Politiek bo Prestasie: Deel 7 | Suid-Afrika en hoe om groot kanse te mis
Ke Nako, of so iets.

Ons Suid-Afrikaners het na my ervaring die vreemde gewoonte ontwikkel om ons land in uiterstes te beskryf. Met beesvleis gaarmaak, vaskopstutte produseer of goud myn, wel, daarmee is ons natuurlik die beste. Met korrupsie, kragvoorsiening, politiek of dienslewering, wel daar is ons slegter as sleg. Afhangend van wie aan die woord is, is Suid-Afrika óf op die rand van totale ineenstorting, óf bestem vir permanente grootsheid op 'n vlak waarvoor Julius Caesar maar net hoed agterna kan gooi. Die geskiedenis ontvou egter maar selde in sulke dramatiese absolutes. Jan Smuts het blykbaar per geleentheid genoem dat die beste nooit in Suid-Afrika gebeur nie, maar die slegste ook nie - nou ja, tye het miskien verander.
In werklikheid misluk baie min state byna oornag. Selfs Castro en Robespierre se rewolusies het vir 'n paar jaar na goeie idees gelyk. Dit is meer algemeen dat state stadig stagneer omdat hul politieke stelsels al hoe minder in staat raak om geleenthede in volhoubare groei te omskep, en omdat hulle mettertyd ophou om die fondament vir ’n volhoubare toekoms te bou. Dít, hierdie langsame haastigheid, is die werklike gevaar waarmee Suid-Afrika vandag worstel.
Wat sukkel ons dan so?
Die land se kernprobleem is nie dat groei onmoontlik is nie, dit is eerder dat groei telkens politieke prioriteit verloor sodra moeilike afruilings of kompromie nodig raak. Suid-Afrika is vir seker nie 'n mislukte staat in die gewone sin van die woord nie: Dit is steeds Afrika se mees geïndustrialiseerde ekonomie, beskik oor gesofistikeerde finansiële markte, wêreldklas-maatskappye, enorme minerale rykdom en sterk grondwetlike instellings. Die uitkomstragedie is dat 'n land met al hierdie dinge eintlik al vir ten minste twee dekades agteruitboer - letterlik, ons bevolking groei meer as ons ekonomie, ons per kapita rykdom word soos 'n arme bottel Oros-konsentraat aan die verkeerde kant van 'n rooi skoolbrandslang.
Net soos al die samelewings wat in hierdie reeks bespreek is, staan ons nie noodwendig op die rand van onvermydelike ineenstorting nie, maar eerder op die rand van onvervulde potensiaal. 'n Demografiese golf kan ook maar net vir 'n ruk gery word, die internasionale guns wat ons na 1994 ontvang het sou natuurlik nie altyd hou nie. Goudpryse is nie altyd hoog nie, en soms word jy genooi om op Eden Park te speel. Mens moet die yster slaan terwyl hy warm is, die boompie buig terwyl hy jong is - want yster koel af, en bome word dik en hard, en kanse waai soos pluimsaad weg.
Toe Suid-Afrika in 1994 tot demokrasie oorgaan, het dit oor omstandighede beskik wat baie ontwikkelende lande slegs kon beny. Die land het moderne infrastruktuur gehad, diep kapitaalmarkte, 'n sterk regstelsel, wêreldklas-universiteite en enorme natuurlike hulpbronne. Destyds het Suid-Afrika bykans 40% van sub-Sahara-Afrika se totale BBP verteenwoordig. Met Apartheid iets van die verlede, was verwagtinge natuurlik enorm. Die aanname was dat politieke bevryding volhoubare ekonomiese uitbreiding sou ontsluit.
Aanvanklik het dit voorgekom asof ons die mas sou opkom. Tussen 2004 en 2007 het Suid-Afrika se ekonomie teen meer as 5% per jaar gegroei. Staatskuld het tot onder 30% van BBP gedaal. Inflasie het gestabiliseer. Staatsinkomste het vinnig toegeneem. Miljoene mense het toegang tot elektrisiteit, behuising en sanitasie gekry. Buitelandse belegging het toegeneem - en heelwat van ons se pa’s kon vir ons Playstations koop - dit is ten minste hoe ek die ekonomiese toestand van daardie tyd gemeet het. Die land het die 2010 FIFA Wêreldbeker suksesvol aangebied en internasionaal selfvertroue uitgestraal. Tog het hierdie optimisme op die oppervlak nie noodwendig verteenwoordig wat onder die water aan’t broei was nie.
Elektrisiteitsopwekkingskapasiteit is nie vinnig genoeg uitgebrei nie, ondanks Eskom se herhaalde waarskuwings van vanaf die laat 1990's. Arbeidsmark-rigiditeit, veral in die vorm van oorregulering en werkplek kwotastelsels onder allerlei name, het werkskepping selfs gedurende groeitydperke beperk. Onderwysuitkomste het swak gebly ondanks stygende besteding. Munisipale bestuur het begin verswak. Staatsbeheerde ondernemings het al hoe meer gepolitiseer geraak. In plaas daarvan om 'n tydperk van sterk groei te gebruik om mededingendheid en institusionele kapasiteit te verdiep, het Suid-Afrika geleidelik begin steun op verbruiksgebaseerde uitbreiding wat deur kommoditeitsinkomste en toenemende staatsbesteding gedra is.
Die waarheid kom na vore
Toe wêreldtoestande ná die finansiële krisis van 2008 versleg, het hierdie swakhede onmoontlik geword om te ignoreer. Sedert 2010 het Suid-Afrika se gemiddelde jaarlikse groeikoers rondom 1% gesweef — ver onder die vlak wat nodig is om werkloosheid of armoede betekenisvol te verminder. Reële BBP per kapita het vir meer as 'n dekade grootliks gestagneer. Volgens die uitgebreide definisie oorskry werkloosheid nou 40%, terwyl jeugwerkloosheid in sommige kwartale bo 60% lê. Min middelinkomstelande het sulke hoë vlakke van werkloosheid vir só lank volgehou sonder ernstige politieke onstabiliteit.
Hierdie stagnasie kan nie bloot deur wêreldtoestande verklaar word nie. Baie vergelykbare ontluikende ekonomieë het oor dieselfde tydperk aansienlik vinniger gegroei. Viëtnam, Indonesië en Indië het almal aggressief uitgebrei. Selfs verskeie Afrika-ekonomieë met swakker institusionele fondamente het hoër volhoubare groeikoerse behaal.
Die verskil lê gedeeltelik in politiek. Dwarsdeur hierdie Politiek bo Prestasie reeks het een les telkens na vore gekom: Samelewings begin agteruitgaan wanneer politieke aansporings teen groei self begin werk. Suid-Afrika vertoon toenemend presies hierdie probleem. My eie oortuiging, gelei deur die werk van veral Proff. Duvenhage en Venter van die NWU se politiekdepartement, is dat die ANC in 2005 'n gedaanteverwisseling ondergaan het. Met Zuma eers uit en toe terug het die ANC se aard geheel en al verander. Die punt is nie dat mens met alles saamstem wat President Mbeki gedoen het nie, maar eerder dat die fokus toe hoofsaaklik die land en sy probleme was.
'n Regering wat op die verkeerde dinge fokus word nie dadelik uitgevang nie, iets moet eers inmekaar tuimel. Die energiekrisis is waarskynlik die duidelikste voorbeeld. Beurtkrag het nie skielik ontstaan nie, tog het politieke besluiteloosheid, tendermislukkings, korrupsie en ideologiese konflik die uitbreiding van nuwe opwekkingskapasiteit herhaaldelik vertraag. Die gevolg was katastrofies. Teen 2023 het beurtkrag rekordvlakke bereik en die ekonomie jaarliks honderde miljarde gekos. Sommige ramings deur die Reserwebank en ekonome in die privaat sektor het aangedui dat elektrisiteitstekorte alleen jaarlikse BBP-groei gedurende ernstige periodes met tussen 2 en 4 persentasiepunte verminder het. Maar hierdie patroon strek veel verder as elektrisiteit.
Transnet se logistieke verval het mynbou- en uitvoerkapasiteit ernstig beperk ondanks hoë wêreldwye kommoditeitspryse. Suid-Afrika beskik oor sommige van die wêreld se grootste reserwes van platinummetale, mangaan en chroom — almal kritieke komponente vir die wêreld se industriële en energie-oorgange. Tog het spoorweg-ondoeltreffendheid en hawewanfunksionering uitvoerders toenemend verhinder om ten volle voordeel uit wêreldvraag te trek. Die land sit letterlik bo-op strategiese ekonomiese voordele, terwyl administratiewe verval die doeltreffende benutting daarvan verhinder.
Dit herinner sterk aan een van die sentrale lesse uit Keiserlike China wat in die derde uitgawe van hierdie reeks bespreek is: Bekwame samelewings stagneer soms nie omdat hulle hulpbronne ontbreek nie, maar omdat politieke stelsels oormatig versigtig, gefragmenteerd of weerstandbiedend teen verandering raak.
Suid-Afrika se regeringskultuur prioritiseer dikwels korttermyn-politieke ewewig bó langtermyn herstrukturering. Mislukkende instellings word beskerm omdat hervorming interne alliansies bedreig. Beslissende veranderinge word uitgestel omdat die politieke koste te hoog lyk. Eindelose konsultasies, kommissies en strategiese planne vervang implementering.
Vaste investering as persentasie van BBP bly ook in Suid-Afrika aansienlik laer as die vlakke wat normaalweg met vinnig groeiende ontluikende ekonomieë geassosieer word. Bruto vaste kapitaalvorming sukkel in onlangse jare om konsekwent bo 15% van BBP te styg, terwyl vinnig groeiende ekonomieë dikwels vlakke van meer as 25% handhaaf. Ekonomieë industrialiseer of brei infrastruktuur nie volhoubaar uit sonder hoë investeringsvlakke nie. Tog is die diepste probleem waarskynlik institusionele erosie self.
Rome se agteruitgang (uitgawe 2 van hierdie reeks) is versnel deur die geleidelike verswakking van administratiewe bevoegdheid. Suid-Afrika staar 'n stiller maar herkenbare weergawe van dieselfde gevaar in die gesig. Oor tyd het dele van die staat al hoe minder in staat geraak om selfs basiese funksies doeltreffend uit te voer. Munisipale verval het oor groot dele van die land versprei. Waterinfrastruktuur verval vinniger as wat dit herstel word. Staatsverkrygingstelsels misluk herhaaldelik. Misdaadondersoeke stagneer. Geskoolde professionele mense verlaat staatsinstellings vinniger as wat hulle vervang word.
Kaderontplooiing het hierdie probleem natuurlik drasties vererger deur bevoegdheid dikwels ondergeskik aan politieke lojaliteit te maak. Die gevolg was nie bloot korrupsie nie, maar die uitkalwing van institusionele kapasiteit self. Hierdie onderskeid is belangrik. Korrupsie kan soms saam met groei bestaan in hoogs bekwame state. Institusionele onbekwaamheid kan nie.
Moderne ekonomieë steun op funksionerende stelsels: elektrisiteitsnetwerke, hawens, polisiëring, vervoerkorridors, lisensiëringstelsels, howe en plaaslike regerings. Wanneer hierdie stelsels gelyktydig begin verswak, vertraag groei byna outomaties ongeag die dinamika van die privaat sektor. Ons moet ook besef dat die ekonomie so oop geraak het, dat swak dienslewering nie meer verdra hoef te word nie. As jy lank genoeg sonder krag sit, sal een of ander Chinese maatskappy jou probleem graag met sonpanele oplos wat oor twee weke by jou huis afgelewer kan word. Dit, of jy gaan soek 'n land waar dit nie nodig is om in die donkerte te sit nie.
Hierdie onbevoegdheid is een rede waarom Suid-Afrika se privaat sektor toenemend amper onafhanklik van die staat funksioneer eerder as in vennootskap daarmee. Private ondernemings bestee nou enorme bedrae aan private sekuriteit, eie elektrisiteitsopwekking, alternatiewe logistiek en waterweerbaarheid bloot om normale bedrywighede vol te hou. Hoewel dit merkwaardige aanpasbaarheid toon, weerspieël dit terselfdertyd 'n diep verlies aan staatsdoeltreffendheid.
Die gevolge hoop stilweg oor tyd op
Suid-Afrika se krisis word nie slegs gemeet aan werkloosheidsyfers of fiskale tekorte nie. Dit word gemeet aan verlore saamgestelde groei. 'n Land wat vir twintig jaar teen 1% eerder as 4% groei, word dramaties armer as wat dit andersins sou gewees het. Infrastruktuur brei stadiger uit. Belastinginkomste verswak. Werksgeleenthede verdwyn. Sosiale mobiliteit neem af. Geskoolde burgers emigreer. Dit is moontlik die belangrikste ekonomiese les van almal: state word nie slegs deur ineenstorting beskadig nie, maar ook deur die voorspoed wat hulle nooit heeltemal bereik nie.
Tog is ons nie op moedverloor se vlakte nie
Anders as baie van die samelewings wat vroeër in hierdie reeks bespreek is, beskik Suid-Afrika steeds oor beduidende institusionele veerkragtigheid. Die regbank funksioneer steeds. Verkiesings is meer mededingend as ooit, en die burgerlike samelewing bly aktief. Die privaat sektor bly gesofistikeerd en wêreldwyd geïntegreer. Belangrike hervormings in energie-opwekking en logistiek begin uiteindelik na vore tree, al gebeur dit ongelykmatig. Die land beskik steeds oor enorme produktiewe potensiaal indien politieke aansporings weer met groei belyn kan word.
So waarheen nou?
Athene het gewys hoe populisme selfbeheersing kan oorweldig. Rome het institusionele verval getoon. China het die gevaar van vrees vir ontwrigting gewys. Frankryk het die koste van elite-selfbehoud uitgelig. Duitsland het gewys hoe ideologie instellings kan oorheers. Argentinië het getoon hoe onvoorspelbaarheid vertroue vernietig.
Suid-Afrika bevat elemente van al ses.
Die land se uitdaging is nie 'n gebrek aan hulpbronne, intelligensie of demokratiese legitimiteit nie. Die uitdaging is of sy politieke stelsel genoeg selfdissipline kan ontwikkel om ten gunste van langtermyn groei te regeer eerder as bloot ten gunste van korttermyn-politieke oorlewing.
Want die geskiedenis se hardste oordeel word selde uitgespreek oor samelewings wat nooit 'n kans gehad het nie.
Dit word gewoonlik uitgespreek oor dié wat wel gehad het, maar gekies het om dit nie aan te gryp nie.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







