Die "Woke"-gevaar en Afrikaanse morele paniek
Afrikaners se onvermoë tot selfondersoek is anti-intellektueel.
Ek dink dis tyd dat ons die olifant in die kamer aanspreek: hierdie konstante obsessie oor “wokeness”, “liberalisme” en “linksheid” wat as plofwoorde deur aanlyn Afrikaner-kuberdiskoers weerklink, raak nou afgesaag.
Op Sondag 9 November skryf dr. Lindie Koorts, geskiedkundige aan die Universiteit van Pretoria, 'n uitstekende rubriek in Rapport. Die titel van die rubriek resoneer dadelik met my: “Hoekom is Afrikaners so allergies vir selfondersoek?” Dié skrywe is ontketen ná die hele bohaai oor die berugte “anti-Afrikaner-brief” waarin 'n groep Afrikaners (predikante, akademici, joernaliste, sakelui, ensomeer) besluit het om die wit volksmoordmite in die kiem te smoor. Tog, toe hulle almal luidkeels onderteken: “Nie in my naam nie”, het elke tweede Afrikaner 'n koronêr geskiet. Hoekom? Want die MAGA-populiste en Afrikaner-Christenstryders, naamlik AfriForum en Solidariteit, is uitgekryt as die drywers van dié verdrukkingsfabel wat dit immers aan Trump in die Withuis sou gaan smous het.
Nou sit Suid-Afrika met die gebakte appels en 'n kulturele storm in 'n teekoppie word op Afrikaanse sosiale media ontketen. Die volgende oomblik was die media deurtrek met 'n geweeklaag oor “woke-gespuis”, 'n “ANC-komplot” en “veragtelike linkses” wat die “ANC met moord laat wegkom”.
Max du Preez het selfs in die lig hiervan op X (voorheen Twitter) getwiet en gesê: “Te veel Afrikaanse Twitter voel soos 'n dronklap AWB-braai in die 1980’s.” Selfs dr. Lindie Koorts het in haar brief ook mooi verwys na die “whataboutism” of “wat van”-taktiek: “wat van Malema? Wat van die ANC? Wat van die demokrate? Wat van Biden?”, ensovoorts. Gevolglik het loopbane (wat destyds met groot agting bejeën is) die booswig vir Afrikaner kulturele en Christelik-nasionalistiese neurose geword. Lindie Koorts het self geskerts dat om so 'n klomp uiteenlopendes bymekaar te kry en te hóú, is soos om springhase te jag.
Helaas, sedert die doodsnikke van apartheid, is daar juis so 'n voorspelbare patroon van eksistensiële morele panieke, waar aweregse akademici soos Piet Croucamp, Max du Preex en Lindie Koorts vandag, teikens vir karaktermoord word. Nog voor daar 'n spyker in die kis van apartheid-rassesegregasie geslaan is, was daar (volgens navorsers soos Nicky Falkof en Christi van der Westhuizen) alreeds 'n geween en 'n gekners van tande deur Afrikaners oor 'n eksistensiële “rooi gevaar” aan die einde van die Koue Oorlog, gevolg deur 'n “Roomse (Katolieke) gevaar” en uiteindelik 'n “swart gevaar” tydens die doodsnikke van apartheid. Kort op dié se hakke, was daar ook die “Satanic Panic” met Kobus “Donker” Jonker en Rodney Seale ná apartheid se amptelike sterwe.
So het die bogenoemde panieke gekom en gegaan soos wat globalisering mense toegang tot inligting, televisie en die kuberruim gegee het. Hulle het wel nooit totaal uitgesterf nie. Omrede, volgens Daily Maverick, daar die laaste jaar of so weereens 'n groot Christelik-nasionalistiese herlewing onder Afrikaners is (soos gesien met Ernst Roets, Heinz Winckler, en Angus Buchan). En telkens voel al hierdie gebeure soos 'n regstreekse bloudruk van Amerikaanse populisme, aangepas vir die oorgeromantiseerde Boervolk-identiteit, soos dr. Hannelie Knoetze stel in haar 2020 artikel Romanticising the “Boer”: Narratives of White Victimhood in South African Popular Culture. Nou, ek is nie noodwendig 'n kundige op die gebied van politiek soos Piet Croucamp nie, maar religiewetenskap (wat hand-aan-hand met omtrent alles deesdae loop) is my veld. Veral “konspiritualiteit”: die vermenging van spiritualiteit en samesweringsteorieë.
Richard Hofstadter het in sy boek Anti-Intellectualism in American Life die begrip genaamd “anti-intellektualisme” verken: 'n idee wat (na my mening) ook posgevat het in Suid-Afrika, kort ná die 1960’s. Hofstadter toon dat hierdie sentiment (oorspronklik in Amerika) 'n grootskaalse produk van Republikeinse, Jeffersoniaanse politiek en McCarthyisme (die grootskaalse heksejag teen sogenaamde sosialiste en kommuniste) was. Hierdie populistiese “hang-up” oor Marx en Lenin onder Afrikaner-kringe (veral wanneer dit by universiteite kom), is 'n regstreekse herlewing van hierdie Amerikaanse McCarthyisme.
Sodra ek hierdie wel luidkeels opmerk, is daar 'n deeglike kritiek op die feit dat ek nie blootgestel word aan die realiteit van Suid-Afrika nie. Ek was self 'n student aan die Universiteit van Pretoria en was destyds (in 2016) deel van AfriForum Jeug, waar ek en 'n groep studente 'n doodskis op kampus rondgedra het. Dit was ná Afrikaans as onderrigtaal gesneuwel het. Tydens hierdie melodramatiese demonstrasie, was daar die EFF se #FeesMustFall en #AfrikaansMustFall onluste.
As ek nou terugkyk, besef ek my ervaring van die hele kampus-onluste bohaai was egter totaal anders as die minder bevoorregte student s’n. Hoewel baie studente (beide van die EFF en AfriForum Jeug) dit misbruik het vir politieke gewin, het ek later verder nagedink (soos my studies gevorder het) en ná my eie ervaring met misdaad wat amper my lewe gekos het in 2018, naderhand besef hoe geskiedkundige en sistemiese ongelykhede steeds bly seëvier in Suid-Afrika se hiërargie en burokrasieë – dít wat die uitleg van sekere dinge beoordeel.
Hierdie ervaring is helaas nie uniek nie. Dit het mettertyd net vermenigvuldig, soos ek ouer word, in 'n groter bewussyn van hoe ons land se geskiedenis van onreg gelei het tot waar ons vandag is. Apartheid het nie geëindig omdat Afrikaners besef het dat Christelike Afrikaner nasionalisme en rasse-segregasie, gepaardgaande met reaksies op die Soweto- en Sharpeville onluste, moreel onregverdigbaar was nie. Nee, eerder omdat internasionale sanksies ons land sigbaar begin benadeel het.
Fokofpolisiekar was gelukkig my generasie se reïnkarnasie van die Johannes Kerkorrel en Voëlvry-beweging wat hierdie kulturele Afrikaner “eng”-heid uitgedaag het en Afrikaanse aweregsheid 'n stem gegee het: veral vir diegene soos ek, wat nagte in Aandklas en Fokof Bar rondgehang het. Te danke aan hierdie spasies en musiek, glo ek, het 'n groot groep Afrikaanse mense juis “woke” geword en weggebreek van die stoere-boere “woke is kommunisties”-beweging, wat “Afrikaner” as identiteitsmerker omskep in “Suid-Afrikaner”. Onder andere is die lied wat ek dikwels as voorbeeld hiervoor aanwend, Fokofpolisiekar se Hemel op die Platteland, en die lirieke – “kan iemand dalk 'n god bel / en vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie / kan jy, kan jy apatie spel?” Dis nie satire nie. Dit verteenwoordig 'n egte kontra-kulturele beweging wat die tydsgees van “Afrikaans-wees” uitdaag met selfondersoek.
Dis egter die vrees vir selfondersoek wat prominent is onder Afrikaners, waar die anti-intellektualisme (soos Hofstadter beskryf) inkom: feite en rasionaliteit word as “koud” en “onpersoonlik” veroordeel, terwyl die “common sense” van die algemene “hier-jy” as “warm” en “persoonlik” aangebied word. Gevolglik verteenwoordig hierdie houding die intellektualis as die vyand van die leek. Hierdie strategie word deeglik beskryf deur die kultuskenner, dr. Janja Lalich, en is gegrond op Max Weber se idee van “charismatiese gesag”. Verskeie tegnieke word deur charismatiese gesag (die ideoloog, volgens Hofstadter) aangewend om hul gehore te breinspoel met propaganda, manipulasie en groepsdruk. Dit skep “affektiewe bande” (onwrikbare lojaliteit) tussen die leiers en hul kultuslede.
In hierdie raamwerk word lojaliste in die “in-groep” geïsoleer en almal anders daar buite is bedreigings. Noam Chomsky het dit mooi beskryf: “As jy 'n groep mense wil beheer, skep vir hulle 'n denkbeeldige vyand en dan stel jy jouself as hul redder aan.” Hier is waar die “woke”-idee as intellektuele dooddoener inkom: van 'n progressiewe idee tot 'n gesiglose, vormlose kabal, wat bestaan uit 'n groep mense met voornaamwoorde, neusringe en reënboogvlae. Hulle is die amorele verpersoonliking van 'n “Antichris” wat die Christelik-nasionale status quo wil uitroei met homoseksualiteit en aborsies. Die ideoloë – van Charlie Kirk in Amerika tot Ernst Roets en kie in Suid-Afrika – slaag daarin om hulself (met konserwatiewe beweegredes) voor te hou as die beskermheiliges van die Afrikaner, die nuwe “super”-Afrikaners, wat na bewering aspris uitgemoor word deur die bose EFF en ANC se anti-Afrikaner komplot.
Hierdie poespas neurose spruit wel nie uit die laaste jaar se politieke manewales nie, maar is 'n eeu-oue eiegeregtigheid wat onder Afrikaners seëvier – 'n eiegeregtigheid wat aanspreeklikheid deur eksterne projeksie ontduik. Hulle is dus allergies vir selfondersoek. Helaas, stem ek saam met etlike kritiese sentimente oor die sogenaamde “woke”-beweging dat, ja, sommige “woke” ondersteuners en propagandiste se aanspraak op sistemiese ongelykheid nie verder as “deugpronkery” op TikTok beweeg nie. Veral in die digitale era. Baie soos godsdiens maar ook doen.
Tog, om “wokeness” as’t ware egter te beveg en teë te staan, is wel presies om téén progressie te wees en om sodoende die sistemiese ongelykhede te preserveer (omdat dit jou as wit Afrikaner dien). Dít is (en bly) problematies, en dan kan jy netsowel sê jy wil apartheid terughê. Gevolglik sal ek eerder myself laat beskuldig dat ek “woke” is, as wat ek wegkruip vir progressiwiteit omdat dit my dwing tot selfondersoek.
Die probleem lê ook (weens heersende propaganda, Amerikaanse intellektualisme, en populisme) in hoe die begrip verstaan word. 'n Groot fout in die huidige kuber-diskoers is dat “woke” gereduseer word tot bloot moderne post-strukturalisme (wat miskien waar was ná die Tweede Wêreldoorlog), maar die konsep het sedertdien verder as Foucault en Nietzsche ontwikkel en verbreed tot nuwer denkers. Riku Lätti het 'n fantastiese artikel op LitNet hieroor geskryf: “Woke me up, before you go-go”, waar hy opmerk:
“...Hoe de hel het dit gebeur? “Woke”, wat eers iets cool en avant-garde was en die voorpunt van sosiale ontwikkeling uitgelig het, die baken van hoe ver ons as spesie gekom het, val nou as skelwoord uit die bekke van die sosiaal agtergeblewenes, die fahreit, die witter supremiste. Ek vra weer: Hoe de hel het dit gebeur?...”
Ek dink dis omdat dit té maklik is om net te praat van Duitsers soos Marx en Horkheimer as die enigste filosofiese vertrekpunte van “wokeness” in Suid-Afrika. Ek dink die gesprek moet eerder (eenvoudiglik) oorweeg om filosofie in die Ooste en Afrika na te speur – denkers soos Jesus en Steve Biko (onder andere), wat myns insiens, groter bydraes tot progressiewe denke in Suid-Afrika gemaak het. En totdat ons erken dat “hê jou naaste lief soos jouself” en “dekolonialisasie”, eintlik “woke”, “liberaal” en “links” is, ervaar ek die lukrake ongedefinieërde gebruik hiervan maar net as tekens van anti-intellektualisme, Afrikaner-kultus breinspoeling en 'n allergie vir selfondersoek wat met elke tydsgees 'n ander masker opsit.
Dis dus niks anders nie as tipiese Afrikaner intellektuele dooddoenery.
Dr. Tristán Kapp is 'n religiewetenskaplike navorser (PhD, UP), openbare denkleier en menseregte-voorstander. Sy inter-dissiplinêre navorsing ondersoek die komplekse wisselwerking tussen spiritualiteit, politiek en “konspiritualiteit” in die digitale era. Hy is 'n gereelde mediakommentator en internasionale spreker oor spiritualiteit in en oor Suid-Afrika en is mede-redakteur van die Journal for the Study of Religion (JSR).
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












