Afrikanervlugtelinge: Meer as een ding kan waar wees
Wanneer ideologieë bots, is die mens self die offerlam.
Ek het oor die afgelope dekade meer as genoeg keer 'n vriend vir die laaste keer vir koffie gekry voordat hy oorsee vertrek.
Nie een van hulle was ooit triomfantlik daaroor nie, maar ook nie hartseer nie. Net moeg gesukkel en dankbaar vir 'n nuwe geleentheid. Ek sit elke keer en luister, knik my kop, en probeer niks dom sê nie. Maar elke keer in die dae daarop sit en dink ek oor of ek en my gesin moet bly of gly.
Dis nie 'n nuwe vraag vir Afrikaners of Suid-Afrikaners nie. Die versoeking om te vlug na elders, of om jouself binne Suid-Afrika te isoleer van die verval is iets wat byna elke denkende inwoner van Suid-Afrika al oorweeg het. Maar die afgelope paar weke, na die aankoms van die 49 Afrikanervlugtelinge in die VSA, het die vraag amper onvermydelik weer opgeduik. Want die 49 Afrikanervlugtelinge het daai Google Form ingevul en hulle het gegaan. En nie stil-stil sonder fanfare soos miljoene ander voor hulle die land verlaat het nie. Maar as vlugtelinge en met 'n Amerikaanse president wat byna die deur vir hulle staan en oop gehou het en wat polities veel meer met hulle vertrek te doen het as met hul lot.
Hierdie kwessie het die Afrikaanse wêreld (en sy Engelse voyeurs) onkant betrap. Selfs al het Trump in Februarie die aankondiging gemaak, het min mense gedink dit gaan 'n realiteit word.
Twee onlangse artikels op OntLaer, onderskeidelik deur Frederik van Dyk en Christoff Odendaal, het in baie verskillende style probeer sin maak van die hele affêre. Die een met ’n filosofiese benadering en die ander nadenkend oor hoe ons almal emosioneel gerat is om blinde kolle te hê. Beide bied 'n genuanseerde blik op 'n werklikheid wat nie gemaklik in ideologiese boksies pas nie.
Frederik beskryf die eksterne dogma: die sosiale idees wat bepaal wie waardigheid verdien.
Christoff beskryf die interne meganismes: hoe ons brein werk om sulke dogmas te bevestig.
Betekenis in die kompleksiteit
Albei artikels herinner aan 'n moderne Camus-beskouing: die kommer dat betekenis bedreig word, nie net deur geweld of onreg nie, maar deur die trivialisering oftewel vervlakking van betekenis self. As elke storie onmiddellik deel word van 'n groter stryd, vir of teen “rassegeregtigheid”, vir of teen regse populisme of kulturele outonomiteit, dan raak die mense in die debat verlore. Hulle word blote agtergrondkarakters. So raak 'n samelewing al beter met kwaad te wees vir die ander kant en al hoe swakker in sy vermoë om begrip te vorm.
Beide artikels op OntLaer erken dat die saak meer kompleks is as wat 'n mens in verskillende media gaan lees of luister en dat die kompleksiteit juis iets vir ons leer. Nie net oor vlugtelinge of oor Afrikaners nie, maar oor ons diepste menslike behoefte om betekenis en begrip te vind in 'n wêreld van kompleksiteit.
Daar is grootliks twee beskouings oor die vlugtelinge wat in die media verwoord word en 'n derde wat nie in die media verskyn nie, maar om braaivleisvure, op WhatsAppgroepe en tydens middagete by die werk bespreek word:
Aan die een kant is daar die oortuiging dat hierdie 49 mense misbruik maak van 'n geopolitieke geleentheid. Dat hulle nie vlugtelinge in die konvensionele sin is nie, dat hulle nie vervolg word nie, en dat hulle die angs en wrewel van 'n regse Trump-administrasie gebruik om uit Suid-Afrika te ontsnap. Vanuit daardie hoek lyk hul stories verdag, hul motiewe onsuiwer, en dat hulle vlug eerder weens wit angs as wat dit 'n daad van selfbehoud is. Dié kant kyk agterdogtig na die storie. As jy 'n wit Afrikaner is, kom jou gekla met die bagasie van geskiedenis.
Aan die ander kant is daar die wat sê, dis waar dat hierdie mense nie oorlog of volksmoord oorleef het nie, maar dis so na as moontlik daaraan sonder dat dit oorlog of volksmoord is. Dit is waar dat meeste mense in Suid-Afrika nie veilig, voorspoedig of vry leef nie. Die Afrikanervlugtelinge het geleef in 'n land waar die staat hulle nie beskerm nie, waar ras wetlik 'n bepalende faktor is, en waar daaglikse verval, misdaad en uitsluiting nie bloot subjektiewe persepsies is nie, maar tasbare realiteite. Hierdie kant vra hoekom sekere groepe se vrees altyd as histerie afgemaak word, terwyl ander se vrees onmiddellik erken word.
Laastens is daar 'n derde beskouing wat myns insiens deur die redelike en stille meerderheid aanvaar word, wat besef dat meer as een ding waar kan wees.
Maar wat as meer as een ding waar is?
Dis dalk die moeilikste waarheid vir ons moderne en gepolariseerde openbare diskoers, dat verskillende dinge gelyktydig waar kan wees. En hierdie reeks uiteenlopende waarhede pas nie netjies in bestaande ideologiese- of groepboksies nie.
Dis waar dat die vlugtelinge pionne is in Trump se simboliese stryd teen Suid-Afrika. Maar dit is ook waar dat sommige van hulle waarskynlik regtig vrees, uitputting en verwerping beleef het in 'n land waar die staat lankal nie meer betroubaar is nie. Dis dalk waar dat Trump hulle gebruik, maar dit beteken nie dat hulle niks het om van te vlug nie.
Dis waar dat daar mense oor die wêreldheen is wat objektief meer ly: die Masalit in Suid-Soedan, die Rohingya in Mianmar of die mense in Yemen. Maar die punt is die 49 mense was nie in Suid-Soedan of Yemen nie. Hulle was in Belfast, Mpumalanga waar die paaie nie meer teer op het nie, of in Vereeniging waar die staalfabrieke toe is of in Randburg waar hulle kwartaalliks huisrooftogte oorleef het. Miskien het hulle nie 'n oorlog oorleef nie, maar moes hulle wag vir 'n oorlog voor hulle Trump se geleentheid aangegryp het?
Dis waar dat sommige van hulle dalk die waarheid verdraai het om by die VSA se oop deur in te kom, ons sal miskien nooit weet nie. Maar dis ook waar dat Suid-Afrika wetgewing het wat op ras gebaseer is en dat dit, al is dit tans grondwetlik, eenvoudig vir die meeste mense soos omgekeerde diskriminasie voel. Die regsgeleerde regverdigings oor hoekom billike diskriminasie aanvaarbaar is, is vir dié mense irrelevant.
Dis waar dat hulle hul kultuur dalk gaan verloor nou dat hulle in die VSA sit. Maar dit is ook waar dat kultuur nie soveel waarde het as jy nie eers veilig voel nie. Miskien kies hulle om deel van die diaspora te wees, eerder as Afrikaners wat voortdurend hulself staatsbestand moet maak.
Dis waar dat Afrikaners dikwels as sondebokke gebrandmerk word, en die ANC agter bevrydingsretoriek wegkruip. Maar dis ook waar dat nie elke bewering van vervolging geloofwaardig is nie, en dat daar wel oordrewenheid is oor die daaglikse leefervaring van mense, wat gevolglik die waters van hierdie debat vertroebel.
Dis waar dat hulle waarskynlik nie aan die streng internasionale reg definisie van “vlugteling” voldoen nie. Maar dis ook waar dat die meeste gewone mense nie handboeke oor internasionale reg lees nie. Hulle sien 'n oop deur, en hulle stap daar deur.
Soos met meeste dinge in die lewe, is dit nie goed teenoor sleg, of waarheid teenoor leuen nie. Dis 'n mengsel en dis kompleks. Dit vereis oordeel en diskoers wat stadig, versigtig, en selfbewus is.
En dit is hier waar die derde redelike beskouing korrek deur die kompleksiteit sien dat die waarheid iewers tussenin lê. Dat die 49 nie heiliges of helde is nie, maar ook nie noodwendig opportuniste of slagoffers nie. Dat mense verskillende redes het om te vlug, sommige meer geldig as ander, maar almal menslik. Hierdie beskouing sê: ja, Suid-Afrika is nie 'n oorlogsones nie, maar dit is ook nie normaal dat jy in vrees leef, jou buurt sien verval, en voel jy het geen toekoms hier nie. Dit sê: dalk is hulle nie vlugtelinge in die klassieke sin nie, maar hulle is ook nie gek om te gaan nie. En dalk moet ons minder tyd spandeer om te oordeel wie hulle is, en meer tyd om te vra hoekom so baie mense soos hulle voel.
Die vuurdanse van ideologie
In die middel van hierdie kompleksiteit word die “vlugtelinge” nie as mense gesien nie, maar as vure waarvoor ideologiese stamme dans. Dit is nie die waarheid wat hier gewen het nie, maar eerder 'n geval waar die betekenis van waarheid onderhandel word en uiteindelik nie op ooreengekom is nie.
En dit is dalk die werklike krisis: dat objektiewe, gebalanseerd gedeelde en ooreengekome oogpunte oor feitelike gebeure al hoe minder voorkom in ons openbare gesprekke. Nie omdat mense noodwendig uitdruklik lieg nie, maar omdat waarheid ondergeskik geraak het aan ideologieë en gesprekke willekeurig gevoer word. Wié praat, word belangriker as wát gesê word.
En so verloor ons die vermoë om ander mense as individue te sien, en sien hulle eerder as simbole van die groot stryde tussen goed en kwaad, onderdrukker en slagoffer, links en regs.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: