Ambassadeurs vir die RNE
Suid-Afrika se diplomatiek behoort sy koalisiepolitiek te weerspieël.
Toe die ANC na die verkiesing van 29 Mei 2024 vir die eerste keer sedert 1994 sy volstrekte meerderheid verloor het, het Suid-Afrika 'n nuwe politieke tydvak betree. President Cyril Ramaphosa het dit self as 'n “waterskeiding” beskryf en gesê die kiesers het duidelik aangedui dat partye nou moet saamwerk. Die regering van nasionale eenheid – met die ANC, DA, PA, IVP, VF Plus en ander partye – was dus nie bloot politieke koöptasie nie. Dit was 'n demokratiese opdrag.
Ten spyte van al die openbare botsings, wantroue en gereelde koalisiedrama, blyk dit dat baie Suid-Afrikaners steeds na twee jaar van die RNE dié nuwe bedeling verkies bó 'n ander koalisiesamestelling. Opnames van die Social Research Foundation toon dat 'n meerderheid mense in 2024 geglo het die RNE kan slaag, en meer onlangse peilings toon steeds aansienlike steun vir die regering se voortbestaan, insluitend onder DA-kiesers. Die publiek het nog nie moed opgegee op die idee dat die land beter bestuur kan word as meer as een party aan die stuur sit nie.
Die Diplomatieke Diens
As dit waar is vir die kabinet, vir beleid en vir die alledaagse bestuur van die staat, behoort dit ook vir die diplomatieke diens te geld, al is die diplomatieke diens administratief onder die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, wat tans 'n ANC-beheerde kabinetspos is.
In die nuwe era van koalisieregering kan Suid-Afrika se buitelandse verteenwoordiging nie steeds funksioneer asof die ANC alleen oor die politieke en morele mandaat beskik om die land se stem in die wêreld te bepaal nie. Volgens die Grondwet rus die verantwoordelikheid van die aanstelling van ambassadeurs, diplomatieke en konsulêre verteenwoordigers op die skouers van die President ingevolge artikel 84(2)(i). Die Wet op Buitelandse Dienslewering bou daarop voort en omskryf 'n “hoof saakgelastigde” – 'n ambassadeur, hoë kommissaris, konsul-generaal of permanente verteenwoordiger – as iemand wat juis ingevolge dié presidensiële bevoegdheid aangestel word. Daar is dus geen regsverpligting dat slegs die ANC of die minister van internasionale betrekkinge moet besluit hoe hierdie poste gevul word nie. Die mag lê by die president, en in 'n RNE-orde behoort hy dit in daardie gees uit te oefen.
Suid-Afrika se diplomatieke profiel behoort die nuwe verkiesingswerklikheid in die land te weerspieël. En sedert die vorming van die RNE is daar al 20 bevestigde ambassadeurs-/hoof-van-sending-aanstellings deur die President gemaak.
Buitelandse poste was vir drie dekades deel van die ANC se groter kultuur van kaderontplooiing. Dikwels word die diplomatieke diens se poste gevul met politieke veterane, kaders en ideologiese vertrouelinge. Parlementêre antwoorde en openbare rekords bevestig dat die President dié prerogatief gebruik om diplomate aan te stel, en onlangse aanstellings sluit bekende ANC-politieke figure soos Ebrahim Rasool, Lindiwe Hendricks en Ndumiso Ndima Ntshinga in. Talle ander aanstellings het duidelike geskiedkundige of party-politieke bande.
Maar Suid-Afrika is nie meer in 'n tweederdes-ANC-land nie. Ons leef in 'n 40%-ANC-land, en dit gemeet aan die stemme wat die ANC op hom kon verenig in die 2024 algemene verkiesing. En tog bestuur die ANC steeds buitelandse beleid asof niks wesenlik verander het nie. Dit het tasbare gevolge.
Diplomatieke spanning
Suid-Afrika se internasionale verhoudings is vandag op sy mees omstrede sedert 1994. Suid-Afrika hou daarvan om homself as “nie-gebonde” of neutraal voor te hou, maar in die praktyk is dié neutraliteit politieke fiksie. 'n Land wat deurlopend simpatie en ruimte bied aan sekere outoritêre moondhede en ideologiese bondgenote, terwyl dit sy grootste Westerse handelsvennote onnodig vervreem, is nie werklik neutraal nie.
'n Toenemende BRICS-identiteit, groeiende sigbare nabyheid aan Rusland, China en Iran, en 'n diplomatieke benadering wat dikwels meer ideologies as strategies voorkom, kenmerk Suid-Afrika se huidige diplomatieke benadering. Die ANC-regering se sigbare ideologiese gebondenheid wek Westerse kommer. Van die jongste voorbeelde is die BRICS-vlootoefeninge met Rusland, China en Iran in Suid-Afrikaanse waters, asook die breër Amerikaanse kritiek op Pretoria se buitelandse koers. Hierdie spanning word byna weekliks in hierdie aanlynblaaie en ander bespreek en ontleed.
Die verhouding tussen Pretoria en Washington is tans waarskynlik op sy swakste punt in dekades. Die VSA onder Donald Trump vra dat Suid-Afrika sy plaaslike beleid heroorweeg, vernaam die land se grondbeleid, sy hofsaak by die Internasionale Geregshof teen Israel, en sy groeiende bande met Rusland, China en Iran. Toe Ebrahim Rasool later persona non grata verklaar is en uit die VSA geskop is, was dit 'n teken van 'n diplomatieke verhouding in ernstige nood.
Suid-Afrika is duidelik op Donald Trump se radar. Leo Brent Bozell III, die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Pretoria, het in sy getuienis aan die Amerikaanse Senaat belowe om Suid-Afrika se “geostrategiese wegdrywe” na Rusland, China en Iran teen te werk, die regering te druk om sy Israel-saak te laat vaar, en ook Amerikaanse prioriteite oor eiendomsreg en rasgebaseerde diskriminasie te bevorder. Onlangs na sy aankoms in Suid-Afrika het hy selfs gesê dat Trump Suid-Afrika as een van die belangrikste lande vir die VSA beskou. Dít is nie die soort aandag wat 'n nugtere, aspirerende middelmoondheid soos Suid-Afrika ligtelik moet opneem nie.
Dit is juis waarom die ANC nie langer alleen die diplomatieke gesig van Suid-Afrika behoort te wees nie.
As die DA, VF+, PA ensomeer saam verantwoordelikheid vir die nasionale regeringsprojek kan dra, waarom sou hulle nie ook die reg hê om in proporsionele mate kandidate vir sekere sleutelambassadeursposisies voor te stel nie? Suid-Afrika se diplomatiek behoort sy koalisiepolitiek te weerspieël. Dit sal weerspieël dat Suid-Afrika nou uit méér as ANC-belange bestaan. Dit sal die boodskap uitstuur dat buitelandse beleid nie net die ideologiese speelgrond van die ANC is nie, maar die gedeelde uitdrukking van 'n koalisiedemokrasie.
Natuurlik beteken dit nie dat elke party bloot sy lojale kaders of afgeleefde politici moet afvaardig nie. Daar moet geskiktheid, ervaring, professionaliteit en diplomatieke temperament wees. Wetgewing vereis immers dat aanstelbare hoofde van sending “geskik en gepas” moet wees deur oor relevante kennis, vaardighede en ervaring behoort te beskik. Maar binne daardie vereistes is daar ruimte om die RNE se samestelling beter te weerspieël.
Ramaphosa behoort op te tree soos die president van 'n koalisiedemokrasie en nie die laaste president van 'n ANC-monopolie wat nie meer bestaan nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










