Waarom alles deesdae Fascisties is
Totale openheid is geen morele entstof teen totalitarisme nie.
Sommige van my voormalige vriende het aanlyn oor my geplaas en die droewige “feit” betreur dat “Natasha van die spoor af geraak het en 'n fascis geword het.”
Watter van my politieke standpunte het hierdie voormalige vriende laat besluit ek is 'n fascis? Dinge soos: 'n Sinvolle immigrasiebeleid is goed. Geslagsveranderings vir kinders is sleg. Die Tweede Wysiging op die Amerikaanse Grondwet, synde die reg om vuurwapens te eien en te dra, is goed. Die kerngesin is goed. Die uitkontraktering van werk na die buiteland is sleg. Wet en orde is goed. Ek weet inderdaad wat die omskrywing van fascisme is, so ek weet ook my politieke oortuigings kom nêrens naby daaraan nie. Maar ek weet ook ek is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie.
Waarom het dit dan 'n algemene, outomatiese reaksie geword om enigiemand wat van liberale dogma verskil as 'n fascis te bestempel?
Openheid of Auschwitz
Om dié vraag te beantwoord, moet ons verstaan hoe diep die Tweede Wêreldoorlog die Westerse wêreld getraumatiseer het.
Miljoene mense is dood, en miljoene meer moes met die nadraaie saamleef. Groot dele van Europa het letterlik in puin gelê — stede platgevee, ekonomieë verpletter, politieke legitimiteit uitgeput — en alles moes herbou word. Regeringsbeplanners, ekonome en intellektuele moes in praktiese terme vra hoe nasies herbou kan word op 'n manier wat 'n verdere glybaan na totalitarisme sou voorkom. “Nooit weer nie” het hul ordenende beginsel geword — maar eers moes hulle vasstel waarom soveel mense aanvanklik vir fascisme geval het. Dit het immers nie skielik en volledig gevorm, met stewels en massabyeenkomste op die koop toe, uit die niet verskyn nie — waar het dit werklik begin?
Hierdie kenners het tot die gevolgtrekking gekom dat die wortels van fascisme in denkgewoontes gesetel is wat vroeg in 'n mense se lewe gevorm word. Selfs eienskappe wat ons normaalweg as alledaags beskou, is gesien as dinge wat mense kon lei om totalitarisme te aanvaar. Eienskappe soos gehoorsaamheid aan gesagsfigure, ongemak met verskille en 'n neiging om tradisie te aanvaar. Selfs 'n sterk geloof in reg teenoor verkeerd is as gevaarlik beskou omdat dit mense leer om die wêreld in absolutes te sien. Tradisionele gesinstrukture — ouers en kinders — is nou beskou as vormingsplekke van gevaarlike hiërargie, wat kinders onkritiese gehoorsaamheid en onderwerping aan gesag leer. 'n Gemeenskap se gehegtheid aan sy geskiedenis is as verraderlik beskou omdat dit mense vatbaar maak vir uitsluitende denke.
Daar was besware.
Sommige het daarop gewys dat die maatskaplike eienskappe wat nou as moontlike draers van fascisme beskou word, lank reeds deel van die Westerse lewe was sonder om in outoritarisme uit te bars. Ander het geargumenteer dat fascisme eerder juis gesien kan word as die gevolg van die ineenstorting van tradisie. In die nasleep van die Eerste Wêreldoorlog was Duitsland verpletter deur sosiale en ekonomiese chaos, wat mense kwesbaar gelaat het vir 'n politieke beweging wat beslissende gesag en morele sekerheid aangebied het.
Maar die kenners wat die naoorlogse instellings gevorm het, het totale oorlog, volksmoord en die byna-ineenstorting van Europa beleef; hulle was getraumatiseer, en getraumatiseerde mense identifiseer dikwels oorsake verkeerd en gryp na allesomvattende oplossings. En so het dit vanselfsprekend begin lyk dat Westerse tradisies, erfenis en die gesinstruktuur broeiplekke van proto-fascisme is. Die antwoord op die vraag — hoe voorkom ons dat dit ooit weer gebeur? — was dus duidelik: Verswak enigiets wat moontlike fascistiese denke kan voortbring.
In sy boek The Return of the Strong Gods beskryf R.R. Reno die ontwikkeling van hierdie naoorlogse poging deur die denke van invloedryke figure soos Karl Popper, Friedrich Hayek en Theodor Adorno te ondersoek. Deur boeke, essays, akademiese konferensies, beleidsadvies en die vorming van kulturele instellings is hierdie idees deur die heersende klas opgeneem om die leidende imperatief van die Westerse wêreld te skep: Openheid of Auschwitz. Hierdie heroriëntering is nie in 'n geheime sameswering uitgevoer nie. Inteendeel, dit is wyd bespreek en met verligting verwelkom. Die kenners sou bepaal het hoe om die samelewing reg te stel sodat ons in voorspoed en vrede kan leef. Hierdie idees is dus bevorder in boeke, skole, universiteite en internasionale instellings, en deur die publiek omarm as 'n soort morele entstof teen 'n nuwe gevaarlike uitbraak van oorlog.
Hierdie “openheid” was bedoel om die norme van die Westerse wêreld te balanseer — om 'n gesonde klem te voeg by die bestaande liberale eienskappe om outoritêre neigings te demp. Mense kon steeds hul land liefhê — net nie té sterk nie. Hulle moes skepties wees oor gesag. Hulle moes oop wees vir ander kulture en nooit hul eie kultuur as meerderwaardig beskou nie. Watter godsdiensoortuigings hulle ook al gehad het, moes privaat bly. Westerlinge moes ruimdenkend en nie-ideologies wees.
Maar ná 'n oorlog wat soos die einde van die wêreld gevoel het, het die etos van openheid 'n verstaanbare gevoel van morele meerderwaardigheid ontwikkel. En daardie gevoel het geleidelik toenemend oortuigingskrag gekry.
Soos N.S. Lyons skryf:
“As daar aanvaar word dat die enigste opsies ‘die oop samelewing of Auschwitz’ is, dan word nulverdraagsaamheid teenoor die vermeende waardes van die geslote samelewing funksioneel ‘n morele gebod. Om enige moontlike aspek van maatskaplike opening en individuele bevryding — van sekularisering tot die seksuele revolusie en LGBTQ-regte, tot die vrye beweging van migrante — teë te staan, was om Hitler se werk te doen en die terugkeer van fascisme te waag (ongeag hoe ver verwyder die betrokke onderwerp van werklike fascisme was).”
En so het die imperatief tot openheid al hoe meer dogmaties geword.
Die media het normbreking gevier terwyl gesin, godsdiens en patriotisme as oulik maar argaïes uitgebeeld is. In onderwys het die oordrag van wysheid plek gemaak vir die fasilitering van skeptisisme. Nasionale identiteit is versag tot abstrakte waardes los van erfenis. Immigrasie het toegeneem namate multikulturalisme assimilasie vervang het.
In die politiek het openheid uitdrukking gevind in supranasionale regering en burokratiese waarborge.
In die ekonomie sou vrye markte en globalisering nasionalisme verswak.
In die sielkunde is sterk oortuigings as patologiese rigiditeit beskou en geestelike gesondheid het beteken om oopkop te wees.
In die kunste het provokatiewe ondermyning skoonheid en betekenis vervang. In gesinslewe is die kerngesin as onderdrukkend heromskryf. In geslagsrolle is vaste onderskeidings as arbitrêre beperkings beskou wat omvergewerp moet word.
Hierdie idees het versprei soos idees doen: Aansien, aansporings en nabootsing. Min mense het hierdie drukgang na openheid as 'n spesifieke ideologie beskou. So deeglik was die samelewing deurtrek met die boodskap dat “oop = goed” en “geslote = sleg” dat dit as vanselfsprekend aanvaar is. Dis nie politiek nie, dis net om ‘n goeie mens te wees!
Om vooruit te kom in regering, akademie, media en die korporatiewe wêreld het beteken om tussen mense te funksioneer wat in dieselfde wêreldbeskouing opgelei is. Só het 'n gedeelde stel idees groot dele van die Westerse wêreld begin oorheers — eenvoudig omdat dit die toegangsfooi tot status, invloed en legitimiteit was.
Die Gevare van Afwyking
Dit blyk dat die poging om elke gedeelde norm en oorgeërfde band te ontbind ten einde die wêreld in 'n geglobaliseerde winkelsentrum te herskep waar individue slegs deur verbruik verenig word, sekere nadele het.
Die oop samelewing was goed vir sommige, maar sleg vir meer.
Ekonomiese openheid het nywerhede uitgehol en stabiele werk uit hele streke weggeruk, wat inkomste-ongelykheid vererger het. Sosiale druk en 'n verswakte lewensgehalte het baie mense laat uitstel of afsien van gesinsvorming.
Massa-immigrasie het demografie vinnig verskuif, van mense vreemdelinge in hul eie dorpe gemaak, lone onderdruk en maatskaplike dienste oorlaai. Burgerlike instellings en kerke het verswak, wat minder plekke vir samehorigheid geskep het. Elite-instellings het geleer dat Westerse erfenis iets is om oor skaam te wees.
Op groot en klein maniere het die imperatief van openheid mense se lewens van betekenis, voorspoed en behoort gestroop.
Maar teenkanting word as gevaarlik beskou. Om daarop te wys dat werklike skade aangerig is, is om die Westerse konsensus te verraai. Om gehegtheid aan oorgeërfde norme te toon, is om jouself as 'n fascis uit te wys. En sodra iemand as 'n fascis gesien word, hoef sy argumente nie meer oorweeg te word nie — hulle kan summier as gevaarlik verwerp word.
'n Verslindende Logika
'n Paar jaar gelede het ek met 'n vriend gesels en iets gesê soos: “Amerika het dinge in sy verlede wat sleg was, soos alle lande, maar daar is ook baie waarop ons trots kan wees. Ons het goeie dinge vir die wêreld gedoen.”
My vriend het teruggeskrik. Hy het fisies agteroor geleun en sy hand teen sy bors geplaas. Toe sê hy geskok: “Natasha, jy klink soos… ‘n nasionalis.”
Die laaste woord het van afgryse gedrup.
En dit is waar ons vandag is, want die logika van “openheid of Auschwitz” is totaliserend. Sodra jy die uitgangspunt skep dat die enigste manier om fascisme te voorkom is om elke grens, tradisie en gedeelde norm uit te wis, skep jy 'n verslindende logika wat alles moet vernietig. Dit beweeg voortdurend linkswaarts en kan nooit stop nie. Dit kan nooit verklaar dat genoeg gedoen is nie, want dit sou impliseer dat jy te ver kan gaan — dat daar dalk te veel vooruitgang kan wees — dat sommige dinge dalk moet bly staan.
En dít sou natuurlik fascisties wees.
So het ons nou 'n wêreld geskep waar alles fascisties is, insluitend absurde onderwerpe soos fisieke fiksheid, die drink van melk, klassieke kuns, mode, fantasieliteratuur en natuurskryfwerk.
Wat as 'n goedbedoelde naoorlogse poging begin het, het 'n eie lewe aangeneem. Openheid het soos ‘n suur geword wat in die samelewing ingegooi is en elke gedeelde bron van betekenis oplos. Deur mense te stroop van wat oorgelewer is — gesin, geloof, kultuur, morele sekerheid — het dit ons geïsoleer en ironies genoeg meer vatbaar gemaak vir dwingende morele bewegings.
Vandag klou baie mense aan ‘n rigiede ideologie wat oral die spook van fascisme sien en die wêreld dogmaties in die suiweres en die verdoemdes verdeel. Dit dring aan op absolute morele kategorieë terwyl dit enige stabiele morele grondslag ontken. Dit het dus ‘n wêreld geskep waar alles 'n bedreiging is, waar meningsverskil ‘n morele mislukking is, en waar almal — vroeër of later — 'n fascis genoem word.
Dr. Natasha Burke is 'n akademikus en skrywer van die Substack getiteld The Undercurrent. Hierdie artikel is met haar vergunning vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













Wow, you can basically replace "fascism" with "racism" in many of the passages of this brilliant article, and you will get a feeling that the South African failed "Rainbow Nation" experiment is described; which also fell for a similar narrative which discredited anyone who dared to not sacrifise "family, faith, culture, moral confidence", and may I add, language, in the SA context, referring to Afrikaans education in particular, of course.