Baie barmhartiges se verbeelding en harte is onlangs aangegryp deur 'n jong argitek van KwaZulu-Natal en sy bewusmakings- en fondsinsamelingsprojek gerig op die behuisingskrisis in ons land.
Sy naam is Wandile Mthiyane, 'n man wat grootgeraak het in 'n armoedige informele nedersetting, een van baie dwarsoor Suid-Afrika wat ons landskap soos pokmerke ontsier te midde van diep swaarkry.
Wandile het op 15 April 2026 'n staptog aangepak wat in Durban begin het en in Kaapstad sal eindig. Dit sal ongeveer 60 dae duur oor 'n afstand van 1 600 kilometer. Hy maak op sy staptog kontak met veral die verarmde inwoners van die gemeenskappe langs sy pad. Hy luister na hulle behuisingservarings, hoor wat hulle strewe is en wat die begrip “tuiste” vir hulle beteken.
Ek haal graag aan wat hy in 'n onderhoud met Linda van Tilburg op BizNews op 18 April 2026 gedeel het en wat hom diep geraak het:
“Today I met a lady. … she said home for her means a safe space where she feels warm with her loved ones. And that resonated with me. And I believe that the minimum requirement for one to have a dream is a dignified place to call home.”
Siende dat Wandile se poging juis geïnspireer is deur sy waarneming dat ons land se behuisingsbeleid ruimte vir verbetering bied, het ek dit goedgedink om ons lesers, op grond van my eie omvattende behuisingservaring, groter insig te bied ten opsigte van 'n ontwikkelingsterrein, naamlik lae-inkomstebehuising, wat toenemend sigbaar word in die vorm van groeiende plakkerskampe en binnestedelike verval.
Die Betekenis van Tuiste
Ons almal besef wat ons eie tuistes vir ons beteken: veiligheid en sekuriteit; die plek waar ons intimiteit (liefde) kan uitleef, hetsy liefde tussen 'n paartjie, of onderlinge liefde as 'n hele gesin, of selfs as 'n uitgebreide familie wat ook grootouers insluit. Dit is ook vir gewone mense hul grootste geldbate, wat selfs as sekuriteit aangebied kan word om kapitaal te bewillig vir entrepreneuriese doeleindes.
Ons eie opvoeding en dié van ons kinders en kleinkinders begin tuis. Ons eerste sosialiseringservarings word tuis ervaar: hoe gaan ons om met ons ouers/grootouers en ons broers en susters? Ons dra daardie ervarings van sosialisering dan uit na die samelewing buite die huis: skool, werksplek, vriendekring, kerk, ensovoorts. Uiteindelik is ons tuiste-ervarings die basis van hoe ons by al groterwordende samelewingstrukture inskakel: ons woonbuurt, dorp of stad; ons provinsie; ons land as geheel. Dit speel selfs uit op makrovlakke soos die Afrika-kontinent en die wêreld as 'n geheel.
Tewens, ons basiese menswees word eerstens in die baarmoeder en in ons tuistes gevorm.
Die rede vir my beklemtoning van die belangrikheid van tuistes, is die feit dat baie van ons meer bevoorregtes dit bloot as vanselfsprekend aanvaar. My leeftyd se betrokkenheid by lae-inkomstebehuisingsontwikkeling het my keer op keer laat besef hoe min baie van ons as meer bevoorregtes eintlik weet oor hoe “die ander helfde” werklik leef. Die uitdrukking “die ander helfde” is natuurlik in ons Suid-Afrikaanse konteks heeltemal misleidend. As ingeligte lesers gaan ek julle nie verveel met al die syfers oor ons ongelooflike ongelykhede in Suid-Afrika nie. Ons ken dit almal.
Wat baie van ons egter nie ken nie, is hoe daardie minderbevoorregte landsburgers die vergestalting daarvan, naamlik armoede, in hul alledaagse lewens ervaar. Dit word nie beskuldigend gesê nie, maar as 'n feitelike stelling gemaak om groter bewustheid te probeer skep van wat die spreekwoordelike “ander helfte” se beleefde werklikhede is.
Fondasies van ons Behuisingsbeleid
Saam met Wandile sal ek egter net op een terrein fokus, naamlik behuising, wat my professionele spesialiteitsterrein oor die grootste deel van 30 jaar was.
Waar ons Wandile se vordering en gewaarwordinge sal volg om deur middel van ’n “lewendige uitsending” 'n beter begrip te ontwikkel oor die geleefde behuisingsdilemma in ons land, sal ek poog om die groter konteks van ons behuisingsbeleid te beskryf: dit wil sê, wat sedert 1994 deur die regering en ander instansies gedoen is – en nog steeds gedoen word – in 'n poging om ons behuisingskrisis aan te spreek.
In 'n vorige gepubliseerde artikel in OntLaer is uitgewys hoe die bloedige hostel-konflikte van die vroeë 1990’s tot ’n nasionale inisiatief gelei het om die doodsgeweld tussen hostel-inwoners en ander township-inwoners te probeer besleg en te kanaliseer in die rigting van ’n meer omvattende behuisingsbeleid vir die land se totale bevolking.
Die breër behuisingsbeleid moes terselfdertyd die hostel-kwessie en die groter behuisingsdilemma in Suid-Afrika aanspreek.
Daar was in die vroeë 1990’s, na jare lange intensiewe bemiddeling en deur middel van professionele, konsensus-gedrewe werksgroepe van 'n Nasionale Behuisingsforum, uiteindelik 'n Nasionale Behuisingsbeleid vir Suid-Afrika uitgehamer. Dit was voor die 1994-oorgang na ons demokratiese bedeling en die beleid is goedgekeur deur al die buite-parlementêre partye én die destydse Nasionale Party-regering, omdat hulle almal in die beleidsmakingsproses ingesluit was en aktief daaraan deelgeneem het.
Die nuwe regering van Mandela en De Klerk kon dus wegspring met 'n behuisingsbeleid wat reeds voor die groter konstitusionele bedeling se aanvaarding in 1994 deur alle partye gesamentlik ontwikkel en goedgekeur is. Na die beste van my wete was daar geen ander ontwikkelingsbeleid op enige ander sosio-ekonomiese ontwikkelingsterrein in Suid-Afrika wat dieselfde voorsprong geniet het nie. Die kern van die aanvanklike behuisingsbeleid was om staatsfondse - belastingbetalersgeld - aan te wend om toegang tot behuising moontlik te maak vir die armstes van die armes. Daar was verskeie kriteria waaraan voldoen moes word om vir staatshulp met die oog op behuisingstoegang te slaag. Die vernaamste was gesinsinkomste, aangesien die beleid primêr na armer gesinne se welstand wou omsien.
Daar is dan deur veral provinsiale regerings tenders uitgereik om behuisingsprojekte van stapel te stuur, binne sekere kostebeperkings wat van tyd tot tyd aangepas is om met kostestygings tred te hou. Projekte het gewissel in grootte van slegs 'n paar honderd huise of gedienste erwe, tot duisende daarvan in een projek. Soms is een hoofkontrakteur aangestel, soms meer as een. Op bykans alle projekte het hoofkontrakteurs van verskeie subkontrakteurs se dienste gebruik gemaak.
Dit is 'n baie verkorte en vereenvoudigde beskrywing van hoe derduisende sogenaamde HOP-huise orals oor Suid-Afrika gebou is sedert 1994 (“HOP” verwys natuurlik na die oorkoepelende regeringsbeleid van die beginjare van die nuwe demokratiese bestel na 1994, naamlik die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram).
Die presiese getal HOP-huise/behuisingsgeleenthede wat sedert 1994 deur middel van die gemelde behuisingsbeleid tot stand gekom het, is nie bekend nie, maar word op tussen 3 en 4 miljoen beraam. Sommige beramings plaas die getal op om en by 5 miljoen. Ter klarigheid, met “behuisingsgeleenthede” word toegang tot ten minste 'n erf met dienste (water en sanitasie) bedoel, wat ook deur die regering se behuisingsbeleid vir die minderbevoorregtes moontlik gemaak is. Selfhelp-boustruktuur ontwikkeling vind dan in daardie gevalle ook met staatshulp plaas, teen 'n tempo wat die begunstigde pas en oor tyd voltooi word deur aansienlike inisiatief en dryfkrag vanaf die begunstigdes self. Opsigself is dit 'n goeie ontwikkelingsbeginsel, want alles wat met bloed en sweet (“sweat equity”) verdien word, word male sonder tal meer waardeer as blote “pasellas”.
Kyk mooi na die uitkomstes
Maar kan gemelde syfers, hetsy 3 of 5 miljoen – of iets tussenin – oor 'n periode van omtrent 30 jaar, as 'n prestasie gesien word of nie? Wel, in verskeie studies, heelwat daarvan onafhanklik van regeringsbeïnvloeding, word gesê dat die regering se lae-inkomstebehuisingsverskaffingsprogram een van die grootste prestasies van die post-1994-regime gesien kan word.
'n Eenvoudige berekening, naamlik die gemelde getalle huise/behuisingsgeleenthede hierbo vermenigvuldig met die gemiddelde familiegrootte onder minderbevoorregtes, naamlik 5, bring die getal mense wat deur die belastingbetalers met behuising gehelp is oor omtrent 30 jaar, op enigiets tussen 15 en 25 miljoen te staan. Gegewe 'n geraamde totale landsbevolking van 65 miljoen, is dit beslis nie 'n geringe prestasie nie. Om daardie rede is dit ook vanuit die buiteland as 'n besonderse prestasie aangeprys, selfs in wêreldterme.
Soos met bykans alle ontwikkelingsinisiatiewe het Suid-Afrika se staatsgefinansierde behuisingsprogram ook sy gebreke gehad en het dit nog steeds. Dit is juis op daardie gebreke waarop Wandile wil fokus met sy bewusmakingsproses en geldinsameling om beter en meer moderne stelsels in plek te plaas om nog beter behuisingsontwikkelingsuitkomste in Suid-Afrika moontlik te maak. Myns insiens is Wandile Mthiyane beslis op die regte pad (toevallige woordspeling) met sy staptog en sy idees vir verbetering in sy agtersak.
Hoewel talle aanpassings, byvoegings en wysigings oor tyd aan Suid-Afrika se lae-inkomstebehuisingsbeleid aangebring is, is die basiese beleidsresep nog dieselfde as die oorspronklike van 1994. Die meeste huise word deur kontrakteurs gelewer ingevolge kontrakte met 'n provinsiale regering of groter munisipaliteit/metro, wat die staatsfondse verskaf en oorsigverantwoordelikhede het wat die projekte aanbetref.
Behuisingspatologieë
Dit is juis (veral, maar nie uitsluitlik nie) die massa-verskaffing van behuising deur die staat via kontrakteurs, wat oor tyd baie van die tipiese Suid-Afrikaanse ontwikkeling-“siektes” begin manifesteer het.
In geen bepaalde volgorde van belangrikheid nie: korrupsie (natuurlik); swak toesig en derhalwe swak gehalte van huise wat dikwels gelewer word; oneffektiwiteit al langs die verskaffingsketting af – vanaf goedkeurings, tot by die ontvangs van ontwikkelingsterreine deur kontrakteurs; tot by toesig oor die projek se implementering, tot by die oorhandiging van voltooide huise. Oneffektiwiteite veroorsaak natuurlik groot vertragings in die verskaffingsketting, lei tot onafgehandelde projekte en 'n daling in die getal eenhede wat binne die beskikbare fondse gelewer kan word aan die begunstigdes. Die behuisingsagterstand word dus al groter by die dag.
Daar moet aldus ernstig besin word oor die huidige verskaffingsmodel. Hoewel dit indrukwekkende resultate oor tyd behaal het, soos uitgewys, het 'n tipiese ekonomiese probleem ingetree: die wet van dalende meeropbrengs (“the law of diminishing returns”). Nie-ekonome verstaan daardie wet baie goed as ek dit aan die hand van 'n voorbeeld uit die sportwêreld illustreer. Rugby is my gunsteling sportsoort, so ek sal dit ter illustrasie gebruik. Beide spanne het 15 spelers. Spanne in dieselfde liga speel gewoonlik teen mekaar. Die speelveld is dus, idiomaties gestel, veronderstel om gelyk te wees; indien alle ander faktore wat die wedstryd se uitkoms kan bepaal natuurlik ook dieselfde vir beide spanne is.
Dit is die beginsel wat in Latyns as “ceteris paribus” bekend staan: die Engelse sê “all other things being equal”. Die skeidsregter en assistent-skeidsregters moet dus die reëls konsekwent op beide spanne toepas, om een voorbeeld te noem van faktore wat gelyk moet wees.
Om by die wet van dalende meeropbrengs uit te kom: as een span 15 spelers bykry en die ander span nie, is die kanse groot dat die span met 30 spelers die oorhand gaan kry. As daardie span egter nog 30 spelers bykry en dus uit 60 spelers bestaan, gebeur iets onverwags dikwels. Die span met 60 spelers kom in mekaar se pad, val oor mekaar, hardloop teen mekaar vas en kry hulself nie meer goed georganiseer as span nie weens die groot getal spelers. Wat op die getalle af dus wil voorkom as 'n besliste voordeel, begin 'n nadeel te word. Die oorlaaide span word minder en minder effektief en selfs teenproduktief. Die span van 15 begin die oorhand kry. Die rede: die wet van dalende meeropbrengs het ingetree. Meer is nie noodwendig beter nie.
Op die ontwikkelingsterrein is dieselfde wet waar te neem. Op die behuisingsterrein in Suid-Afrika het die “spelers” bloot te veel en te lomp geword. Die aantal spelers raak elke jaar meer, want elke munisipaliteit, stadsraad, burgemeester, munisipale bestuurder en elke kontrakteur dring aan om die spel te speel. Meer reëls word ingebring om die toenemende oneffektiwiteite te probeer aanspreek. Prosesse raak meer kompleks. Meer en meer tyd gaan verlore en minder en minder huise en behuisingsgeleenthede word gelewer.
In ideologiese terme moet daar 'n verskuiwing kom in Suid-Afrika, ook op die terrein van behuisingsontwikkeling met belastingbetalersgeld. Ons moet toenemend nie meer die staat as ons voog sien nie, al het daardie vadervoog baie edele voornemens. Die staat moet sy burgers genoeg vertrou om hul eie potjies te kan krap. Anders gestel, die Suid-Afrikaanse staat moet “verburgerlikende” beleid en stelsels/tegnologie promoveer wat sy landsburgers, in hierdie geval sy lae-inkomste landsburgers, in staat stel om hul eie tuistes te skep, met eie inisiatief en “bloed en sweet” of dan “sweat equity”, wat bloot gefasiliteer word deur beleid, stelsels, tegnologie en belastingbetalersfinansiering. Regstreekse staatsbetrokkenheid moet geminimaliseer word.
Ek dink dit is in breë trekke ook waarheen Wandile mik. Hy het ons ondersteuning nodig en ek wil lesers dus aanmoedig om sy “Walk for Home” te volg en te promoveer in die dampkringe waar ons invloed het. Ons moet probeer om op alle terreine 'n staatsbestel na te jaag wat minder van bo na onder funksioneer. Soms het van-bo-na-onder-staatsbeleid goeie bedoelings in gedagte, maar dikwels eerder 'n beheptheid met magsbeheer oor alles en almal.
Wandile het reeds toegang tot die Universiteit van Harvard in die VSA waar hy sy Ubuntu Home KI-platform verder gaan ontwikkel, met die oog op implementering op skaal. Dit is beslis opwindend vir dié van ons wat Suid-Afrika die beste land wil maak wat dit kan wees.
Nog artikels op deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













