The Odyssey-histerie: Meriete of Nie?
Dubbele filmstandaarde wek die rassegees onnodig op.
Niks steek die Westerse kulturele siklope oor die spektrum heen so diep in die oog soos wanneer geskiedkundige films met 'n bont rolverdeling vervaardig word nie.
Vir velkleur-skeptici uit wye politieke oorde, is die beswaar wisselend van pedantiek oor geskiedkundige akkuraatheid (wat seer sekerlik moeilik is met Bronstydperk-mitologie?) tot die kulturele merkers in die filmbedryf wat die ondergrawing en realtivering van Westerse kultuurgeskiedenis aandui. Of, dat velkleur-diverse akteurs net opvoerige en misplaaste politieke korrektheid sein.
Aan die ander kant is daar gevestigde kulturele hegemone en politieke elites wat kraai van lekkerkry vir die rassige sponsdoring waarin “die ver/regses” so liederlik sou trap. Die skeppers van onlangse filmwerk soos The Odyssey, Queen Cleopatra of Troy: Fall of a City kon hul filmspoele uitrol onder die stilswyende waarborge van kleurblindheid. En wragtig, daar spring die grootste kritici van kritiese ras-denke en regstellende rassigheid op hul perdjies oor 'n paar akteursliggame wat nie soos rasegte Indo-Europese, Griekse oorlogsveterane gekleur is nie! Wie is nou die rasbeheptes, word triomfantelik gevra, wie is nou polities korrek en selfs kansellerend teenoor vrye uitdrukking? Aha!
Motte-and-Bailey drogredenasies
Daardie soort reaksie is 'n terugvlug oor die moot na die veiligheid van die meer verdedigbare kasteelmure. Bepaald die progressiewe kulturele elites van die Weste is op rekord dat hulle vir jare reeds uitvaar téén velkleurblindheid. Derduisende terabytes inhoud op verskeie platforms het die liberale aandrang op inhoud van karakter, as verkieslik bo die identiteitspolitiek van die vel, verguis. Wat nog te sê vir daardie sagte teiken, daardie laaghangende vrug, synde konserwatiewe narratiewe oor die regvaardigheid van vergange empires.
Daar is 'n dieper kontraswerking aan die hart van die argumente van die velkleurkwessie wat nou weer vlamvat met die vrystelling van Christopher Nolan se The Odyssey. Die aanlynwoede is gemik teen akteurskeuses wat - as die argeologiese en geskiedkundige rekord die deurslag gee - nie sin maak nie, omdat die wit Europese fenotipe meer waarskynlik sou wees, en geslagsvariasies buiten manlik en vroulik nie enige klinkklare bewyse in die Griekse Bronstydperk het nie. Hoe kan daar 'n klomp Afrikane as edellui in Myceense Griekeland voorkom, en karakters van onduidelike geslagtelikheid?
Die vrae oor akkuraatheid, vir jou meer kritiese en nasionaal konserwatiewe populiste, is eerder oor wat hierdie seine rondom Westerse beskawingselfvertroue sê, en die aanname is dat die Westerse elites se inklusiwiteitsdrange enige sin vir die “eie” en “inheemse” aspris verwater. Al hierdie refreine is natuurlik bekend, maar trap dit netjies op die lyn tussen iets banaals soos velkleur, en iets meer verwikkeld, soos kulturele uitbeelding?
Kleur en Kulturele Konteks
Dis hier waar narratiewe kontraswerking onder die Odyssey-kritici behoorlik tussen Scylla en Charybdis beland. Want gooi jy die film oor die boeg van 'n korruptering van Westerse kultuurerfenis, is die vraag waarom velkleur so hard in die kritikus se oë inpriem, want watter rol speel die donker velle werklik die ontwikkeling van ‘n immer-Westerse mitologiese storielyn?
Aan die anderkant, as ras en biologiese herkoms die kernpunt is, sit die kritikus weer in die geselskap van pseudo-biowetenskap. Vandaar, kort sprongetjies na die Derde Ryk. Beskuldig my maar van glybaan-drogredenasie, die pertinente punt bly dat jy nie die Weste sonder kulturele erfenis kan verstaan nie. Maar indien die einste erfenis filmgewys deur swart akteurs uitgebeeld word en dit jou ontstel, hoekom? Is die dieper aanname dan in werklikheid dat Westerse kultuur alleen deur sekere biologiese voorkomste en herkomste “gegenereer” word? 'n Logiese brug is nie 'n glybaan nie.
In elkgeval, aldus Tim Whitmarsh, 'n professor in Griekse kultuur aan die Universiteit van Cambridge, is daar tekstuele en vertalingsredes uit uitlegte van die Odusseia wat veronderstel dat die Homeriese sin vir kleur en voorkoms baie vreemd vir die moderne mens sou wees.
Die blonde spiertier argetipe Achilles, as 'n mens volgens Brad Pitt se bekende uitbeelding van die Homeriese held in Troy (2004) deur Wolfgang Petersen en David Benioff sou gaan, word in die Homeriese eposse as met die haarkleur “xanthos” beskryf. Dit is iets tussen blond en bruin en gekroes, maar kan ook eweneens as begrip vir “vlugvoetig” en “roerend” vertaal word. Kleur-ervaring, redeneer Whitmarsh, maar bepaald die konnotasies en konstruksies wat ons in eietydse rasseklassifikasie en die politiek daaroor omvorm het, was vir die antieke Grieke, onder andere, onbekend. Kleurkonnotasies was anders:
“ ‘Black’ (melas) and ‘white’ (leukos) are also – importantly – gendered terms: females are praised for being ‘white-armed’, but men never are. This differentiation finds its way into the conventions of Greek (and indeed Egyptian) art too, where we find women often depicted as much lighter of skin than men. To call a Greek man ‘white’ was to call him ‘effeminate’. Conversely, to call Odysseus ‘black-skinned’ might well associate him with the rugged, outdoors life he lived on ‘rocky Ithaca’.
So to ask whether Achilles and Odysseus are white or black is at one level to misread Homer. His colour terms aren’t designed to put people into racial categories, but to contribute to the characterisation of the individuals, using subtle poetic associations that evaporate if we just plump for ‘blond’ rather than ‘brown’, ‘tanned’ rather than ‘black’ (and vice versa). Greeks simply didn’t think of the world as starkly divided along racial lines into black and white: that’s a strange aberration of the modern, Western world, a product of many different historical forces, but in particular the transatlantic slave trade and the cruder aspects of 19th-century racial theory.
No one in Greece or Rome ever speaks of a white or a black genos (‘descent group’). Greeks certainly noticed different shades of pigmentation (of course), and they differentiated themselves from the darker peoples of Africa and India, sometimes in aggressively dismissive terms that we would now call racist; but they also differentiated themselves from the paler peoples of the North (see Hippocrates’ On Airs, Waters, and Places). Greeks did not, by and large, think of themselves as ‘white’”.
Biologiese fenotipes was daar wel, maar vir klassieke Westerse voorouerbeskawings in Griekeland en Italië was daar iedergeval nie streng beskawingslyne op grond van velkleur nie. Wat saakgemaak het, was andersoortige in-en-uitgroep merkers, wat oor tyd aangepas het. Eeue later het ons eers die moderne afbakening van Weste teenoor die Res begin motiveer:
“In brief: the Greek warriors that Homer imagined probably did not look much like David Gyasi (Achilles in the BBC show), but nor did they look like Brad Pitt (Achilles in the Hollywood movie Troy). Colour vocabulary is often felt by its users to be natural and obvious, because the visual register is so immediate and vivid to us. We think that the colours we see are inscribed into the order of things.
At a physiological level, indeed, that may be true. But when our brains begin the process of making sense of those neurological signals, then, inevitably, we start using the categories that we have learned from those around us. Looking into the past and training ourselves to see with the eyes of other cultures, are powerful ways of denaturalising our inherited conceptual categories, and of recognising that they are not inevitable.”
Dit alles is nie om te sê dat irritasies met die skynbaar modieuse eietydse kulturele debatte oor ras, geslag en identiteit andersins nie sekere goeie gronde het nie.
Waarom Ander Stelle Standaarde?
Kritiek op The Odyssey en soortgelyke filmwerk oor die betrokkenheid van swart akteurs in die rol van figure wat algemeen as witvellig veronderstel sou word, is gevarieerd. 'n Geldige vraag, wat my betref, is die etiese standaarde wat Westerse film-elites hulself oplê wanneer nie-Westerse, witvellige historiese figure uitgebeeld word. Met die onlangse herskepping van die kinderprent Moana (oor 'n Polinesiese meisie se omswerwinge op die groot Stille Oseaan) tot 'n regtelewe-film, berig Variety dat 'n magdom raadgewers en kenners ingespan word sodat Polinesiese kultuur korrek, in die proses geheiligd en filmgewys sensitief uitgebeeld word.
Met die eerste oogopslag is dit sinvol. Maar, is die betoog, hoeveel van hierdie soort sensitiwiteitsywer word aan die dag gelê vir Westerse kulturele filmwerk? Laat dit dan die deur oop vir witvellige en ooglopend Europese akteurs om rolle los te slaan in kultuurhistoriese filmwerk oor nie-Westerse figure? Sou Margot Robbie ooit Mulan kan speel, of Ryan Gosling dalk Aladdin?
Die onstelde antwoord uit sekere progressiewe kultuurskepperskringe sou voorspelbaar “nee!” wees. Dit sou koloniale oorheersing verteenwoordig of inderaad voortsit, indien witvellige akteurs hierdie soort rolle speel. Daar sal verwysings na “blackface” wees - die veroordeelde praktyke om swart karakters deur swartgesmeerde wit gesigte te vertolk, soos in die vooroorlogse Amerikaanse Suide. Daar sal die poging tot onderskeiding wees: Struktureel-onderdrukte nie-witvellige mense behoort alleenreg tot swart rolle te hê, want dis 'n vorm van regstelling: swartmense neem “swart ruimtes van betekenis en erfenis” terug.
Dit alles klink goed en wel, maar dit antwoord steeds nie die vraag nie, synde of dit enigsins in beginsel doenlik is om “nie-wit” kultuurgeskiedenis deur witvellige akteurs oor te dra, en indien wel, wanneer sal dit OK raak? En wie bepaal wanneer dit OK raak, en volgens watter kriteria?
Hierdie vrae is kernbelangrik, vir dieselfde rede waarom dit pertinent is vir The Odyssey-kritici om te verduidelik waarom die velkleur van Odysseus se makkers so 'n groot kwessie is, as dit nie regstreeks die kulturele verhaallyn beïnvloed nie. Miskien is daar een of ander esoteriese argument wat die velkleur van die akteur met die “egtheid” van die kultuuruitbeelding kan verbind. Benewens dat sekere velskakerings in 'n gegewe antieke samelewing dalk raar was, twyfel ék baie oor die relevansie.
The Odyssey-kritici het wel 'n punt, al is dit nie noodwendig so dwingend en histeries soos besware oor die beweerde vervanging van witvellige bevolkings en die selfmoord van Westerse kultuurlewe nie. Dit is in hoofsaak eerder dat filmskeppende elites 'n inkonsekwente, kunsmatige skans oprig tussen kleurblinde rolverdelings in Westerse kultuurgeskiedenis-uitbeelding, en uiters kleur- en kultuursensitiewe spelerkeuses wanneer nie-Westerse verhale verfilm word.
Westerse Selfbeheptheid
Dit dwing 'n verdere, dieper vraag op: Waarom hierdie keuse vir selektiewe kleurblindheid? Waarom is die Westerse kulturele elites so sensitief vir die “Ander”, maar so betreklik onsensitief vir kunsskeppingspraktyke wat Westerse kultuurgeskiedenis self betref? Waarom die selfgeseling, teenoor die dikwels oorversigtige toegewings wanneer nie-Westerse geskiedkundige rolprente geskep word?
Miskien is dit juis oor die totaliserende tendense van die Weste. Westerse leefstyle en kulturele praktyke is so oordonderend, sedert die koloniale era, dat Westerse kuns-elites self nie meer die “Westerse water” oplet waarin hulle swem nie. Soos 'n vis wat nie die vaagste benul het wat water is nie, en tog daardeur omsingel en heeltemal daarmee verbind is om aan sy “vis-heid” enige betekenis te gee, so verloor veral die dominante Engelssprekende Westerse kulture perspektief.
Hulle vergeet dat hulle ook kulturele onderdele van die mensdom vorm, nie apart of verhewe daarvan bestaan nie. Gevolglik kom almal wat Anders is, een van twee dinge in die hande van die Weste oor: Óf ouskool hiërargiese oorheersing (hetsy deur kolonialisering of neokonserwatiewe magsprojeksies) of deur die meer moderne, “vriendelike” Westerse internasionalisme, waarvolgens die Ander in Westerse opvattings ingetrek of daarvolgens ontleed word. Nie-Westerse kulture word op die etniese of “kultuur”-radar raakgesien. Maar Westerse mense self nie, want hulle is “anderkant kultuur” of etnisiteit. Dis enersyds 'n soort diep geloof in selfverhewendheid en 'n vorm van Eurosentrisme. Aldus hierdie kritiek, is die idee dat die arme nie-Westerlinge so ver buite Westerse bestaansopvattings is, dat hulle slegs oor regeer kan word, of immer bejammer en oor ontferm moet word, want hulle is hoogstens slagoffers in die ewige opmars van Westerse geskiedenis.
Daarom het The Odyssey en verwante rolprente se kritici 'n punt. Westerse kulturele elites se diepgewortelde brille sien alle ander kultuurhistoriese ervarings raak buiten hul eie. Daar is 'n soort missionale drif om die “edele, kultuurhebbende barbaar” gewelddadig op sy plek te sit, of vreedsaam en gedetailleerd af te baken en volgens Westerse voorskrifte van regstelling te fetisjeer. Andersins, om die Ander in te trek en te absorbeer volgens subtiele Westerse voorwaardes, wat voorgee om die maatstaf van universalisme te wees.
Films voer kleurblindheid baie sigbaar op, maar gun min ruimte vir Westerse kultuurhistoriese detail. Dieselfde standaarde geld egter nie in nie-Westerse filmwerke nie: Daar is kultuurhistoriese detail alles, en puntenerige rassekorrektheid die kern.
Christopher Nolan se kritici is dalk op 'n spoor na nêrens met histerie oor donkervellige Homeriese helde wat tog steeds die ou mites relatief getrou oorvertel. Maar daar is geldige vrae te vra oor waarom ras- en kultuurbesonderhede in sommige filmkontekste aangemoedig en in ander as onsigbaar geag word.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









