Die Boer en die Turk en die Bande
Is die Afrikaner-diaspora anders as Europa se massa-migrante?
Dit is die begin van die einde van hiper-globalisering. Massa-migrasie is die grootste brandpunt in Europese politiek.
Aan die hand van 'n ontmoeting met 'n Turkse werktuigkundige in Brussel vra ek die vraag: Is die Afrikaner diaspora dan nie maar net soos enige ander immigrante groep nie? Is daar 'n spesiale verbintenis tussen Afrikaners en Nederland, België en Duitsland? En is daar 'n onderskeid te tref tussen “massa-migrante” en 'n nuwe middelklas wat nou sosiaal mobiel is oor nasionale grense heen ook?
Hier staan en sukkel ek alweer met 'n Turk. 'n Skamele 4 maande sedert ons Siprus verlaat het – waar die nasionale weermag van Turkye die noordelike helfte van die eiland beset – word ek alweer gedwing om met hierdie volk se wese te reken. In België, van alle plekke. Hier het sy volk ook nie 'n goeie reputasie nie, terloops.
Die klong is jonger as ek, seker in sy twintigs, met 'n ronde pens en 'n donserige baard en smerige olie-vingers. Laasgenoemde kan ek hom nie kwalik neem nie. Hy is 'n werktuigkundige wat my wiele moet instel. Die Belgiese burokrate het bepaal ons splinternuwes moet uitgeruil word vir 'n ander handelsmerk voordat ons Belgiese nommerplate kan ontvang, en die nuwes is nou skeef.
Ek sukkel om vir hom te verduidelik dat hy slegs die agterwiele moet instel, al beduie ek hoe baie, want hy praat nie goed Engels en ek nie goed Frans nie. Toe ek gister gebel het – sommer 'n plek op Google Maps in 'n gegoede buurt gekies – het 'n stem in gebroke Engels verduidelik dat 'n dringende afspraak soos dit by 'n ander een van sy garages sal moet geskied, in 'n ander deel van die stad, maar dat dit my slegs 50 euro sal kos.
Die area se naam is Schaerbeek. Terloops: Westerse Schaerbeek, digby die rooi-lig distrik en die Zenne rivier. Dis welbekend dat hierdie area 'n rowwe plek is (per Europese standaarde). Die tipe plek wat Nigel Farage of Geert Wilders as voorbeeld sou aanhaal. Maar ek bang niks, want ek is Afrikaan, en ieder geval te arm om 100 euro by 'n ander garage te betaal. Hier staan ek dus, en die grootste risiko is my bloeddruk wat styg. Ek wend my hoërskool Frans soos 'n wapen aan, op die slagveld van misverstande, tot die ou uiteindelik snap. Hy begin sy jobbie. Ek steek 'n sigaret aan sonder om te vra of ek mag want ek weet waar ek is. Kort daarna steek hy ook op, en dis toe dat ek meteens besef: hierdie Turk gaan my brieke se kabels sny sodra hy die Siprus-nommerplaat sien. Turke en Grieke het nie veel ooghare vir mekaar nie; nog minder as Siprus betrokke is. Maar toe nie, hy gewaar die plate en vra my effe skepties:
“You come from Cyprus?”
“No, from Souf Efrika.” Ek vererger onbewustelik my Afrikaner aksente in sulke gevalle, het ek al agter gekom.
Hy glimlag skielik breed vir die eerste keer en vra: “Spreek jy Nederlands?”
En vandaar die hele gesprek baie makliker as in Engels of Frans. Dis vir my opmerklik om Nederkaans te praat met 'n Turk in Brussel, maar nie plesierig nie.
Eiland van Vreemdelinge
Neem 'n tree terug en besef hoe benard hierdie interaksie sou wees minder as 'n eeu gelede. Vir 'n Afrikaner en 'n Turk om mekaar te ontmoet destyds sou die een 'n bitter lang reis op 'n stoomboot moes neem, vir uitsonderlik en onverklaarbare redes, en die kanse dat hulle 'n tipe taal in gemeen gehad het sou minder as nul wees. In 2025 staan daar egter twee saam in 'n krotbuurt van Brussel, ver van ons tuislande, wat mekaar beste verstaan in Nederlands: 'n produk van die moderne wêreld.
Globalisering, breedvoerig bedoel, het die politieke landskap van Europa onherroeplik verander die afgelope paar jaar. Dit is welbekend dat daar 'n sosio-politieke burgeroorlog woed wat dreig om die hele Europese projek te kelder, een wat rondom 2015 ernstig vlam gevat het met Brexit en die wir schaffen das Syria-oomblik. Tien jaar gelede, toe ek vir die eerste keer in Duitsland geland het, was my aandete vir drie maande uitsluitlik doner kebab. Die Turkse teenwoordigheid in Berlyn was vir my 'n reuse skok, naïewe derdewêrelder wat ek was (is). Maar 'n mens besef gou – ek en die drie ander Afrikaan-deelnemers aan die uitruilprogram – dat dit onbeskof was om dit te bevraagteken, veral in daai tyd met die miljoen of wat asielsoekers van Sirië en die Midde-Ooste wat jy nie kon misloop nie.
Deesdae is dit effe anders. Globalisering van beide ruilhandel en menslike beweging het 'n piek bereik êrens in die afgelope dekade. Wat eersgenoemde betref is dit letterlik bedoel, wat laasgenoemde betref is dit slegs die samelewings wat immigrante inneem se aptyt daarvoor wat gekwyn het.
Die Verenigde Koninkryk loop die risiko om 'n “island of strangers” te word, het die gesiene menseregte advokaat en Britse PM, Keir Starmer, laas jaar verklaar. Ja, hy’s in 'n politieke hoekie gedruk deur Farage se Reform-party en allerlei gru-aanvalle en skandale, maar dit was myns insiens steeds 'n waterskeidingsoomblik. Ewe skielik is my Britse swaer bereid om te erken iets is nie heeltemal lekker nie, pelle wat op universiteit in Amsterdam stil-stil bande sou verbreek indien mens te ver gedruk het op hierdie teer punt is nou amper brandasem om daaroor te praat (jy kry die gevoel hulle toets die waters met die Suid-Afrikaner voor hulle met Europeërs sal praat, aangesien ons mos gesiene rassiste is). Ek dink op X praat mense van die Overton window: Ons is almal nou verregs gemeet aan 10 jaar gelede se standaarde.
Newwermaaind die verskille: dat Turke en Morokkane in die 60’s aangekom het as gastarbeiders, Suid-Asiate, Suriname, Indonesiërs en vele meer lankal bande met Europa het as gevolg van kolonisering, Pole en Roemieniërs en Bulgare in 2007 as gevolg van die Eurozone se uitbreiding, Arabiere van Sirië en Afghanistan nog meer onlangs. Ongeveer die helfte van Europa is nou sat vir hulle almal, en veral noudat hierdie state ernstige fiskale probleme ervaar. In België is daar groot kak, want die De Wever-regime het planne om welvaart vir werkloses skerp te sny, in die Verenigde Koninkryk het Starmer en Rachel Reeves sopas die middelklas se beursies oopgedwing om die dole aan die gang te hou, in Frankryk woed die gilets jaunes oftewel “geelbaadjie beweging” voort. Verlede maand het die boere van die Benelux die Luxembourg-plein voor die EU parlement kom beset met trekkers, vanweë die omstrede Mercosur ooreenkoms met Suid-Amerika. Daar is talle voorbeelde. Europa is 'n stormagtige plek om te wees – veral vir immigrante soos die Turke.
Boer as Belg
Die jong Turk vra my toe of ek familie hier in België het. Ek antwoord met die standaard “nie vir die afgelope 400 jaar nie, nee”. Ek is Afrikaan (alhoewel ek vermoed daar 'n Pieter Kemp van Ghent êrens in die vroeë 1700’s in Tafelbaai aangekom het).
Ek weet hy dink dat ek 'n Europese paspoort het omdat ek wit is, maar ek’t nie die krag of Nederlandse vaardigheid om hom te korrigeer nie. Feit bly staan, ek is hier nes hy hier is, dit wil sê: Nie op sterkte van geboorteplaats nie. Inteendeel, hy – nes my twee honde - het waarskynlik 'n sterker paspoort as ek.
Hier is ek, 'n immigrant in België, Nederland, Duitsland, Siprus. Speel my eie rol in globalisering. Indien globalisering 'n probleem is, is ek deel van die probleem. Wat onderskei my van die Turk presies? Die Afrikaner-diaspora word al hoe groter en groter. Wie in die middelklas het nie pelle wat rugby speel by 'n klub in Amstelveen, of 'n boekhouer is vir 'n multinasionale maatskappy in Frankfurt, of ses jaar lank al klas gee in Thailand en nou met 'n Thai-vrou getroud is nie?
Afrikaners wat emigreer, nes die Turke en Marokkane, wil ook 'n hap uit die eerste wêreld neem terwyl ons dit nie noodwendig ons eindbestemming maak nie. Ouers praat van die backdoor option – trou 'n paspoort raak of bly net 5 jaar lank in Europa om burgerskap te kry, dan kan jy terug kom. Hou net altyd die agterdeur oop. Al daai pelle waarvan ek praat sou verkies om in Suid-Afrika te bly, nes die Turke en die Marokkane sou verkies om in Turkye en Marokko te bly. Hoe ook al jy dit probeer reguit praat, kom die doelwit neer op dieselfde ding: Ons wil deel aan die groot ekonomieë en beweerde geleenthede van die eerste wêreld, ons eie pond vleis eis terwyl jy nog kan.
Net nog 'n immigrant, ek. Dit is waarvan 'n Nederlandse vriendin my beskuldig het in 2017, toe ek een keer te veel opgemerk het hoe die Turkse vrouens in Bos-en-Lommer heel dag met swaar inkopies moet op en af by die strate, koppe en enkels netjies weggesteek, terwyl die mans almal heeldag sit en tee drink in plaas van werk. “Jy’s ook net ‘n immigrant hier. Afrikaans is nie Nederlands en jy sê heeltyd self jy’s nie ‘n Europeër nie. Hou jou mond van hulle af, julle is dieselfde.”
Ek en hierdie Turk is beide immigrante, maar ek kry die gevoel net een van ons sit en tob daaroor. Maar van groter belang, in die mengelmoes van Europese politiek word net een van ons as 'n probleem wat opgelos moet word beskou. Is dit regverdig?
Die Probleem met die Migrante
Ek weet wat die rugbyspeler in Amstelveen sou sê as ek hom daarvan beskuldig dat hy nie anders as die Turke is wat hy so kwalik neem nie: Hy is wettig hier, hy betaal belasting, en hy ry nie trokke in skares by Kersfeesmarkies in nie.
Goed, maar dan maak jy die fout wat baie maak: Jy versuim om die verskillende groepe te onderskei. Want hulle is uiteenlopend, in terme van oorsprong, wat hulle hier soek, wat hulle hier maak, wat hul verbintenisse met die gasheerland is. Maar sonder om my bek nou heeltemal uit te spoel oor die massa migrasiedebat (en dit is 'n debat, met allerlei nuanse en ongerieflike waarhede vir albei kante), al is dit hoe saai om te erken – moet ek verklaar daar is 'n probleem. 'n Helse een, waarvan ek nie dink ek en ander Afrikaners deel uitmaak nie.
Vergeet eers van die ideë dat migrante al die misdaad pleeg, al die welvaart opneem; die data wat dit betref is debatteerbaar. Maar dat Europa se hoofstede eilande van vreemdelinge is, is ooglopend. Migrante drom saam in lyn met hul etniese herkoms en vorm hul eie buurte en gemeenskappe, in so mate dat hele buurte transformeer, beide visueel en kultureel en geestelik. Dit is 'n feit. Hier is 'n handige visualisering. Nog beter, as jy weer vir jou boekhouer of ingenieur-pelle in Nederland gaan kuier, gaan loop self in die strate rond buiten die toeriste-gebiede. Parallelle samelewings wat effe herinner aan die onsigbare grens tussen Sandton en Alex, by voorbeeld, bestaan.
Ek vind die situasie uiters onsmaaklik. Ek is daarvan oortuig dat diegene wat dit nie raaksien nie, of blind of dwaas is.
Jy kan byvoorbeeld nie die berigte mis wat nou opgesteek het, oudergewoonte, tydens die Afrikabeker nie: dat die Vlaamse bus-en-trein dienste wat Brussel bedien hul roetes in laat-Desember aangepas het tydens Marokko se wedstryde om sekere gebiede waar Marokkane gekonsentreer is te vermy. Dit is weens die geweld en onrus wat hierdie wedstryde gebruiklik volg. Toe Marokko vir België in 2022 se Wêreldbeker groepfase geklop het, was daar onluste in die Brusselse middestad wat die ingryping van 'n 100 oproerbeamptes en waterkanonne vereis het, te midde van brandstigting en geweld. Toe Marokko vir Senegal in die Afrika-beker uitdaag op Sondag 18 Januarie 2026, het die burgemeester 'n taakspan saamgestel ter voorbereiding vir die aand.
Ek’t iets soortgelyk ervaar in Amsterdam. Daar het ons self in 'n immigrante-buurt gewoon. Een aand toe ek op pad huis toe is na 'n baie laat skof in die kombuis, moes my bus herlei moes word by die Mercatorplein weens 'n klomp karre met wapperende Marokkaanse vlaggies op hul dakke wat die pad versper het – Marokko se sokkerspan het êrens geseëvier. By die volgende halte het 'n groepie jongens die bus ingeklim en so lawaai dat 'n paar tannies hulle geskel het, waarop hulle die tannies in Nederlands gevloek het: “Kut Nederlanders!”.
Net in die doodsnikke van globalisering ervaar 'n mens so iets. In Den Haag het ons betogings gesien van Turkse belangegroepe waar die Grey Wolf logo uitgestal was, dieselfde ekstreem-nasionalistiese simbool wie se aanhangers agiteer om Siprus in te val en heeltemal oor te neem. Wat hulle in Den Haag maak of soek weet die vader alleen.
Terug na België in 2026. Loop noord van die Botanique-metro by die N21 op en hou aan soos hy Chaussée De Haecht word. Loop tot by die Robiano trem-halte. Dit neem so drie sigarette; 20 minute as jy stadig stap. Jy sal beswaarlik 'n etnies Europese persoon sien, byna uitsluitlik Turkse wegneemetes, halaal slaghuise, moskees, en soortgelyk (nie dat moskees altyd opmerklik is nie, in baie dele van Europa bestaan dit gewoonlik uit 'n voorkamer of gemeenskapsaal). De Haecht en die omliggende area is egter nie 'n krotbuurt nie. Nee, die strate is nie veel vuiler as die res van Brussel nie, en die inwoners is heel beskaafd. As jy aanstap van Robiano vir nog so 20 minute tot by die garage waar ek tans staan, dan sal jy dalk skrik, maar Chaussée De Haecht is relatief aangenaam – dit is maar net toevallig uiters en totaal Turks, in die hart van Brussel en België. Sien? Dit gaan nie juis oor misdaad en armoede nie, maar wel oor de facto apartheid.
Hier waar ek staan in die straat by die werktuigkundige oorkant is daar ook 'n wegneemkafee wat ‘authentic German doner kebab’ adverteer, maar van groter belang is die politieke advertensies. Op stopstrate en teen eeue-oue baksteen-mure – insluitend die muur van die garage - is daar plakkate en plakkers wat Turkse politici uitbeeld (dit wil sê, verkiesings in Turkey, nie België nie). As jy die Zenne rivier oorsteek en die rooi-lig distrik deurkruis, sou jy in die weste van Brussel aankom, Molenbeek Sint Jans. En dan is jy in die nes waar die Parys-aanvalle van 2015 beplan is, asook die Brussel aanvalle wat kort op hul hakke gevolg het – en waar die oorlewende en oorblywende dadigers van die Islamitiese sel vasgetrek is. Sommige ontleders stel voor dat die sosiale afskerming en effektiewe ghettofication van Molenbeek-Sint-Jans 'n bydraende rol gespeel het in die radikalisering van die Parys-aanvallers.
Die verkiesings-plakkate is wat my betref dus meer onheilspellend as die sokker hooligans. Dit dui op 'n gaping of ontkoppeling wat sommige Turkse-Belge self beaam, veral as daar verkiesings (of coups d’etats) in Turkye geskied en die strate van België (en Nederland, Duitsland, Engeland, ens.) die naskok daarvan voel. Dit gaan eenvoudig my verstand te bowe hoe 'n derde-generasie immigrant nog kan belangstel in sy oupa se tuisland se politiek, in so mate dat politici van die tuisland dit die tyd en moeite werd ag om in die immigrant se land 'n veldtog te kom voer. Met elke verkiesing in Turkye is daar dieselfde berigte: honderde duisende Turke in Wes- en Noord-Europa het vir Erdogan gestem – 'n Islamitiese, ekstreem-nasionalis, oorlogsmisdadiger wat aktief teen NAVO se belange werk en planne het om dele van Sirië oor te neem (wat nog gepraat van Siprus). In Engeland was daar onlangs 'n skandaal dat twee plaaslike raadslede in oos-Londen se Tower Hamlets area ook besig was om te staan as LPs in Bangladesh. Dit is maklik om soortgelyke stories die hele Europa vol te vind.
Of dit nou sokker wedstryde of nasionale verkiesings is: die indruk wat hierdie groepe vir hulself skep is dat die gaste-arbeiders nog altyd gaste is en nie burgers van die lande waar hulle in sommige gevalle al vier generasies woon nie. As hulle die strate ingevaar het wanneer België se nasionale spane verloor was dit een ding; as hulle Marokko ondersteun het maar nie die noodhulpdienste aangeval het tydens onluste na die wedstryde nie was dit nog 'n ding; maar tans is daar gewelddadige onluste in België wanneer Marokko speel, en dit pas niemand nie.
Al het hulle Europese paspoorte, begrawe hulle geliefdes in hul tuisland. Hulle is ‘permanently temporary’ soos iemand anders dit gestel het. Slimmer mense as ek het al geskryf oor wat die gebrek aan assimilasie beteken vir die polis en wat die funksie van die gereg na beperk word in so geval - wanneer 'n samelewing nie 'n samelewing is nie, maar eerder 'n versameling groepe wat toevallig in dieselfde omtrek woon. Dit is die globalisering waarvoor Europeërs keelvol is. Dat daar groot dele van hul hoofstede feitlik as koshuise gebruik word waarvoor hulle moet betaal.
Nog leesstof:
Towerdoepa
Dus: is daar een of ander tower-doepa wat 'n migrant dan uiteindelik in 'n local kan verander? Waar kan ek dit koop? Want ek wonder soms wat sou gebeur het as ons 'n hele myn-dorpie van arm Afrikaners van die Wes-Rand of Vaaldriehoek oorgeplaas het na 'n Europese hoofstad toe. Sou hulle ook 'n enklawe gevorm het? Sou Frik en Gerhard ook die strate van Brussel in chaos gedompel het toe die Bokke die Wêreldbeker gewen het? Dalk moet ons die groep vlugtelinge wat Trump oorgenooi het as 'n eksperiment beskou in dié verband, en fyn dop hou.
Die probleem is sekerlik geloof en kultuur, vertel ek myself dan. Al word Afrikaners hoe arm, bly hulle Christene met (min of meer) moderne sienings oor vrouens en is breedweg belyn met die Weste en die Weste se waardes. Maar die Pole en Roemeniërs is ook Christene, ook Westers. Hulle is dalk nie so ooglopend in die spervuur nie, maar hulle het hul eie probleme: dit is blykbaar die Oos-Europeërs wat so die koningin se swane in Engeland opvreet. 'n Italiaanse pel van my, toe ek by hom gaan kers opsteek oor die storie, verras met sy persoonlike ervaring: op 'n tyd in die 1950s was Italianers feitlik die hedendaangse Marokkane van België. Direk na die Tweede Wêreld Oorlog was daar 'n steenkool-oplewing in België wat oorvleuel het met 'n tekort aan arbeid. Die Belge het toe 'n amptelike ooreenkoms met Italië gesluit, en duisende Italianers het oorgekom as gastearbeiders. Eers na die Marcinelle mynramp in 1956, toe meer as helfte van die 236 wat gesneuwel het Italianers was, het die Belge 'n doelbewuste volte face gemaak en ander nasies se werkers begin uitnooi. My pel is 'n hotshot lobbyist en vertel my hy’t al heelwat van hierdie Italo-Belge ontmoet, byna altyd werkersklas, wat uiters trots op hul herkoms is, en 'n snaakse mengsel van Frans en Italiaans praat wat hy byna nie kan verstaan nie, en wat weier om afstand van hul herkoms te doen. Tog lees mens nie van hierdie groep in die nuus nie, inteendeel het geen ideë van hulle tensy iemand kennisvol jou inlig nie. En so Italo-Belg was Eerste Minister van België van 2011 tot 2014 – Elio du Rupio, 'n openlike gay sosialis. Integrasie of nie?
Is dit armoede en diskriminasie wat wit immigrante tot geweld en misdaad dryf? Wie weet. Ek is 'n ewige draadsitter in daardie debat en het al uiteenlopende standpunte ingeneem oor die jare heen. Baie Europeërs meen egter dis 'n cop out. Inheemse Europeërs moet altyd plek maak vir ander en moreel blaamloos bly, die ander wang draai, terwyl die aankomelinge hul mag wend tot elke verskoning in die boek.
Gestel mens het die agtergeblewe, vertrapte Afrikaner-volk van die vroeë dae van die Unie van Suid-Afrika gesê daar is 'n uitruil-skema vir hulle om in België te gaan werk (want die Europeërs het al hul jong mans na hul dood gestuur op 'n slagveld in Vlaandere). Daai wat Jan Smuts met vliegtuie in 1922 gebom het. Sou hul nasate dekades later steeds hulself as Afrikaners beskou het? Sou ons DA plakkate op straat gesien het in Molenbeek? Ek twyfel. Afrikaner enklawes in Australië en Engeland en Kanada is nader aan steungroepe as afgeskermde gemeenskappe. Dit moet dus wees dat die Turke en Marokkane nie wit en Christelik is nie, tog? Maar as dit die geval is kan mens dan ook stry dat hulle nie hier hoort nie, aangesien hulle inherent verdoem is om altyd arm en anders te wees. Maar so kom mens uit by retoriek wat baie lyk op regverdiging vir apartheid. Ons almal leef in Sam Huntington se Clash of Civilisations. Globalisering is nie soos 'n smeltkroes nie maar seer soos 'n sif. Dalk is dit belangriker om minder aandag te gee aan die oorsake van die de facto apartheid in Europa, maar eerder oor die nagevolge. Nagevolge wat 'n jong Afrikaner wie emigrasie oorweeg hoort twee keer te laat dink oor groener weivelde.
Ten Slotte
Toe ek klaar gerook is vra ek die jong Turk waar ek die peuk kan smyt. Hy’t verward gelyk. Toe ek met die stompie beduie lag hy weer en smyt syne op die vloer en trek sy skouers op.
“This is Belgium, don’t worry”, verklaar hy in Engels.
Dalk het hy meer in gemeen met die Belge as wat mens sou dink. Ek’t maar geglimlag en so gemaak, maar nie met plesier nie. Brussel is inderdaad 'n smerige stad maar dit beteken nie mens moet deel wees van die probleem of inkoop by die kultuur nie. Toe hy klaar is met die kar kom staan hy by my en vra vir 100 euro.
Ek vra hom in Engels:
‘Yesterday you said 50 euro.’
‘No, it is 100 euro but OK I only do two tires, we make it 70 euro.’
Ek ken hierdie presiese gevoel baie goed. Ek was al in baie townships in SA waar mense kanse vat want hulle weet ek is 'n uitlander. Maar ek is Afrikaan, en wie tussen ons twee is nou eintlik die uitlander hier? Ons het geskik op 60 – mits dit kontant was. So skroef 'n Turk my uit 10 euro uit. Dis nie so erg soos die hele grondgebied waar jou ouma 'n klein plaas op 'n eiland met olyf-en-sitrus-bome besit het nie, maar dis genoeg om my te laat ophou empatiseer met die ou.
Ek het nie antwoorde op die eksistensiële vrae wat ek hierbowe stel nie. Of ek nou maar net so wel moet huis toe kom as ek die Turke en Marokkane wil kritiseer, omdat ons op 'n makrovlak maar dieselfde is. Die hele wêreld is verswelg in magte waaroor die individu eenvoudig nie beheer het nie. Dit neem dekades om die ware koste te bereken en die uitwerkings van ons kleiner wêreld te kan waarneem. Maar ek onderskei myself en my naastes wel van dié spesifieke doos en sy tipe mense, want ek en my tipe mense glo nie dat dit reg is om sigarette lag-lag op die grond te smyt en om ander mense te kul vir kleingeld nie. Maar wie weet, dalk het hierdie ou 'n middelklas neef in Konstantinopel wat nes ek voel.
In elk geval mag ek nie eintlik praat nie, want ek persoonlik is tans platsak en werkloos, nie hier vir geld nie maar vir liefde – die arm man se dryfveer. In België is ek nie van plan om te ‘integreer’ nie, maar ek voel nie dis nodig nie. In Siprus was dit 'n ander storie, want daar was ek beslis 'n randfiguur. Een dag skree my kleinkinders dalk vir die Engelse rugbyspan. In daai oomblik sal ek terugdink en die trane sal stort. As mens alles van jouself moet uitwis net om te integreer in 'n nuwe tuisland...ja, ek verstaan die probleem wat sekere mense daarmee sal hê.
Karl Kemp is 'n regsgeleerde en skrywer. Sy onlangse boek Why We Kill: Mob Justice & the New Vigilantism in South Africa is hier beskikbaar.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Die opskrif is baie vaardig uitgedink, Karl! Dankie hiervoor. Sien uit vir nog.
'n Baie interessante onderwerp en lekker gelees! Ek moet my uitgebreide familie in die VSA (en 'n jong nefie in Duitsland) por oor hul sieninge maar hul assimilasie het baie gou plaasgevind, ook die Afrikaanspraters. My kleinseun wat sedert 2019 daar is en daar geswot het, praat reeds met 'n stewige Midwest aksent, want "dis goed vir besigheid" .