Suid-Afrikaners en Vuurwapenbesit
'n Kort geskiedenis van ysingwekkende wanadministrasie.
In Die Boer se Roer tot Vandag skryf wyle Professor Felix Lategan, waarskynlik die grootste kenner van gewere en die geskiedenis van die ontwikkeling van vuurwapenbesit in die land, die volgende in sy voorwoord:
“In geen ander pioniersland in die Nuwe Wêreld het die vuurwapen so 'n beslissende rol in sy beskawingsgeskiedenis gespeel as in Suider-Afrika nie. Die skietgeweer of vuurroer was in Suid-Afrika van die begin af 'n onontbeerlike werktuig in die hand van die blanke, wie se roeping dit was om die Westerse Christelike Beskawing aan die suidpunt van die “donker” vasteland van Afrika te vestig en die binneland in te versprei.”
Oor die etiese en politieke korrektheid van hierdie stellings in die wêreld waarin ons vandag leef kan daar waarskynlik baie lank debat gevoer word.
Die punt is doodgewoon dat gewere en vuurwapens vir 'n baie groot deel van die geskiedenis van Suid-Afrika belangrike werktuie vir verskeie gebruike was. Aanvanklik is vuurwapens gebruik vir beveiliging van huis en haard en later al hoe meer vir die versameling van eetbare proteïne en handelsware. Weereens kan die vraag oor etiese en politieke korrektheid hiervan 'n baie lang debat ontlok, maar dit is doodgewoon wat in ons geskiedenis gebeur het.
Daar is vandag steeds minstens 300 000 individue wat in Suid-Afrika leef en minstens een maal per jaar gaan jag om die goeie gehalte proteïne deur wildsvleis verskaf, te oes en te gebruik. Die totale waarde toegevoeg tot die ekonomie deur hierdie aktiwiteit beloop ongeveer R 12 miljard per jaar, volgens navorsing gedoen deur Noordwes-Universiteit.
Tydens die twee wêreldoorloë het Suid-Afrikaners ook hulle deel gedoen met geweer in die hand. Tydens die Grensoorlog wat in die tagtigerjare ten einde geloop het, was derduisende jong mans opgeroep vir grensdiens en bykans elkeen van hulle was afhanklik van die vuurwapen wat deel van sy alledaagse bestaan gevorm het. Daardie geslag is besig om uit te sterf, maar baie van hulle nakomelinge het steeds 'n sterk belangstelling in vuurwapens en die eienaarskap daarvan vir jag, sportskiet en selfverdediging.
Die SAPD se mislukkings en Redelike Selfverdediging
Ons leef in 'n land waar gemiddeld ongeveer 63 tot 64 mense (dalk meer) per dag vermoor word, waar roof in verskeie vorme welbekend is en waar die polisie die burgery totaal in die steek gelaat het.
Hieroor hoef ons nie te debatteer nie. Die polisie in RSA misluk ooglopend in hul taak om die burgery te beskerm. Dit kom baie duidelik na vore in minstens twee kommissies wat nou met ondersoek na ongeruimdheid in die polisie besig is. Vir baie jare is Suid-Afrika se privaat wapenbesit gereguleer deur die Wet op Vuurwapens en Ammunisie No 75 van 1969. Ingevolge hierdie wet kon 'n individu meerdere vuurwapens wettig besit, met lisensies uitgereik deur 'n landdros (aanvanklik) en later deur die polisie, met onbeperkte hoeveelhede ammunisie in hul besit.
Wet 60 van 2000, synde die Wet op Vuurwapenbeheer, is gepromulgeer om die 1969-wet te vervang. Hierdie nuwe wet had die doel om 'n nuwe register van vuurwapens in RSA te skep, aangesien die bestaande register nie betroubaar was nie weens verskeie duplikasies en gebreke, en ook om vuurwapenbesit in die land sogenaamd beter te reguleer. Die nuwe wet stel ook 'n hele reeks vereistes aan, en plaas groot beperkings op privaat vuurwapenbesit. So byvoorbeeld mag 'n individu wat nie 'n “Toegewyde Jagter of Sportskut” is nie hoogstens 4 vuurwapens besit waarvan slegs een 'n handwapen en ook net een 'n haelgeweer mag wees. By implikasie, hoogstens twee jaggewere, een handwapen en een haelgeweer.
Insgelyks mag so 'n individu nie meer as 200 patrone in sy besit hê per kaliber wapen waarvoor hy of sy 'n lisensie het nie. Individue moet ook eers opgelei word en bevoeg verklaar word om 'n wapen te mag besit, voordat hulle mag aansoek doen vir 'n lisensie vir 'n vuurwapen. Die Sentrale Vuurwapenregister, gesetel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, waar die Kommissaris van Polisie tegnies die Registrateur is, is verantwoordelik vir die beheer oor en bestuur van hierdie Vuurwapenregister. Ja, dieselfde polisie wat sopas beskryf is as dat hulle die burgery totaal in die steek gelaat het.
Wet 60 van 2000 is gedeeltelik op 1 Julie 2003 en verder in Julie 2004 geïmplementeer met die beroemde, of dalk eerder berugte “oorgangsmaatreëls” wat in 2006 geïmplementeer is. Ingevolge hierdie maatreëls moet elke individu in besit van 'n wettige gelisensieërde vuurwapen na hy of sy die gepaste opleiding ontvang het aansoek doen om bevoeg verklaar te word en dan tegelykertyd ook aansoek doen vir lisensies vir die vuurwapens wat reeds wettig in sy of haar naam gelisensieer is en in sy of haar besit is (ingevolge die ou wet).
Op daardie stadium was daar volgens data uit SAPD verklarings ongeveer 1.7 miljoen lewende individue in besit van ongeveer 2.87 miljoen wettige vuurwapenlisensies. Die destydse “Oorgangsmaatreëls” het bepaal dat hierdie individue oor verloop van 4 jaar vanaf April 2005 tot en met 31 Maart 2009 moes aansoek doen vir bevoegdverklaring en nuwe lisensies vir hul reeds wettige vuurwapens in besit. Dit het ook bepaal dat die lisensies uitgereik ingevolge die vorige wet 5 jaar na inwerkingtreding van die nuwe wet ongeldig verklaar sou word.
Die proses het voorgeskryf dat individue wat in Januarie tot Maart verjaar in die jaar van 1 April 2005 tot 31 Maart 2006 moes aansoek doen vir bevoegdheid en hul nuwe lisensies. So het die proses aangerol tot en met 31 Maart 2009, toe die laaste groep vuurwapeneienaars moes aansoek doen om bevoegd verklaar te word en tegelykertyd ook aansoek doen vir nuwe lisensies vir die vuurwapens wat hulle reeds wettig besit.
Die Polisie se skreiende kapasiteitstekorte
Dit het destyds reeds in 2005 baie vinnig duidelik geraak dat die polisie en die Sentrale Vuurwapenregister bloot nie die vermoë het om die getal aansoeke wat hulle ontvang het te verwerk, die individue bevoeg te verklaar en nuwe lisensies aan vuurwapeneienaars uit te reik nie.
In die eerste jaar van hierdie nuwe stelsel se bestaan is bykans geen nuwe lisensies uitgereik nie. Die Polisie en Sentrale Vuurwapenregister het doodgewoon nie die kapasiteit en die vermoë gehad om die administrasie van hierdie proses sinvol te bedryf en bestuur nie en het na my mening dit vandag steeds nie. Die tyd toegelaat vir hierdie proses van heraansoeke soos vasgestel in die Oorgangsmaatreëls het gesluit op 31 Maart 2009.
In Maart 2009 publiseer die SAPD 'n kennisgewing dat alle ou lisensies uitgereik onder die “vorige wet van 1969” wat algemeen bekend was as “groen kaartjie lisensies” op 30 Junie 2009 sal verval. Dit sou beteken dat diegene wat nie betyds aansoek gedoen het vir 'n nuwe lisensie nie, en ook diegene wie se nuwe lisensie vir welke rede ookal geweier is, onwettig in besit was van wapens wat voorheen wettig onder hulle name gelisensieer was. Grootliks as gevolg van die swak administrasie en die gesukkel met die polisie het lede van die publiek in die periode tussen 2005 en 2009 besluit om nie deel te raak van die sirkus van aansoeke vir nuwe lisensies vir hulle vuurwapens, wat in elk geval nie binne redelike tyd uitgereik word nie.
Die feitelike situasie op daardie stadium teen einde Maart 2009 was dat slegs 680 159 individue aansoek gedoen het vir 1.3 miljoen nuwe lisensies vir hulle vuurwapens, waarvan slegs 411 387 reeds goedgekeur is en 10 387 afgekeur is.
Minder as die helfte van individue het dus aansoek gedoen vir die hernuwing van hul lisensies en van die aansoeke wat die polisie ontvang het, het hulle slegs 30% finaliseer oor verloop van die 5 jaar tydperk. Die Sentrale Vuurwapenregister het in hierdie periode dus reeds bykans 900 000 aansoeke vir lisensies ontvang wat hulle in 5 jaar nie kon afhandel nie.
Daar was destyds ook reeds 'n verdere 370 000 aansoeke vir bevoegdheid ontvang deur die polisie wat na so lank as 5 jaar nog nie beoordeel is nie.
Dit beteken dat bykans 1 miljoen individue oornag op 1 Julie 2009 tot misdadigers verklaar sou word, bloot omdat hulle nie deel geraak het van hierdie administratiewe sirkus nie. Hulle sou volgens die standpunt van die polisie onwettig in besit wees van hulle wapens, aangekla kon word van onwettige besit van 'n vuurwapen en by skuldigbevinding gestraf word met tot 15 jaar tronkstraf. Dieselfde sou gebeur met diegene wie se aansoek om 'n nuwe lisensie deur die Sentrale Vuurwapenregister afgekeur is.
Die Burgerlike Samelewing tree toe
Die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (algemeen bekend as SA Jagters) bring in Junie 2009 twee aansoeke in die Noord-Gautengse hooggeregshof.
Die hoofaansoek versoek die Hof om sekere van die klousules in die “nuwe Wet” sowel as sommige van die “Oorgangsmaatreëls” ongrondwetlik te verklaar en om die Parlement opdrag te gee om die Wet gepas te wysig. In die dringende hofaansoek, wat terselfdertyd ingedien is, word die Hof versoek om die “ou groen lisensies” geldig te verklaar totdat die Hoofaansoek afgehandel is.
Die dringende aansoek word aangehoor op 26 Junie 2009 en uitspraak word voorbehou. Op 29 Junie 2009 lewer Regter Bill Prinsloo sy uitspraak in die dringende hofaansoek ten gunste van SA Jagters en hy beveel soos volg:
“It is ordered that all firearms licences contemplated in subitem 1 of Item 1 of Schedule 1 of the Firearms Control Act 2000 (Act 60 of 2000) shall be deemed to be lawful and valid pending final adjudication of the main application”
Met hierdie uitspraak is die krisis wat deur die SAPD se onvermoë geskep is tydelik afgeweer, aangesien al die ou groen lisensies van vuurwapens wat uitgereik is aan individue wat nie aansoek gedoen het vir nuwe lisensies nie, wettig sou bly tot na die afhandeling van die hoof hofaansoek, wat SA Jagters tegelykertyd gebring het.
Wat interessant is in hierdie proses is dat die SAPD tot en met Desember 2025 geensins reageer het op die funderende verklaring van SA Jagters in die hoof hofaansoek nie. Hierdie aansoek is dus nog nooit aangehoor nie en die ou groen lisensies van individue wat nie aansoek gedoen het vir nuwe lisensies nie het wettig en behoue gebly, nou reeds vir 'n tydperk van 17 jaar. Hiermee het die polisie willens en wetens toegelaat dat daar 'n onhoudbare dubbele stelsel van vuurwapenbeheer in Suid-Afrika voortbestaan. Na die uitspraak van regter Prinsloo het 'n uitgerekte proses van gesprekke en onderhandeling met die polisie oor vuurwapenlisensies begin. Dit het gelei daartoe dat 'n skikking in die aangeleentheid bykans bereik is in 2011. In daardie tyd het die partye gesamentlik aansoek gedoen om die aanhoor van die hoofhofaansoek sine die (onbepaald) uit te stel.
Verskeie ander rolspelers het toegetree of gepoog om toe te tree tot hierdie saak. SAGA (SA Gunowners Association), TLU (Transvaalse Landbou Unie), CHASA (Konfederasie van Jagtersverenigings) en GOSA (Gunowners Association of SA) en die Handelaarsvereniging het onder andere probeer om deel te raak van die debat, of deur eie hofaansoeke te litigeer.
In 2015 besluit die destydse minister van polisie, Nathi Nhleko, dat die Vuurwapenwet eerder in sy geheel hersien moet word, net voordat 'n nuwe skikking bereik is. Trouens, die konsephofbevel was reeds geformuleer toe die Minister besluit om nie met skikkingsamesprekings voort te gaan nie. In die tydperk tussen 2009 en 2025 is 'n hele reeks verdere hofaansoeke deur 'n verskeidenheid van organisasies, en soms individue, in die guns van aansoekers teen die polisie beslis. In hierdie artikel gaan die skrywer nie verder hierop fokus nie.
Nog 'n gewraakte stuk wetgewing
In 2021 word 'n konsepwysigingswet aan die publiek bekendgestel vir kommentaar.Dit is die produk van die Sekretariaat van Polisie wat verantwoordelik is vir die daarstel van konsepwetgewing vir oorweging deur die Minister en die Parlement.
Die voorgestelde wysigings in hierdie stuk konsepwetgewing is om die minste daarvan te sê drakonies. Voorbeelde hiervan is die volgende:
Die doel van die wet word gewysig om beperkte toegang tot vuurwapens te vestig waar die besit van 'n vuurwapen 'n voorreg en nie 'n reg is nie, terwyl die wet tans die grondwetlike reg tot lewe en veiligheid beskryf as deel van die doel van die bestaande wet.
'n Verbod op die besit en gebruik van semi-outomatiese wapens (pistole, karabyne en semi-outomatiese gewere)
Die algehele skrapping van die besit van vuurwapens vir selfverdediging (dit is nou in 'n land met 70 tot 80 moorde per dag). Selfverdediging sal nie aanvaar word as motivering vir die besit van 'n vuurwapen nie.
Die getal vuurwapenlisensies vir Toegewyde Jagters en Sportskuts word gewysig van 'n onbeperkte getal na hoogstens 6 vuurwapens.
Die versameling van gewere en ammunisie word in sy geheel verbied. Daar is meer as 2 000 versamelaars met versamelings ter waarde van ongeveer R850 miljoen in Suid-Afrika.
Daar word ballistiese toetsing van elke vuurwapen vereis alvorens 'n lisensie uitgereik sal word. Hierdie is totaal gek aangesien daar bloot nie fasiliteite is om elkeen van die nou reeds-bestaande 3 miljoen plus gelisensieërde vuurwapens ballisties te toets nie.
Ballistiese toetsing is in elkgeval sinneloos: Vuurwapens is instrumente van metaal met onderdele wat met verloop van tyd verslyt, en die merke op 'n dop en punt verander oor verloop van tyd met gebruik. Haelgewere kan ook glad nie ballisties getoets word nie omdat die doppe grootliks van plastiek vervaardig word, dit geen koeëlpunt gebruik nie, en die loop nie groewe het nie.
Die geldigheidsduur van lisensies word beperk tot hoogstens 5 jaar (waar dit nou vir wapens gebruik vir jag en sportskiet 10 jaar is). Die Sentrale Vuurwapenregister kan soos dit staan kwalik die las dra van hernuwingsaansoeke. So 'n wysiging gaan die administratiewe las meer as verdubbel.
'n Wapen mag slegs vervoer word met 'n permit uitgereik deur die Registrateur. Jagters en sportskuts sal nie sonder so 'n permit hulle wapens mag vervoer vir gebruik in sportskietgeleentheid of om te gaan jag nie. Net hierdie stap alleen gaan die reeds te groot las van die Sentrale Vuurwapenregister bloot verder ernstig oorlaai.
Die getal patrone in besit van 'n lisensiehouer word beperk tot hoogstens 100 patrone per kaliber lisensie. Haelgeweerskuts kan sonder moeite 200 rondtes in 'n enkele kompetisie skiet.
Die herlaai van ammunisie deur individue word in geheel verbied. Die meeste ernstige jagters en sportskuts herlaai in elk geval hulle eie ammunisie om koste te bespaar en akkuraatheid te verseker. Hulle sal dit nie meer mag doen nie.
Om 'n kind jonger as 16 jaar beheer te gee oor 'n vuurwapen word 'n oortreding verklaar. Baie ouers van veral seuns gaan hierdeur verkriminaliseer word bloot omdat hulle hul kinders leer skiet.
Na die publikasie van hierdie konsepwetgewing deur die parlement vir kommentaar is daar nie minder nie as 104 000 kommentare ontvang – die meeste wat ooit ontvang is op enige stuk konsepwetgewing. Selfs nie eers die 1996-Grondwet het soveel kommentaar in konsepfase gelok nie. Die portefeuljekomitee vir die polisie het as gevolg van die groot volume kommentaar die konsepwet reeds in 2022 terugverwys na die Sekretariaat van Polisie vir verdere konsultasie en besinning as gevolg van die groot volume kommentaar wat destyds ontvang is.
Hoe sake tans staan
Verdere gesprekke tussen SA Jagters en die polisie vind steeds plaas oor hierdie tydperk en in 2022 word daar weer gevorder tot baie naby aan 'n skikking, weer eens tot by die punt waar ooreengekom word op 'n konsep hofbevel om die kwessie van die ou groen lisensies aan te spreek en op te klaar.
Weereens onttrek die minister van polisie en sy afvaardiging reg aan die einde van hierdie proses, vir geen ooglopende redes nie.
Gedurende 2025 word die voorgestelde konsepwet van 2021 stil-stil deur die sekretariaat van die polisie verwys na Nedlac, die onderhandelingsraad vir arbeidsaangeleenthede vir sogenaamde konsultasie en oorweging. Gelukkig word hierdie verwysing na Nedlac weer eens gelek en wat 'n agteraf stil proses moes wees, word openbaar gemaak. 'n Hele reeks van organisasies, soos SA Jagters, is weer betrokke en lewer kommentaar op die proses, die inhoud van die konsepwet en of Nedlac werklik die gepaste wyse en organisasie is om oor vuurwapenbesit te konsulteer.
Op 5 Desember 2025 liasseer die polisie by monde van die Registrateur van die Vuurwapenregister 'n aansoek in die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria om die uitspraak van Junie 2009 deur Regter Prinsloo te herroep. Hierdie gebeurtenis het baie stil verbygegaan by die nuusmedia, waarskynlik omdat die hofstukke na 15 Desember 2025 beteken is op die respondente. Desember is vakansietyd in Suid-Afrika, en die hele land sluit omtrent op 15 Desember.
Hierdie was 'n klassieke beplande politieke skuif om nie aandag te trek nie, niks anders nie.
Daar moet geen twyfel wees dat die bedoeling van die ANC-regering en die korrupte polisiemag is om die publiek in die RSA te ontwapen nie. Daar is vele voorbeelde vanuit die polisie en die regeringsgeledere wat 'n staat voorsien waar slegs die weermag wapens mag besit, selfs Cyril Ramaphosa blyk dit te glo. Hy is toevallig self ook 'n wildboer. Ek wonder sommer net wie sy wild gaan jag as geen private persone vuurwapens mag besit nie.
Die feit is dat die ou groen lisensies wat steeds bestaan en voortleef sedert die Prinsloo-bevinding 'n beperking plaas op die staat en die polisie. Dit moet verstaan word dat die dualiteit van twee stelsels van vuurwapenbeheer nie oneindig kan voortbestaan nie. Die ou groen lisensies gaan verval, die vraag is bloot wanneer en hoe dit gaan gebeur. Net so moet daar verwag word dat daar wysigings aangebring sal word aan die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000 soos gewysig). Om sinvolle bestuur van vuurwapenlisensies moontlik te maak moet daar ook sekere wysigings aangebring word aan die wet.
Of dit egter die rigting sal loop wat die ANC-regering wil sien, waarvolgens geen private individu oor 'n vuurwapen mag beskik nie, is 'n ope vraag. Na my mening het die steun van die ANC regering reeds so gedaal dat hulle selfs met die hulp van lakeie in kleiner partye moeilik by hierdie punt sal uitkom. Dit beteken egter glad nie dat die regering nie gaan probeer nie.
Dit is belangrik dat eienaars van vuurwapens en veral diegene wat nog steeds staat maak op die voortbestaan van die ou groen lisensies, deeglik bewus moet wees van hierdie verwikkelinge en die verloop van die proses baie noukeurig moet dophou.
My advies is verder dat diegene met ou groen lisensies liewer nou reeds die nodige opleiding moet kry, aansoek doen om bevoeg verklaar te word en aansoek doen vir nuwe lisensies vir hulle vuurwapens. Sou hulle dit nie nou doen nie, kan hulle verwag om iewers in die volgende paar jaar in lang toue by Polisiestasies te gaan staan in 'n poging om hulle vuurwapens te behou.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










