Subsidiariteit as Redmiddel: Althusius en die Herstel van Suid-Afrika
Nuwe gemeenskaplike lewe roep voort uit stille verval.
In die jaar 2025 worstel Suid-Afrika met die uitvloeisels van dekades se oormatige sentralisme: korrupsie, vervalle infrastruktuur, en ‘n ANC-regering wat sy kabinet opgeblaas het tot ‘n amper onvoorstelbare omvang. In tye van politieke rigtingloosheid is die beste stap dikwels om na ‘n boek te gryp. As jou heerser se verkose staatspatologie opgeblaasenheid is, dan is die beste boek om na te gryp sekerlik die werk van bied die 17de-eeuse politieke denker Johannes Althusius. Sy Politica bied ‘n kragtige en hoogs relevante alternatief: Subsidiariteit. Hierdie Subsidiariteit, waaroor heelwat reeds deur Afrikaanse denkers geskyf is, veral ons grootse Mootse denker, Koos Malan, bied ‘n samelewingsbeskouing geplant in ‘n teologiese en hoofsaaklik gemeenskapsgerigte verstaan van politiek.
Althusius en die Konsosiatiewe Samelewing
Johannes Althusius (1557–1638), 'n Calvinistiese regsgeleerde en burgemeester van Emden in wat vandag Duitsland is, ontwikkel in hierdie Politica Methodice Digesta (1603) van hom, 'n omvattende federale staatsfilosofie. Hy beskou politiek nie as die blote bewaring van mag nie, maar as die heilige en natuurlike vereniging van mense rondom ‘n sosiale lewe in ooreenstemming met God se ordening te bevorder.
Althusius skryf:
"Politica est ars consociandi homines ad vitam socialem inter se communicandam."
("Politiek is die kuns om mense in ‘n assosiasie te verbind sodat hulle die sosiale lewe onder mekaar kan deel.")
Dit klink met die eerste ooropslag vreemd, maar as mens dit stadig lees maak dit sin. Die beginsel van Subsidiariteit is dit: Die gemeenskap ontwikkel van onder af. Die laer sosiale eenhede – gesinne, gildegroepe, dorpe – is die primêre draers van mag. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hoër owerhede slegs bestaan om plaaslike en “laer“ kringe te ondersteun wanneer nodig. Die samelewing is dus soos gras - dit groei van onder af boontoe.
Hierteenoor sien ons in Suid-Afrika hoe die ANC-regering die staat oorlaai het met meer as 30 ministers, ‘n leër van adjunkministers, en ‘n web van sentrale beheer wat sy vingers in elke paai en elke slaai het. Hierdie opgeblase kabinet is nie ontwerp om burgers te dien nie, maar om magsbelange te beskerm en politieke lojaliteit te beloon – ten koste van doeltreffendheid en dienslewering. Die tradisionele kritiek ter syde: Dit berus ten diepste op ‘n onnatuurlike benadering tot die staat, ‘n benadering wat die oorblyfsel van monargiese en keiserlike denke moet wees, die idee dat die samelewing uit die paleis of van die troon af gevorm word.
Althusius sou so hierdie benadering as uiters gevaarlik beskou het. Hy waarsku:
"Die gemeenskap word nie deur die wil van die heersers alleen behou nie, maar deur die instemming en gemeenskap van die burgers."
Die Teologiese Grondslag van Subsidiariteit
Vir Althusius, soos vir heelwat politieke denkers in die Weste, kan politiek en geloof nie maklik van mekaar geskei word nie. Hy baseer sy siening op ‘n Calvinistiese verstaan van die skeppingsorde, waarin God nie individue as individue in isolasie geskep het nie, maar as wesens bestem tot gemeenskap en gesamentlike roeping. Die idee dat die mens ten eerste ‘n individu is, wat veral na Hobbes se 1651 Leviathan na vore gekom het, sou vir Althusius nie net vreemd nie, maar belaglik klink.
Hy skryf verder:
"Die politieke orde is ‘n goddelike instelling om die goddelike orde in menslike samelewing te weerspieël."
Hieruit vloei die norm dat elke sosiale liggaam – van die gesin tot die volk – outonoom moet funksioneer binne sy Godgegewe roeping. Wanneer sentrale gesag hierdie orde oortree deur mag te konsentreer, is dit ‘n rebellie teen die Skeppingsorde self. Nog ‘n keer: Die sentrale mag die plaaslike volgens hierdie beskouing nie wederregtelik binnedring nie. Dit sou as onaanvaarbaar beskou word.
Hierin lê ‘n diep les vir Suid-Afrika: Ware vernuwing begin nie met groter magsentrums of nuwe politieke elites nie. Dit begin deur mag terug te plaas in die hande van die mense self, na hul gemeenskappe, hul streke, hul beheerliggame, hul koek-en-tee-verenigings. Slegs as die plaaslike struktuur geen oplossing vind nie sal hy hom aan die volgende struktuur wend. Dit wat in die personeelkamer nie uitgesorteer kan word nie word so na die distrik geneem. Eers nadat dit hier deurgetrap is, en weer geen oplossing kom nie, word die LUR genader. In 2025 Suid-Afrika sou die minister die skool se drempel al deurtrap voordat die personeelkamer se ketel al gekook het.
In Praktyk: 'n Federale en Subsidiêre Suid-Afrika
Sou Suid-Afrika Althusius se beginsels ernstig opneem, dan sou die land vir seker ander bestuur word. Munisipaliteite sou nie net die arms en stempels van die belangrike mense bo Goewermentlaan wees nie. Hierdie plaaslike strukture sou outonome eenhede wees, selfstandig verantwoordbaar aan hul gemeenskappe. Onderwys, gesondheid, plaaslike veiligheid – alles sou so laag as moontlik georganiseer word.
Die konsep van consociatio – 'n vrywillige, organiese samesnoering van gemeenskappe – sou ‘n natuurlike federale struktuur skep waarin Pretoria nie 'n magshoop, of magskoppie, is nie, maar slegs ‘n koördinerende liggaam vir gesamentlike sake.
Soos Althusius dit formuleer:
"Die hoër orde bestaan ter wille van die laere, nie omgekeerd nie."
Hierin lê die radikale omkeer: In plaas van ‘n magsugtige nasionale staat wat sy burgers as onderdane beskou, sou ‘n subsidiêre Suid-Afrika die gemeenskap eerder eerder as die staat as die oorsprong van alle reg en gesag beskou.
'n Laaste Woord
Die opgeblase ANC-geleide kabinet van 2025 is nie 'n afwyking nie; dit is die logiese gevolg van ‘n politieke filosofie waarin mag beide die proses en die doel is. As die doel mag is, dan is magsentralisering die enigste moontlike en enigste logiese uitkoms. Althusius bied 'n alternatief wat nie net teoreties aantreklik is nie, maar prakties noodsaaklik geword het.
‘n Suid-Afrika wat werk en ‘n Suid-Afrika waar al die mag in die sentrale sfeer gesetel is, kan nooit dieselfde plek wees nie. Vertroue in ons gesinne, gemeenskappe, en plaaslike strukture om verantwoordelikheid te vat en van onder af boontoe te bou aan die realiteit, is regtig die enigste opsie vir ‘n land so divers, so uniek, en so diep in die gemors.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: