Ons leef in interessante tye
Besluit wat jy doen met die tyd aan jou gegee.
Elke keer as ons by my vrou se peetma kuier, vra sy vir my: “En, Daniël, hoe gaan dit met die politiek?”
Vroeër jare toe ek voltyds in regspraktyk was, het ek gevoel dat ek nie die vraag kan beantwoord nie, want ek was nie regstreeks by partypolitiek betrokke nie. Ja, ek was betrokke by burgerregte aktivisme en openbare belange litigasie, maar ek het gevoel politiek is dit waarmee politieke partye hulself besig hou. Verder dink ek nie juis aan myself as 'n politieke dier nie. Ek praat graag oor politiek, maar het nie juis 'n behoefte om in politiek betrokke te wees nie. Maar soos die 1929 Nobelprys vir Literatuur-wenner Thomas Mann immers gesê het, “Alles is politiek”.
So in reaksie op my vrou se 78-jarige peetma se onskuldige vraag, antwoord ek altyd half-outomaties en half tong-in-die-kies “Ons lewe in interessante tye, Tannie”, waarop sy dan altyd reageer “Ag, ou Daniël, ek voel ons sê dit al vandat ek 'n kind was.”
Die buiteland
Die versoeking is altyd groot om te dink hier en nou is anders. Dat ons in 'n buitengewone tyd lewe. Maar ons huidige hier en nou is inderdaad onstuimig. Die wêreldorde is besig om te skuif, en die sogenaamde reëlsgebaseerde orde waaragter talle lande (veral in die Weste) vir dekades geskuil het, kraak sigbaar.
Might is right word nie meer net openlik deur Rusland en China beoefen nie (lande wat nog nooit regtig voorgegee het om hulself aan daardie orde te onderwerp nie), maar ook toenemend deur die Verenigde State self. Dit is duidelik sigbaar met die arrestasie van Nicolás Maduro, die VSA se bomaanvalle in Nigerië, Iran en elders (slegs tydens die Obama-bewind was daar meer bomaanvalle deur die VSA) en dan natuurlik Donald Trump wat sonder veel ironie dreig om Groenland oor te neem.
Intussen beleef die Weste en veral Europa sy eie interne omwentelinge. Die skeur tussen politieke en media-elite aan die een kant, en die gewone kieser aan die ander, word al hoe dieper. In lande soos Italië, Nederland, Argentinië en elders word regerings verkies met uitdruklike mandate om die establishment te skud, om orde te herstel en om “normaal” terug te bring, al beteken dit dat gevestigde instellings en gebruike ontwrig word.
En in reaksie op hierdie onstuimighede hoor 'n mens al hoe meer van die sogenaamde middelmagte wat nie meer outomaties agter Washington, DC aanstap nie, wat weier om eenvoudig kant te kies, en wat eerder hul eie koalisies, invloedsfere en belange probeer bou in 'n wêreld waar die ou sekerhede vervaag.
Wêreldkonflikte het ook nie afgeneem nie, inteendeel. Die oorlog in Oekraïne sloer voort, met geen duidelike eindpunt nie. In Asië speel China geduldig maar doelbewus met Taiwan se senuwees deur militêre oefeninge, regstreekse missielvuur en kuber-aksies. Onafhanklike konflikmonitering bevind dat die aantal wêreldwye konflikte oor die afgelope vyf jaar byna verdubbel het, met 'n skerp toename in konflikgebeure tussen 2020 en 2024. Sommige ramings dui daarop dat daar in 2024 meer konflikte was as op enige tydstip sedert die Tweede Wêreldoorlog.
Verder bevestig die jongste vrystelling van nuwe Epstein-lêers hierdie week hoe diep en wyd dié verrotting strek. Hoe groot die netwerk was. Hoe lank dit geduur het. En hoe baie mense met mag, geld en aansien óf aktief betrokke was, óf verkies het om weg te kyk. Dit was nie 'n randverskynsel nie, maar deel van 'n wêreld waar elites oor grense (beide fisies en moreel) beweeg wat vir gewone mense ondenkbaar is.
Plaaslike omwentelinge
Hier aan die suidpunt is die politiek nie minder onseker nie. Die regering van nasionale eenheid gaan met stampe en stote voort. Al is daar op papier tekens van samewerking en selfs sporadiese vordering, sukkel die meeste Suid-Afrikaners steeds om kop bo water te hou. Die ekonomie het nog nie noemenswaardig gedraai nie, werkloosheid bly verstommend hoog, en die alledaagse ervaring van staatsverval het nie verdwyn nie.
Skandes binne die polisie word byna daagliks onthul en gevolglik bly die belofte van veiligheid vir baie burgers 'n abstrakte idee eerder as 'n werklikheid. Dienslewering stort steeds in duie en Suid-Afrika se internasionale aansien kwyn. Suid-Afrika praat toenemend uit twee monde: Ons verkondig verbintenisse tot die reëlsgebaseerde orde en menseregte, maar sluit terselfdertyd aan by regimes en posisies wat daardie waardes ondermyn.
Politieke partye self is in beweging. Die DA staan voor 'n leierskapsverandering sedert John Steenhuisen se terugtrede en die party soek 'n nuwe gesig en rigting. President Ramaphosa word toenemend uitgedaag, terwyl die ANC se steun op geskiedkundige laagtepunte bly. Die EFF, vir jare die dominante Afrika-sosialistiese stem, is in 2024 verrassend deur die MK-party verbygesteek.
Verder word politiek nie net deur tradisionele politieke partye beoefen nie. Burgerlike organisasies soos AfriForum beoefen vandag selfs mededingende diplomasie op die wêreldverhoog, soms meer doeltreffend as die staat self.
Die plaaslike politiek is dus voortdurend aan die beweeg. En met nog 'n verkiesingsjaar is die beslis interessante tye te midde van die wêreldwye onsekerhede.
Stoïsynse troos
So die wêreld is inderdaad mal, soos Francois van Coke sing. Maar die wêreld was nog altyd mal. Dink ons regtig ons is die eerste mense wat politieke disfunksie beleef? Die eerste wat voel die wêreld val uitmekaar? Die eerste wat onderdrukking ervaar, wat moedeloos raak oor hoe wreed en kleinlik mense soms met mekaar kan wees of hoe opvoerig die politiek dikwels is? Die gevoel van uniekheid is self oud.
Ons kyk dikwels na Stoïsynse filosofie deur 'n geromantiseerde lens. Instagram-aanhalings, meditasie-apps, skoon oggendroetines en minimalistiese wysheid. Maar die Stoïsyne het nie rustige stabiliteit geken nie. Hulle het Nero geken. Hulle het bloeddorstige politiek, teregstellings en die willekeur van keisers beleef. Hulle het nie in 'n voorspelbare republiek geleef nie, maar in 'n wêreld waar mag vinnig kon draai en lojaliteit jou lewe kon kos.
Selfs Sokrates en Plato (die filosoof, nie waar die Fortuner mammas vanoggend hul flat white gekry het nie) het nie in 'n glans-era van Atheense harmonie gefilosofeer nie, maar te midde van politieke omwenteling en die heerskappy van die Dertig Tiranne. Kyk ons na die moderne era. Vir iemand wat in 1914 in Europa wakker geword het, was “interessante tye” nie 'n grappie nie, maar 'n doodsvonnis vir 'n hele generasie. In 1939 was die wêreld se morele en politieke kompas letterlik aan die brand. In 1962 was kernoorlog nie 'n abstrakte akademiese konsep nie, maar iets wat ons grootouers laat blikkieskos opgaar het. En vir my vrou se peetma — gebore in 'n wêreld wat nog die skadu van 'n wêreldoorlog gedra het — was “interessante tye” waarskynlik in elke dekade net anders verpak: Koue Oorlog, revolusies, oliekrisisse, apartheid se einde, die nuwe Suid-Afrika se hoop én teleurstellings, 9/11, die groot finansiële krisis, pandemies.
My punt is nie dat ons nie mag kla oor die onsekerhede van die hede nie. My punt is dat selfs die tydperke wat ons vandag romantiseer, van binne af soos chaos moes voel. Ek vermoed die gevoel van unieke krisis is vandag sterker omdat ons in 'n nuusstroom leef wat nooit ophou nie. 'n Mens se brein is nie gemaak om elke uur 'n nuwe “krisis” te verwerk nie en tog is dit presies wat ons fone van ons vereis.
Dit alles gesê, die risiko’s en gevare van ons huidige onsekerhede is werklik.
Oekraïne se sterftes is werklik. Gaza se menslike tragedie is werklik. Taiwan se spannings is werklik. Iran se interne krisis is werklik. Die nuwe wêreldorde is werklik. Suid-Afrika se ekonomiese ellende is werklik. Die onsekerheid oor die invloed van kunsmatige intelligensie is werklik.
Elke geslag kry sy eie mengsel van groot skuiwe, skandes, oorlog, tegnologiese ontwrigting, leiers met groot ego’s en ontbering terwyl die gemiddelde mens bloot probeer om 'n eerlike en ordentlike bestaan te voer. Ons tydsgewrig is uniek, net soos elke tydsgewrig uniek is.
Dit herinner my aan Tolkien se woorde in The Lord of the Rings:
“I wish it need not have happened in my time,” said Frodo. “So do I,” said Gandalf, “and so do all who live to see such times. But that is not for them to decide. All we have to decide is what to do with the time that is given us.”
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Ek hou so baie van jou skrywes. Net jammer so min mense lees dit!