Discussion about this post

User's avatar
PIET DU PLESSIS's avatar

Op 'n ligter noot, Daniël, maar ek dink dit sal aansluit by sekere van jou waarnemings oor Kaapstad. Elke keer as ek en my vrou Kaapstad toe vlieg, voorheen van OR Tambo of Lanseria af, maar deesdae van ons eie Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe af, dan skrik ek een of ander tyd tydens die vlug en vra angstig vir my vrou of ons ons paspoorte onthou het! Dit voel elke keer nog steeds vir ons of ons na 'n ander land toe vlieg waar ons paspoorte nodig sal wees.

Dis natuurlik omdat ons uitsien om altyd daardie deel van die Kaapstad te geniet wat mens werklik na 'n toeris laat voel en maklik laat vergeet van die groter Suid-Afrika, waarna jy verwys het. Jare gelede is mens se illusie oor Kaapstad as idilliese vakansiebestemming heelwat gedemp wanneer mens daal lughawe toe en die massiewe plakkerskampe waarneem. Deesdae lyk dit darem minder ontstellend. Maar dan durf mens daardie berugte stuk pad stad toe aan en kyk senuweeagtig rond en dink onwillekeurig aan die arme vrou van ons tuisdorp, Nelspruit, wat nie lank terug nie haar lewe op daardie einste pad verloor het. Ongelukkig, op pad na die westelike gedeelte van Kaapstad toe, ry ons op die N7 dan verby Danoon met sy reuse plakkerskamp wat die besige pad as grens aan die een kant het. Letterlik tot bykans op die padskouer en op sekere plekke en sekere tye inderdaad tot op die padskouer. Die potensiële gevare van die situasie ontgaan mens nie vir 'n oomblik nie, veral as mens al beleef het hoe vinnig 'n oënskynlik "vreedsame" situasie in anargie en geweld kan verander. Ek het in talle groot townships in verskeie provinsies in Suid-Afrika gewerk en eerstehands ervaar hoe snel die gemoedstemming kan verander en hoe vinnig aggresiewe massas as gevolg daarvan kan vorm.

Maar later ry ons darem verby Bloubergstrand en kort daarna kom ons by ons bestemming uit: Melkbosstrand. Dis darem al vanaf Bloubergstand af waar ons dan die "ander Kaapstad" begin ervaar; en gou is die Danoons, Langas, Nyangas en Khayalitshas vergete.

Ja, Kaapstad het beslis 'n "gesplete persoonlikheid" soos jy baie goed beskryf het. Ter "verdediging" van Kaapstad, moet mens darem ook noem dat baie ander stede in die wêreld ook soortgelyke situasies beleef. In Brussels het ons ons in dele van die stad bevind wat ons laat glo het dat ons eerder êrens in 'n Midde-Oosters wêrelddeel was. In die Bronx het ons beslis nie so lekker veilig gevoel soos in vandag se Manhattan nie. Ons het soortgelyke ervarings in talle ander wêreldstede gehad.

My punt sluit by joune aan: daar moet altyd keuses gemaak word wanneer beperkte fondse aangewend moet word om onbeperkte behoeftes mee te probeer bevredig. Selde stel die uiteindelike keuse almal tevrede. Aangesien almal nooit gelyktydig kan baat by ontwikkelingsinisiatiewe nie, moet daar die vooruitsig wees vir die "verloorders" om by verdere ontwikkelings te kan baat. Ontwikkilingsinisiatiewe moet dus nie eenmalige gebeurtenisse wees nie, maar moet in terme van 'n deursigtige en deurlopende ontwikkelingsbeleid geskied. Ek glo persoonlik dat Kaapstad onder die DA aansienlik beter daarin slaag as omtrent al die ander Suid-Afrikaanse stede.

No posts

Ready for more?