
In my hoërskool se skoollied word Florida heel gepas beskryf as “die dak van die ou Transvaal”. Gepas, want dit is inderdaad so.
As Totius Johannesburg in Trekkersweë beskryf, dan skryf hy so mooi:
Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover ‘n mens se oog kan speur;
grasheuwels waar ook riwwe gaan,
met enkele stroompies tussendeur.
Daar is geen hoë berge nie,
want hoog is daar die wêreld self;
en luggies waai daar dun en fris,
of dit stroom uit die blou gewelf.
Hoog is daar die wêreld self - so is dit inderdaad, die profeet van die Mooirivier was nie verkeerd nie. Die koppies is goed vir baie dinge: Daar is heelwat plekke waarheen jy jou meisie kan neem om skaak te speel, kaart te speel, of Uno te speel, en daar is heelwat plekke om saam met jou vriende Nesquick te drink na 'n harde eksamenvraestel. Vir al sy voordele is hierdie klipperige randjies wel 'n besonder swak plek om avokado- en mangobome te kweek.
Deur die volle swang van my kinderjare het daar by ons agterdeur klein potjies gestaan, meestal van die een of ander tropiese boom wat my pa aan die lewe probeer kry het. Die potjie-by-die-agterdeur fase was meestal suksesvol, want die temperatuur, grond, en waterinname was reguleerbaar. Sodra die arme boompie teen einde September die aarde tref, was die uitkoms meestal dieselfde: 'n Sukkelseisoen (of twee), en 'n blaarlose en vruglose bestaan, gevolg deur die onvermydelike laaste reis na die komposhoop toe.
Ek dink baie keer aan hierdie dorre tropiese boompies as ek herhaalde aanlyn- en mediapogings sien om die sogenaamde woke-ideologie in Suid-Afrika te versprei.
Weens ongereguleerde herwinning en misbruik het die woord “woke” sy betekenis of nut lankal verloor, soos ou suur koffiemoer wat oor en oor en oor gebruik word totdat niemand meer seker is wat aan die ander kant van die masjien uitkom nie. Daarom is 'n vinnige terugblik na die oorsprong daarvan nodig.
Sogenaamde wakker-wortels
Ek het die woord woke soos dit in sy huidige konteks gebruik word vir die eerste keer op 'n plakkaat op my universiteitskampus gesien, seker omtrent in 2015. Die idees daaragter was wel nooit besonder aan die ideologie van die Obama-administrasie en -era wat die toe nuutgevonde sosiale mediaruim oorspoel het nie. Woke-ideologie kan filosofies verstaan word as 'n moderne herverpakking van die kritiese teorie wat deur denkers soos Max Horkheimer, Theodor Adorno en die Frankfurt-skool ontwikkel is na afloop van die Tweede Wêreldoorlog. Die oorspronklike kritiese teoretici wou, opgesom, uitwys dat maatskaplike, ekonomiese en kulturele strukture 'n tipe sistemiese oorheersing in stand hou, selfs binne amptelik liberale samelewings. Die belangrikste invloed was Karl Marx, wie se werk nie in die era van Stalin minder omstrede was as vandag nie. Hierdie denkers het voorgestel dat ideologie en kultuur, selfs rede en wetenskap, instrumente van onderdrukking kan word eerder as van bevryding. Hul projek was nooit bloot beskrywend nie, dus, hulle wou nie net filosofie pleeg nie (lees gerus Dr Hercules Boshoff en Dr Eugene Brink se onlangse stukke hieroor), hulle wou normatief voorskryf hoe die samelewing van hierdie onderdrukking bevry kan word. In dié sin gaan die woke-verskynsel voort met die nalatenskap van die Frankfurt-skool: Dit roep mense op om bewus te word van verborge strukture van ongeregtigheid en om daarteen op te tree.
Ek verstaan onder woke ten minste vier kernonderdele:
Eerstens berus dit op die oortuiging van strukturele ongeregtigheid, naamlik dat ongelykhede nie soms toevallig is of op individuele agentskap berus nie, maar eerder stelselgebonde en geskiedkundig deurgegee. Tweedens fokus dit op mag en identiteit, en interpreteer dit die samelewing deur die kruisings tussen ras, geslag, geloof, seksualiteit en klas. Dit plaas dan morele en politieke betekenis binne hierdie verhoudings. Derdens behels dit bewustheid en aktivisme, waar morele bewussyn nie slegs die erkenning van onreg vra nie, maar ook daadwerklike betrokkenheid by die afbreek daarvan. En vierdens dra dit 'n gevoel van morele dringendheid oor, met ander woorde, maatskaplike transformasie is 'n imperatief, en as jy nie grondig ten gunste daarvan is nie, dan is jy ongetwyfeld daarteen. Hierdie vierde kenmerk dra by tot die sosiale kapitaal te vinde in sogenaamde “virtue signalling” of “deugpronkery”, soos Tim du Plessis dit onlangs mooi vertaal het.
Saamgevat: Daar word beweer daar is onderliggende strukture van mag wat sommige groepe permanent onderdruk en ander permanent bevoordeel. Jou plig as woke persoon is om hierdie strukture te beveg, en seker te maak dat almal sien jy doen dit, en dat hulle dit uiteindelik saam met jou doen.
Wat eens 'n omstrede filosofiese poging was om mense van instrumentele rede en kapitalistiese vervreemding te bevry, het nou ontwikkel tot 'n moreel-politieke beweging, met baie trekke van geloofsbeoefening, wat die samelewing hoofsaaklik deur die lense van bevoorregting en onderdrukking interpreteer. Woke-ideologie is dan nie nuut nie, dit is veel eerder tegelykertyd die kind van kritiese teorie en die kulturele popularisering daarvan.
Aan sy vrugte word hy geken
Die grootste rede dat hierdie woke idees geen hoofstroom vastrapplek in Suid-Afrika en dan veral onder Afrikaners kry nie, is soos wat die moderne uitdrukking lui, omdat ons hierdie fliek al gesien het.
Dit is al per geleentheid opgemerk dat Suid-Afrika ideologies so 'n dekade of wat voor die VSA en Europa is met betrekking tot progressiewe denke. Na 1994 het die ANC 'n gulde geleentheid gehad om sy idees, wat per slot van rekening 'n herverpakking van Marx en Lenin was, vrylik prakties uit te toets. Om bewus te wees van die voorregte wat die stelsel vir jou gegee het, en dankbaar agter in die ry te gaan staan, was nie vir die kaalvoetkinders van Triomf en Krugersdorp-Wes iets nuut toe dit in 2015 op kampusse verskyn het nie. Reeds in 2005 sing Klopjag “Ek sal agter in die tou staan, en jou reënboog op my mou dra”, en in 2006 sing Fokofpolisiekar:
Wit kinders van Afrika
Dankbaar wees dat jul nog leef
Wat maak jul hier
En waar kom jul vandaan?
Ek neem aan dat ek altyd aleen sal staan
Dis makliker om mense so
In die oë te te staar
Die weer is plesierig hier
Daars net geen plek vir my
Om my kop neer te lê nie
Ek weet natuurlik nie hoe hierdie lirieke bedoel is nie, en of dit satire moes wees nie. Ek dink nie dat die gemiddelde tiener dit satiries gehoor het nie, ek het nie. Teen 2015 en 2016, toe ons soggens klas toe moes stap met #Afrikaansmustfall teen ons kampusmure geverf, dink ek dat meeste jong Afrikaners die aanval nie teen een of ander abstrakte sistemiese mag ervaar het nie. Ons het die aanval as regstreeks, persoonlik, en voor-die-hand-liggend teen ons ervaar. “Kill the Boer” was vir die res van ons makliker om te ontsyfer as vir die Menseregtekommissie.
Ook is hierdie denke, myns insiens, nie uniek tot die jong Afrikaner nie. In 'n land waarvan die oorweldigende meerderheid tradisioneel en gelowig grootgemaak is, sal die aanvalle op die kerngesin, op respekvolle maar natuurlike verskille tussen geslagsrolle, en op algemene wet en orde nie in die langtermyn vriende wen nie. Deugpronkery sal baie sand opskop en los klippies meesleur, maar as lewens- en wêreldbeskouing is dit onvolhoubaar, want dit is oneg, dit is geveins, dit is opvoerig.
Die wortel wat nie kan wortel skiet nie
Ek kan verstaan dat 'n studentetyd gevul met Voëlvry-konserte en vryheidsoptogte 'n werkende volwassene mag kweek wat maatskaplike omwenteling as morele imperatief beskou, en dat so 'n persoon hierdie omwenteling onverpoosd sal naajaag.
Ek wonder wel of so 'n volwassene, of dan meer spesifiek, so 'n laat-middeljarige, wat deur hierdie blomme-en-blare-kentering gegaan het, eweneens sal kan verstaan dat 'n studentetyd gevul met koshuise wat Donderdagaande noodgedwonge moet ontruim vir Campus Shutdowns en studente wat voor die hoofgebou Kill the Boer sing 'n ander tipe volwassene sal kweek.
En dat daardie volwassene nie net van die woke ideologie sal verskil nie, maar dit aktief as vyandig en persoonlik aanvallend sal beskou.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Goed geskryf Paul!
Ek is net nie so seker dat die "woke" idees op onvrugbare grond val nie - vir my lyk dit of daar 'n geslag (van alle rasse) opgroei met die meeste van daardie idees goed wortel geskiet .... vir party is dit "critical race theory", vir party is dit geslagsvloeibaarheid, vir party is dit die dialektiese klassestryd - "woke" het eintlik 'n klimaatstreek vir elkeen.
Goeie artikel Paul. Dankie.