ZINEB RIBOUA | Trump se Midde-Ooste
Operasie Epic Fury is die logiese uiteinde van Trump se beleid in die streek.
In geopolitiek maak dit wat regerings doen byna altyd meer saak as wat hulle sê. Dit is voor die hand liggend — inderwaarheid, sommer baie voor die hand liggend — maar dit is die moeite werd om dit te herhaal op oomblikke soos hierdie.
Openbare verklarings tydens 'n konflik dien selde as deursigtige vensters na operasionele militêre planne. Meer dikwels word hulle deel van die konflik self. Leiers praat om vasberadenheid te toon, bondgenote gerus te stel, eskalasie te bestuur en — net so belangrik — om hul vyande te verwar. Om verklarings van figure soos Rubio, Hegseth of Trump as reguit aanduidings van operasionele bedoeling te behandel, loop dus die risiko om 'n diep misleidende beeld van gebeure te skep.
Dit is 'n basiese reël van Clausewitz: “Die misleier deur strategie laat dit oor aan die persoon wat hy mislei om self die foute van begrip te begaan.”
'n Beter benadering, dink ek, is om terug te tree na 'n oomblik voordat die druk van aktiewe konflik die openbare boodskappe begin vorm het. In hierdie geval glo ek daardie oomblik was 13 Mei 2025, toe president Trump die Saoedi-Amerikaanse Beleggingsforum in Riaad toegespreek het. Die toespraak het destyds nie die aandag gekry wat dit verdien het nie. Tog staan dit, in terugblik, as een van die mees gevolgryke verklarings wat 'n Amerikaanse president in die streek in onlangse jare gelewer het. Een spesifieke gedeelte was besonder onthullend:
“Ek wil 'n ooreenkoms met Iran maak. As ek 'n ooreenkoms met Iran kan maak, sal ek baie gelukkig wees. Ons gaan julle streek en die wêreld 'n veiliger plek maak. Maar as Iran se leierskap hierdie olyftak verwerp en voortgaan om hul bure aan te val, sal ons geen keuse hê nie as om enorme, maksimum druk toe te pas: om Iran se olie-uitvoer tot nul te verminder, soos ek voorheen gedoen het.
Hulle was feitlik 'n bankrot land as gevolg van wat ek gedoen het. Hulle het geen geld vir terreur gehad nie. Hulle het geen geld vir Hamas of Hizbollah gehad nie. En ons sal alle nodige stappe neem om te verhoed dat die regime ooit 'n kernwapen kry. Iran sal nooit 'n kernwapen hê nie. Die keuse is hulle s’n. Hierdie aanbod sal nie vir altyd bly nie. Die tyd is nou. Op een of ander manier — maak julle skuif.”
Trump was redelik deursigtig oor sy bedoelings, en daarom lê die werklike bespreking nie in wat hy gesê of nie gesê het nie, maar in wat hy bedoel het en hoe die woord “ooreenkoms” verstaan moet word.
In Trump se woordeskat dra 'n “ooreenkoms” nie dieselfde betekenis as wat dit onder Obama gehad het nie, en dit lyk ook nie soos die onderhandelde kompromieë wat tipies in die taal van internasionale betrekkinge beskryf word nie. Vir Trump beteken 'n ooreenkoms dat die ander kant die kernvoorwaardes wat hy gestel het, aanvaar. Volledige oorgawe. Teheran het eenvoudig anders gekies, en daardie besluit was nie werklik die gevolg van 'n misrekening nie.
Laat ek verduidelik.
Die Islamitiese Republiek beskik oor 'n sekere taktiese en politieke buigsaamheid. Dit kan onderhandel, uitstel, poseer en manoeuvreer. Wat dit egter nie kan doen nie, is om toe te gee op die grondslag van sy streekstrategie, want daardie grondslag is nie in enige betekenisvolle sin skeibaar van die regime se eie identiteit nie.
Die ontwikkeling van proxy oftewel handlangernetwerke, die volgehoue druk op Israel, en die projeksie van mag van die Levant tot by die Arabiese Golf — al hierdie dinge is nie onderhandelingsmunte wat die regime kan prysgee in ruil vir sanksieverligting nie. Dit is juis die fondamente waardeur die Islamitiese Republiek sy revolusionêre doel regverdig, sy aanspraak op leierskap binne politieke Islam handhaaf, en sy tersaaklikheid buite sy eie grense behou.
'n Regime wat Trump se voorwaardes aanvaar, sou die instrumente afbreek waardeur dit sy mag uitoefen.
'n Streek wat as gyselaar gehou word
Maar dit is nie die hele storie nie. Die kern daarvan is dat Trump se breër Midde-Ooste strategie ambisies dra wat veel verder as veiligheid strek.
Die Midde-Ooste, in sy siening, is 'n soort eiendomsontwikkelingsgeleentheid vir die Verenigde State. Nie bloot 'n toneel wat gestabiliseer moet word nie, maar 'n spilpunt tussen kontinente — 'n kommersiële en tegnologiese spil waardeur daardie ekonomieë wat met Amerika belyn is, dieper met mekaar verbind kan word. Golf-soewereine welvaartsfondse sou by Amerikaanse nywerhede en tegnologie invloei. Nuwe korridors sou die beweging van goedere, energie en data oor Asië, Europa en Noord-Amerika herorden. Daardie transformasie veronderstel egter 'n Midde-Ooste waarin Iran nie meer die voorwaardes vir integrasie permanent in gevaar stel nie. Dit is waarom, nadat Iran voortgegaan het om druk oor die streek uit te oefen, die bestuur van die status quo vir Trump nie meer 'n lewensvatbare beleid is nie. Dit word eerder verstaan as 'n toegewingsposisie; 'n stil aanvaarding dat die streekorde wat Washington wou vestig permanent buite bereik sou bly.
Operasie Epic Fury moet daarom nie gesien word as 'n “skielike” of “abrupte” eskalasie nie, maar eerder as die punt waar nie-optrede self die groter politieke risiko geword het (militêrgewys het ek dit in 'n artikel oor missiele verduidelik). Die omvang van daardie besluit kan slegs gemeet word teen die skaal van wat Trump probeer bou—’n projek wat op vyf doelwitte berus:
Die eerste is die geleidelike vermindering van die Amerikaanse militêre teenwoordigheid in die streek. Trump se onttrekking van ongeveer 1 000 troepe uit Sirië weerspieël 'n breër oordeel dat groot permanente ontplooiings, wat eens deur die oorloë van die vorige twee dekades geregverdig is, begin het om afnemende strategiese opbrengste teen toenemende politieke koste te lewer.
Die tweede doelwit is die uitbreiding van die Abraham-ooreenkomste en die konsolidasie van 'n streekbelyning waarin Israel en sleutel-Arabiese state ekonomies, tegnologies en toenemend ook op veiligheidsgebied saamwerk. Die tempo van hierdie transformasie was merkwaardig. Bilaterale handel tussen Israel en sy Abraham-ooreenkomsvennote het van byna nul in 2020 tot ongeveer $3,4 miljard teen 2023 gestyg—'n aanduiding van hoe vinnig politieke normalisering in tasbare ekonomiese integrasie kan verander.
Die derde doelwit hou verband met die bou van nuwe ekonomiese korridors wat Indië, die Golf, Israel en Europa verbind deur die India–Middle East–Europe Economic Corridor (IMEC), 'n infrastruktuurprojek wat ontwerp is om goedere oor 'n netwerk van hawens, spoorlyne en logistieke spilpunte te beweeg wat ekonomieë oor drie kontinente verbind.
Die vierde doelwit gaan oor die sogenaamde Pax Silica. Hierdie raamwerk verbind tegnologie, kapitaalvloei, logistieke infrastruktuur en veiligheidsamewerking tussen state waarvan die belange toenemend saamval. Die doel is om die Midde-Ooste in te sluit binne die ekonomiese en tegnologiese korridors wat die Indo-Stille Oseaan en Europa verbind, en sodoende 'n vorm van stabiliteit te skep wat op tegnologiese integrasie gegrond is.
Maar so 'n orde kan nie in suiwer ekonomiese terme vorm aanneem nie. Dit sou wensdenkery wees. Om te kan voortduur, moet dit ook polities verstaanbaar wees vir die samelewings wat die streek bewoon.
Hier kom dus die vyfde doelwit na vore, synde die stabilisering van Gasa onder 'n regeringsreëling ná Hamas, wat die politieke voorwaarde skep wat die ander vier doelwitte verstaanbaar maak vir Arabiese en Moslem-bevolkings.
Palestina staan sentraal
Gasa-reëlings is van kardinale belang. Want solank Teheran operasionele beheer oor Palestynse gewapende faksies behou, beskik dit oor die vermoë om elke normaliseringsinisiatief as verraad voor te stel en sy netwerk van terreur-volmagte te aktiveer.
Om daardie beheer te breek, los natuurlik nie die Palestynse vraagstuk op sigself op nie, maar dit verwyder die meganisme waardeur Iran die Palestynse griewe omskep in 'n strukturele veto oor die hele streekorde. Daardie meganisme rus op 'n diep ideologiese werklikheid: binne die politieke verbeelding van groot dele van die Moslemwêreld funksioneer die Palestynse saak terselfdertyd as 'n nasionalistiese gegriefdheid, 'n godsdienstige verpligting en 'n beskawingstoets waardeur regerings en kiesers (of onderdane) die “egtheid” van hul leiers se verbintenisse meet.
Teheran het hierdie dinamiek vroeg begryp en dit op groot skaal uitgebuit, met uitsonderlike strategiese skerpsinnigheid. Deur homself as die hoof gewapende borg van Palestynse weerstand via Hamas en Palestynse Islamitiese Jihad te posisioneer, het 'n Sjia-oorheersde, nie-Arabiese regime iets bereik wat struktureel moeilik sou wees: dit het morele leierskap oor 'n saak opgeëis waarvan die oorsprong en diepste emosionele resonansie in die Soennities-Arabiese wêreld lê.
Die Besluit en sy Ontwerp
Om al hierdie redes weerspieël Operasie Epic Fury 'n poging om die onderliggende voorwaardes van Midde-Oosterse politiek te verskuif.
Vir Trump is dit 'n strukturele oplossing vir 'n strukturele probleem. Want as dit slaag, sal die beperkings hierbo beskryf begin verslap. Die Abraham-ooreenkomste het, dink ek, 'n vroeë aanduiding gegee van hoe so 'n streek kan lyk.
Verskeie Arabiese regerings het hul bereidwilligheid aangedui om verhoudinge met Israel te normaliseer en nader aan Washington te beweeg. Wat hulle teruggehou het, was nie 'n gebrek aan politieke bereidwilligheid nie. Die struikelblok het gekom van die skadu wat Iran se netwerk van gewapende handlangers oor almal gewerp het, insluitend Hezbollah in Libanon en die Hoethi’s in Jemen. Daardie netwerk het sigbare belyning met Israel 'n potensieel gevaarlike waagstuk gemaak. Trump het moontlik verstaan dat aansporings alleen nie die streek se berekeninge sou verander nie. Dit was noodsaaklik om die koste verbonde aan belyning met die Verenigde State te verlaag.
In hierdie lig gesien dra die huidige konfrontasie politieke en strategiese implikasies, aangesien die keuses wat vir Arabiese nasies eens te gevaarlik gelyk het om selfs te oorweeg, baie meer prakties sal begin lyk indien die operasie slaag. En dit bring Trump nader aan die projek wat hy lankal voor oë het: 'n Midde-Ooste wat nie meer deur Iran se ontwrigtende invloed beperk word nie, gestabiliseer met 'n ligter Amerikaanse militêre teenwoordigheid en toenemend georganiseer rondom handel, belegging en grootskaalse infrastruktuurontwikkeling.
Met ander woorde, Operasie Epic Fury is 'n militêre veldtog wat— indien dit sy doelwitte bereik — die begin van die einde kan merk van Amerika se era van massiewe militêre betrokkenheid in die streek. Dit is 'n poging deur Trump om die strategiese landskap van die Midde-Ooste te herorden op 'n manier wat geen vorige administrasie probeer het nie: om die las van streeklike inperking meer na Israel te verskuif, terwyl Amerikaanse politieke aandag en kapitaal vrygemaak word vir teaters met hoër prioriteit.
Sonder daardie uitkoms staar Trump die vooruitsig in die gesig om sy termyn af te sluit met 'n ongebroke Iranse gevaar, geen uitbreiding van die Abraham-ooreenkomste nie, geen IMEC-korridor wat Amerikaanse besighede bevoordeel nie, geen Pax Silica wat Amerikaanse tegnologiemaatskappye versterk nie —en 'n nalatenskap wat ononderskeibaar is van elke voorganger wat belowe het om Amerikaanse oor-uitbreiding in die Midde-Ooste te beëindig, maar nooit die strategiese voorwaardes geskep het wat onttrekking moontlik sou maak nie.
Zineb Riboua is 'n navorsingsgenoot aan die Hudson Institute se Sentrum vir Vrede en Veiligheid in die Midde-Ooste. Sy spesialiseer in Chinese en Russiese betrokkenheid in die Midde-Ooste, die Sahel en Noord-Afrika, grootmoondheidsmededinging in die streek, en Israelies-Arabiese betrekkinge. Hierdie artikel, afkomstig van haar Substack Beyond the Ideological, is met haar vergunning vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










