Dit was uiters verblydend toe Jacinta Ngobese-Zuma, stigter en leier van March and March, in Augustus 2026 tydens 'n mediakonferensie in KwaZulu-Natal in die openbaar aangekondig het dat hulle as burgerlike beweging aspireer om AfriForum se voorbeeld na te volg en ‘n “AfriForum vir swart Suid-Afrikaners” te skep. Intussen het AfriForum aangekondig dat die twee groepe 'n mate van samewerkingsinisiatief van stapel sal stuur.
Om verskeie redes was die aankondiging verblydend: eerstens omdat dit begin wegbeweeg van die negatiewe benadering (m.a.w, “Voetsek buitelanders!”); tweedens omdat dit, wetens of onwetens, die legitimiteit, regverdiging en noodsaak van 'n Afrikaner-burgerlike inisiatief by implikasie kondoneer. Derdens bring die aangekondigde inisiatief ook sigbare erkenning op grondvlak na vore van die staat se totale mislukking om na die behoeftes van die breër bevolking om te sien. Dit demonstreer dat die breër bevolking — en nie net die Afrikaners nie — nie die mislukte staat as hul vaderfiguur hoef te sien nie, maar self moet inspring om op te bou wat die regering óf tot niet laat gaan het óf weens onbevoegdheid en korrupsie nie in staat is om op te bou nie.
Jacinta Ngobese-Zuma van March and March sê dit self die beste:
Ek kan geensins namens AfriForum of die groter Solidariteit Beweging praat nie, maar ek sou dink dat hulle met graagte 'n helpende hand sal uitsteek na die SA First Forum, soos die AfriForum-“kloon” wat uit March and March voortvloei, bekend sal staan. Tewens, AfriForum is al geruime tyd betrokke by verskeie organisasies van ander kulturele groepe om bystand te verleen met kennis wat oor baie jare opgebou is — kennis waarvan ek die SA First Forum ook sal aanbeveel om gebruik te maak. Dis mos hoe ons ons land weer kan opbou: deur hande te vat met groepe wat, parallel met ons as Afrikaners, ook die selfhelp-ding vir hulself doen, sonder om ander selfdoeners te veroordeel of te beny omdat hulle die lugleegtes vul wat 'n mislukte staat geskep het.
Praktiese diversiteit
Dis mos nou ware “eenheid in verskeidenheid” in werking, en nie bloot wensdenkery daaroor nie. Dis die boustene van 'n konfederasie wat uiters suksesvol in Suid-Afrika gebou kan word, bestaande uit samewerkende subeenhede wat deur middel van sinergie 'n totaliteit van staatsprestasie tot gevolg kan hê wat die wêreld kan verstom.
Suid-Afrika het die mense, die talente, die kundigheid, die grondstowwe en die “never say die”-ingesteldheid om van ons die wennasie te maak wat ons kan wees. Maar dan moet ons ons eie hoeders wees en die sosialistiese retoriek van “Die Staat Is Ons Vader” vaarwel toeroep. Die Solidariteit Beweging en AfriForum het bewys dat dit gedoen kan word, en March and March se SA First Forum het die insig om daardie suksesvolle ontwikkelingsmodel te wil navolg. Dit is uiters opwindend.
Die SA First Forum se vertrekpunt is reg: hulle verskuif hul fokus weg van tradisionele politieke aktivisme na 'n selfbou/selfdoen-mentaliteit. Daar moet nie op die mislukte regering gewag en geglo word dat hulle sal optree of presteer bloot omdat politieke druk deur middel van aktivisme op hulle toegepas word nie. Dit is al vir baie jare onsuksesvol probeer, terwyl die regering bloot voortkarring om te wanbestuur. Word dus die leiers en aanvoerders van suksesvolle ontwikkelingsinisiatiewe wat die regering blootlê as die patetiese, parasitiese vernietiger van ontwikkeling wat hy is. Daar is niks wat die treurige regering meer in hul sokkies laat bewe as ontwikkelingsukses deur burgerlikes sonder regeringshulp nie.
As my stelling in twyfel getrek word, gaan luister gerus weer na die baie onlangse opname van 'n onderhoud met Naledi Pandor waarin sy haar beswaardheid uitgespreek het oor die massiewe prestasie van die Solidariteit Beweging / AfriForum / Akademia om 'n multibiljoenrand- tersiêre instelling die lig te laat sien sonder om die regering vir 'n sent te vra.
Ja, dit maak Naledi en die ander sosialiste met hul bloudruk vir staatsoorheersing (soos deur die Nasionale Demokratiese Revolusie vergestalt) siek tot in hul sokkies. Hoe kan burgerlikes dit waag om die lugleegtes te vul wat staatsmislukking tot gevolg gehad het? Hoe durf hulle...
Vir Jacinta se SA First Forum dus: kyk en leer. Om self sulke resultate soos die fenomenale Akademia-prestasie — om maar een van vele te noem — te kan nadoen, is dit goed dat hulle begin het waar hulle wel die lig gesien het: die inspirering en mobilisering van 'n teikenmark wat deur middel van die March and March-veldtog geïdentifiseer is, en deur nou die geesdriftiges in te bind met klein, vrywillige maandelikse bydraes wat op kort termyn hoë opbrengste oplewer.
Hulle was reeds suksesvol daarmee deur hul skarebefondsingsveldtog (crowdfunding) en die mobilisering van skenkings waarmee hulle mediablootstelling sowel as massa-optogte suksesvol kon fasiliteer. Dit kan voortaan meer geformaliseerd gedoen word onder die vaandel van die SA First Forum. Die sukses van die stokvel-model kan benut word (in 'n aangepaste formaat waar nodig), maar ook deur gereelde maandelikse debietorders in ooreenstemming met meer moderne finansiële reëlings, soos Solidariteit/AfriForum dit doen.
Ontwikkeling vanuit voetsoolvlak
Aanlyn skenkings sal ook voortgaan om beduidende bedrae vir inisiatiewe te mobiliseer, saam met die verkoop van handelsware soos T-hemde, pette, serpe, vlaggies, ensovoorts, waardeur die SA First Forum se handelsmerk gemonetiseer kan word ten einde werkkapitaal op te bou. Die March and March-veldtog het reeds deur massa-ondersteuning bewys dat die SA First Forum as opvolger groot steun kan mobiliseer. Daar is immers sigbaar bewys dat die breë gemeenskap begin moed opgee het met die regering as ontwikkelingsinstrument en alternatiewe oplossings soek. En gelukkig het hulle 'n trots Suid-Afrikaanse rolmodel wat uiters suksesvol is om na te volg: die Solidariteit Beweging / AfriForum.
Die sogenaamde “low-hanging fruit”, naamlik relatief maklike, tasbare kitsoplossings, moet eerste aandag geniet, deur byvoorbeeld sekuriteitsbeskerming vir lede aan te bied (georganiseerde buurtwagte), regsadviesdienste, begrafnisbystand en toegang tot werksplasingsnetwerke of opleiding in entrepreneurskap, asook mini-lenings om mikro-ondernemings mee te begin. Privaat beheerde tegniese opleidingsentrums kan gevestig word wat fokus op hoëaanvraag-ambagte soos loodgieterswerk en sonkraginstallering. Sonder twyfel sal Sol-Tech in daardie verband advies en leiding van onskatbare waarde kan verskaf.
In plaas daarvan om vir die afwesige munisipaliteite te wag om kleiner instandhoudingswerk aan vervalle plaaslike infrastruktuur te verrig, kan gemeenskapslede in werkspanne georganiseer word om tasbare verbeterings in buurtes te bewerkstellig. Dieselfde geld vir rommelverwydering.
Wat 'n vreugde sal dit nie wees om in die nabye toekoms die SA First Forum se vlag te sien waai by 'n gemeenskapsprojek waar deelnemers met SA First Forum-T-hemde en -oorpakke uitgerus is nie. Wat 'n bevryding sal dit nie vir gewone burgers wees om aan die dooie hand van die regering te ontsnap en nie meer te wag vir die Staat wat nooit opdaag nie. Selfdoen bou ook selftrots — menslike ingesteldhede wat weer betekenis aan mense se lewens gee.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










