'n Gemeenskap sonder ondersoekende joernalistiek is soos jou tannie met kanker wat weier om vir 'n amptelike diagnose te gaan. 'n Mens kan ontken dat enigiets fout is of selfs die simptome behandel, maar dit is onwaarskynlik dat die wortel van die kwaad uitgeroei sal word.
Iemand met 'n besering of siekte skort 'n dokter en 'n honger maag benodig kos, maar wanneer mis 'n gemeenskap 'n ondersoekende joernalis? Die antwoord is wanneer daar iemand in die gemeenskap is wat nie in belang van die gemeenskap optree nie en dit wegsteek. Ek laat dit aan die leser om te besluit hoe gereeld dit gebeur. Ondersoekende joernalistiek is 'n noodsaaklike diens in enige samelewing wat oor 'n lang tydperk wil standhou. Enige joernalistiek se aard is om lig op 'n saak te werp. Ondersoekende joernalistiek werp gewoonlik lig op sake wat opsetlik in die donker is. Dit dien vir 'n samelewing of gemeenskap die dubbele doel van ontbloting en introspeksie.
Waarspraak teen die Magtiges
Ondersoekende nuus as blootlegging dien baie keer as eerste stap tot geregtigheid. Die bekendste voorbeeld hiervan is die Watergate-skandaal, waartydens die joernaliste Carl Bernstein en Bob Woodward die Amerikaanse president Richard Nixon en sy party se magsmisbruik blootgelê het, met die gevolg dat Nixon uiteindelik uit die amp bedank het.
Effe tong in die kies word gesê dat ondersoekende joernalistiek in Afrika 'n vervelige beroep is. Joernaliste word nie deur die stories verras nie. Waar daar geld is, is daar korrupsie, waar daar natuurlike hulpbronne is, word dit onwettig ontgin en waar daar mag is word dit misbruik. Tog het dit waarde om 'n lig op elke spesifieke oortreding en oortreder te plaas. Selfs al lyk dit of daar geen tasbare gevolge is nie, is die waarheid altyd waardevol. By 'n konferensie kon 'n ouer gesoute joernalis – sonder dat hy my ken – my oortuig dat my werk 'n impak sál hê, want hy weet dat die waarheid altyd 'n impak maak. Selfs al is dit nie onmiddellik sigbaar nie.
Die waarde van spesifieke blootlegging in Suid-Afrika is nie noodwendig om vir ons te sê dat daar korrupsie is nie – ons verwag korrupsie. Spesifieke bewyse het waarde omdat spesifieke mense of instansies verantwoordbaar gehou kan word. Net soos bewyse en getuienis die aantyging van skuld kan bevestig, kan dit ook onskuld bevestig. In 'n samelewing waar ons oor die algemeen bedrog verwag, kan dit verfrissend wees om met sekerheid te weet wie nié skuldig is nie.
Nuus wat ontbloot, is enige nuus wat iets rapporteer wat teenoor die waardes van 'n gemeenskap staan. In die proses om 'n ondersoek te regverdig, sal iemand op 'n stadium moet motiveer wie die oortreder is, wat die oortreding is en wat die impak van die oortreding is. As daar nie 'n wet oortree is nie, is dit gewoonlik 'n gemeenskaplike waarde wat oortree is. Dit is hoekom dit belangrik is om ondersoekende nuus te hê wat uit jóú gemeenskap kom, van 'n redakteur wat jóú waardes met jou deel. 'n Redakteur of publikasie se wêreldbeeld kan soveel verskil van joune dat iets wat in jou oë absoluut afgryslik is net nie vir hulle die moeite werd is om oor te skryf nie. Dit gebeur dikwels met befondsing of toelaes vanaf oorsese organisasies.
Die blik na binne
Teenoor ondersoekende joernalistiek as ontbloting, kan ondersoekende joernalistiek as introspeksie artikels behels wat die regstreekse gevolge van 'n samelewing se waardes en denke rapporteer.
Byvoorbeeld, die gevolge van 'n spesifieke ekonomiese beleid kan ondersoek word. Die ekonomiese beleid kan dalk alom as goed aanvaar word, totdat die gemeenskap oor 'n tyd begin sien dat die gevolge ongewens is. 'n Konfrontasie met die werklikheid is dikwels die eerste stap van introspeksie oftewel binnebetragting. Elke gemeenskap het voortdurend introspeksie nodig. Konstante verandering en groei beteken wetgewing, ordereëlings en selfs sosiale norme moet kan aanpas op maniere wat sinvol is. Die enigste manier om te weet wat en wanneer om aan te pas, is om werklik te kyk na die werklikheid.
Min mense ontken die waarde van ontbloting en binnebetragting wat ondersoekende joernalistiek vir 'n gemeenskap bied. 'n Mens moet eerder die hoë koste blameer as daar 'n tekort aan ondersoekende joernalistiek in 'n gemeenskap is. Talle faktore maak dit baie moeilik om ondersoekende joernalistiek as produk te lewer. Tog is dit juis dié faktore wat ondersoekende joernalistiek so noodsaaklik maak. Dit kan vir joernaliste gevaarlik wees om te diep in sekere sake te krap ter ondersoek daarvan. Dit beteken dalk net dat daar iemand is met geheime wat hulle belangriker as iemand se lewe ag. Maar dit is juis hierdie klas van geheime wat in die publiek oopgevlek moet word.
'n Ander rede is dat ondersoeke baie langer vat as artikels wat joernaliste daagliks skryf. Dit beteken dat iemand soveel moeite doen om iets toe te smeer dat dit maande kan neem om te ontsyfer. Dit sal beslis in die publiek se belang wees as daar 'n lig op sulke onderduimshede geplaas word.
Verder kan ondersoeke duur toerusting en ver reise eis en dit alles net vir een storie. Daar is net geen manier waarop die finansiële sommetjie kan klop nie. Dit is waar die verbruiker se plig inkom. Elkeen het die persoonlike plig om waarde te heg aan die waarheid. In die korttermyn baat 'n enkele individu dalk nie by ondersoekende nuus nie, maar oor die langer termyn sal elke diamantsmokkelaar of vervalsde farmaseutiese maatskappy wat ontbloot word, waarde toevoeg tot 'n samelewing.
Vraag skep nie altyd 'n aanbod nie, maar dit kan nie seer maak om te probeer nie.
Leandrè Steenberg studeer ekonomie en filosofie aan die A.P. Akademie, sy is ook 'n wiskunde-tutor.
Nog artikels deur Leandrè Steenberg:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Waar maar.. het Suid Afrika nog ondersoekende joernaliste? Hulle is dun gesaai.