




'n Veldbrand wat onlangs op die Voortrekkermonument-terrein gewoed het, het die broosheid van Suid-Afrika se historiese erfenisbakens opnuut in die kollig geplaas en die groot verantwoordelikheid beklemtoon wat dit verg om die Afrikaner se erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.
Wat aanvanklik as 'n laerisiko-voorval beskou is, het weens uiters droë veldtoestande, skielike veranderings in windrigting en windsnelhede van tot 24 km/h vinnig in 'n krisis ontaard. Hoewel Kultuurtuiste-personeel met brandbestrydingsopleiding onmiddellik gemobiliseer is, het die werklike omvang van die bedreiging hulle verras. Die vlamme het in 'n stadium tot teenaan De Kroonkamer, 'n spogfasiliteit met 'n grasdak, gewoed. Danksy die samewerking van die gemeenskap en die vinnige ingryping van verskeie brandbestrydingsdienste en vrywilligers kon 'n groot ramp afgeweer word. Daar is tot diep in die vroeë oggendure gespook om die brand onder beheer te bring.
Wonder bo wonder is geen geboue of onvervangbare erfenisskatte beskadig nie. Die brand het egter groot skade aan die terrein se krag- en waterinfrastruktuur aangerig. Hierdie voorval – die eerste soortgelyke brand sedert Oktober 2023 – het gewys hoe vinnig 'n risikoprofiel kan verander wanneer die elemente draai.
Hoewel 'n versekeringseis ingedien is, sal die uitbetaling daarvan nie voldoende wees om die nodige opgraderings aan brandbeheer- en brandbestrydingsstelsels te finansier nie. Die voorval het opnuut die Voortrekkermonument se finansiële uitdagings blootgelê en die dringende behoefte aan gemeenskapsondersteuning beklemtoon. Vir die Kultuurtuiste, wat die Voortrekkermonument, FAK, die Erfenisstigting, die Bloedrivier-erfenisterrein en Udolpho-Rivierplaas insluit, is dit 'n werklikheid wat daagliks die hoof gebied moet word.
Nasionale baken deur selfdoen in stand gehou
Die Voortrekkermonument is veel meer as 'n indrukwekkende argitektoniese landmerk. Dit is 'n amptelike graad 1-erfenisterrein kragtens die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999). Hierdie wet plaas 'n duidelike verantwoordelikheid op owerhede om nasionale erfenisbates van uitsonderlike waarde vir die nageslag te bewaar en te bevorder. Die Monument bewaar die herinnering aan een van die belangrikste tydperke in Suid-Afrika se geskiedenis – die Groot Trek.
Tog word die Voortrekkermonument, ten spyte van sy statutêre status, slegs deur die harte en hande van die gemeenskap en toeriste gedra, sonder 'n sent staatsteun. Dit plaas 'n enorme verantwoordelikheid op 'n instelling wat nie bloot 'n toeriste-aantreklikheid bestuur nie, maar ook 'n historiese terrein, 'n natuurreservaat, 'n museum, biblioteek, argief, opvoedkundige programme en verskeie gemeenskapsaktiwiteite moet onderhou.
Hierdie situasie staan in skerp kontras met dié van Vryheidspark, wat reg oorkant die pad geleë is. As openbare instelling ontvang Vryheidspark jaarliks etlike miljoene rand in staatsfinansiering deur begrotingstoewysings van die departement van sport, kuns en kultuur.
Die krag van die gemeenskap
Sonder staatshulp steun die Voortrekkermonument swaar op toerisme-inkomste en die getroue ondersteuning van gewone Afrikanerfamilies. Dit is die maandelikse bydraes van R50 en R100 van “Vriende van die Monument” wat help om die wiele aan die rol te hou.
Hierdie getroue bydraes stel die Kultuurtuiste in staat om basiese instandhouding van die Monument, infrastruktuur en natuurreservaat te behartig, salarisse te betaal, sekuriteit te handhaaf en historiese argiewe, museums en kunswerke te beveilig en te konserveer.
Suid-Afrika se uitdagende ekonomiese klimaat plaas egter ook hierdie vrywillige ondersteuning onder druk. Namate huishoudelike begrotings krimp en lewenskoste deur die dak skiet, daal die Monument se inkomste, wat die instelling noodsaak om belangrike instandhoudings- en bewaringsprojekte uit te stel.
Makro-ekonomiese en geopolitieke druk op toerisme
Histories het die Monument 'n groot aantal internasionale besoekers gelok. Die afgelope paar jaar het toeristegetalle egter onder druk gekom weens twee hoofredes.
Eerstens veroorsaak die persepsie van hoë misdaadvlakke in Gauteng dat oorsese toeriste, veral uit Europa en die VSA, die provinsie dikwels vermy. In plaas daarvan verkies baie om hul tyd in die Wes-Kaap (Kaapstad en die Wynlande) of in die Krugerwildtuin deur te bring, waar die persepsie van veiligheid sterker is.
Tweedens het die voortslepende geopolitieke konflik in die Midde-Ooste gelei tot wisselvalligheid in internasionale brandstofpryse en lugdienstariewe. Die stygende koste van internasionale vlugte maak langafstandreise na Suid-Afrika minder bekostigbaar vir baie gesinne, wat weer 'n direkte impak op besoekersgetalle het. Desondanks ontvang die Monument steeds nagenoeg 75 000 besoekers per jaar van reg oor die wêreld.
Infrastruktuur en veiligheid
Die Monument is binne 'n digbegroeide natuurreservaat met 'n grenslyn van sowat 7 km geleë. Die beveiliging daarvan verg aansienlike hulpbronne. 'n Elektronies gemoniteerde grensheining sal die druk op sekuriteitspersoneel verlig, veiligheidsrisiko's verminder en die instelling se reputasie as 'n veilige en gesinsvriendelike toeristebestemming versterk.
Ten einde elektrisiteitkoste te bespaar, het die Monument 'n sonkragfasiliteit van R8 miljoen opgerig. Die projek is egter gefinansier en die terugbetaling daarvan plaas verdere druk op die organisasie se finansies. Verder word miljoene rande benodig vir dringende herstelwerk aan die Monument se dakstruktuur om ernstige waterlekkasies te voorkom. Dis nie luukse uitgawes nie, maar noodsaaklike beleggings om die terrein se infrastruktuur te beskerm, die besoekerservaring te verbeter en die Monument se voortbestaan te verseker.
Die nood van 'n susterinstelling
Die finansiële druk is nie tot Pretoria beperk nie. Die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal, wat ook deur die Kultuurtuiste bestuur word, ervaar soortgelyke uitdagings. Waar die staat voorheen 'n jaarlikse subsidie van nagenoeg R400 000 verskaf het, is hierdie ondersteuning intussen gestaak. Vandag sukkel Bloedrivier om finansieel volhoubaar te bly.
Die onderhoud van die 64 bronswaens, die museum, besoekersgeriewe soos 'n gastehuis en die terrein plaas toenemende druk op die bestuur. Die terrein het boonop in Augustus onder brandstigting deurgeloop wat infrastruktuur beskadig het.
'n Bruisende hart vir gesinne, gemeenskap
Nieteenstaande hierdie uitdagings verrig die personeel van die Kultuurtuiste merkwaardige werk om die instelling volhoubaar te ontwikkel. In 2021 is 'n dinamiese strategie van stapel gestuur om die Voortrekkermonument-terrein te ontwikkel tot 'n lewendige Kultuurtuiste én moderne ontspanningsbestemming waar Afrikaners en ander besoekers hul kultuur kan beleef en die natuur kan geniet.
Die 341 hektaar-reservaat bied vandag goed versorgde bergfietsroetes vir beginners en ervare ryers, asook draf- en staproetes wat deur die inheemse bosveld en verby historiese bakens kronkel. Die weeklikse Parkrun lok ook honderde fiksheidsgeesdriftiges Saterdae na die terrein. Besoekers kan ook wild soos swartwildebeeste, rooibokke, blesbokke en sebras in die hart van die stad besigtig.
Vir gesinne met kinders bied die plaaswerf 'n besondere ervaring waar jong besoekers kan perdry en mak diere voer en vertroetel. Die Skool op Wiele-restaurant bied 'n unieke eetervaring met 'n nostalgiese skooltema, terwyl die Boeremark, wat op die laaste Saterdag van elke maand plaasvind, vars produkte, handwerk en tradisionele boerekos aan besoekers bied.
Die Kultuurtuiste bevorder die Afrikaner se kultuur deur geleenthede soos die Mampoerfees, Erfenisdagvieringe en Geloftedag. Die verskeidenheid fasiliteite, waaronder Fort Schanskop-amfiteater, verskeie lapas, die Kruger-galery, Voortrekkersaal, 'n pragtige kapel, die FAK-Liedjietuin en De Kroonkamer, maak dit ook 'n ideale bestemming vir enigiets van intieme funksies tot groot feeste en kongresse.
Die Toekomsbou Museumteater benut oudiovisuele tegnologie en akteurs om geskiedenis op 'n boeiende en toeganklike wyse aan besoekers oor te dra, terwyl die eerste Afrikaanse Ontsnapkamer vir heerlike spanpret en kopkrap sorg.
Onder die Senotaafsaal vertel die Vrijheidsreis-museum die verhaal van die Groot Trek en die Voortrekkermonument aan die hand van oorspronklike geskiedkundige voorwerpe. Besoekers kan onder meer die bebloede broek sien wat Sarel Cilliers tydens Vegkop gedra het, die tafel waar Dingaan en Piet Retief onderhandel het, en die kleimakette wat as grondslag vir die beroemde fries gedien het.
'n Oproep tot die gemeenskap
Die Voortrekkermonument is nie net 'n klipmonument uit die verlede nie. Dit is 'n lewende ruimte waar 'n gemeenskap sy identiteit vier, sy geskiedenis bewaar en aan sy toekoms bou. Die onlangse brand by die Monument het gewys hoe kwesbaar hierdie baken kan wees, maar ook wat moontlik is wanneer mense hul kragte saamsnoer.
Sonder staatsondersteuning rus die verantwoordelikheid om hierdie Monument vir toekomstige geslagte te bewaar grootliks op die skouers van die gemeenskap self. Die Kultuurtuiste bedank elke vriend, borg en donateur wat help om hierdie erfenisbaken in stand te hou.
Alle Afrikaners, gesinne en vriende vir wie die toekoms van ons erfenis belangrik is, word uitgenooi om die Voortrekkermonument te besoek, die natuur te geniet, die plaaswerf te ervaar, die geskiedenis te ontdek en deel te word van 'n gemeenskap wat aktief aan die toekoms bou.
Word vandag nog 'n Vriend van die Monument deur 'n maandelikse bydrae te maak. Deur die Kultuurtuiste te ondersteun, help ons om te verseker dat hierdie trotse erfenisbaken nie net behoue bly nie, maar ook vir geslagte kan groei en floreer.
Besoek vtm.org.za vir meer inligting.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






