Teen die Verbeelde Nasie
Nasies, soos Amerika, kan nie op voorstelligheid alleen voortbestaan nie.
Ek word vertel dat solank iemand saamstem met die ideale wat in die Onafhanklikheidsverklaring en die Amerikaanse grondwet uiteengesit word, hulle 'n paspoort kan kry en dan net so Amerikaans is as iemand soos ek, wie se familie al meer as 'n eeu hier was voordat ons stigtingsdokumente geskryf is.
Maar as dit waar is, wat maak dit van Amerika?
Geskiedkundig het “nasieskap” 'n volk veronderstel wat verbind is deur gedeelde erfenis, gesamentlike geheue en lewenswyse. Nasies kan steeds aan die rande oop wees vir die seldsame buitestander wat daardie kontinuïteit binnegaan en volgens die maniere van sy mense leef. Hierdie maniere is die nasie se ideale, en alle nasies kan rofweg daardeur beskryf word — Amerika, byvoorbeeld, in terme van ons geloof in vryheid, gelykheid en individualisme; Japan, in terme van orde, selfbeheersing en plig teenoor die kollektief; Duitsland, in terme van dissipline, presisie en burgerlike orde; Frankryk, in terme van republikanisme, sekularisme en egalitarisme.
Maar hierdie ideale ontstaan uit 'n volk — hulle vervang dit nie, en hulle put nie uit wat die nasie is nie. Niemand sê dat om Japanees te wees bloot is om in plig te glo nie, of dat om Duits te wees net is om presisie te waardeer nie, of dat om Frans te wees net republikeinse ideale beteken nie. Daardie skuif — om 'n nasie tot sy beginsels te reduseer — is iets wat ons vir Amerika reserveer.
Nasies en Volke word Deurlopend Gevorm
Mense voer aan dat daar nie so iets soos 'n “Amerikaanse volk” kan wees nie, omdat die nasie gestig is deur Engelse, Skotte, Duitse en ander Wes-Europeërs, en dit dus net ‘n idee moet wees.
Maar hierdie argument berus op onkunde oor hoe 'n nasie vorm. Geen nasie of volk ontstaan volkome gevorm of bly etnies staties sedert die begin van tyd nie; elke volk is die resultaat van vroeëre vermengings wat saamgegroei het tot iets nuuts. Die Japannese, byvoorbeeld, het ontstaan uit Jōmon- en Yayoi-bevolkings; die Franse uit Galliërs, Romeine en Franke; die Engelse uit Anglo-Saksers, Noorse groepe en Normandiërs. Op dieselfde wyse het vroeë Amerikaners begin om hul eie proses van etnogenese te ondergaan — om 'n onderskeibare volk te word gevorm deur gedeelde geskiedenis, grond en lewe. Amerika is nie die wêreld se uitsondering op die patroon van etnogenese nie; dit is bloot 'n moderne voorbeeld daarvan.
Waar mense verward raak, is deur aan te neem dat omdat 'n volk deur vermenging gevorm is, dit nie as 'n onderskeibare groep bestaan nie, of omdat 'n volk deur vermenging gevorm is, dit eenvoudig onbeperk en sonder grens enigiemand kan absorbeer. Maar etnogenese is nie 'n eindeloos versnellende opeenhoping nie — dit is 'n proses van konsolidasie, waar verskillende elemente gevorm word tot 'n samehangende geheel met gedeelde norme, geheue en lewenswyse. Dit het grense en 'n duidelike swaartepunt. Nuwelinge kan ingelyf word, maar slegs in soverre hulle daardie kontinuïteit betree en daardeur gevorm word.
As dit nie gebeur nie, loop die proses van etnogenese die risiko om in inval en verdringing te ontaard.
Belangrik is dat ons Amerikaanse ideale nie lukraak uit die niet ontstaan het nie; dit het voortgekom uit 'n spesifieke volk wat reeds op 'n bepaalde wyse geleef het. Toe die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring en die grondwet geskryf is, het Amerikaanse setlaars volgens geskiedkundige Engelse norme geleef (plaaslike selfregering, die gemenereg-tradisie, 'n Protestantse morele raamwerk, 'n sterk klem op eiendomsregte, en 'n beperking op gesentraliseerde gesag), vroeër vervat in dokumente soos die Magna Carta en die Engelse Handves van Regte. Amerika se stigtingsdokumente het nie beginsels uit die lug uitgedink nie, dit het dit neergeskryf met die veronderstelling van 'n reeds-bestaande volk.
Dit ontken nie die genialiteit van die dokumente nie — dit was 'n ongekende prestasie om oorgeërfde beginsels in 'n grootskaalse stelsel van geordende vryheid te omskep deur 'n noukeurig gebalanseerde regeringstruktuur. Met verloop van tyd het ander Europese groepe hulself op hierdie bestaande raamwerk ingeënt en ‘n beskawingskontinuïteit betree wat reeds vorm, identiteit en geskiedenis gehad het.
Soos die stigtingsvader John Jay, in Federalist No. 2 geskryf het:
“Die Voorsienigheid het dit goedgedink om hierdie een aaneengeskakelde land aan een verenigde volk te gee — ‘n volk wat van dieselfde voorouers afstam, dieselfde taal praat, dieselfde godsdiens bely, geheg is aan dieselfde regeringsbeginsels, en baie soortgelyk is in hul maniere en gebruike…”
Waarom hoor ek dan steeds dat Amerika net 'n idee is? Dat dit glo anders is as elke ander nasie wat ooit bestaan het — oop vir almal, en nooit verbind aan 'n spesifieke erfenis of kulturele identiteit nie? Hierdie idee, dat Amerika 'n “proposisionele” oftewel verbeelde nasie is, is die heromskrywing van nasieskap self tot iets abstrak en los van die werklikheid.
Dit maak Amerika tot 'n simulakrum.
'n Kollektiewe Hallusinasie
'n Simulakrum, in die denke van die Franse filosoof Jean Baudrillard, is ‘n kopie van iets wat nie meer na enigiets werklik verwys nie. Hierdie kopie vervang die oorspronklike en begin meer werklik voel as die werklikheid self.
Die idee dat Amerika net 'n verbeelde nasie is, maak Amerika tot 'n simulakrum. Dit neem die werklike, lewende nasie van Amerika — saamgestel uit geskiedenis, mense en gedeelde lewe — en omvorm dit konseptueel tot 'n abstrakte idee wat eindeloos verander kan word en gerieflik enigiets vir enigiemand kan beteken. 'n Ontsaglike ideologiese masjinerie is nodig om hierdie simulakrum te onderhou: skole, media, korporasies, regeringsburokrasie — almal herhaal dieselfde liturgie. Dit moet onophoudelik beoefen word juis omdat dit nie waar is nie. Dit speel uit deur 'n konstante stroom boodskappe wat ons vertel dat Amerika moreel onwettig is, dat ons nooit 'n gedeelde erfenis gehad het nie, en dat enigiemand onmiddellik Amerikaans kan word by aankoms. Die boodskap is verstikkend en die effek ontwrigtend; hoe meer ons dit hoor, hoe meer breek dit die werklikheid op.
Om 'n volk te vernietig, moet jy eers hul wortels afsny. Een van die mees slinkse strategieë van die simulakrum is om homself te bemark as Amerika se unieke deug: die bewering dat ons krag daarin lê om niks anders as 'n idee te wees nie. Tog kan elke nasie deur gedeelde idees beskryf word; dit is dus nie Amerika se uitsondering nie, maar die gewone toestand van lande. Hierdie truuk neem 'n gedeeltelike waarheid en blaas dit op tot 'n verblindende leuen — dat Amerika die sterkste is wanneer dit die minste homself is, gereduseer van 'n lewende volk tot 'n swewende voorstelligheid.
Hierdie gesuiwerde abstraksie — hierdie simulakrum van Amerika — is meer vatbaar vir die behoeftes van die globale stelsel deur oop te wees vir die wêreld. Dit was nie die oorspronklike visie vir Amerika nie, maar dit het 'n vervangende etos geword wat ontken dat daar ooit iets anders was. Dit maak aanspraak op soewereiniteit oor die mense wat eens betekenis aan die nasie gegee het — 'n kollektiewe hallusinasie wat Amerikaners uit hul metafisiese tuiste verdryf na 'n abstakte nêrens, en hulle staatloos binne hul eie vaderland laat.
Die leuen van die proposisie-nasie dien die liberale orde omdat dit grense vooruit oplos. As 'n nasie slegs 'n idee is, het dit geen vaste grense nie, geen oorgeërfde verpligtinge nie, geen stabiele identiteit om op terug te val om verandering te weerstaan nie. Dit maak die simulakrum volkome versoenbaar met moderniteit se dryfkrag na vloeibaarheid — 'n wêreld waar mense, identiteite en betekenis buigsaam en uitruilbaar moet bly om voortdurende uitbreiding te onderhou. In hierdie sin is die verbeelde nasie nie 'n beskrywing van die werklikheid nie, maar 'n instrument van oorheersing wat juis die grense verwyder wat dit kon verdedig.
As ons die idee van die verbeelde nasie tot sy logiese gevolg neem, stort dit vinnig in absurditeit ineen: is iemand wat aan die ander kant van die wêreld gebore is, sonder enige voorvaderlike verbintenis met Amerika, nogtans Amerikaans as hulle al die “korrekte” oortuigings huldig? As erfenis niks te doen het met Amerikaans wees nie, hoe kan ons regverdig dat ons hierdie verafgeleë Amerikaners die reg op 'n paspoort ontneem wat hulle sal toelaat om na hul vaderland te kom?
Maar watter ideale moet hierdie persoon aan die ander kant van die wêreld presies hê om Amerikaans te wees?
Jy kan sê 'n geloof in vrye spraak, private eiendom en individualisme, om mee te begin — maar daar is 'n probleem daarmee. Ek het al gehoor hoe hierdie dinge beskryf word as problematies, of gewortel in wit oppergesag, of moreel onwettig deur Amerikaners wat ons stigtingsbeginsels veroordeel. Wie bepaal dan watter idees nodig is om iemand Amerikaans te maak? En as om Amerikaans te wees net gaan oor die regte idees glo, beteken dit dat ons burgerskap moet wegneem van enigiemand wat nie in ons ideale glo nie? Die meeste mense sal sê natuurlik nie — dat mense in Amerika vry is om enige oortuigings te hê, wat weer 'n verwarrende implikasie skep ten opsigte van die idee dat die “regte oortuigings” jou Amerikaans sou maak.
Maar eintlik is daar een oortuiging wat betroubaar veroorsaak dat jy aangeval word omdat jy glo Amerikaanse waardes verraai: om te ontken dat Amerika 'n verbeelde nasie is.
Amerikaners wat dit doen en daarop aandring dat daar 'n werklike Amerika onder die abstraksie is, ontbloot die kopie vir wat dit is. In reaksie verklaar die simulakrum dat dit húlle is wat onwerklik is — dat dit húlle is wat nie werklik Amerikaans is nie. Dit onthul 'n waarheid oor die Amerikaanse simulakrum: in hierdie orde is alles toegelaat, behalwe die ontkenning van die voorstelligheid self.
Binne die simulakrum is die enigste on-Amerikaanse ding, paradoksaal genoeg, om te glo dat Amerika werklik is.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










