Suid-Afrika het baie uitdagings en probleme. Dis 'n feit. Dis ook seker een van die redes waarom ons land die rugby so ernstig opneem – dít en natuurlik Suid-Afrikaanse humor, anders gaan ons dit nie maak nie.
Airlink het onlangs daarin geslaag om Suid-Afrika én die res van die wêreld vir 'n oomblik op te laat kyk. Kort voor die Springbokke en die All Blacks se toetswedstryd op 29 Augustus, by die DHL Stadion in Kaapstad, het twee Airlink-vliegtuie net voor die afskop in 'n noue vlugpatroon oor die stadion gevlieg. Dit was so hittete toe die voorste vliegtuig baie naby aan die stadion gevlieg het en daarin geslaag het om een van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende bemarkingsaksies van die jaar te skep. Hoe naby is te naby? Wat kon gebeur het as die vliegtuig die stadion getref het? Was dit roekeloos?
Natuurlik sal Suid-Afrikaners die land verdedig met 'n: “But did you die en het jy al ooit in 'n Suid-Afrikaanse taxi gery, want onse mense maak maar so.”
Nog 'n amusante reaksie op dié gebeurtenis was dié van 'n TikTok smaakmaker, wat verduidelik het dat die stadion ongeveer 55 000 mense kan hou en aangesien die stadion redelik stampvol was, is dit veilig om te sê dat die vliegtuie oor 110 000 voet gevlieg het. Jip, in Suid-Afrika hou ons nie terug nie – ondanks die lae slaagsyfer. En asof dit nie genoeg was nie, het iemand boonop 'n aanlynspeletjie ontwerp en geprogrammeer, naamlik die Flappy Link – Cape Town Flyover Challenge, waaraan almal gratis kan deelneem.
Daar is ook natuurlik negatiewe kommentaar en kritiek teenoor Airlink vanuit die buiteland wat 'n debat oor bemarking, veiligheid en sport aangespreek het. Hoe laag moet jy bereid wees om te vlieg om jou handelsmerk nuwe hoogtes te laat bereik en hoe seker is jy dat mense jou sal onthou wanneer die vliegtuie geland het en die stof gaan lê het?
Impak bo invloed
Airlink is direk betrokke by die Rugby’s Greatest Rivalry en het ook die twee nasionale spanne tussen wedstryde vervoer, daarom het die lugskou plaasgevind. Volgens Flightradar24-data het die voorste vliegtuig teen 150 knope (ongeveer 278 km/h) gevlieg en het dit tydens die vlug op sy laagste punt ongeveer 41 tot 46 voet (sowat 12 tot 14 meter) bo die stadion se dak beweeg.
Vanuit 'n tradisionele bemarkingsperspektief is dit nie vir ons nuut om vliegtuie te sien wat advertensiebaniere in die lug op trek, wolk-boodskappe in die lug skryf of mense wat valskerm spring om 'n enkele boodskap oor te dra nie. Airlink moes anders dink. In plaas daarvan om net aan kykers te vertel dat Airlink die amptelike plaaslike lugredery van die toer is deur bemarkingsmateriaal regoor die stadion te plant en miskien 'n boodskap op die veld te verf, het Airlink die geleentheid met 'n moderne aanslag genader, deur ervaringsbemarking en handelsmerkassosiasie toe te pas en die vliegtuie fisies deel van die rugbyervaring gemaak.
Die Springbokke en die All Blacks is twee van die mees herkenbare handelsmerke in internasionale rugby, en 'n wedstryd tussen die twee spanne skep outomaties 'n groot mediagehoor. Dit was dus nie nodig vir Airlink om 'n gehoor te bou nie. Hulle moes 'n oomblik skep wat daardie bestaande gehoor se aandag vir 'n kort rukkie vasgevang kon word.
Die belangrikste bemarkingswaarde het waarskynlik ná die vlug plaasgevind. Toeskouers het hul selfone uitgehaal om die vliegtuie af te neem, televisiekykers het die beeldmateriaal aanlyn gedeel, talle radiostasies regoor die land het dié storie bespreek en lugvaart-entoesiaste het die vlug op vlugsporingsdienste gevolg. Ons kan dus die publiek as 'n verspreidingsmeganisme sien waar die handelsmerk van betaalde media na verdiende media beweeg het. Die onderwerp was só warm, dat dit nie meer nodig vir Airlink was om vir elke kyk, plasing, nuusberig of lugtyd te betaal nie.
Vliegtuie en rugby kom al 'n lang pad
Die beeld van 'n vliegtuig wat oor 'n rugbystadion vlieg, het ook herinneringe aan die Rugbywêreldbeker-eindstryd in 1995 by Ellis Park opgeroep. Net voor die geskiedkundige gebeurtenis het 'n Suid-Afrikaanse Lugdiens Boeing 747, met die vliegtuignaam Lebombo, oor die stadion gevlieg met die boodskap “GOOD LUCK BOKKE”. Die beeld van 'n vliegtuig met 'n boodskap, het sedertdien deel van Suid-Afrika se sportgeskiedenis geword.
Airlink het dus nie noodwendig 'n nuwe visuele taal geskep nie, hulle het 'n bestaande Suid-Afrikaanse sportbeeld vir 'n nuwe generasie herintrepreteer. Die verskil was dat die moderne weergawe nie 'n enkele groot vliegtuig met 'n boodskap aan die onderkant van die romp en onder die vlerke was nie, maar twee vliegtuie wat die visuele spanning tussen die Springbokke en All Blacks verteenwoordig het, terwyl albei deur dieselfde lugredery verbind is. Deur die twee mededingende rugbyspanne elkeen met 'n vliegtuig te verteenwoordig, het die handelsmerk op 'n visuele manier die idee van verbinding uitgebeeld. Suid-Afrika en Nieu-Seeland is teenstanders op die rugbyveld, maar die vliegtuie verbind die twee lande buite die veld.
Vir 'n Suid-Afrikaanse rugbyondersteuner kan 'n vliegtuig oor die DHL Stadion onmiddellike assosiasies met die Springbokke, die groot oorwinning in 1995, nasionale trots en rugby oproep. Vir iemand wat nie dieselfde kulturele konteks deel nie, kan dieselfde beeld as 'n potensiële lugvaartveiligheidskwessie geïnterpreteer word en dis wat in die buiteland gebeur het.
Terwyl baie Suid-Afrikaners die vlug binne die konteks van rugby, nasionale trots en vermaak beskou het, het internasionale media dit as 'n noue ontkoming gesien en hoofsaaklik gefokus op hoe laag die vliegtuie oor die stadion gevlieg het. Buitelandse mediaplatforms het die gebeurtenis as dramaties en selfs kommerwekkend beskryf, met veiligheid wat 'n sentrale deel van die verhaal geword het. Suid-Afrikaanse en internasionale lugvaartkenners het die veiligheidsmaatreëls van 'n vliegtuig wat laag oor 'n vol stadion beweeg, bevraagteken.
Airlink was gereed daarvoor en kon hulself verdedig deur aan te dui dat die vlug, met die ondersteuning van die South African Civil Aviation Authority en Air Traffic Navigation Services, fyn beplan én geoefen is. Volgens Airlink het die vliegtuie nie passasiers vervoer nie en was daar senior vlieëniers aan boord om die operasie te ondersteun.
Die uitdaging in handelsmerke: hoe laag moet jy daal?
In die kommunikasiebedryf word daar toenemend aangemoedig om iets opvallends, ongewoons of selfs kontroversieel te doen met die doel om deur die geraas van sosiale media te breek en mense se aandag te vang – selfs al is dit net vir 'n paar sekondes. Die probleem is dat 'n handelsmerk nie altyd beheer het oor wat die mense van die handelsmerk kan onthou nie.
Die belangrikste vraag is dus nie hoeveel mense oor 'n veldtog praat nie, maar eerder wat mense oor die handelsmerk sê wanneer hulle daaroor praat. In Airlink se geval is daar verdeelde groepe: positief en negatief. Ongeag van wat mense sê, praat albei groepe steeds oor Airlink en het die handelsmerk daarin geslaag om hul naam aan een van Suid-Afrika se grootste sportgebeurtenisse te koppel. Hoe meer mense praat, hetsy dit positief of negatief is, hoe meer relevant raak Airlink se handelsmerk.
Ander handelsmerke soos Red Bull het net so suksesvol deur ervaringsbemarking geword. Red Bull adverteer lankal nie meer net 'n energiedrankie nie. Hulle adverteer die produk as 'n kulturele ervaring en het 'n hele wêreld rondom spoed, avontuur, sport en prestasie gebou.
Suid-Afrikaanse besighede moet begin besef dat goeie bemarking nie altyd beteken dat 'n maatskappy harder moet praat nie, maar dat hulle iets moet doen sodat mense hul eie ervarings en weergawes daarvan kan oorvertel. Word of mouth en sterk netwerkverhoudings is in vandag se tyd een van die grootste bates wat 'n besigheid kan hê.
En nou sit ons met humor en memes
In 'n vorige Ontlaer-artikel het ek in diepte oor Trendjacking geskryf waar memes as advertensieborde gesien kan word. Vanuit 'n Suid-Afrikaanse konteks sien ons dieselfde beginsel in plaaslike besighede wat hul handelsmerke aan die twee vliegtuie koppel en as advertensies uitstuur. Die vliegtuie is die advertensie. Airlink het 'n punt bereik waarin hul meetbare uitsette nie aan mediawaarde of kyke gemeet kan word nie, maar eerder die langtermyn-assosiasie wat mense met Airlink behou. Die groter uitdaging vir Airlink is nou om seker te maak dat dié aandag in ’n blywende en positiewe handelsmerkassosiasie omskep word en dat die risikobestuur net tydelik nodig was.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Bronnelys
Airlink. 2026. Airlink Flyby Marks Rugby’s Greatest Rivalry. 22 Augustus 2026. FlyAirlink
Associated Press. 2026. Dramatically low flyby by passenger jets over packed South African stadium sparks safety debate. 1 September 2026. https://apnews.com/article/south-africa-stadium-flyby-passenger-jets-rugby
ECR. 2026. Aviation expert weighs in on Airlink flyover – ‘everybody must just calm down’. 1 September 2026. https://www.ecr.co.za/news/news/aviation-expert-weighs-in-on-airlink-flyover
Flightradar24. 2026. Petchenik, I. Airlink’s low flypast over Rugby match in Cape Town. 1 September 2026. https://www.flightradar24.com/blog/flight-tracking-news/special-event/airlinks-low-flypast-over-rugby-match-in-cape-town
People. 2026. Airline Defends Aerial Stunt After 2 of Its Planes Flew 50 Feet Above Stadium Packed with 50,000 Fans. 2 September 2026. https://people.com/airline-defends-flyover-of-2-jets-less-than-50-feet-above-packed-stadium-
SA Rugby Magazine. 2026. Planes flew 12.5m to 14m above stadium. 31 Augustus 2026. https://www.sarugbymag.co.za/planes-flew-12-5m-to-14m-above-stadium
1995 Rugby World Cup final. 2026. Historiese oorsig van die Rugbywêreldbekereindstryd en die Lebombo-vliegoorvlug. https://en.wikipedia.org/wiki/1995_Rugby_World_Cup_final
TikTok video:
Enable 3rd party cookies or use another browser
Ontlaer-artikel: https://www.ontlaer.co.za/p/hoer-as-die-empire-state-building
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











