In sy 1980 meesterstuk Waiting for the Barbarians beskryf Nobelpryswenner J.M. Coetzee 'n afgeleë nedersetting aan die grens van 'n groot naamlose Ryk, met die verouderde magistraat as verteller. Ten spyte daarvan dat die lewe daar betreklik rustig verloop, besluit die sentrale owerheid om op gerugte te reageer dat 'n bende barbare buite die grense van die Ryk 'n inval beplan.
Alhoewel bewyse vir so 'n inval ten volle afwesig is, keer dit nie vir Kolonel Joll, 'n verteenwoordiger van die Ryk se veiligheidstruktuur, om mense in hegtenis te neem, te ondervra en te martel nie. Die afwesigheid van bewyse word nie as 'n rede vir kalmte beskou nie, maar as verdere bewys van die vyand se slinksheid. Die Ryk reageer dus nie op die werklikheid wat hom in die gesig staar nie, maar op die verbeelde werklikheid wat hy homself in die biblioteke en klaskamers van sy hoofstad aan die ander kant van die Ryk opgedis het.
Alhoewel die barbare meestal afwesig is, verkry hulle in die politieke verbeelding van die Ryk 'n byna onbeperkte mag. Hulle stilte bevestig nie hul afwesigheid nie, maar hul onderduimsheid, en stel die Ryk in staat om enige en alle vrese op hulle te projekteer. Omdat hulle nie teenwoordig is om die verhaal oor hulself te betwis nie, kan die Ryk hulle na willekeur as primitief, gewelddadig en gevaarlik voorstel.
Die Nuwe Barbare
Iets van hierdie ingesteldheid is sigbaar in die reaksie op die onlangse Bokkieweek en ook op Afrikaners se selfdoenprojekte oor die algemeen. Bokkieweek is 'n jaarlikse sportbyeenkoms waar Afrikanerkinders onder meer aan rugby, hokkie en netbal deelneem.
Baie menings en reaksies is oor die afgelope weke daaroor geplaas, maar die punt wat hier ter sprake kom is eerder die oorsprong en omvang van die vrees wat deur 'n betreklik beperkte kultuur- en sportaktiwiteit ontketen word.
Die implisiete redenasie van heelwat kritici lui min of meer soos volg: Indien Afrikaners toegelaat word om hul taal, herinneringe, tradisies en gemeenskapsinstellings te behou, sal hierdie ruimtes noodwendig in 'n stadium tot 'n herlewing van 'n rassistiese politieke orde lei. Hierdie redenasie, en die vrees van so 'n verbeelde toekoms, maak van 'n kindersportbyeenkoms die voorportaal van apartheid. 'n Afrikaanse lied is dan nie meer kulturele uitdrukking en behoud nie, dit word 'n kodewoord vir politieke opstand. Dieselfde redenasie strek verder en maak van gemeenskapsinisiatiewe soos buurtwagte of nuwe skole en universiteite die opbou van 'n parallelle staat.
Soos in Coetzee se roman word die werklike handeling minder belangrik as die rampscenario wat daarop geprojekteer word. Daar word nie gereageer op 'n weermag, 'n opleidingskamp of 'n gewapende politieke beweging nie. Daar word nie 'n geheime program vir die herinstelling van rassewetgewing ontbloot nie. Die onmiddellike aanleiding is kinders wat sport beoefen, bymekaarkom en sing. Die tersaaklike vraag is of Afrikanerkulturele organisasies as sodanig redelikerwys met 'n georganiseerde projek vir die herstel van apartheid gelykgestel kan word, soos wat hierdie implisiete redenasie sou aanvoer. Nie net is daar geen bewys voor nie, maar enige uitdrukking van 'n wens om na die stand van sake onder apartheid terug te keer sal sekerlik uit die mees konserwatiewe Afrikanerkringe afgelag word. Die werklike feite keer ongelukkig nie dat vrese vir die irrasionele lugkastele die argument self word nie.
Hart van Vrees
Fênsie kommentators wat hul middae op die songebakte stoepe van wynplase deurbring is nie die eerstes om die behoud van die Afrikanerkultuur te vrees nie. Die mees vanselfsprekende bron van hierdie angs is die voormalige Sekretaris-Generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty Joe Slovo se 1988-pamflet, The South African Working Class and the National Democratic Revolution, waartydens Slovo die nasionale bewussyn van die komende nuwe Suid-Afrika bedink — onder duidelike invloed van veral Stalin en Marx.
Slovo begin sy bespreking met die aantyging dat die tuislandbeleid kulturele verskille nie beskerm het om mense vryer te maak nie, maar dit gemanipuleer om die meerderheid te verdeel en politieke regte te ontken. Hierdie klag is ernstig, en sal slegs uit swart geledere werklik beantwoord kan word. Sou die Zoeloe en Xhosa en Sotho en Tswana werklik kultureel versmelt het as dit nie vir die Tuislandbeleid was nie? Gegewe die feit dat hierdie volke juis ontstaan het omdat hulle van mekaar gevlug het, is sodanige kulturele versmelting sekerlik onwaarskynlik. Slovo meen nietemin in 1988 dat “groepsregte” dikwels deur die apartheidsregering aangebied is as 'n alternatief vir algemene stemreg, en hy vrees sekerlik tereg dat 'n minderheidsveto of afsonderlike etniese parlemente gebruik sou kon word om wit beheer onder 'n nuwe grondwetlike naam te laat voortbestaan.
Soos heelwat rewolusionêre denkers voor hom maak Slovo egter vanuit hierdie geldige diagnose 'n veel wyer sprong as wat dit redelikerwys toelaat.
Vir hom is die beklemtoning van streeks of kulturele uniformheid of uniekheid meestal 'n instrument van kolonialisme of minderheidsoorheersing. Vanuit hierdie wegspringpunt verwerp hy die idee dat Suid-Afrika 'n multinasionale land is en beskryf dit eerder as 'n enkele nasie wat nog gevorm moet word. Die uiteindelike bestemming is egter onbeskaamd een verenigde Suid-Afrikaanse nasie waarin bestaande gemeenskappe uiteindelik in 'n groter politieke geheel saamgesnoer word. Hierin steun hy op, maar worstel hy ook met, die Marxisties-Leninistiese tradisie. Slovo bespreek uitdruklik Stalin se omskrywing van 'n nasie as 'n gemeenskap wat onder meer deur taal, kultuur, grondgebied en ekonomie verbind word. Hy waarsku egter teen die meganiese toepassing van hierdie maatstawwe omdat dit etniese separatisme kan legitimeer. Al breek hy hier met sy leermeesters ontsnap hy nooit werklik van die meganiese en voorskriftelike kulturele denke waaraan die sosialistiese kultuur- en volkbeskouing hom dikwels skuldig maak nie.
Aan die een kant verklaar Slovo dat nasionale eenheid nie kulturele uniformiteit hoef te beteken nie. Hy maak duidelik dat verskillende kulture saam die kultuur van die hele volk kan vorm. Hy meen selfs dat die tale en positiewe kulturele erfenisse van Suid-Afrika se verskillende groepe onder hierdie omstandighede sal kan “blom” en doeltreffende uitdrukking sal vind, maar aan die ander kant beskou hy sterk kulturele of streeksselfstandigheid voortdurend met agterdog. Sodra kultuur geïnstitusionaliseer word — sodra dit 'n skool, vereniging, geografiese konsentrasie of politieke aanspraak word — dreig dit volgens hierdie logika om die vorming van die enkele nasie te laat ontspoor.
As ek hom reg verstaan meen Slovo dus dat kulture mag blom, maar nie so welig dat hulle hul eie skaduwee werp nie. Tale mag voortbestaan, maar nie noodwendig die instellings verkry wat hulle voortbestaan moontlik maak nie. Gemeenskappe mag kultureel onderskeibaar wees, mits hulle nie te sterk op dié onderskeid aandring, of kultureel te besig is nie.
Sekerlik is hierdie tweespalt die produk van 'n era waar baie verskillende strome onder die breër anti-apartheidsvaandel saamgehou moes word, maar die uiteindelike gevolgtrekking van Slovo se visie is dat diversiteit in beginsel geprys word, terwyl die georganiseerde uitdrukking daarvan in die praktyk gewantrou word.
Byna Vier Dekades Later
Slovo het hierdie artikel in 1988 geskryf. Byna vier dekades later kan die feite van die geskiedenis teen sy vrese opgeweeg word.
Apartheid is afgeskaf. Suid-Afrika het 'n demokratiese Grondwet aanvaar. Algemene stemreg is gevestig. Afrikaners beheer nie die staat, die weermag, die polisiemag of die nasionale wetgewer nie. Selfs binne uitgesproke Afrikanerpolitiek is daar geen geloofwaardige massabeweging met die vermoë of 'n realistiese program om die apartheidsorde te herstel nie. Soos bo reeds genoem, is daar ook werklik geen aptyt daarvoor nie.
Hier behoort ons te onderskei tussen twee verskynsels wat dikwels met mekaar verwar word: Die behoud van 'n kulturele identiteit en die herstel van politieke oorheersing — hierdie twee verskynsels is nie eenders nie, hulle het in werklikheid maar min met mekaar uit te waai. Daar is geen barbare nie, net kinders wat 'n worsbroodjie eet en spog oor 'n duikslag.
'n Gemeenskap wat sy taal wil behou eis nie die reg om oor ander te regeer nie. 'n Gemeenskap wat sy eie instellings bou, ontken nie daardeur ander gemeenskappe se reg om dieselfde te doen nie. Selfstandigheid is nie vanselfsprekend afsondering nie; en afsonderlikheid is nie vanselfsprekend oorheersing of afguns nie.
Apartheid se fundamentele onreg was nie dat mense verskillende tale gepraat of verskillende kulture beoefen het nie, dit het hierdie verskillende tale ook nie ontwikkel of afgedwing nie. Die onreg was dat die staat dié verskille gebruik het om mense aan ongelyke regte, gedwonge klassifikasie, grondgebiede en politieke mag te onderwerp.
Die alternatief vir apartheid kan daarom nie wees dat kulturele verskille, en geleenthede waar hierdie verskille uitdrukking kry, self verdag verklaar word nie. Dit behoort 'n bestel te wees waarin politieke regte individueel en gelyk is, terwyl gemeenskappe vry bly om hul tale, godsdienste, tradisies en instellings vreedsaam te onderhou.
'n Monotone reënboog? Multikulturalisme sonder Kulture
Dit bring ons by die vraag wat Slovo se raamwerk nooit bevredigend beantwoord nie: Wat beteken multikulturalisme indien geen kultuur toegelaat word om sterk genoeg te wees om homself oor geslagte heen te handhaaf nie?
Kultuur bestaan nie slegs uit kos, volksdrag en 'n jaarlikse fees nie. Dit leef deur instellings. Die belangrikste hiervan is gesinne, maar gesinne benodig skole, kerke, verenigings, uitgewers, kunsorganisasies, universiteite en gemeenskapsnetwerke om hulself te handhaaf. Wanneer 'n staat of politieke elite kulturele diversiteit retories vier maar die instellings waardeur kulture voortbestaan met agterdog bejeën, bied dit nie werklik multikulturalisme nie. Dit bied geleidelike assimilasie met leë seremoniële versierings.
Waarheen word dan geassimileer? Sekerlik eindig so 'n proses in 'n hoofsaaklik Engelse, sekulêre en verbruikersgerigte openbare kultuur wat al hoe minder van dié van Nieu-Seeland of Australië onderskei kan word: 'n Postkoloniale kolonie met 'n volkslied vol tale wat niemand meer praat nie. Erfenis word dan 'n DNA-sertifikaat wat bewys dat jou voorouers lank gelede Zoeloe, Afrikaans of Khoe gepraat het. Suid-Afrika word dan “verenig” deur juis dit uit te wis wat die land histories en kultureel onderskeibaar maak.
Dit is 'n vreemde soort bevryding: Almal word vrygemaak om dieselfde te word, want om anders te wees is verraad of opstand.
'n Volwasse Suid-Afrika behoort 'n ander moontlikheid te kan bedink. Dit behoort tegelyk teen rasseoorheersing en teen gedwonge kulturele eenvormigheid gekant te wees. Dit behoort minderheidsregte nie as 'n lisensie tot heerskappy te sien nie, maar as 'n grens teen die heerskappy van enige meerderheid. En dit behoort die bestaan van sterk Zoeloe-, Xhosa-, Afrikaner-, bruin, Indiër- en ander kulturele gemeenskappe nie as 'n mislukking van die nasionale projek te beskou nie, maar juis as die inhoud daarvan.
Hou op Wag
Die les van Waiting for the Barbarians is nie dat bedreigings nooit bestaan nie, soms is daar sekerlik barbare. Die les is eerder dat 'n samelewing homself kan vernietig wanneer dit elke onbekende of onafhanklike gemeenskap as 'n toekomstige vyand begin behandel. Die Ryk in Coetzee se roman martel mense nie omdat die barbare reeds aangeval het nie, maar omdat hy nie die moontlikheid kan verdra dat hulle buite sy volledige beheer bestaan nie.
Dit is die gevaar van die reaksie op Bokkieweek en soortgelyke gemeenskapsprojekte. Die Afrikaner word nie beoordeel volgens wat hy tans doen nie, maar volgens die mees radikale en irrasionale uitvloeisels wat aan sy huidige doen en late toegeskryf kan word. Elke kulturele ruimte word as 'n potensiële vesting of enklawe beskou. Elke tradisie word ondervra oor sy verborge politieke bedoeling. Elke poging tot selfbehoud moet eers bewys dat dit nie die voorloper van 'n nuwe rasseorde is nie voordat dit aanvaar word.
So word 'n hele gemeenskap gevra om baie meer te doen as om net apartheid te verwerp, dit word gedwing om sy eie voortbestaan voortdurend as onskuldig te bewys.
Byna vier dekades ná Slovo se teks en meer as drie dekades ná die einde van apartheid behoort Suid-Afrika genoeg selfvertroue te hê om van hierdie vrees afstand te doen.
Daar is nie barbare wat kom nie, daar is net kinders wat sing en speel.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








