Suid-Afrika se Meervoudige Wêreldbeskouings
Mymeringe oor die kanse op ideologiese eendrag in die RSA.
Gegewe die oorwig van politieke steun wat die ANC en meer radikale partye soos die EFF en MKP geniet, asook hul ideologiese onderbou wat nie wesenlik van mekaar verskil nie, hoe kan ons hoop om ooit 'n eenheidstaat in Suid-Afrika te word?
As daar natuurlik geen ander ideologiese denkrigtings in Suid-Afrika was wat teenoor bogenoemde ideologiese blok gestaan het nie, sou dit — ten minste in teorie — relatief maklik gewees het. Ek sê doelbewus “in teorie”, want daar is wel wedywering tussen die genoemde partye, maar dit gaan meer dikwels — dalk byna altyd — oor mag en nie oor die fyner punte van ideologie nie. Suiwer ideologies gesproke is die meerderheidsideologie in Suid-Afrika dus een wat lynreg met 'n klassiek-liberale ideologie bots.
Ongelukkig vir die groot ideologiese blok bestaande uit die ANC, EFF en MKP, is daar ook beduidende steun vir klassiek-liberale denke in Suid-Afrika. Daarmee bedoel ek die politieke en ekonomiese ideologie wat die individu in die middelpunt van die samelewing plaas en aanvoer dat die regering se primêre rol is om individuele vryhede, private eiendom en vrye markte te beskerm. Die DA se beleid, en dié van 'n paar ander kleiner partye, kom waarskynlik die naaste aan die klassiek-liberale ideologie. Dit is ook die ideologie wat die bestaansgrond van Suid-Afrika se private sektor onderlê. Ongelukkig vir die groot ideologiese blok bestaande uit die ANC, EFF en MKP, is Suid-Afrika se private sektor boonop nasionaal én internasionaal besonder invloedryk.
Individu of Nie
Vervolgens kontrasteer ek die klassiek-liberale ideologie met die min of meer eenvormige ideologie van die ANC, EFF en MKP, wat vir alle praktiese doeleindes in die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) vasgelê is. Dit beteken dat twee fundamenteel botsende wêreldbeskouings teenoor mekaar gestel word. Waar klassieke liberalisme op die individu en negatiewe vryheid — vryheid van staatsinmenging — fokus, is die NDR gerig op die kollektief en die gebruik van transformerende staatsmag om historiese magsverhoudings te verskuif.
Volgens klassieke liberalisme is die staat hoogstens 'n “noodsaaklike euwel” met 'n streng beperkte rol: 'n sogenaamde nagwagstaat. Sy enigste funksie is om individue teen geweld, diefstal en kontrakbreuk te beskerm. Die staat moet polities neutraal bly en mag nie probeer om die samelewing of die ekonomie aktief te hervorm nie.
Volgens die NDR is die staat daarenteen 'n instrument van revolusie. Die staat is nie neutraal nie; dit is juis 'n instrument wat deur die groot blok bestaande uit die ANC, EFF en MKP oorgeneem en gebruik moet word om die doelwitte van die revolusie te bereik. Die staat moet 'n aktiewe, intervensionistiese “ontwikkelingstaat” wees wat die samelewing transformeer en rykdom herverdeel.
Klassieke liberalisme is sinoniem met individualisme: die individu is die hoogste morele en politieke eenheid. Regte behoort aan individue. Mense moet op grond van hul eie meriete en optrede beoordeel word, ongeag hul ras, klas of agtergrond.
Die NDR, daarenteen, staan vir kollektivisme. Die samelewing word grootliks deur die lens van historiese groepsidentiteite, veral ras en klas, beskou. Die NDR fokus op die opheffing van die swart meerderheid in die algemeen — oftewel “Afrikane”. Daar word dikwels na “die mense” verwys as die dryfkragte (“motive forces”) van die revolusie. Individuele regte word meestal ondergeskik gestel aan die doelwitte van die kollektief.
Klassieke liberalisme staan 'n laissez-faire-benadering voor: die vrye mark, gedryf deur private eiendomsreg, vrye mededinging en die wet van vraag en aanbod, is die beste manier om rykdom te skep en vryheid te verseker. Die staat behoort nie in markte in te meng of rykdom te herverdeel nie.
Die NDR staan 'n gemengde ekonomie met sosialistiese doelwitte voor. Dit beskou ongereguleerde kapitalisme as 'n stelsel wat ongeregtigheid en ongelykheid bestendig. Dit bepleit staatsbeheerde sektore, onder meer deur middel van staatsondernemings, asook aggressiewe regulering, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en grondherverdeling, om die sogenaamde “monopoliekapitaal” — wat dikwels bloot as wit kapitaal beskou word — te transformeer.
Klassieke liberalisme glo in die skeiding van magte. Om tirannie te voorkom, moet staatsmag verdeel word. Die regbank, staatsdiens, polisie en weermag moet onafhanklik, polities neutraal en op meriete gegrond wees. Die wetgewende en uitvoerende gesag moet afsonderlik en onafhanklik funksioneer.
Die NDR glo daarenteen in hegemonie. Dit bepaal dat die staat beheer en invloed oor alle magsentra, oftewel die “levers of power”, in die samelewing moet verkry. Dit sluit nie net die parlement in nie, maar ook die staatsdiens, regbank, akademie en ekonomie. Hiermee word 'n beleid van kaderontplooiing geregverdig, ingevolge waarvan lojale kaders bo neutrale tegnokrate in besluitnemings- en uitvoerende poste aangestel word om te verseker dat alle instellings die revolusie bevorder.
Bedelingsprobleme
Ek sluit af deur te herhaal wat ek in die inleiding gesê het: Hoe kan ons hoop om ooit 'n eenheidstaat in Suid-Afrika te word? Hoe bring 'n mens die Noordpool en die Suidpool bymekaar? Dit is immers net Schrödinger se kat wat tegelyk daar én nie daar kan wees nie.
Daar is natuurlik moontlike oplossings, soos federalisme en selfbeskikking, waaroor ek reeds geskryf het.
Lex Libertas is waarskynlik die ernstigste soeker na 'n oplossing vir ons land se ideologiese onversoenbaarhede. Die Solidariteit Beweging, met sy talle inisiatiewe wat parallel met die groter Suid-Afrikaanse staat funksioneer, gee ook praktiese gestalte aan 'n model waarbinne teenoorgestelde ideologieë naas mekaar kan bestaan. Die Solidariteit Beweging is natuurlik nie 'n voorbeeld van suiwer klassieke liberalisme nie. Daar is redes daarvoor waarop ek nie nou kan ingaan nie.
Sakeliga, die Vryemarkstigting en die Instituut vir Rasseaangeleenthede bevorder beleid wat met klassieke liberalisme strook — en doen dit konsekwent. Die DA verkondig dit, maar wyk in die praktyk dikwels daarvan af ter wille van pragmatisme: kiesers moet gelok word, en om dit in Suid-Afrika met klassiek-liberale ideologiese suiwerheid te probeer doen, is 'n onbegonne taak.
Daar bestaan dus 'n moontlikheid dat die DA sy onlangse steunwinste weer kan verloor indien die groot blok bestaande uit die ANC, EFF en MKP nader aan mekaar beweeg — iets wat sommige ontleders as 'n toekomstige moontlikheid beskou. Die DA wen nie noodwendig steun vanweë sy ideologie nie, maar eerder vanweë kiesers se ontevredenheid met die ANC-regering se gebrek aan prestasie.
Ongelukkig is klassieke liberalisme nie 'n ideologie wat maklik verkoop kan word in 'n samelewing waar die oorheersende narratief — en die regverdiging vir die beginsels van die NDR — reeds dekades lank by die breër bevolking ingeburger word nie. Dit is egter bemoedigend dat die meningspeilings van die Instituut vir Rasseaangeleenthede en die Sosiale Navorsingstigting toenemend aandui dat al hoe meer landsburgers dieselfde waardes nastreef, waarvan baie met klassieke liberalisme versoenbaar is.
Dit sal egter nog gesien moet word of die breër bevolking nie weer voor die aanloklike retoriek van die NDR sal swig nie. Indien die groot blok bestaande uit die ANC, EFF en MKP in die toekoms, in die een of ander permutasie, nader aan mekaar beweeg, sal hul gesamentlike oorredingsvermoë baie moeilik wees om te klop.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











