Schrödinger se Kaapstad
Kaapstad kry die skuld vir haar eie sukses én vir die druk wat dit skep.
Kaapstad is 'n bietjie van 'n politieke Rorschach-toets: dieselfde inkvlek word dikwels as totaal verskillende prente geïnterpreteer, afhangend van 'n persoon se bestaande oortuigings. Om die wyle Scott Adams se aanhaling te leen, dit is “een skerm, twee rolprente”. Mense kyk na dieselfde tonele, kyk na dieselfde feite, maar tog stap mense weg met presies die teenoorgestelde storielyne.
Tipies van 'n verkiesingsjaar, word hot takes oor plaaslike regering nou uit hul verkiesingsluimer wakker. Onlangs voer sommige in die kommentatorklas oppervlakkig aan dat die Stad 'n glansryke “leefstylbate” is, netjies saamgestel vir toeriste en die welgesteldes, uitverkoop aan die hoogste bieder en dus al hoe meer onherkenbaar vir gewone Suid-Afrikaners. Vir ander is die stad 'n magneet vir armoede en word glo vernietig deur gratis dienste, sosiale behuising en dienslewering wat mense aanlok en, by implikasie, misdaad saam met hulle intrek.
Albei kan nie waar wees nie, ten minste nie op die simplistiese wyse waarop dit dikwels aangevoer word nie. Tog wys die feit dat albei hierdie narratiewe so maklik rondgeslinger word, in die wilde weste van sosiale media sowel as op gevestigde meningsbladsye, nie dat Kaapstad op 'n unieke manier onsamehangend is nie.
Wat dit wel wys is dat aanlyn-kritici die regering toenemend op grond van vibes beoordeel, en nie op grond van verantwoordelikheidsfere en harde afwegings nie.
Kaapstad se eie sukses
Die minder gewilde waarheid wat ek glo jou Jan Alleman buite die aanlynkommentariaat raaksien, is dat Kaapstad juis onder druk is omdat dit beter funksioneer as groot dele van die land.
Daar is 'n rede waarom besoekers van elders in Suid-Afrika dikwels sê Kaapstad voel soos 'n ander land. My gesin en ek het dit skerp beleef toe ons twee jaar gelede van die slaggat-geteisterde, watertoevoerlose Roodepoort hierheen verhuis het, en die kontras bly opvallend elke keer as ons teruggaan Gauteng toe om familie en vriende te besoek. Die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname wys dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers in die vierde kwartaal van 2025 op 31,4% gepeil is. Die Wes-Kaap was aansienlik laer, op 18,1%, en die Stad Kaapstad op 19,8%.
Wat 'n mens ook al van die DA dink, daardie syfers weerspieël die eenvoudige werklikheid dat mense na geleenthede, werkende dienste en bevoegde administrasie beweeg. Mense, sowel die rykes wat sommige verafsku as die armes wat ander blameer, trek as gevolg van die trekkragte van Kaapstad en die stootkragte van elders. Hulle beweeg omdat menslike gedrag hardnekkig prakties is. Mense gaan waar die werk is, waar die ligte aanbly, waar skole en klinieke beter funksioneer, en waar die kans op 'n ordentlike lewe groter voel.
En wanneer 'n stad mense vinniger lok as wat huise gebou word, is die gevolg oorbevolking, informele groei, toenemende mededinging om grond, en politieke konflik oor wie “behoort”. Dit is 'n bewys dat Suid-Afrika se interne migrasie op bestuursverskille reageer. Die klagte dat Kaapstad vir die elites is klink oortuigend, omdat dit op 'n werklike ervaring en spanning inspeel: behuising voel buite bereik, woonbuurte verander en grond is 'n skaars hulpbron. Maar dit is 'n kategoriefout om hoë pryse as munisipale opset te behandel. Soos ek onlangs elders al aangevoer het, is daar net twee oplossings vir hoë huurpryse: verminder vraag (deur 'n plek minder aantreklik te maak om in te woon) of verhoog aanbod (deur flink te bou).
'n Plaaslike regering kan 'n omgewing skep vir meer bouwerk deur vinniger goedkeurings te verseker, groter digtheid op die regte plekke moontlik te maak, meer goed-geleë gemengde-inkomste behuising te bevorder, beter vervoerkorridors te ontwikkel, en 'n stad te verseker wat veilig genoeg is vir die hele mark om te funksioneer. En juis hierdie dinge maak die stad dan nóg meer aantreklik vir mense.
Kaapstad word daarvan beskuldig dat dit “vir die rykes” is wanneer dit beleggings en toeriste lok, en “vir die armes” wanneer dit probeer om sy grondwetlike verpligtinge na te kom en vinnige immigrasie te bestuur (wat sommige randfiguur-kritici liewer sou wou “oplos” deur mense te probeer keer om na die provinsie te verhuis met 'n tipe grensbeheerfantasie).
Met ander woorde, Kaapstad kry tegelyk die skuld vir sy sukses én vir die laste wat daardie sukses meebring.
Die Stryd teen Misdaad en die stryde daaroor
Dit bring ons by misdaad, en by die mees siniese vorm van skuldverskuiwing na plaaslike regering vir 'n krisis wat hoofsaaklik in nasionale hande lê.
Kaapstad se moord- en misdaadprobleem is werklik. Dit is geografies gekonsentreer en verweef met bendes, vuurwapens en georganiseerde misdaad. Die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse Regering wys herhaaldelik op die rol van onwettige vuurwapens en pleit vir sterker ondersoekbevoegdhede. Dit terwyl hand in eie boesem gesteek en pligte aangeneem word wat nie grondwetlik hul pligte is nie. En dit lei tog tot verbeterings in baie van die bende-geteisterde gebiede, soos die jongste misdaadstatistiek aantoon.
Maar munisipaliteite beheer nie die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie. Tog, wanneer mense onder misdaad ly, is dit die naaste sfeer van regering wat geblameer word. In reaksie daarop stel die Stad wetstoepassingsbeamptes aan, brei munisipale polisiëring uit, ontplooi tegnologie, en probeer pendelaars beskerm waar dit kan.
En dan word dit van wreedheid beskuldig.
Die huidige geraas oor die sogenaamde “muur” langs die N2 is 'n perfekte voorbeeld. Kritici noem dit 'n armoedegordyn. Maar die N2-randsone-veiligheidsprojek is 'n ingryping om motoriste en voetgangers langs 'n hoërisiko-korridor te beskerm, insluitend die herstel van bestaande versperrings, verbeterde beligting, die byvoeging van voetoorgange en ander veiligheidsmaatreëls. Die belangrikste is dat die voorstel breë steun geniet waar dit die meeste saak maak, naamlik onder die inwoners wat langs daardie korridor woon en die daaglikse werklikheid van ongelukke, gevaar en misdaad beleef.
Die luidste teenstand, daarenteen, kom van mense ver verwyderd van die gevolge, mense wat dit kan bekostig om die kwessie as 'n politieke en ideologiese speelbal te behandel, eerder as 'n veiligheidsprobleem waardeur hulle elke oggend en elke aand moet navigeer.
Afwegingsbestuur is Werklike Regering
Een van die luukshede wat ek gehad het voordat ek in die regering begin werk het, was dat ek keurige menings van die kantlyn af kon aanbied, sonder enige verpligting om die koste daarvan te dra.
Om vir 'n regering te werk, maak jou skerp bewus daarvan dat regering in wese die politiek van afwegings is.
Tyd, geld, grond, kapasiteit en onbedoelde gevolge is alles oorwegings wanneer bestuursbesluite geneem word. Elke besluit sluit ander moontlikhede af.
As jy meer aan een dringende drukpunt bestee, bestee jy noodwendig minder aan 'n ander.
As jy grond vir behuising vrystel, ontlok jy besware, litigasie, infrastruktuurbeperkings en verkeervertragings.
As jy wetstoepassing verskerp, word jy van wreedheid beskuldig en as jy dit verslap, word jy daarvan beskuldig dat jy verval veroorsaak.
Die harde waarheid is dat regering selde 'n keuse tussen goed en sleg is. Dit is 'n keuse tussen onvolmaakte goeie opsies, botsende regte, en risiko’s wat jy nooit heeltemal kan voorspel en uitskakel nie. Daarom sukkel ek toenemend met kommentaar wat ryk is aan morele sekerheid, maar arm aan werklike alternatiewe.
Sommige wil hê Kaapstad moet markuitsluiting teenstaan. Dit is goed en wel, maar dan moet hulle verduidelik wat hul plan is wanneer die stad terselfdertyd beleggings, werk, belastinginkomste uit eiendomsbelasting en versnelde behuisingslewering nodig het. Aan die ander kant wil sommige interne migrasie en maatskaplike behuising blameer, maar dan behoort hulle openlik te sê of hulle ongrondwetlike interne “grensbeheer” voorstaan, en of hulle bereid is om die menslike koste te aanvaar van 'n stad wat doelbewus minder aantreklik gemaak word sodat minder mense kom.
Ek glo dat die meeste Suid-Afrikaners, ryk en arm, tussen daardie twee pole lê. Mense wat nie in ideologie leef nie, maar in geleefde realiteite. Hulle wil 'n stad hê wat veilig én menslik is, oop vir geleenthede en nie buite bereik geprys nie, pro-groei én werklik inklusief.
Daar is nie oplossings nie, net afwegings, soos Thomas Sowell dit gestel het. Die gemak van die kommentariaat is dat ons in ons meningsartikels eenvoudige antwoorde kan aanbied sonder enige prys daaraan gekoppel. Kommentators hoef nie 'n begroting te laat klop, 'n besluit in die hof te verdedig, of saam te leef met die onbedoelde gevolge wanneer die “voor die hand liggende” oplossing met die werklikheid bots nie.
In Suid-Afrika voer ons selde daardie volwasse gesprek, omdat ons nasionale politiek so deurtrek is van wanfunksie dat die standaarde tot op die vloer gesak het. Wanneer soveel regerings in die land nie eers die basiese dinge kan doen nie, hou ons op om oor afwegings te debatteer en begin ons oor gevoelens debatteer. Kaapstad verdien nie 'n vrypas bloot omdat dit beter presteer as enige ander metro nie, maar dit verdien wel kritiek wat ernstig genoeg is om die werklike keuses, die werklike beperkings en die werklike gevolge onder oë te sien.
Kaapstad is nie perfek nie. Maar dit is 'n funksionele administrasie wat onder geweldige vraagdruk werk in 'n land waar kernhefbome veral polisiëring en makro-ekonomiese beleid elders lê, en waar wanfunksie elders in die land steeds wydverspreid is.
Sien die data, nie die inkvlekke nie
Om met 'n sielkundige analogie te begin en te eindig: vir die kommentariaat, in al sy ideologiese verskeidenheid, is Kaapstad soos Schrödinger se kat — tegelyk 'n elite-speelgrond en 'n welsynsmagneet, tegelyk suksesvol en mislukkend.
Maar as jy die “boks oopmaak” en na die harde bewyse kyk, is dit duidelik dat die DA-beheerde administrasie Kaapstad meetbaar meer funksioneel en ryker aan geleenthede gemaak het as die grootste deel van die land. Met ander woorde: sodra jy ophou om die inkvlek te lees en begin om die data te lees, lyk Kaapstad glad nie meer na 'n paradoks nie, dit lyk soos 'n stad wat werk, in 'n land wat te dikwels nie werk nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










