Mistastings oor die Nederlandse Verkiesingsuitslag
Net 'n paar stoele verskuif aan boord van skip Nederland.
Oppervlakkige politieke ontledings het die afgelope week of wat maklik tot die gevolgtrekking gekom dat daar 'n verskuiwing na links in Nederland was, omdat die regse Partij voor de Vrijheid (PVV) 11 van sy 37 setels in verlede Woensdag se verkiesing verloor het. Inderwaarheid was daar geen sodanige verskuiwing nie.
Nederlandse kiesers het bloot die spreekwoordelike stoele op die dek van hul skip rondgeskuif. Die gevolg is 'n selfs meer versplinterde politieke landskap as ooit vantevore. Daar is 'n hele paar waninterpretasies van die Nederlandse verkiesingsuitslag wat gerus reggestel kan word. Ek bespreek graag die vyf belangrikstes.
1. “Daar was 'n verskuiwing na links”
Sentrumregse en regse partye het 89 van die 150 setels in die Tweede Kamer der Staten-Generaal, die laerhuis van die Nederlandse parlement, gewen, terwyl linkse en sentrumlinkse partye 61 setels gewen het.
Heelwat van hierdie setels is naby aan die sentrum van die politieke spektrum, maar ideologies was die verskuiwings hoofsaaklik binne die onderskeie ideologiese silo’s. Byvoorbeeld, die sentristiese tot effens sentrumregse Nieuw Sociaal Contract (NSC) het ál 20 van sy setels verloor, terwyl die soortgelyke sentrum tot sentrumregse Christen-Demokrate egter van 5 tot 18 setels gegroei het. Nog 'n sentristiese party, 50Plus, het van geen setels tot 2 gegroei.
Dit toon dus duidelik waarheen setels beweeg het. Kiesers wat gewoonlik regs stem, het weer regs gestem, kiesers wat links stem, het weer links gestem en sentristiese kiesers het dieselfde patroon gevolg.
2. “D66 se eerste plek dui tog op 'n linkse oorwinning”
D66 is 'n interessante party. Die party kan as liberaal-progressief beskou word. Dit het sterk progressiewe standpunte oor kwessies van aborsieregte tot die regte van Christelike skole. Die party se ekonomiese beleid is egter heelwat meer klassiek-liberaal, en dit is globalisties en pro-Europese Unie, maar nie links in die klassieke Europese sin van die woord nie.
D66 het van 9 tot 26 setels gegroei, terwyl GroenLinks-PvdA van 25 tot 20 setels gekrimp het. Nóg 'n progressief-liberale party, Volt, het van 2 tot slegs 1 setel gekrimp en die Sosialiste het van 5 setels tot 3 gekrimp. D66 het ook meer sentrumlinkse kiesers wat laas vir die gematigde NSC gestem het, oorgehaal. D66 is egter nie 'n verlinkse party nie, maar eerder 'n progressiewe party wat daarin kon slaag om baie stemme van linkse partye weg te lok.
3. “Die PVV se verlies van 11 setels was 'n groot regse nederlaag”
Die PVV se daling van 37 (die grootste) na 26 (gelyk met D66) setels was 'n repudiëring van dié party se onttrekking aan 'n koalisieregering. Die party se leier Geert Wilders het 'n groot fout gemaak om in Junie vanjaar aan die regse koalisieregering te onttrek.
Dit was voortydig en het hom stemme gekos. Twee ander regse partye het die setels wat die PVV verloor het, verower. Die Forum vir Demokrasie (meer regs as die PVV) het van 3 tot 7 setels gegroei en JA21 (effens minder regs as die PVV, maar met groot beleidsooreenkomste) het van 1 tot 9 setels gegroei. Dié twee regse partye het dus saam 12 setels gewen – meer as wat die PVV verloor het.
4. “D66 en die party se leier, Rob Jetten, het 'n mandaat gekry om te regeer”
In 150 jaar het die party wat eerste in 'n Nederlandse verkiesing geëindig het, nog nooit minder as 30 setels gewen nie. In meer as die helfte van verkiesings die afgelope 150 jaar het die party wat eerste geëindig het, meer as 40 setels verower.
D66 se 26 setels is dus 'n geskiedkundige laagtepunt vir die party wat eerste geëindig het. Die party het dieselfde seteltal as die PVV, slegs vier meer as die klassiek-liberale Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD), en net ses meer as die linkse GL-PvdA. D66 het slegs 17% van die stemme in verlede week se verkiesing gewen, wat beteken dat 83% van kiesers ander partye ondersteun het. Hierdie is dus geen groot oorwinning soos wat beweer word nie. Die Nederlandse politiek is meer versplinterd as ooit vantevore. Vyftien partye deel nou 150 setels in die parlement, met geen enkele twee of drie werklik groot partye nie.
5. “Nederlandse kiesers het gestem vir 'n sentrumlinkse regering”
Sentrumlinkse en linkse partye het nie 'n meerderheid van 76 setels wat nodig is om 'n regering te vorm nie. 'n Suiwer linkse regering is dus onmoontlik.
Indien kiesers 'n linkse regering wou hê, sou hulle immers 'n meerderheid van stemme aan linkse partye gegee het. Indien linkse partye en leiers wil regeer, sal hulle minstens een groter sentrumregse party, soos die Christen-Demokrate (met 18 setels een van die groot wenners van die verkiesing), in 'n koalisie moet betrek. Dit sou egter vir D66 makliker wees om 'n sentrumregse koalisie met CDA, VVD, JA21 en een klein party te vorm as 'n sentrumlinkse koalisie met GroenLinks-Partij voor de Arbeid, CDA en dan nog twee of drie kleiner partye, veral omdat die VVD reeds samewerking met GL-PvdA uitgesluit het. Gevolglik is 'n koalisieregering met meer sentrumregse as linkse partye die mees logiese uitkoms.
Wat wel waar is, is dat die volgende Nederlandse regering minder regsgesind gaan wees as die vorige een wat in Junie gesneuwel het. Daardie koalisieregering was die mees regse een in meer as 100 jaar, maar het klaaglik misluk en kiesers het al vier partye wat deel daarvan was gestraf. Die PVV het 11 setels verloor, die VVD 2, die NSC al 20 van sy setels, en die BoerBurgerBeweging het 3 van sy 7 setels afgestaan. Hierdie vier partye se kiesers was met goeie rede ontevrede met hul mislukkings en foute. Dit beteken egter nie dat hierdie kiesers vanjaar hul heil by linkse partye gaan soek het nie.
Opsommenderwys…
Die beweging na 'n meer sentristiese nuwe koalisieregering, wat sonder twyfel oor die volgende weke kan en gaan ontwikkel, is dus nie die gevolg van 'n verskuiwing onder kiesers na links nie. 'n Koalisie bestaande uit linkse en regse partye gaan egter sukkel om Nederland se reuse-uitdagings met massa-immigrasie, behuisingstekorte en 'n skerp styging in lewenskoste suksesvol aan te pak.
Die beste voorspelling is dus 'n voortsetting van die afgelope paar jare se onvermoë om noodsaaklike beleidshervormings te implementeer – 'n vooruitsig wat niks goed vir Nederland vir die afsienbare toekoms voorspel nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











