Wie Erf die MK se Steun?
Die post-MK era gaan waarskynlik 'n politieke strooiveld wees.
Die groot politieke vraag van die volgende paar jaar is waarheen gaan MK se steun gaan wanneer die party uiteindelik begin ineenstort. Die geskiedenis van Suid-Afrikaanse politiek wys dat partye wat gebou word rondom protes, persoonlike lojaliteit en een dominante figuur selde lank hou.
Al veroorsaak sulke partye dikwels groot opskuddings, hou hulle dikwels nie lank nie. Sonder strukture, interne dissipline, opvolgplanne en 'n geloofwaardige plaaslike grondslag, word hulle uiteindelik gevange gehou deur dieselfde krag wat hulle geskep het, naamlik die kultusfiguur. MK is nie werklik 'n gewone volhoubare politieke party nie. Dit is 'n protesstem en 'n voertuig vir woede teen die ANC, teen Cyril Ramaphosa, teen die RNE, teen die huidige orde en teen die gevoel dat die bevrydingsbelofte nie nagekom word nie. Maar dit is nie 'n gevestigde party met 'n diep, onafhanklike organisasiekultuur wat nodig is vir volhoubare partypolitiek nie.
Maar die party se verkiesingsuitslag in 2024 was merkwaardig. Nasionaal het MK 58 setels in die Nasionale Vergadering gewen en die EFF verbygesteek as die derde grootste party in die land. In KwaZulu-Natal het MK die grootste party geword met sowat 45% van die stemme, byna soveel steun as die IVP, ANC en DA saam. Dit was dus nie 'n klein protessein nie.
Talle kommentators maak wel nou die fout om MK se steun as 'n nuwe permanente blok te beskou. MK se kiesers is nie almal “MK-mense” nie. MK se steun bestaan uit Zoeloe-nasionaliste, anti-ANC-aktiviste, Zuma-lojaliste, anti-Ramaphosa-kiesers (dis nie dieselfde as anti-ANC nie), gefrustreerde oud-ANC-kiesers, radikale protesstemme en gewone heel gematigde Suid-Afrikaners wat bloot teen die huidige orde wou stem.
Dit beteken dat MK se stemme waarskynlik nie eendag netjies as 'n pakket na 'n enkele ander party sal beweeg nie. Hulle gaan versplinter. En Suid-Afrika het hierdie storie al voorheen gesien.
Hoop vir MK is 'n Cope
Die mees ooglopende voorbeeld is COPE. Toe die Congress of the People in 2008 uit die ANC se interne skeuring gebore is, het dit vir 'n oomblik gelyk asof Suid-Afrika 'n nuwe groot opposisieparty sou kry. COPE het senior ANC-figure gelok. Dit het die taal van grondwetlikheid, interne demokrasie en anti-Zuma-politiek gepraat. En in 2009 het COPE meer as 7% van die nasionale stem gekry en 30 setels in die Parlement gewen. Vir 'n splinternuwe party was dit ’n buitengewone prestasie.
Maar toe kom die werklikheid van politiek. Dis een ding om teen die ANC ideologies en in meningsblaaie te baklei, maar dit is iets anders om 'n politieke party op die been te bring wat doeltreffend en wyd aan verkiesings deelneem. COPE moes 'n identiteit bou wat groter is as die oomblik waaruit dit gebore is maar dit kon nie. Net vyf jaar later in 2014 was COPE gereduseer tot drie setels. Daarna het dit verder gekrimp tot byna politieke onsigbaarheid, en vandag het hierdie party geen parlementêre verteenwoordiging nie.
'n Party kan dus uit 'n enorme nasionale breuk gebore word en steeds binne 'n dekade feitlik verdwyn.
Anders as COPE het die EFF wel langer gehou. Dit het 'n duideliker ideologie, 'n sterker visuele identiteit, 'n energieke jeugbasis en 'n meer militante politieke styl opgebou. Vir 'n tyd het dit selfs gelyk asof die EFF dalk die uitsondering op die reël sou wees: 'n protesparty wat mettertyd 'n volwaardige en noemenswaardige politieke party word.
Die EFF het 'n redelike duidelike verkiesingsplafon van 10%.
Selfs die EFF wys die perke van persoonlikheidspolitiek. Die EFF was nog altyd ondenkbaar sonder Julius Malema. Die rooi barette, parlementêre teater en hul ideologiese posisionering draai uiteindelik om hom. Die party het wel ander bekwame en prominente figure gelok, soos Floyd Shivambu en Mbuyiseni Ndlozi, maar die het ook al intussen die party verlaat. Oor tyd het dit duidelik geword dat daar beperkte ruimte is vir onafhanklike politieke swaartekrag binne 'n party waar alles om een figuur wentel.
Daar is dus vir die EFF 'n sleutelpersoon- (key-man) en konsentrasierisiko, en Malema se eie regskwessies maak dit nog meer prominent. In April vanjaar is hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis in die vuurwapensaak, hoewel hy hangende appèl nog vry is. Indien die vonnis uiteindelik gehandhaaf word, kan dit ernstige gevolge vir sy parlementêre posisie hê. 'n Politieke party wat rondom een figuur wentel word in sy geheel kwesbaar wanneer die sentrale figuur kwesbaar word.
MK is nog meer blootgestel aan hierdie gevaar as die EFF. Die EFF het ten minste oor jare 'n styl, 'n taal, 'n organisasie en 'n jong aktivistebasis opgebou. MK het net vir Zuma.
Verskietende Sterre
Daar is dus 'n duidelike Suid-Afrikaanse patroon van “oomblikspartye”. Ons politieke geskiedenis is vol partye wat op 'n spesifieke breuk, persoonlikheid of oomblik gebou is. Buiten dié wat reeds bespreek is, was daar onlangs Agang, die Independent Democrats, die UDM en die NFP, en langer gelede was daar Oswald Pirow se Nuwe Orde-beweging in die 1940’s, Albert Hertzog se Herstigte Nasionale Party ná sy breuk met die Nasionale Party in 1969, en die New Republic Party wat in 1977 uit die sterwende United Party probeer herrys het, maar gou tot 'n hoofsaaklik Natalse nisparty verskraal het. Almal wys hoe moeilik dit is om 'n party te bou wat groter is as die persoon, krisis of nis waaruit dit ontstaan het.
MK se toetsvraag is of dit sonder Zuma kan bestaan. Die waarskynlike antwoord is nee.
Die volgende vraag is dan waarheen die stemme gaan. Die maklikste antwoord is dat dit terug ANC toe gaan. Maar dit is waarskynlik te eenvoudig. Sommige MK-kiesers sal natuurlik terugkeer na die ANC, veral indien die ANC in KwaZulu-Natal nuwe plaaslike geloofwaardigheid opbou of indien die party ná Ramaphosa 'n nuwe interne balans vind. Maar baie MK-kiesers het nie net tydelik van die ANC afgedwaal nie. Hulle het teen die ANC gestem omdat hulle die ANC self as deel van die probleem begin sien. Hulle het nie bloot vir Zuma gestem nie maar teen 'n mislukte regerende orde gestem.
Die idee dat hierdie kiesers sommer outomaties “huis toe” sal gaan, onderskat hoe diep die breuk met die ANC geword het.
Gaan hulle dan EFF toe? Daar is immers ideologiese oorvleueling tussen MK en die EFF. Maar die EFF is self nie meer die vanselfsprekende tuiste vir protesstemme nie. En indien Malema se politieke toekoms onseker bly, is die EFF minder van 'n bestemming en meer van 'n tussenstasie.
Gaan hulle IVP toe? Hier is die saak sterker, veral in KwaZulu-Natal. Die IVP het geskiedenis, strukture, plaaslike regeringservaring en 'n diep gewortelde politieke identiteit. In 'n post-MK-landskap kan die IVP waarskynlik sommige tradisionele, konserwatiewe en Zoeloe-identiteitsbewuste kiesers terugwen. Maar dit sal ook nie vanself gebeur nie. Die IVP is nie die enigste politieke uitdrukking van Zoeloe-identiteit nie, en die IVP het, soos die ANC, sy eie politieke bagasie.
Verder is Zoeloe-kiesers nie 'n homogene stemblok nie. As Zoeloe-kiesers bloot as 'n etniese blok gestem het, sou KwaZulu-Natal se politiek baie eenvoudiger gelyk het. Oor dekades was Zoeloe-kiesers verdeel tussen die IVP, die ANC, die NFP, die DA, kleiner partye en nou MK. Politiek in KwaZulu-Natal was nog altyd twee dinge, lewensgevaarlik vir sy politici en dinamies verkiesingsgewys. Ons moet onthou dat in die 1994 verkiesing het die IVP 'n volstrekte meerderheid in KwaZulu-Natal gewen en was slegs een van twee provinsies wat dus nie deur die ANC toe regeer is nie.
Net soos Afrikaners nie almal vir een party stem nie, soos ook doen Zoeloes nie. Etnisiteit maak saak in Suid-Afrikaanse politiek, maar dit verklaar nie alles nie.
Die DA gaan waarskynlik nie die grootste erfgenaam van MK se stemme wees nie. Maar daar is waarskynlik 'n segment van MK-kiesers wat nie radikaal ideologies is nie. Hulle het MK nie gestem omdat hulle elke beleidsposisie van die party onderskryf nie. Hulle het MK gestem omdat hulle kwaad, vervreem en sonder 'n politieke tuiste gevoel het.
Hierdie kieser is nie noodwendig anti-DA nie. Hy of sy is dalk skepties of wantrouig oor die DA maar bereid om sy stem vir die DA te gee as hy of sy oorreed kan word.
Blou Rebelle uit die MK?
Die DA kan dus aan gematigde proteskiesers 'n beter vorm van rebellie bied. Nie chaos teen die stelsel nie, maar bekwame regering teen mislukking, nie vernietiging van instellings nie, maar herstel van instellings.
Daar is reeds tekens dat sommige gemeenskappe wat geskiedkundig buite die DA se kernsteun geval het, bereid is om ongewone vennootskappe te oorweeg wanneer hulle voel dat die bestaande orde hulle versaak het. Dieselfde Zoeloe-groeperings wat vir MK stem is ook bereid om met organisasies soos AfriForum te werk. Dit wys dat Suid-Afrikaanse politiek meer vloeibaar is as wat die ou etniese ontledings toelaat. Wanneer mense voel hul veiligheid, grond, taal, gemeenskappe of ekonomiese toekoms word bedreig, ontstaan nuwe gesprekke wat nie net deur die ou struggle-kategorieë verklaar kan word nie.
So die mees waarskynlike post-MK-scenario is verdere versplintering.
Sommige MK-kiesers sal terug ANC toe gaan. Sommige sal IVP toe gaan. Sommige sal EFF toe gaan. Sommige sal by 'n kleiner MK bly. Sommige sal na nuwe plaaslike partye beweeg. Sommige sal glad nie weer stem nie. Sommige sal dalk DA toe beweeg.
Die post-MK-era gaan dus waarskynlik nie een wenner hê nie. Dit gaan 'n politieke strooiveld hê.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










