
Plaaslike verkiesings is in talle opsigte waarskynlik belangriker as algemene verkiesings. Swak besluite oor buitelandse betrekkinge kan jou weliswaar seermaak, maar afwesige vullisverwydering en swak paaie is 'n groot bron van ongerief en straks selfs van bykomende persoonlike uitgawes.
Tog is die kiesersopkoms in veral munisipale verkiesings telkens teleurstellend laag. Miskien is dit beter dat mense eerder wegbly as om – ja, ek sal dit sê – vir die verkeerde partye te stem.
Om te stem sal in baie munisipaliteite seker nie tans die uitslag swaai nie. Deur middel van 'n koalisie of alleenheerskappy, sal die wanregering voortduur in vele landelike en metropolitaanse munisipaliteite. Selfs 'n klein opposisie is nogtans 'n effense bolwerk teen totale dwingelandy en verval, en wie weet wat in die toekoms kan gebeur? Dit is egter ook 'n voldonge feit dat die ANC deur wegblystemme en 'n bespeurbare swewende stem besig is om 'n kreeftegang te beleef. Die politiek in baie munisipaliteite is dus meer vloeibaar en oop vir verandering. Of dit goeie of slegte verandering is, moet nog bepaal word.
Dit is om hierdie rede dat ek, op die keper beskou, teleurgesteld is met die blootstelling, ontleding, moeite en aandag wat hierdie verkiesing geniet. En eintlik wat verkiesings in die algemeen betref. En dan word daar gewonder hoekom mense nie wil stem nie.
So, wat’s nuus? Nie veel nie
Uiteraard is daar selfs tydens verkiesingstyd ook ander nuuswaardige gebeure. Nasionale en internasionale gebeurtenisse moet ook aandag geniet. Dit wil vir my voorkom asof behoorlike verslaggewing en ondersoeke oor plaaslike kwessies aan die agterspeen suig. Veral misdaad kry steeds voorkeur bo die ontleding van die situasie in 'n wye reeks munisipaliteite en, meer belangrik, hóé hulle reggeruk gaan word deur mense wat hulself verkiesbaar stel.
Waar is die onderhoude met die kandidate?
Waar is die ontleding van hul prioriteite en middele om paal en perk aan uitgawes te stel?
Hoe gaan hulle nuwe inkomste en werkgeleenthede vir hul munisipaliteite verseker deur nuwe beleggings te lok?
Hoe onderskei hulle hulself? Wat het hulle al reggekry?
Ek beskou myself as taamlik ingelig en raadpleeg uiteenlopende nuusbronne, maar ek sien nie veel inhoud hieroor nie. Daar is heelparty gesaghebbende en interessante peilings oor moontlike uitslae, maar dit vertel ons bloot wat gaan gebeur en nie hoe om beter keuses te maak nie. Misdaad en veral moord is opsluit belangrik, maar vir ons wat nog lewe moet dit tog belangrik wees wie oor ons regeer en wat hulle van plan is om te doen oor die volgende vyf jaar? Staatsverval dra ook 'n buitensporige koste en verongeluk lewens, al geskied dit nie op só 'n sensasionele wyse nie.
Behalwe vir wat partye beplan, weet kiesers veelal te min van die kiesproses self af. Baie van hulle weet nie hoe rade ingevolge die stemproses saamgestel word nie. Of dat wyksraadslede met 'n pluraliteit verkies word, en nie met 'n absolute meerderheid nie. Die risiko’s en geleenthede daaraan verbonde om jou stem in sulke situasies te gebruik, word nie verreken nie.
Benewens uitermate misdaaddekking, handel stories, besprekings, plasings en meningstukke in verskeie media grootliks oor buitelandse verkiesings, motorongelukke, Amerika se twis met die Suid-Afrikaanse regering (iets wat so vroeg as volgende jaar nie meer van belang sal wees nie) en die nimmereindigende Madlanga-sage. Toegegee, daar is nog heelwat beriggewing en besprekings oor korrupsie en staatsverval, maar te veel daarvan handel oor nasionale en provinsiale staatsdepartemente – iets wat nie nou op die spel is nie. Uiteraard is daar uitsonderings (veral in die Engelse media), maar in die algemeen is die dekking en ontleding ontoereikend.
Te veel mense in hierdie land verstaan nie eens wat op die spel is in 'n plaaslike verkiesing en wat munisipale bestuur behels nie. En dit word boonop ook nie duidelik aan hulle gemaak nie. Wat is die diensleweringsveranderlikes waarvoor gestem word, en nié gestem word nie, op 4 November? Verskillende soorte verkiesings loop derhalwe die gevaar om onrealistiese verwagtinge te skep. Mense betoog byvoorbeeld oor behuisings- en veiligheidskwessies terwyl dit nie werklik ter sake in plaaslike regering is nie.
Die partye kan tewens nie van blaam onthef word nie. Plakkate is natuurlik 'n betroubare manier om sigbaarheid te handhaaf, maar dit sê nie veel oor die wese van 'n party of moontlike koalisievorming na afloop van 'n verkiesing nie. Daar is die terloopse berig wat meer verduidelik, maar dis bra yl gesaai.
Te veel besieling en voorspraak vir verandering deur middel van newelagtige one-liners, maar te min besonderhede oor hoe dit gaan gebeur. En op sosiale media is dit verdere kieskeurige bemarking wat nie die volle prentjie skets nie.
Ek moet byvoeg: Kleiner partye kan daarmee wegkom om slegs besielend, strydlustig en hiperbolies te wees want hulle sal buitendien nooit uitvoer aan hul beloftes hoef te gee nie – altans nie volledig nie – en dit oorvleuel meestal met die groter partye s’n waarmee hulle in koalisies tree. Ek dink hier aan 'n ActionSA-plakkaat wat ek in Gauteng gesien het as 'n gepaste voorbeeld: “Gatvol? Let us fix it.” As 'n koalisie swak regeer, kan die kleiner partye slegs vinger wys na die grotes en vir meer steun in die toekoms pleit. Nie dat daar niks is om te kritiseer nie, maar hulle kan hulle ook grootliks om hierdie rede bloot verlaat op skynheilige aanvalle en vitterigheid jeens die groter partye. En as dit goed gaan, het sukses baie vriende.
Natuurlik is daar die manifeste. Ek het al 'n paar manifeste gelees, maar meeste mense gaan nie. Nie eens van die partye vir wie hulle oorweeg te stem nie. Munisipaliteite is ook nie almal dieselfde nie en kiesers wil weet hoe partye hulself in verskillende munisipaliteite gaan onderskei. Dade spreek ook harder as woorde: Die ANC het 'n manifes van 65 bladsye uitgereik, maar weet nog nie eens wie hul burgemeesterskandidate vir prominente munisipaliteite is nie. Daar is ten minste duidelikheid in die onduidelikheid!
Vlees-en-bloed-politiek
Mense wil ook gekontak word en iemand in lewende lywe sien, gesels, vrae stel of net luister na hul planne. Dit behoort partye se spoorslag te wees, maar ek het nie veel daarvan beleef of andersins gesien nie. Hoekom hou partye nie openbare vergaderings in hul wyke en munisipaliteite nie? Ek weet nie eers wie is my moontlike wyksraadslede nie.
Die enigste uitsondering is straks die DA. Dis nie dat ek hulle voortrek nie, maar dis 'n blote feit dat hulle meer moeite as die res doen om steun te werf al is hulle ook ver van volmaak. Hulle verdien ook 'n pluimpie vir hul eenvoudige en duidelike boodskap om 'n plek “te laat werk” of “aanhou werk”. Hulle beloof nie wonderwerke of vae aspirasies wat uit voeling met die werklikheid is nie, maar laat jou ook nie net wonder wat hulle bedoel nie.
Ek het ten minste 'n paar boodskappe van hulle ontvang en is een keer selfs gebel. Dis al persoonlike kommunikasie wat ek van enige party ontvang het en my vriende en kennisse kan van dieselfde getuig. Op verskeie plekke in die Wes-Kaap en Gauteng oortref hulle alle partye wat sigbaarheid betref. Geordin Hill-Lewis doen moeite om verskeie plekke te besoek en sy party se visie en strategie daar en in die media te deel. Helen Zille wek opspraak op sosiale media. In dele van Johannesburg waar ek onlangs was, is die EFF ook veel meer prominent as hul gewone mededingers in daardie wyke, vernaam die ANC.
Ek het nog nie besluit vir wie ek gaan stem nie, al weet ek vir wie ek nié gaan stem nie. Dus is ek nog oop vir oortuiging indien iemand nog moeite wil doen om my te oorreed.
Enklawes en hul beperkinge
Daar is 'n toenemende neiging om enklawes en burgerlike aksies as 'n volledige plaasvervanger vir die staat en partypolitiek te sien. Ofskoon dit 'n antwoord bied, is dit myns insiens nie 'n omvattende oplossing nie. Funksioneel maak dit natuurlik sin en bied dit 'n vorm van staatsbestandheid, maar uiteindelik is almal nietemin aan die staat se belastings en regulasies uitgelewer.
Almal kan of wil nie in enklawes bly nie en burgerlike groeperinge het nie die mandaat of vermoë om die staat se rol oor te neem nie – veral wat duur kapitaalprojekte en infrastruktuur betref. En wat buite enklawes se hoë mure en statige ingange aangaan, gaan uiteindelik 'n impak op hulle hê. Dink maar aan ruimtelike ontwikkeling, munisipale belasting en heffings, misdaad en die toestand van die omgewing.
Dit is daarom naïef en onverantwoordelik om geheel en al van die politieke proses te onttrek bloot omdat sulke alternatiewe bestaan. Eerstens is dit immers jou reg om jou munisipale raad te kan kies, en dit is die maklikste reg om uit te oefen. Tweedens kan burgerlike optrede, hoe onontbeerlik ook al, nie heeltemal die rol van die staat vervang nie. Beter regering maak dit immers makliker vir burgerlike rolspelers om te doen wat hulle kan deur basiese maar soms duur take voldoende te verrig en ook vennootskappe met die burgerlike samelewing aan te knoop. As die burgerlike samelewing als self kon doen, sou daar op stuk van sake nou niks wees om te bespreek nie.
Die oplossing lê nie in die een of die ander faktor nie. Die staat is 'n onvermydelike werklikheid wat nie weggewens kan word nie. Toenemend kan dit wel verander word maar daar moet ook aanvaar word dat volmaaktheid van regering nie bestaan nie. Afruilings en moeilike keuses gaan enige munisipale bestuur beskore wees. Ons as burgers moet daarom streef na optimale uitkomste in elke maklike en moeilike plig: Deur af en toe wel te stem, maar ook deurgaans betrokke en innoverend te wees terwyl ons waaksaamheid jeens enige magshebbers te beoefen. Wees altyd ingelig en krities terwyl jy dit doen.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.

Nog artikels deur Eugene Brink:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






