidend en bevestigend van iets groters en selfs mistiek aanvaar.
Neem byvoorbeeld die immergewilde horoskoop. Daar is etlike redes waarom die Leeu of die Boogskutter met allerlei generiese kenmerke beplak kan word, soos vaardigheid en moedigheid en krag ensomeer. Die sterrewiggelaar wat sy sout werd is, weet egter dat hierdie soort eienskappe die meeste lesers 'n gevoel van uitsonderlikheid sal gee, en die “voorspellings” wat opgedis word, word so geskryf dat die leser se vooraf gevestigde drang om voorspellings op hulself te maak pas, omtrent altyd bevredig sal word. Waar die voorspelling so bietjie te dik vir 'n daalder vir selfs die mees verknogte horoskoopleser is, skep die wiggelaar darem die moontlikheid van selfaandrywende mistiek.
Deur ons immermenslike drang na sekerheid en betekenis te kommodifiseer, skep wiggelary sy eie vraag. 'n Verskrikte leser wat soos Nebukadneser van Bybelse faam wil weet wat klap in die nabye toekoms, gaan koop graag nog 'n Daniël of drie in tydskrifvorm.
By OntLaer is ons deeglik daarvan bewus dat die moderne perslandskap baie soos die Huisgenoot se sterreblad werk. Die joernalis as sterrewiggelaar, sou 'n mens kon oordink. Deur met taal te speel en inhoud vaardig te verwerk, kan die leser in die eeu van digitale inligting, hipersnel nuussiklusse en groeiende onsekerhede telkens teruggelok word om hul diepste hartswense en oortuigings na wense gesuggereer en soms uitdruklik herbevestig te sien. Doomscrolling, leeskeuses sonder die oorweging van feitelikheid, klikaas… al hierdie tegnieke vind hul grondslag in die mens se drang na betekenis, oervrese vir onsekerheid en ons ingeboude neiging om selfbevestiging en selfverwysing.
Ter wille van oorlewing, ja, maar ook omdat dit 'n sielkundige kick gee om “reg” te voel en te wees. Ek het 'n teorie (wat soos die meeste sakeplanne en voorspellings en teorieë, al iewers sy tydjie in die gedempte lig van die laatnag braaivleisvuur geniet het) dat mense se soms halsstarrige en domastrante aandrang om dinge op 'n sekere manier te doen, en om te weier om 'n heeltemal falsifiseerbare geloof in die regvaardigheid van 'n sekere gedragsverskynsel in te sien, iets te doen het met 'n diep vrees om nie met die broek op die knieë gevang te word nie.
Ons is ontsettend bang vir verleentheid, vir die veroordelende blik van ander mense, en vir die gevoel van verlies en ontmagtiging as iemand anders inderdaad reg is oor 'n kwessie.
Ek wonder of dit die lang raklewe van baie bewysbaar skadelike politieke gedrag verklaar, en verduidelik waarom soveel hartseer en pyn vir so lank uitspeel voordat politieke maghebbers van koers verander. Miskien is dit deels waarom outoritêre ideoloë in Noord-Korea, Venezuela, Kuba en Iran soos nete klou aan slegte idees en skadelike opvattings. Miskien is dit waarom die ANC so histeries, kinderagtig en verspot reageer wanneer hulle gekonfronteer word met die feite van 30 jaar se wanbestuur en beleide wat bewysbaar verkeerd is. Dalk is dit waarom Trump en sy oorlogsminister Hegseth sulke belaglike scenes op sosiale media en elders gooi oor hulle twyfelagtige strategie in Iran.
Taal, in navolging van denkers soos Ferdinand de Saussure en Jacques Derrida, behels heenverwysende simboliek. Taal kan geplooi en gesmee word om mense se drang na sekerheid en bevestiging te kommodifiseer en te bewapen.
Maar hierdie soort meganika behoort ons nie totaal en al sinies te laat nie.
Die geskiedenis is propvol voorbeelde van hoe oortuiging, kritiek en teenspraak 'n rol kon speel om mense tot ander insigte te bring, ten goede of ten kwade. Ons hoef nie meganies en deterministies in die sleurstrome van bevestigingsvooroordeel en baie persagentskappe se aanwendings daarvan, in te val nie. As die pas ontslape Jürgen Habermas vir ons iets kan leer is dat spraak en teenspraak - te wete, dialoogvoering - die fondasie van die Rede is, en die Rede is ook hoe ons onsself oopstel vir oortuiging, vir ander insigte, en vir die vermyding van die sielkundige tandekners voordat dit te erg raak om te oorweeg. Daar is ook 'n etiese dimensie hieraan: Ons kan vrylik praat en skryf, maar die spreekdaad vereis ook die verpligting om in samespraak met ander, 'n poging tot regverdiging aan te wend. Dit vereis beslis dat ons verder gaan as 'n soeke na selfbevestigende simbole.
OntLaer se strewe is om nooit 'n blad vir meningswiggelary te word nie. Dit is onvermydelik so dat baie lesers net lees wat hulle bestaande oortuigings bevestig. Die beste wat ons kan doen, soos onderneem in ons aanvangsbriewe, is om inhoud te voorsien wat vir jou as leser 'n keuse van perspektiewe gee. Dis egter jou keuse om tot lees en hopelik skryf oor te gaan. Ons het ook nog nooit beweer dat ons dit altyd gaan regkry nie; miskien kry ons dit nooit heeltemal reg nie. Die tydsgees is dikwels dwingend en bepalend vir die soort inhoud wat die leser-skrywer waag om te skryf en voor te lê. En as 'n mens meningswiggelary wil vermy, dan gaan die heersende kulturele narratiewe - wat elders baie lugtyd geniet - nie die leeueaandeel op ons blaaie kan geniet nie.
Ons nooi egter, soos altyd, die ganse denkende publiek uit: Kom lees, kom neem deel, kom skryf. Dit staan jou vry.
Ek is baie trots en eintlik meer verbaas dat hierdie meningsblad daarin kon slaag om 'n jaar oud te word en bo verwagting te groei. Dit wys dat daar tog leesstamina vir sloernalistiek onder Afrikaanse lesers is, ten minste meer as wat die konvensionele opvattings verwag.
Dit is verblydend en laat 'n mens met diep dankbaarheid. Ons het nog nie 'n enkele week met te min inhoud gehad nie, en ons lesers en skrywers verbaas ons elke dag opnuut met hul toewyding. Boonop is hierdie publikasie gebore in wat moontlik, met die terugblik, een van die mees bepalende tydsgewrigte in die moderne geskiedenis sal wees. Ons was nog nie een week verveeld nie. Een soort bitterige medisyne vir die gevoel van onsekerheid is tog om so wyd as moontlik te skryf en te lees oor die ontsettendheid van ons tye.
Ons besturende driemanskap en klein gideonsbende van gereelde skrywers doen hierdie projek omdat ons lief is vir Afrikaans, lief is vir skryf en dink en omdat ons glo dat dit die moeite werd is om deurgange tussen die uiteenlopende laers van opinie in ons taalgemeenskap te open.
OntLaer is nie jou huis of jou tribe nie, dit kan en wil ons nie vir jou gee nie. Wees jou eie agent, en kom lees wat jou dalk mag onthuts, en kom skryf wat jy dalk nooit geglo het jy sal skryf nie.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













Frederik, hierdie opmerking het my dag gemaak: 😊 "'n Verskrikte leser wat soos Nebukadneser van Bybelse faam wil weet wat klap in die nabye toekoms, gaan koop graag nog 'n Daniël of drie in tydskrifvorm." Maar op 'n ernstiger noot: Baie van ons is al vuisvoos van die vloedgolf kitsantwoorde en "insigte" wat in baie van die media vir ons opgedis word. Dit bly nou maar eenmaal vir my lekker om rustig terug te sit en oorweë en rustige kontemplasies onder oë te kry soos deur middel van OntLaer. En hoe lekker is dit verder omdat dit in Afrikaans is. Ek sien saam met julle uit na die nuwe jaar vir OntLaer...