
Ek is op rekord (op OntLaer en elders) dat ek uiters ongemaklik is met 'n tweepartystelsel vir Suid-Afrika. En ondanks talle deurdagte pogings, soos die destydse Van Zyl-Slabbert-verslag oor verkiesingshervorming, en deurgaanse kritiek op die huidige proporsionele kiesstelsel, bepaal dit nogtans die reëls.
Dit bied mense die vryheid van veel meer keuses en verteenwoordiging en laat die land nie in twee partye wat identies kan raak, vasval nie. Die kleiner partye is, ten regte of onregte, die gewete van groter partye en dit is myns insiens voordelig vir veral minderhede omdat dit bedinging, kompromieë en uiteindelike konsensus in die hand werk.
Dit gee tewens uiteraard aanleiding tot allerlei uitdagings waarvoor ons nie blind moet wees nie. Sonder om afbreuk aan die belangrikheid van hierdie (of trouens enige) verkiesing te doen, moet ons realisties wees oor die werklikhede en nie té opgewonde raak nie. Dit is boonop nie als die kiesstelsel se skuld nie en heelwat hiervan kan aan blote kiesersgedrag toegeskryf word.
Verandering gaan stadig wees – indien dit wel gebeur
Die feit bly staan dat meeste munisipaliteite in die noorde, ooste en sentrale dele van die land (oftewel die meeste in die land) na afloop van die verkiesing steeds treurig daarna gaan uitsien. Hetsy deur koalisies of alleenheerskappy deur die MK-party of die ANC, gaan hul erbarmlike toestand voortduur of selfs versleg. Peilings is meestal gefokus op die groot metro-pryse en landwye steun, maar dit wys nie juis hoe partye se nasionale steun na seges op veral die platteland en sekondêre stede sal lei nie. Selfs in die metro’s is dit tans nie seker hoe dinge (veral met betrekking tot koalisies) sal uitdraai nie, maar die kans is goed dat die tanende ANC steeds 'n vername faktor sal bly en die status quo gehandhaaf word – nieteenstaande die DA se groei.
Neem Stad Johannesburg as voorbeeld. Die DA se steun word in die laat 30's geraam en die ANC s’n in die middel-20's. MK, Action SA, die EFF, VF+ en die PA maak die res van die steun uit en die res is weglaatbaar klein. Terwyl die DA loshande die grootste party is, is hul beste kanse vir 'n koalisie om met die ANC saam te werk (die VF+ op sowat 2% sal nie 'n betekenisvolle faktor in Johannesburg wees nie). Die ANC het juis aangedui hulle sal uit Luthuli-huis besluit oor koalisies en dit nie aan plaaslike faksies oorlaat nie. Met ander woorde, hulle wil die RNE-samestelling straks nadoen.
Die probleem is dat dit juis die ANC is wat, weliswaar met die hulp van kleiner partye, die Goudstad in 'n onwelriekende en wanhopige vullishoop verander het. Hulle gaan in die scenario van 'n ANC/DA-koalisie steeds oor politieke en heelwat residuele administratiewe mag beskik. Die alternatief vir die ANC is om saam met die kleiner partye 'n koalisie te vorm, wat trouens tans die geval is. Als hang af van wat MK gaan besluit.
Die ANC as een van die groot partye het derhalwe koalisie-keuses waaroor die DA nie beskik nie, maar onder Cyril Ramaphosa (en te danke aan MK) is hul politieke ruimte ook beperk. Dit is wel die laaste verkiesing onder Ramaphosa se leierskap en die nasionale leiers kan op die kort termyn sekere keuses sonder gevolge plaaslik afdwing. My raaiskoot is dat verandering ten beste stadig in Johannesburg (en ander metro’s en plaaslike munisipaliteite) gaan wees in die geval van moontlike ANC/DA-koalisies, wat seker beter is as die agteruitgang en disfunksie van die alternatief.
Ofskoon koalisies 'n werklikheid is op menigte vlakke van regering in Suid-Afrika en by uitstek in munisipaliteite, is dit myns insiens nie 'n gewenste verskynsel as dit nie tot beter uitkomste lei nie. In plekke so uiteenlopend soos Tshwane, Johannesburg, Theewaterskloof en Knysna het dit allermins die omstandighede verbeter – soos die jongste waterkrisis in die hoofstad getuig – en selfs onstabiliteit in die hand gewerk. Dan is daar ook die kwessie van toekomstige wysigings aan die politieke samestelling van ’n raad en ampsdraers. Maak vas die gordels!
Die waarde van waardes
Daar is tans 'n debat (geveg?) aan die gang oor die siel van die VF+. Dit is onteenseglik dat die VF+, wat oorspronklik vir die uitsluitlike doel van Afrikaner-selfbeskikking en as 't ware die najaag van 'n volkstaat gestig is, vandag in gedrag, uitsprake en samestelling veel anders lyk. Dit het in wese verander van 'n identiteitsparty na 'n party wat rondom konserwatiewe waardes gesentreer is terwyl dit steeds op papier selfbeskikking van die Afrikaner, tesame met ander minderhede, ondersteun. Elke kieser moet maar self besluit of hulle daarmee saamstem of nie.
Geen party kan sonder goeie waardes goed regeer nie. Maar die VF+ se waardes is nie slegs hul eie nie. Die rede hoekom hulle en die DA grootliks mekaar se beste vennote maak, is juis omdat hulle kernwaardes deel. Dit sluit in federalisme, desentralisering, respek vir diversiteit, vryheid, bemagtiging van gemeenskappe, 'n markekonomie en, ja, gesinswaardes. Die enigste werklike verskil is die uitdruklike klem op minderhede en Christenskap by die VF+ – iets wat ook nou onder die soeklig beland met die party se Hindoe- en Moslem-kandidate. Sogenaamde konserwatiewe sosiale waardes word dus deur beide partye ook gedeel. Soos onder meer op die DA se webwerf aangevoer word:
“A successful nation must have strong family structures, no matter how they are constituted, because no government can replace the role of family.”
Die VF+ se kiesers, ondersteuners en verteenwoordigers braak tans gal (waarvan baie opsluit nie op 'n Christelike manier gedoen word nie) op sosiale media oor hoe moreel bankrot die liberale DA is en dat die VF+ die beter konserwatiewe opsie is. Waardes is egter duidelik plooibaar in die praktyk en dit staan soos 'n ongemaklike paal bo water dat die VF+ as 'n klein party uiteindelik slegs met die DA sinvolle koalisies kan vorm omdat hulle waarde-gewys ooreenstem. In menigte munisipaliteite sal hul gesamentlike steun buitendien nie die uitslag swaai nie. Wat sal die VF+ as 'n koalisievennoot (bepaald in 'n munisipaliteit) anders en realisties kan afdwing wat nie reeds deur die DA toegepas word nie? Dit is ook vreemd en ironies hoe sogenaamde konserwatiewe kiesers in veral die noorde so puriteins is wat keuses tussen die VF+ en DA tydens verkiesings betref, maar uiteindelik met ANC-verval tussen verkiesings moet saamleef.
Die peilingskenner Bobby Duffy skryf onder meer in sy prikkelende boek The Perils of Perception: Why We’re Wrong About Nearly Everything dat mense veel meer waarde aan leesbegrip as syfervaardighede heg. Dit is dikwels waar wanpersepsies ontstaan. As jy 'n party met ongeveer 3% (volgens verskeie peilings en met 'n effense foutspeling) van die steun is en meeste daarvan op slegs enkele plekke swaar gekonsentreer is, gaan jy moeilik jou skynbaar idiosinkratiese waardes kan afdwing op partye met veel groter steun en op wie jy alleenlik moet staatmaak om enige kans te hê om iewers te kan (saam) regeer. Ongeag wat hul leiers skryf en sê. Die DA met 'n geraamde 25–30% steun gaan uiteraard ook die VF+ in sekere rade nodig hê, maar hulle is gemaklik om saam met die VF+ te werk en het klaarblyklik nie 'n behoefte om hulself van die VF+ wat waardes betref, te onderskei nie. Hulle steun grootliks op hul diensleweringsrekord en hulle weet wie hulle is.
Ekonomiese onweer
Die ander probleem is geldelik en fiskaal. Munisipaliteite se sukses hang tot 'n groot mate af van die nasionale ekonomie en hul belastingbetalerbasis. Die tesourie raam dat die land se groei vanjaar 1,2% kan haal. Dit is slegs 0,1% beter as in 2025 en dit kan selfs nie uiteindelik soveel wees nie, terwyl inflasie versnel het weens die Iran-oorlog. Werkloosheid het weer die hoogste vlak in jare bereik.
Dit beteken belastingbetalers en besighede gaan aanhou sukkel, groei gaan gedemp bly en dus ook munisipale belastings en werkskepping. Munisipaliteite sal minder geld aan vervalle infrastruktuur en dienslewering kan bestee. Beleid om die trajek van die nasionale ekonomie te verbeter sal eers in 2029 aan die bod kom en dit lyk na 'n pad vol globale en binnelandse hobbels en stampe tot daar. Dus sal die fiskale ruimte van meeste munisipaliteite uiters beperk wees om grootskaalse verbeteringe te bewerkstellig. Vele munisipaliteite verbeur ook belastingbetalende inwoners deur semigrasie en emigrasie. Munisipale verval is juis een van die vername redes hiervoor. Hierdie verskynsel gaan nie eensklaps verdwyn nie – inteendeel – en plaas hul finansies onder verdere druk.
In weerwil hiervan glo ek stem het inderdaad waarde. Ek gaan stem want vir die eerste keer in my lewe is ek, ondanks begryplike onvolmaaktheid, tevrede met die munisipaliteit waarin ek woon. Ek wil dit so hou en nie kanse waag met koalisies nie. Ek het juis die voordeel om dit te vergelyk met ander waar ek al gewoon of net besoek het en waar ek met uiterse disfunksie moes saamleef of aanskou. Jou munisipaliteit verdien goeie bestuur of ten minste opposisie, maar verwagtinge moet ook getemper word oor wat op en ná 4 November kan gebeur.
Dr. Brink is ’n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.

Nog artikels deur Eugene Brink:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






