Werkgewers het 'n kleintjie dood aan swak onderwys
Die produksieketting van talent moet van kindsbeen af reg werk.
Ek het twee groot frustrasies met die manier waarop daar tans oor gelyke indiensneming en regstellende aksie gepraat word.
Die eerste is die verwarring rondom “teikens” en “kwotas”. Hulle wat die nuwe gelyke indiensneming regulasies bevraagteken, kan nie daarvoor kwalik geneem word dat hulle nie die onderskeid tref nie, want die regulasies self tref nie 'n behoorlike onderskeid nie. 'n Kwota is 'n vaste syfer of persentasie poste wat vir 'n sekere groep gereserveer word, met strafmaatreëls vir nienakoming. 'n Teiken, daarenteen, is 'n doelwit wat nagestreef behoort te word oor die getal of persentasie wat jy hoop om te bereik deur konsekwente toepassing van jou gelyke indiensnemingsplan. Dit is nie 'n reël nie, maar 'n maatstaf om te meet hoe goed jou strategie werk om breër verteenwoordiging op alle vlakke te bewerkstellig.
My tweede punt van frustrasie is dat die debat dikwels feiteloos en sonder bewyse gevoer word, vinnig gereduseer tot die beskuldiging dat enige kritiek oor gelyke indiensneming of regstellende aksie “teen transformasie” is. Die ANC se wêreldbeskouing lê steeds so diep veranker in Suid-Afrika se politieke kultuur dat dit vir baie ondenkbaar bly dat regstelling anders as rasgebaseerd kan geskied. Wanneer die DA byvoorbeeld pleit teen rasgebaseerde beleid, beteken dit nie hulle is teen regstelling nie. Hulle voer aan dat beleid die werklike struikelblokke moet teiken wat mense se kans op 'n volwaardige en menswaardige lewe steeds beperk.
Begin by die begin
'n Mens se vermoë om jou potensiaal te verwesenlik, word van vroeg af beïnvloed, vanaf die voeding wat jou ma ontvang het toe jy verwek is, tot die eerste 1000 dae van jou lewe, jou vroeë kinderontwikkeling, skoolopleiding, jou sosiale netwerke, en dan hopelik werkservaring en lewenslange onderrig en leer. Werkgewers speel eers baie laat in dié lewenspad ’n rol. Ja, hulle mag bydra tot vroeë kinderontwikkeling of beurse vir tersiêre studie aanbied, maar hul primêre invloed lê in aanstelling, opleiding, en bevordering.
Die kern inwerkinge wat 'n mens se potensiaal ontsluit, lê egter by gesinne en die staat — deur ondersteuning van kinderontwikkeling, gehalte onderwys, en geleenthede wat sagte vaardighede en maatskaplike kapitaal bou. As die staat ernstig is oor gelyke indiensneming, moet dit begin met 'n deeglike, feitegebaseerde ontleding van die struikelblokke wat mense in verskillende omgewings deur hul leeftyd in die gesig staar. Intervensies moet daarop mik om daardie hindernisse te verwyder of mense in staat te stel om dit te oorkom.
Sommige van daardie ingrypings sal by verskillende staatsdepartemente berus en ander by burgerlike organisasies of werkgewers. Sommige sal samewerking tussen al hierdie rolspelers vereis. Ek het geen beswaar teen regulasies wat vereis dat maatskappye met meer as 'n sekere aantal werknemers 'n gelyke indiensnemingsplan moet hê en selfs teikens moet stel vir breër demografiese verteenwoordiging nie. Maar daardie teikens moet gebaseer wees op realistiese ontledings van hul sektor, hul eie konteks en vermoëns, eerder as op landswye of sektorale veralgemenings.
'n Maatskappy se vermoë om diversiteit te bevorder, hang immers af van sy eie personeelomset, sy beginpunt, en die beskikbare talent in die arbeidsmark in daardie sektor. Om landwye bevolkingsyfers aan te wend as maatstaf vir individuele ondernemings, is om te ontken hoe ongelyk toegang tot geleenthede reeds vroeër in die lewe was. Demografie verander by elke fase — van vroeë onderwys tot werksbevordering. Die vraag is dus: waar lê die wesenlike knelpunt in die lewenspad, en wie is die beste geplaas om dit aan te spreek?
Uiteindelik behoort maatskappye verantwoordingr teenoor hul eie belanghebbendes te doen: werknemers, klante, aandeelhouers, verskaffers en gemeenskappe — nie teenoor die staat nie. Hierdie regulasies behoort te bepaal of daar 'n plan en teikens moet wees, en dat daar verslag oor vordering gedoen moet word. Indien teikens nie behaal word nie, moet redes daarvoor aangedui word, en die plan heroorweeg of selfs met ander rolspelers in gesprek getree word as hulle die sukses van die plan beperk (soos wanneer te min leerlinge goeie punte in wiskunde en wetenskap behaal, of daar 'n tekort aan gegradueerdes met toepaslike kwalifikasies is).
Die waarheid van die werkplek
Die ongemaklike waarheid is dat die gaping wat werkgewers later moet poog om te oorbrug, eenvoudig te groot is indien daar nie tydig en toepaslik ingegryp word op jong ouderdom nie. Byna niemand betwyfel dat regstelling nodig is nie, maar die staat kan nie sy rol in die ketting van menslike ontwikkeling versaak nie. Maatskappye moet hul planne kan opstel binne die konteks van wat die staat reeds bereik het om onderwysuitkomste en sosiale kapitaal te verbeter. Dáár lê die saad vir 'n minder skewe arbeidsmark.
Dit is sekerlik ’n geldige ideaal dat ons ekonomie in sy geheel die samestelling van ons bevolking op alle vlakke weerspieël, maar hierdie ideaal sal slegs verwesenlik kan word as alle rolspelers hul rol in die ontwikkeling van menslike kapitaal speel.
Sodra ons infokus, begin die werklikheid van konteks ongelukkig om te dikteer. Om die werklikheid te ignoreer kan geen anders uitkoms as mislukking tot gevolg hê nie.
Anthony Hazell is 'n beleidsadviseur in die kantoor van die Kaapstadse burgemeester. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: