VSA op 250 jaar: Terug na die Wortels
Die VSA se grondbeginsels bied die weg na nuwe nasionale eenheid.
Die akteur Will Rogers het meer as 'n eeu gelede gesê dat die probleem in Amerika nie soseer is wat mense nie weet nie, maar dat baie Amerikaners dink hulle weet dinge wat eenvoudig nie waar is nie. Hierdie waarneming bly vandag nog relevant vir beide die positiewe en negatiewe persepsies wat Amerikaners self het, sowel as buitestanders, van die magtigste land op aarde, 250 jaar ná sy onafhanklikwording van die Britse Ryk.
'n Breë en gesonde begrip van die eie geskiedenis is noodsaaklik vir enige nasie om kontinuïteit tussen die verlede, hede en toekoms te handhaaf. Vir Amerikaners om met selfvertroue oor die toekoms te dink, sal hul begrip van die VSA se geskiedenis eers herstel moet word. Hierdie herstel is presies waarna verskeie figure in die huidige Trump-administrasie streef, en die vraag na wat die Amerikaanse geskiedenis werklik verteenwoordig, staan sentraal in die manier waarop die land die 250ste herdenking van onafhanklikheid moet benader.
Sommige Amerikaners koester 'n oordrewe beeld van nasionale grootsheid, maar die groter probleem vandag is die omvangryke propaganda wat, veral die afgelope eeu en sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, Amerikaanse geskiedenis met wanpersepsies besmet het. Dit sluit in verdraaide voorstellings van die vestiging van die eerste kolonies aan die ooskus, die beginsels waarop vroeë regeringsvorming geskoei was, en drogbeelde oor kulturele diversiteit, godsdiensvryheid en ander beginsels wat Amerikaners deur die eeue gebind het en wat noodsaaklik was vir die land se opkoms tot supermoondheid.
Die Engelse Puriteinse setlaars wat hulle in die eerste helfte van die 17de eeu in Massachusetts Bay gevestig het, of die immigrante uit Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland wat later in Virginia en Delaware gevestig het, was nie rassiste in die moderne sin van die woord nie. Net so is die idee dat die VSA vanaf sy vroegste vestigingsmomente kulturele diversiteit versinnebeeld het, onakkuraat. Vir minstens die eerste 150 jaar van sy bestaan was die VSA 'n relatief homogene wit, Protestantse samelewing.
Binne hierdie raamwerk kon 'n breë meerderheid oor belangrike ideologiese kwessies rakende regering, ekonomie en kultuur ooreenkomste bereik. Persoonlike vryheid, 'n vrye ekonomie met beperkte belasting en regulasies, die vermoë om eie belange, ook militêr, te verdedig, sowel as 'n gesonde magsbalans tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag (en tussen die federale regering en die deelstate) het deel uitgemaak van hierdie breë konsensus.
Die Amerikaanse Burgeroorlog word dikwels as die eerste groot teenargument aangehaal, aangesien dit diepgaande verskille oor slawerny en die regte van deelstate ontbloot het. Hierdie spanninge was egter reeds in die 1770’s teenwoordig. Die kwessie van die omvang van deelstaatregte en die diepte van Amerikaanse federalisme het nog altyd 'n breuklyn in die land gevorm.
Nietemin het 'n groot meerderheid van die Amerikaanse bevolking oor die afgelope 250 jaar konsekwent geglo in uitgebreide regte vir deelstate en plaaslike regerings. Anders as in baie ander lande was 'n sterk sentrale regering waarin die meeste mag gekonsentreer is, nog altyd 'n minderheidstandpunt in die VSA gewees.
Dieselfde geld vir ekonomiese beleid en persoonlike vryhede. Alhoewel steun wissel na gelang van ideologiese, politieke, godsdienstige en kulturele faktore, en alhoewel streeks- en stedelik-plattelandse skeidslyne in onlangse jare verskerp het, was en bly 'n meerderheid van Amerikaners deur die geskiedenis ten gunste van 'n meer vrye ekonomie en groter persoonlike vryheid.
Alle burgers het nog nooit oor alles saamgestem nie, maar 'n wisselende meerderheid het vanaf die staanspoor oor die belangrikste oorhoofse beginsels, in hul mees basiese vorm, ooreengekom. Die toekoms van die VSA sal in groot mate afhang van die vermoë om hierdie noodsaaklike meerderheidkonsensusse te handhaaf en te versterk.
'n Land met of sonder 'n eie geskiedenis?
Die werklike beginsels waarop die Verenigde State gebou is, is oor die afgelope dekades dikwels afgetakel deur waninterpretasies van wat vryheid, selfregering en burgerlike verantwoordelikhede histories behels het. Selfs groter as hierdie waninterpretasies is egter die beeld wat by baie Amerikaners ingeskerp is, naamlik dat die VSA eintlik 'n geskiedenislose land is of 'n land met 'n korrupte, rassistiese en dus verwerplike geskiedenis.
Die motormagnaat Henry Ford het reeds in 1916 gesê: “History is more or less bunk. It’s tradition. We don’t want tradition. We want to live in the present and the only history that is worth a tinker’s dam is the history we make today.” Hierdie siening is diep gewortel in 'n Amerikaanse denkstroom wat sedert 1776 veronderstel het dat Amerikaanse grootsheid juis moontlik gemaak is deur 'n breuk met historiese praktyke wat innovasie en individuele vryheid beperk het.
Radikale individualisme, ware republikanisme, selfregering en gemeenskapsoutonomie het by baie Amerikaners oor generasies die beeld geskep van 'n volk wat 'n skoon breuk met die verlede gemaak het. Thomas Jefferson het in die Onafhanklikheidsverklaring verwys na “a long train of abuses and usurpations” – die kumulatiewe frustrasie van die dertien kolonies met die Britse Ryk ná die Seëlwet van 1765, die belasting op tee wat tot die Boston Teeparty gelei het, en uiteindelik die Onafhanklikheidsoorlog. Die kernprobleme met Europa was tirannie, ekonomiese monopolie en die inperking van persoonlike geleenthede en -vryheid.
Die vroeë kolonialiste wou inderdaad 'n doelbewuste breuk met die Ou Wêreld maak – met outoritêre monargieë, voortdurende oorloë en die beperking van gewone burgers se vryhede deur 'n bevoorregte klas. Dit was egter nie 'n breuk met hul Westerse erfenis nie. Die ontwikkeling van die eerste Amerikaanse stede, en veral Washington DC as hoofstad, was sterk gekoppel aan Westerse argitektuur. Die fondamente van die Amerikaanse federale staat en regeringstelsels is telkens geskoei op Protestantse beginsels, Engelse patriotisme en die Westerse filosofiese, wetlike en geestelike grondslag afkomstig uit Athene, Rome en Jerusalem.
Amerika was nog altyd 'n land wat meer op die toekoms as op die verlede gefokus was. Hierin het egter ook die grootste risiko van naïwiteit gelê. In 1807 het Thomas Jefferson die VSA as 'n skoon breuk met eeue van bloedvergieting in Europa beskryf. Die “pursuit of happiness” sou van die land 'n republikeinse voorbeeld van vrede en voorspoed maak. Die VSA het egter sy bloedige Burgeroorlog, oorloë teen inheemse volke en buurstate, en uiteindelik die wêreldoorloë en latere konflikte beleef. Ewige vrede het die land ontwyk, maar Amerikaners het voorspoed in toenemende mate ervaar. Die vraag bly of bloot 'n strewe na groter welvaart genoeg is om 'n land wat al hoe minder het wat sy mense saambind, bymekaar te hou.
Twee fases van Amerikaanse geskiedenis
Die VSA se 250-jarige geskiedenis kan breedweg in twee fases verdeel word. Die eerste was dié van 'n grootliks homogene, Protestantse, Christelike samelewing met beperkings op die federale regering, 'n nie-intervensionistiese buitelandse beleid en 'n breë konsensus oor ekonomiese vryheid. Die tweede fase was die tydperk waarin die VSA die wêreld se jongste supermoondheid geword het. Hierdie tydperk is gekenmerk deur globale intervensionisme, massa-immigrasie, toenemende diversiteit en die geleidelike verlies aan kulturele homogeniteit, 'n dominante Christelike tradisie en geloof in desentralisasie, die vrye mark en 'n gesonde magsbalans.
Die afgelope sewentien maande het ons die sterkste poging in dekades beleef om die ideeraamwerk van die eerste 125 jaar van die VSA te herstel. Tot dusver was die poging deels geslaagd, maar ook slordig en met talle terugslae. Die Trump-administrasie is oortuig daarvan dat die land na sy grondbeginsels moet terugkeer om die mededingende kragte wat dit 'n supermoondheid gemaak het, te behou en dat so 'n herstel eers in diens van die Amerikaanse bevolking self moet staan voordat dit die res van die wêreld kan bevoordeel.
Teenstanders van hierdie benadering – hoofsaaklik die Demokratiese Party, elemente binne die federale burokrasie, sekere internasionale rolspelers, nie-regeringsorganisasies, aktiviste en groot dele van die media, beskou dit egter as 'n goeie ding dat die oorspronklike Amerika sy einde bereik het. Hulle wil 'n selfbeperkende, multikulturele, post-Christelike land sien wat homself primêr tot die bevordering van globale menseregte wend.
'n Blink toekoms deur terugkeer na die wortels
Die VSA staan egter voor 'n keuse wat die toon vir die volgende 250 jaar kan bepaal. Indien die land werklik na sy wortels, naamlik die beginsels van beperkte regering, federalisme, individuele vryheid, die oppergesag van die reg, selfregering en die kulturele erfenis wat die nasie gebou het, kan terugkeer, kan dit die verdeeldheid oorkom en 'n nuwe era van eenheid en krag inlui.
Hierdie beginsels was nie net die fondament van Amerikaanse uitsonderlikheid nie, maar ook die rede waarom die land die wêreld se leidende mag kon word: 'n samelewing wat innovasie, ondernemingsgees en persoonlike verantwoordelikheid beloon het, terwyl dit ruimte gelaat het vir plaaslike outonomie en kulturele kontinuïteit.
Die 250ste verjaarsdagviering in 2026 bied 'n unieke geleentheid hiervoor. Dit kan veel meer as net vuurwerke en parades wees. Indien dit benut word as 'n oomblik van nasionale besinning, heropvoeding oor die ware geskiedenis en 'n herlewing van patriotisme onder 'n breër segment van die samelewing, kan dit die kleefmiddel word wat Amerikaners weer saambind. Patriotisme, nie as blinde nasionalisme nie, maar as 'n diepgaande trots op die grootse eksperiment van vryheid wat die VSA moontlik gemaak het, kan die verdeeldheid tussen stede en platteland, streke en generasies oorbrug. Dit kan jong mense inspireer om weer in hul land se potensiaal te glo en ekonomiese inisiatief aan te wakker.
Deur die 250ste herdenking as katalisator vir hierdie herlewing te gebruik, kan die VSA die foute van die afgelope dekades regstel sonder om sy sterkpunte prys te gee. 'n Nasie wat sy wortels erken en herbevestig, sy geskiedenis koester en aan volgende geslagte oordra en sy mense met 'n gedeelde sin van doel en trots inspireer, het die veerkragtigheid en kreatiwiteit om enige uitdaging die hoof te bied. Die VSA se beste dae lê nog voor mits die land die moed het om terug te keer na die beginsels wat tot sy supermoondheid status gelei het. Indien dit nie gebeur nie sal interne verdeeldheid tot stelselmatige selfvernietiging lei. Dit is juis wat die stigtersvaders wou voorkom.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










