Wetsontwerp op Selfvoorsiening: Wanneer staatsbeheer 'n geloof word
Die EFF se "Insourcing Bill" en die ideologie daaragter verdien egter kritiek.
Die EFF het hierdie week hul sogenaamde “Insourcing Bill” oftewel Wetsontwerp op Selfvoorsiening aan die Parlement voorgelê. Gelukkig was dit hierdie keer sonder betogings of rooi oorpakke wat op Unisa se trappe staan en sing. Selfs die gewone kreet van aanmoediging oor “white monopoly capital” het op sosiale media maar flou gelyk.
In 'n neutedop beoog die konsepwetgewing om alle sogenaamde “steundienste” aan staatsentiteite wat tans deur privaat maatskappye verrig word - soos sekuriteit, skoonmaak, tuinmaak, IT, vervoer, spyseniering, selfs ouditeurswerk - volledig onder die staat se indiensnemingsbeheer in te bring. Geen uitkontraktering meer nie; die staat sal steundienste aan homself voorsien en verskaf, tensy uitkontraktering met spesiale verlof toegestaan word en dan net tydelik. Die staat moet self aanstel, bestuur, betaal, toesig hou en elke laaste werker evalueer, in elke staatsinstelling, landswyd.
Op papier is dit ambisieus. In werklikheid is dit 'n troebel mengsel van ideologie, nostalgie en selfverheffing - die soort denkfout wat sosialiste al vir dekades lank dryf. Die EFF is verlief op die idee van 'n almagtige staat en vas daarvan oortuig dat beheer beter is as vryheid.
Hierdie wetsontwerp gaan gelukkig nêrens heen nie. Weens die EFF se huidige politieke posisie sal dit nie steun in die parlement kry nie en dit sal nie wet word nie. Die poging verdien nietemin aandag, want dit wys hoe 'n bepaalde politieke filosofie, al het dit keer op keer misluk regoor die wêreld, nog steeds met oortuiging aangehang word. Dit spreek boekdele van die feit dat die Suid-Afrikaanse politieke milieu steeds op ideologie eerder as uitkomste gefokus is. En dit wys hoe daardie filosofie diep onsekerheid probeer verbloem met harde slagspreuke oor waardigheid en geregtigheid sonder om die uitkomste van hul voorstel in praktyk na te gaan.
Die EFF se geskiedenis
Die EFF het hul politieke bestaan met bravade begin. Hulle het teen korrupsie, Jacob Zuma en teen koloniale nalatenskap geveg, en redelik suksesvol gegroei.
Maar in die 2024-verkiesing het daardie momentum drasties begin afplat. Vir die eerste keer sedert hul ontstaan het hulle setels verloor. Jacob Zuma se MK-party het hulle in sommige provinsies verbygesteek en landswyd as amptelike opposisie vervang. Die MK-party word, ten minste vir nou, as die groot populistiese opposisieparty in Suid-Afrika gesien. Hoe lank dit sal hou, sal ons nog sien.
Teen hierdie agtergrond is die Wetsontwerp op Selfvoorsiening doodeenvoudig om te verstaan. Dis nie 'n werklike of realistiese poging om staatskapasiteit te herstel nie, maar eerder 'n poging om die EFF se relevansie te herwin en steun te werf. As jy nie meer die luidste, mees gesogte stem in die kamer is nie, dan moet jy ten minste die mees ideologiese stem wees. En wat is meer sosialisties as om te verklaar dat die staat voortaan alle skoonmakers en sekuriteitswagte sal aanstel? Dit is maar net die begin van die voorgestelde werkers en sektore wat geraak word.
Die probleem met die wetsontwerp
Hierdie wetsontwerp sal die deure selfs wyer oopmaak vir kaderontplooiing en magsmisbruik. As die staat self elke kontraksposisie skep, vul en bestuur, word werwing en bevordering onmiddellik 'n politieke sport.
Die EFF is nie aan bewind nie en sal dus nie self hierby baat nie, maar dit maak nie saak nie—die voorstel is nie 'n taktiese plan nie, maar 'n geloofsbelydenis. 'n Uiting van hul diepgesetelde sentralistiese, Marxistiese wêreldbeeld. Die ANC, ironies genoeg, sal waarskynlik in beginsel saamstem, maar ook weet dat hul tyd as alleenheersers verby is. Hulle weet dat sulke stappe eenvoudig nie meer bekostigbaar is nie.
Suid-Afrika se staatsdiens is reeds heeltemal te groot en slurp 'n buitensporig enorme deel van die nasionale begroting op. Die wetsontwerp verbeel hom dat jy kapasiteit bou deur poste by te voeg, eerder as deur bestuur te verbeter, standaarde af te dwing en uitsette te meet. Intussen word die kernfunksies—onderwys, gesondheid, infrastruktuur—verder verdring deur nuwe salarisrekeninge en HR-stelsels om “ondersteunende dienste” te absorbeer terwyl daar baie meer dringende sake is wat die regering se aandag verg.
Die EFF vergeet gerieflik dat die privaatsektor reeds aan honderde duisende mense werk verskaf. Daardie ondernemings betaal belasting, dra risiko, innoveer om koste te verlaag, en word deur prestasiegedrewe kontrakte aanspreeklik gehou of word vervang as hulle tekort skiet. Die wetsontwerp sou die entrepreneurs en klein sakeondernemings wat in teorie op meriete tender en dienste lewer, van hul lewensbloed ontneem. Wat die voorstel dus doen, is om werk eenvoudig te skuif van 'n mededingende, prestasie-omgewing (ten minste in beginsel) na politieke hiërargieë waar koste styg en gehalte verswak.
En, in klassieke Marxistiese styl, word die eenvoudigste vraag vermy: Wie gaan hul beursie uithaal en opdok vir die rekening? Elke rand vir verhoogde kostes verbonde aan skoonmaak- of sekuriteitsdienste wat intern gelewer word, is 'n rand wat nie beskikbaar is vir paaie, riool, onderrig of polisievoertuie nie.
Die Suid-Afrikaanse belastingbasis is klein en besig om te krimp. Verdere druk gaan eenvoudig sorg vir minder belastinginvordering, belegging, groei en werkskepping. Suid-Afrika is reeds oor die kruin van die Laffer-kurwe. Hierdie gaan net 'n verdere sneeubal-effek skep wat alle Suid-Afrikaners objektief negatief gaan beïnvloed in die langtermyn.
Maar vir die EFF is die privaatsektor inherent verdag. Die EFF glo vas dat wins uitbuiting moet beteken, dat mededinging ongelykheid is, en dat kontraktering gelykstaan aan “privatisering van die staat”. Die karikatuur is nuttig vir slagspreuke, maar sleg vir die armes, soos die geskiedenis telkens wys.
'n Ideologie sonder geheue
Sosialiste praat graag asof hul idees splinternuut is en nog nooit werklik getoets is nie; asof die wêreld net nog nie gereed was vir hul visie nie.
Maar ons het hierdie fliek al telke male gesien. In Zimbabwe, Venezuela, in Oos-Europa. En hier, tuis, in Suid-Afrika, waar staatsbeheerde entiteite soos Eskom, Transnet en SAA miljarde in sinkende projekte weggegooi het. Projekte waarvoor belastingbetalers gereeld nogsteeds reddingsboeie moet opdok.
Wat hierdie wetsontwerp wys, is dat die EFF niks uit die verlede geleer het nie. Of erger: dat hulle nie wíl leer nie. Die keuse is voortdurend vir sentralisering, vir meer staatsbeheer, vir politieke bestuur van tegniese probleme. Dis asof die moderniteit self verdag is, asof dissipline, prestasie, en kompleksiteit iets is om meer te breek, eerder as om meer te bou.
In plaas daarvan om met pragmatisme en nederigheid na die werklikheid te kyk, kies hulle vir 'n soort morele opgewondenheid - wat werklik eintlik net die bou van lugkastele is. Hulle verhef hul beleid tot beginsel, hul beginsels tot waarheid, en hul waarhede tot iets wat onder geen omstandighede bevraagteken mag word nie.
Die drang na sekerheid en orde
Uiteindelik gaan dit nie net oor die EFF se wetsontwerp nie, maar oor 'n manier van dink in die Suid-Afrikaanse politieke samelewing. Daar is 'n diepe menslike drang na orde, na sekerheid. En in 'n land waar alles so los en buite beheer voel, waar misdaad, werkloosheid en wanbestuur elke dag 'n persoonlike tol eis op Suid-Afrikaners, is dit aanloklik om te glo dat meer beheer die antwoord is.
Maar die geskiedenis vertel vir ons dat dit nie hierdie keer anders sal wees nie: waar die staat alles wil wees, word hy dikwels niks. Wat begin as 'n poging tot regverdigheid, eindig as 'n verskoning vir magsmisbruik en selfverryking - wat in die langtermyn die burgers wat die beleid voorstaan, die hardste tref.
Reuben Coetzer is die woordvoerder van Free SA.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.