Wasige wetskepping met die Wysigingswet op Vuurwapenbeheer
Maak oop die geweerslot van ondeursigtige wetgewende prosesse.
Suid-Afrika is 'n land wat gebuk gaan onder buitensporige misdaad, toenemende geweld en 'n bevolking wat daagliks in vrees vir hul lewens leef.
Waar ookal jy jouself in Suid-Afrika bevind, loop jy daagliks die gevaar om 'n slagoffer van misdaad te kan word — indien jy nie alreeds was nie. Suid-Afrika het egter nie 'n gebrek aan wetgewing wat daargestel is om misdaad te bekamp nie, en die bestaande wette is nie besonders gebrekkig nie. Ons probleem lê egter by die gebrek aan wetstoepassing, die onvermoë om wet en orde te handhaaf en die gebrek aan politieke wilskrag om die werklike oorsake van misdaad aan te spreek wat gewone Suid-Afrikaners daagliks raak.
In plaas daarvan om die probleem by sy oorsprong aan te spreek deur die mislukte polisiediens reg te ruk, deur gemeenskappe te bemagtig en te beveilig en deur ons problematiese oop grense toe te stop, het die regering eerder besluit om sy aandag te vestig op wetsgehoorsame burgers deur middel van die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer. Hierdie voorgestelde wysigings stel meer struikelblokke daar vir gewone Suid-Afrikaners om vuurwapens te bekom en te gebruik, wat in die meeste gevalle in elkgeval hul vuurwapens aangeskaf het uit noodsaak eerder as uit vrye keuse, ten einde hulself te bemagtig om hul eie veiligheid te verseker waar die staat versuim om dit te doen.
Die konsepwetsontwerp word haastig en agter geslote deure deur die regering aangedryf, wat die kloof van wantroue tussen regering en gemeenskappe verder verdiep. Wat veral kommerwekkend is, is dat kernrolspelers soos wettige vuurwapeneienaars, die privaat sekuriteitsbedryf, die burgerlike samelewing en kwesbare groepe soos vrouens wat op vuurwapens staatmaak as 'n laaste verdedigingsmiddel vir hul eie veiligheid, hoegenaamd nie vir insette geraadpleeg is nie.
'n Bekende patroon van magsbeheptheid
Suid-Afrikaners ken hierdie gedragspatroon van die regering al te goed: die regering hou nie regtig daarvan om die burgers, wat hulle eintlik veronderstel is om te dien, te raadpleeg nie.
Of dit nou oor wetgewing rakende onderwys, die ekonomie of wapenbeheer gaan — die regering verkies om beleide en wetgewing vanuit hul afgesonderde ivoortorings in die Kaap of in Waterkloof strategies te formuleer, sonder burgers se menings en insette, nie omdat hulle poog om daadwerklike verandering teweeg te bring nie, maar eerder om politieke punte te wen. Openbare deelname word beskou as 'n blote formaliteit, om van 'n lysie af te merk, terwyl dit eintlik die hoeksteen van ons demokrasie behoort te wees.
Ons Grondwet stel dit duidelik: Suid-Afrika is 'n deelnemende demokrasie. Wette wat die publiek regstreeks in hul daaglikse doen en late raak, moet primêr deur die publiek se insette en bydraes geformuleer word omdat die publiek daagliks hierdie probleme in die gesig staar en op grondvlak kennis gemaak het met hierdie kwessies, waarvan die politici en amptenare selde van kennis dra of mee kan vereenselwig.
Tog versaak die regering blatant, met die wysigingswetsotwerp op Vuurwapenbeheer, om enigsins erkenning te gee aan hierdie grondbeginsel van publieke deelename en verkies eerder om selektiewe openbare insae te oorweeg wat kritieke rolspelers soos wettige vuurwapeneienaars, sekuriteitskenners en kwesbare groepe uitsluit.
Hierdie benadering vernietig nie net demokratiese beginsels nie, maar plaas ook die proses van wetsontwerp in gedrang, aangesien selektiewe of gebrekkige openbare konsultasie gevolglik sal lei tot swak, eensydige wetgewing wat nie geskoei is op ingeligte bydraes en insette deur die nasie nie. Dit skep die veronderstelling dat die regering, wat in hul kokon van BBP-beskerming toegedraai is, beter weet as burgers wat persoonlike, egte lewenservaring het van die uitdagings wat hul menings en insette gevorm het.
Vuurwapenbesit in Suid-Afrika is nie 'n luukse stokperdjie van die enkele ryk elites nie en moet nie in daardie lig gesien word nie. Dit is 'n noodsaaklike beskermingshulpmiddel vir boere in afgeleë gebiede, vir vroue wat bedreig word deur gewelddadige lewensmaats, vir kleinsake-eienaars in hoë misdaadgebiede en vir sekuriteitswerkers wat daagliks verantwoordelikheid neem vir ons beskerming en veiligheid.
Die onskuldiges word gekriminaliseer, die skuldiges bly onaangeraak
Die ironie van hierdie situasie kan doodeenvoudig nie misgekyk word nie: terwyl die SAPD sukkel om die verspreiding en vloei van onwettige wapens wat oor die grensposte vloei te bekamp, gebruik die staat sy politieke energie om wetgehoorsame burgers se vuurwapengebruik te teiken en te kriminaliseer. Die wetsgehoorsame vuurwapeneienaar het meer struikelblokke om te oorkom as die bendelid in Hillbrow of die smokkelaar van eSwatini wat ongestoord kan voortgaan om onwettige wapens in te voer en te gebruik, want om hul bedrywighede stop te sit is nie bo aan die regering se sakelys nie.
Jy kan nie misdaad beveg deur wetsgehoorsame burgers te versmoor met burokratiese struikelblokke en intussen misdadigers vrye teuels gee om hul bedrywighede uit te brei nie. Die antwoorde is eenvoudig: Beveilig die grense. Rus die polisiediens toe om misdaad te beveg en bekamp buitensporige korrupsie.
Maar moenie gewone burgers straf wat hulself en hul gesinne probeer beskerm net omdat die staat nie die vermoë het om hulle veilig te hou nie.
Verhef jou stem
Ons versoek by Free SA is glad nie radikaal nie, dit is grondwetlik en geskoei op die kernbeginsels van deelnemende demokrasie. Staak die huidige konsultasie rakende die wetsontwerp. Maak die openbare deelnameproses volledig van voor af oop en betrek alle belanghebbendes ten volle, sodat die wetgewing nie net enkele stemme van gewone Suid-Afrikaners weerspieël nie, maar dat dit die volledige prentjie kan weerspieël van alle belanghebbendes en rolspelers se behoeftes.
Openbare deelname is die fondament waarop ons demokrasie gebou is. Lig jou mening en maak jou stem dik op ons webwerf, freesa.org.za, voor die sperdatum van 30 September. Ons moet sorg dat ons stemme en ons insette nie net op strate en sosiale media weergalm nie, maar dat dit in die gange van die Parlement self gehoor kan word. Alle insette wat ontvang word vorm deel van die amptelike publieke deelnameproses.
Lees meer oor die veldtog hier.
Reuben Coetzer is die woordvoerder van Free SA.
Nog artikels deur Reuben Coetzer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.